Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is vetsug werklik ’n probleem?

Is vetsug werklik ’n probleem?

Is vetsug werklik ’n probleem?

“Vetsug onder adolessente is soos ’n epidemie.”—S. K. Wangnoo, senior raadgewende endokrinoloog, Indraprastha Apollo-hospitaal, Delhi, Indië.

SOOS die bogenoemde opmerking toon, lei die veranderinge in die lewenswyse van talle middelklasgesinne in Indië tot vetsug onder tieners. Hierdie epidemie het ’n pandemie geword wat deur baie lande versprei omdat meer mense minder oefen en aan gemorskos verslaaf raak. ’n Konsultant in adolessentegeneeskunde het gesê: “Die volgende geslag [in Brittanje] sal . . . die vetste in die geskiedenis van die mensdom wees.” Die Guardian Weekly het berig: “Vetsug was voorheen ’n probleem wat hoofsaaklik onder volwassenes voorgekom het. Nou het Brittanje ’n jong geslag wie se eetgewoontes en onaktiewe lewenswyse probleme veroorsaak wat aanvanklik in die Verenigde State gesien is. Langtermynvetsug sal hulle vatbaar maak vir kwale soos suiker- en hartsiekte asook kanker.”

Die skrywers van die boek Food Fight sê: “Ooretery het wanvoeding vervang as die wêreld se grootste voedselverwante probleem.” Don Peck het in The Atlantic Monthly geskryf: “Sowat negemiljoen Amerikaners ly tans aan ‘morbiede vetsug’; dit wil sê, hulle is ongeveer 45 kilogram of meer oorgewig.” Gewigsverwante toestande lei elke jaar tot sowat 300 000 voortydige sterftes in daardie land, “meer as enigiets anders behalwe rook”. Peck het tot dié slotsom gekom: “Vetsug kan binnekort hongersnood sowel as aansteeklike siektes verbysteek as die wêreld se dringendste openbare gesondheidsprobleem.” Wie kan dit dus bekostig om die bedreiging van vetsug te ignoreer? Dr. Walter C. Willett skryf in die boek Eat, Drink, and Be Healthy: “Die belangrikste maatstaf van jou toekomstige gesondheid, behalwe of jy rook of nie, is die syfer wat jy op jou badkamerskaal sien.” Die sleutelwoord hier is toekomstige gesondheid.

Hoe word vetsug gedefinieer?

Wanneer word ’n mens as vetsugtig beskou en nie net ietwat oorgewig nie? Die Mayo-kliniek in Rochester, Minnesota, VSA, sê: “Eenvoudig gestel, vetsug is wanneer iemand ernstig oorgewig is weens oortollige liggaamsvet.” Maar hoe stel ’n mens vas wat oorgewig is vir elke persoon? Lengte-gewig-tabelle kan ’n mens min of meer ’n idee gee of jy net oorgewig is en of jy aan vetsug ly. (Sien die tabel op bladsy 5.) Dit neem egter nie verskille in liggaamsbou in ag nie. Die Mayo-kliniek sê: “Liggaamsvet is ’n beter aanduiding van gesondheid as gewig.” ’n Atleet sal byvoorbeeld heel waarskynlik meer weeg as gevolg van spiermassa of ’n groot beenstruktuur. Wat is die grondliggende oorsake van oorgewig of vetsug? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.