Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lewe in die meule van Tsjeggië

Die lewe in die meule van Tsjeggië

Die lewe in die meule van Tsjeggië

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK

HONDERD jaar gelede kon die ritmiese gekletter van die kamratte van meule regoor Tsjeggië gehoor word. Die geluid het nie die rus versteur nie, maar het eerder tot die bekoring van die Tsjeggiese platteland bygedra. Die meul het ’n belangrike rol in die gemeenskap gespeel.

In daardie dae was dit gebruiklik dat die meulenaar se vrou heerlike, vars brood bak onmiddellik nadat die meel gemaal is. Ons kan in ons geestesoog sien hoe die meulenaar se vrou haar varsgebakte brood op ’n groot tafel neersit. Hoe lekker ruik dit tog! En hier kom die meulenaar. Hy is wit van kop tot tone en lyk nogal indrukwekkend! Hy roep sy gesin bymekaar om saam iets te eet.

Meule deur die eeue heen

Die meulenaarsbedryf is amper so oud soos die landbou self. In eertydse Israel was dit ’n algemene huishoudelike taak om graan te maal. Oor die algemeen het vroue die graan met behulp van handmeule gemaal, en dikwels het twee van hulle saam gewerk. Die Bybel meld ook groot meulstene wat deur diere gedraai is.—Markus 9:42.

Wanneer jy die woord “meul” hoor, dink jy dalk aan ’n windmeul. Maar op die Tsjeggiese platteland was watermeule gewilder. Waarom? Blykbaar het die inwoners van Tsjeggië gemeen dat lopende water die ekonomiesste en betroubaarste manier is om ’n meul aan te dryf.

In Tsjeggië, net soos in ander dele van Sentraal-Europa, is groot stelsels van damme, kanale en sluise gebou om die vloei van water na die meule te reguleer. Water is in meuldamme opgegaar, met kanale na die meule gelei en die vloei daarvan is deur sluise beheer. Party kanale was minder as 20 meter lank, maar ander was meer as ’n kilometer lank en het ’n hele paar meule langs die kanaal aangedryf.

Die meulenaar en sy helpers

Honderd jaar gelede het die Tsjeggiese meulenaar saam met sy hele gesin in die meul gewoon. Die meulenaar se woonplek en die vertrek waar die graan gemaal is, was onder dieselfde dak en omring deur dieselfde stewige klipmure. Die dorpsmense het hom gewoonlik “meester-vader” genoem. Dit was maklik om hom uit te ken aan sy wit broek waarvan die pype opgerol was, sy pet met ’n skaapvelrand en sy pantoffels.

’n Meulenaar moes fisies sterk wees om sy werk te doen—dink net aan al die sakke meel wat hy in sy leeftyd moes optel en dra! Meulenaars het ’n gerespekteerde ambag gehad, wat gewoonlik van vader na seun oorgedra is. Die seun het sy ambag tuis by sy vader geleer, maar hy kon ook ’n tyd lank saam met ander meestermeulenaars werk om meer ervaring op te doen.

Werk in die meul het die hele gesin besig gehou. Dikwels was die gesin se hulp nie genoeg nie en moes die meulenaar die huishouding vergroot deur permanente of seisoenwerkers aan te stel. Hulle was ervare meulenaars wat op die besigste tye van die jaar by verskeie meule uitgehelp het in ruil vir kos en blyplek.

’n Hoofmeulenaar—’n hoog aangeskrewe en bedrewe werker—was dikwels in beheer van die meul. Sy assistent was ’n jong man wat in die meulenaarsbedryf opgelei is en verantwoordelik was vir die werking van die meulmasjinerie. Die gehalte van die meel wat vervaardig is, is beskou as ’n maatstaf van die kennis en vernuf van die assistent. Daar was ook ’n vakleerling—’n intelligente seun wat altyd die ervare ouer meulenaars fyn dopgehou het. Niks is toegelaat om die vakleerling se aandag daarvan af te lei om sy ambag te leer nie.

Die meulstene

Die Bybelboek Job meld “’n onderste meulsteen” (Job 41:24). Hierdie eertydse verwysing gee ons ’n aanduiding van hoe meulstene gewerk het. Daar moes twee gewees het—’n boonste steen en ’n onderste steen. Die onderste steen was vas, maar die boonste steen is gedraai sodat dit die graan tussen die twee stene kon maal.

