Ons beskou die wêreld
Verenigde State
Die stad Los Angeles, Kalifornië, het sy bykans 4 500 verkeersligte, wat oor sowat 1 215 vierkante kilometer versprei is, gesinchroniseer. Volgens The New York Times is Los Angeles “die eerste groot stad in die wêreld wat dit gedoen het”.
Wêreld
’n Wêreldwye gesondheidsopname het aan die lig gebring dat vetsug tussen 1990 en 2010 met 82 persent toegeneem het. Oortollige liggaamsgewig veroorsaak meer as drie keer soveel sterftes as ondervoeding—hoewel ’n tekort aan voedsel in baie lande nog steeds ’n probleem is. Ons wêreld het in werklikheid “verander van ’n wêreld van 20 jaar gelede waar mense nie genoeg kos gekry het om te eet nie, na vandag se wêreld waar te veel kos en ongesonde kos—selfs in ontwikkelende lande—ons siek maak”, het Majid Ezzati, een van die hoofnavorsers, gesê.
Midway-eiland
’n Swartwangalbatros, wat glo die “wêreld se oudste bekende vryvlieënde voël” is, het haar soveelste kuiken uitgebroei. Hoe oud is die moedervoël? Sy is die eerste keer in 1956 gering toe sy ten minste vyf jaar oud was, wat beteken dat sy nou ver oor die 60 jaar oud is. Hierdie albatros het in haar leeftyd waarskynlik tussen drie- en viermiljoen kilometer ver gevlieg—wat gelykstaande is aan vier tot ses heen-en-terug-reise van die aarde na die maan.
Suid-Afrika
’n Studie toon dat ongeveer ’n derde van Suid-Afrikaanse vroue hulle velkleur probeer ligter maak deur sepe en rome te gebruik wat velverbleikers bevat. Hierdie velverligters is gevaarlik, en verskeie lande het dit al verbied. Van die gevare daaraan verbonde is verskillende soorte kanker, nierskade, depressie, angs, veluitslag en letsels.