DIE BYBEL SE BESKOUING
Die aarde
Wat is God se voorneme met die aarde?
“Só het Jehovah gesê . . . , die Formeerder van die aarde . . . , wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word.”—Jesaja 45:18.
WAT MENSE SÊ
Baie sê dat die aarde vanself ontstaan het. Party godsdienste leer dat die aarde ’n tydelike toetsterrein is waar God mense ondersoek om te sien of hulle met hemelse lewe beloon moet word of tot ’n helse vuur veroordeel moet word.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel sê: “God [het] die hemel en die aarde geskep.” (Genesis 1:1) Hy het vir die eerste mensepaar gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, . . . en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Die enigste vermelding van die dood was in verband met ongehoorsaamheid (Genesis 2:17). God wou dus gehad het dat die aarde die ewige tuiste van die mensdom moet wees. Dit moet vol gehoorsame mense wees wat daarna omsien en vir ewig daarop lewe.
Sal die aarde vernietig word?
“Hy het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie.” —Psalm 104:5.
WAT MENSE SÊ
Wetenskaplikes het verskeie scenario’s geskets waarvolgens die aarde vernietig of onbewoonbaar gemaak kan word. Dit word soms bestaansgevare genoem en sluit natuurrampe in, soos die impak van asteroïede of komete, supervulkane, die uitbranding van die son of aardverwarming asook mensgemaakte rampe, soos kernoorlog of bioterrorisme.
WAT DIE BYBEL SÊ
God se voorneme met die aarde het nie verander nie. God se Woord sê uitdruklik: “Die aarde bly tot onbepaalde tyd staan” (Prediker 1:4). Wat meer is, dit sal tot in ewigheid bewoon word: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
WAAROM MAAK DIT SAAK?
Die oortuiging dat die aarde uiteindelik vernietig sal word, het daartoe gelei dat party sy kosbare hulpbronne plunder. Ander het alle hoop vir die toekoms verloor en lewe net vir vandag. Dit kan lei tot ’n lewe wat geen betekenis of doel het nie. As ons daarenteen glo dat ons vir ewig op die aarde kan lewe, sal ons meer geneig wees om besluite te neem wat ons en ons gesinne tot voordeel sal strek—selfs tot in die verre toekoms.
Is die hemel die mens se finale bestemming?
“Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.
WAT MENSE SÊ
Baie glo dat alle goeie mense hemel toe gaan.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die hemel behoort aan God, maar die aarde is vir die mens bedoel. Die Bybel praat van “die toekomstige bewoonde aarde” (Hebreërs 2:5). Jesus was die eerste mens wat opgevaar het hemel toe, en die Bybel toon dat ’n paar uitverkore mense ook vir ’n spesifieke doel hemel toe sal gaan. Hulle sal saam met Jesus “as konings oor die aarde heers”.—Openbaring 5:9, 10; Lukas 12:32; Johannes 3:13.
WAAROM MAAK DIT SAAK?
Die oortuiging dat alle goeie mense hemel toe gaan, stem nie ooreen met wat die Bybel werklik leer nie. As God alle goeie mense hemel toe sou neem, sou dit te kenne gee dat hy nie daarin kon slaag om sy oorspronklike voorneme met die aarde te verwesenlik nie en dat sy beloftes aangaande ewige lewe op die aarde nie waar is nie. Maar God se Woord belowe: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem.”—Psalm 37:34.