Aanvanklik is die meulstene van harde klip gemaak. Later is kunsmatige meulstene vervaardig wat uit vergruisde klip bestaan het en deur magnesiumchloried saamgebind is. ’n Ervare vakman het die kamratte van baie harde hout gemaak. Dit was ’n veeleisende taak om die kamratte te maak, nie net omdat dit ’n ingewikkelde ontwerp gehad het nie, maar ook omdat die ratte behoorlik inmekaar moes pas. Die kamratstelsel het die res van die meulmasjinerie vinniger laat draai. Die gekletter van hierdie kamratte het die meule hulle kenmerkende geluid gegee.

Meulenaars in Tsjeggiese volksoorleweringe

Hoewel sommige meulenaars eerlik en betroubaar was, was ander hebsugtig en baasspelerig of het hulle hulle klante verkul. In sommige liedjies is daar met meulenaars en hulle gesin gespot, terwyl hulle in ander geprys is en hulle helpers as geskikte huweliksmaats beskryf is! Ander liedjies meld oorstromings—wat buiten brande die grootste gevaar vir die meulenaar en sy meul ingehou het.

Die stories het ietwat verskil na gelang van die streek waaruit dit gekom het en die tydperk waarin dit ontstaan het. Andersins het die stories oral in Tsjeggië oor soortgelyke onderwerpe gehandel. Dit was die swerwende ambagsmanne wat hierdie verhale versprei en natuurlik daarop voortgeborduur het. Daar is dus tot vandag toe ’n Tsjeggiese gesegde: “Verhale word vertel en water loop”, wat impliseer dat ’n sekere verhaal of berig vermoedelik oordryf is.

Meule vandag

Met verloop van tyd het die meulenaarsambag geleidelik uitgesterf. Meule is gemoderniseer en wateraangedrewe meulmasjinerie is deur elektriese motore vervang. ’n Paar meulenaars het hulle tradisionele lewenswyse ten alle koste probeer behou, en party watermeule het tot ná die Tweede Wêreldoorlog in Tsjeggië in werking gebly. Maar die jaar 1948 het die einde beteken vir selfs die mees vasbeslote meulenaar. In daardie jaar het die meule die eiendom van die staat geword, en die meeste meule het opgehou werk en vervalle begin raak.

Die industriële meule van vandag het nie die bekoring van die meule van die verlede nie. Moderne masjiene, wat gewoonlik deur rekenaars beheer word, doen die maalwerk. Staalrollers het die meeste meulstene vervang. Nogtans lok die ouderwetse aard van die oorblywende ou meule nog steeds diegene wat van rustige, poëtiese plekke hou, sowel as toeriste wat op soek is na kultuur en geskiedenis.

Vandag is ’n hele paar meule in ontspanningsentrums omskep omdat hulle so bekoorlik is. Baie besoekers kom na Praag om die meulwiel by Čertovka, of “die Duiwel se meulvoor”, ’n vertakking van die Vltava-rivier, te sien. Hierdie meul het in 1938 afgebrand. Maar die meulwiel van byna sewe meter, wat meer as 600 jaar oud is, is in 1995 gerestoureer en tot kulturele monument verklaar. Tot vandag toe draai die wiel nog.

Hier waar ons vandag in ’n gerestoureerde meul staan, kan ons ons voorstel hoe die meulenaar ’n eeu gelede sy werk gedoen het. Ons kan die water hoor terwyl die meulwiel draai. Terwyl ons wegstap, verdwyn die meul uit die oog. Maar ons kan nog steeds die gekletter van die kamratte hoor—’n aangename geluid wat ons nog lank sal bybly.

[Prent op bladsy 22]

Meulsteen

[Prente op bladsy 22, 23]

1. ’n Ou handmasjien waarmee die graan skoongemaak is

2. Een van die meulstasies

3. Die hoofspil dra die krag van die waterwiel af oor na die meulstasies

4. Die meulwiel by Čertovka, met ’n deursnee van byna sewe meter, het voorheen die meul aangedryf

[Prent op bladsy 24]

Die meulwiel by Čertovka