Hoe belangrik is vroeë kinderopvoeding?
Hoe belangrik is vroeë kinderopvoeding?
FLORENCE was 40 jaar oud en wou bitter graag ’n kind hê. Maar tydens haar swangerskap het ’n dokter haar gewaarsku dat haar baba met ’n leergestremdheid gebore kon word. Sy het nie moed opgegee nie, en sy het aan ’n gesonde baba geboorte gegee.
Kort ná die geboorte van haar seun, Stephen, het Florence begin om by elke geleentheid vir hom te lees en met hom te praat. Toe hy ouer word, het hulle speletjies gespeel, op uitstappies gegaan, liedjies gesing en geoefen om te tel. “Ons het selfs gespeel terwyl ek hom gebad het”, sê sy. Dit het goeie resultate opgelewer.
Terwyl Stephen nog in sy middeltienerjare was, het hy met lof aan die Universiteit van Miami gegradueer. Twee jaar later, toe hy 16 was, het hy sy studies in die regte voltooi, en volgens sy biografie het hy later die jongste regsgeleerde in die Verenigde State geword. Sy moeder, dr. Florence Baccus—’n oudonderwyseres en afgetrede beroepsvoorligter—het baie tyd aan die studie van vroeë opvoeding gewy. Sy is daarvan oortuig dat die aandag en stimulasie wat sy haar seun van kleins af gegee het, sy toekoms verander het.
Oorgeërf of aangeleer?
’n Belangrike onderwerp waaroor kindersielkundiges in onlangse tye nie eenstemmigheid kon bereik nie, is die rol wat in ’n kind se ontwikkeling gespeel word deur wat hy geërf het en wat hy geleer het. Die meeste navorsers is daarvan oortuig dat ’n kind se ontwikkeling deur ’n kombinasie van hierdie twee faktore beïnvloed word.
Dr. J. Fraser Mustard, ’n deskundige op die gebied van kinderontwikkeling, verduidelik: “Op grond van ons waarnemings weet ons nou dat die ondervindinge waaraan die kind gedurende sy vroeë lewensjare blootgestel word, ’n uitwerking het op die ontwikkeling van sy brein.” Professor Susan Greenfield sê eweneens: “Ons weet byvoorbeeld dat die deel van die brein wat die vingers van die linkerhand beheer, meer ontwikkel is by violiste as by ander mense.”
Watter opvoeding om te gee
As gevolg van hierdie bevindings doen talle ouers nie net baie moeite om hulle kinders na die regte dagsorgsentrum te stuur nie, maar hulle bestee ook baie geld aan musiek- en kunsklasse. Party meen dat ’n kind wat alles oefen, alles sal kan doen wanneer hy ouer is. Gespesialiseerde onderrigprogramme en kleuterskole is vinnig aan die toeneem. Sommige ouers is bereid om alles in hulle vermoë te doen om hulle kinders ’n voorsprong te gee.
Is hierdie soort toegewydheid altyd voordelig? Dit lyk dalk of kinders sodoende ’n opvoeding kry wat hulle onbeperkte geleenthede bied, maar in baie gevalle ontneem dit hierdie kinders ’n noodsaaklike deel van die leerproses wat ongestruktureerde spelery hulle bied. Spontane spelery, sê opvoeders, stimuleer kreatiwiteit en slyp ’n kind se sosiale, verstandelike en emosionele vaardighede.
Sommige deskundiges op die gebied van kinderontwikkeling meen dat speletjies wat onder leiding van ’n ouer plaasvind, ’n nuwe soort probleemkind skep—kinders wie se dag van begin tot einde beplan is en wat dus gespanne en emosioneel onbestendig is, nie kan slaap nie en oor allerhande skete kla. Volgens een sielkundige het baie van hierdie kinders, teen die tyd dat hulle hulle tienerjare bereik, nie geleer hoe om probleme te hanteer nie, en hulle is “uitgebrand, antisosiaal en opstandig”.
Baie ouers bevind hulle dus in ’n dilemma. Hulle wil hulle kinders help om hulle volle potensiaal te bereik. Maar hulle kan sien dat dit onverstandig is om te vroeg te veel druk op kindertjies te plaas. Is daar ’n manier om ’n redelike balans te vind? Watter vermoë het jong kinders om te ontwikkel, en hoe kan dit bevorder word? Wat kan ouers doen om te verseker dat hulle kinders suksesvol sal wees? Die volgende artikels sal hierdie vrae beantwoord.
[Prent op bladsy 3]
Vroeë lewensondervindinge kan ’n uitwerking hê op hoe ’n kind se brein ontwikkel
[Prent op bladsy 4]
Om te speel, stimuleer kreatiwiteit en help ’n kind om vaardighede te ontwikkel