Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bied die uitdagings van menopouse die hoof

Bied die uitdagings van menopouse die hoof

“Ek het soms sonder rede of waarskuwing hartseer gevoel. Ek het gehuil en gewonder of ek van my kop af raak.”—Rondro, * 50 jaar oud.

“Jy word in die oggend wakker, en jou huis is deurmekaar. Jy kan persoonlike goed nie kry nie. Wat jare lank vir jou maklik was om te doen, is nou vir jou baie moeilik, en jy weet nie waarom nie.”—Hanta, 55 jaar oud.

HIERDIE vroue was nie siek nie. Hulle het eerder deur die oorgang tot menopouse gegaan, wat ’n natuurlike verandering in ’n vrou se lewe is en op die einde van haar vrugbaarheid dui. Is jy ’n vrou wat hierdie tyd in jou lewe nader? Beleef jy dit reeds? Hoe dit ook al sy, hoe meer jy en jou geliefdes omtrent hierdie oorgangstydperk weet, hoe beter toegerus sal julle wees om die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, die hoof te bied.

Die oorgang tot menopouse

Die oorgang tot menopouse, wat ook perimenopouse (rondom menopouse) genoem word, sluit die tydperk in wat menopouse voorafgaan sowel as menopouse self. * Maar oor die algemeen word “menopouse” gebruik om na die hele oorgangstydperk te verwys.

Die meeste vroue se perimenopouse begin in hulle 40’s, maar party s’n begin eers in hulle 60’s. In die meeste gevalle hou menstruasie geleidelik op. Weens onreëlmatige hormoonproduksie kan ’n vrou maandstondes oorslaan, op ongewone tye bloei of besonder swaar maandstondes kry. ’n Klein aantal vroue hou skielik op menstrueer, as’ t ware oornag.

“Elke vrou ervaar menopouse op ’n ander manier”, sê die Menopause Guidebook. Dit sê ook: “Die algemeenste ongemak wat met menopouse verband hou, is warm gloede”, wat gevolg kan word deur ’n skielike koue gevoel. Hierdie simptome kan jou slaap ontwrig en jou van jou krag beroof. Hoe lank duur die ongemak voort?  Volgens The Menopause Book “kry party vroue een of twee jaar lank ’n paar warm gloede terwyl hulle deur die oorgang tot menopouse gaan. Ander ly jare lank, en ’n baie klein persentasie kry vir die res van hulle lewe nou en dan warm gloede.” *

Wisselvallige hormoonvlakke kan ’n vrou terneergedruk en buierig maak, wat daartoe kan lei dat sy huilerig is en nie goed konsentreer of onthou nie. Maar “dit is hoogs onwaarskynlik dat een vrou deur al hierdie dinge getref sal word”, sê The Menopause Book. Ja, party ondervind min, indien enige, probleme en ongemak.

Wat jy kan doen

Eenvoudige veranderinge in jou lewenswyse kan van die simptome verminder. Byvoorbeeld, rokers kan warm gloede verminder deur rook op te gee. Baie vroue vind ook baat by veranderinge in hulle dieet, soos om die inname van alkohol, kafeïen en sterk gekruide of soet kossoorte, wat tot warm gloede aanleiding kan gee, te beperk of selfs te vermy. Dit is natuurlik belangrik om gesond te eet, wat behels dat jy ’n gebalanseerde dieet moet volg wat ’n verskeidenheid kossoorte insluit.

Oefening kan ook baie help om die simptome van menopouse te verminder. Dit kan byvoorbeeld slaaploosheid verminder en jou gemoedstemming, beensterkte en algemene gesondheid baie laat verbeter. *

Kommunikeer openhartig

“Dit is nie nodig om in stilte te ly nie”, het Rondro gesê, wat vroeër aangehaal is. “As jy openhartig met jou geliefdes praat, sal hulle nie te bekommerd wees wanneer hulle opmerk wat met jou gebeur nie.” Trouens, hulle sal dalk geduldiger wees en meer begrip toon. “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik”, sê 1 Korintiërs 13:4.—Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Baie vroue vind ook baat by gebed, insluitende dié wat hartseer voel omdat hulle nie meer vrugbaar is nie. “[God] vertroos ons in al ons moeilikhede”, verseker die Bybel ons (2 Korintiërs 1:4, The New English Bible). Dit is ook vertroostend om te weet dat die oorgang tot menopouse tydelik is. Wanneer dit verby is, sal vroue wat aanhou om goed na hulle gesondheid om te sien, moontlik nuwe krag kry en nog baie jare lank ’n goeie lewensgehalte geniet.

^ par. 2 Name is verander.

^ par. 6 Menopouse het volgens dokters plaasgevind as ’n vrou 12 maande lank nie gemenstrueer het nie.

^ par. 8 Sekere mediese toestande, soos skildkliersiektes en ontstekings sowel as sekere geneesmiddels, kan ook warm gloede veroorsaak. Dit sal verstandig wees om hierdie faktore uit te skakel voordat daar aangeneem word dat warm gloede met menopouse verband hou.

^ par. 12 Dokters kan verskeie produkte, soos hormone, dieetaanvullings en antidepressante, voorskryf om hulle pasiënte deur die oorgang tot menopouse te help. Ontwaak! staan nie enige produk of terapie voor nie.