Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Israel, Jordanië en Palestina

Die Dooie See krimp met nagenoeg ’n meter per jaar. Party vrees dat hierdie meer teen die jaar 2050 heeltemal kan opdroog. Beamptes soek ’n oplossing. Een opsie wat ondersoek word, is om water uit die Rooisee te ontsout vir drinkwater en dan die byproduk, soutwater, in die Dooie See in te pomp. Kritici vrees dat die plan die unieke ekosisteem van die Dooie See sal beskadig.

Duitsland

Op Kersdag word omtrent ’n derde meer hartaanvalpasiënte in hospitale opgeneem as op enige ander dag in die jaar, is daar bevind in ’n opname deur ’n versekeringsmaatskappy. Die maatskappy doen aan die hand dat ’n toename in stres weens ’n soektog na Kersgeskenke en onredelik hoë verwagtinge van familie en vriende een van die hoofoorsake is.

Brittanje

Britse wetenskaplikes het aangekondig dat ’n Yslandse weekdier wat hulle gedink het 405 jaar oud was, in werklikheid 507 jaar oud was toe dit in 2006 ’n ontydige dood gesterf het. Dit was dus die langslewende dier * op rekord. Die gapermossel het doodgegaan toe navorsers dit gevries het om dit na hulle laboratorium te vervoer.

Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande

By ’n leiersbyeenkoms wat vroeër vanjaar in Havana, Kuba, gehou is, het die 33 lidstate van die Gemeenskap van Latyns-Amerikaanse en Karibiese State verklaar dat hulle lande ’n ‘vredesone’ is. Hulle het dit gedoen deur ooreen te kom om konflikte tussen hulle sonder geweld op te los. Onder die aanwesiges was die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies Ban Ki-moon.

^ par. 7 Hier sluit die term “langslewende dier” nie organismes in wat in kolonies voorkom nie, soos koraal, wat klaarblyklik duisende jare lank lewe.