HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Leer jou kinders om gehoorsaam te wees
DIE UITDAGING
Jy en jou vierjarige is gedurig in ’n wilstryd gewikkel, en dit lyk of jou kind altyd wen.
-
Wanneer jy vir hom sê om iets te doen wat hy nie wil doen nie, ignoreer hy jou. *
-
Wanneer jy vir hom sê om nie iets te doen wat hy wil doen nie, lei dit tot ’n woedeuitbarsting.
‘Is dit net ’n stadium?’ wonder jy dalk. ‘Moet ek maar net hoop dat hy dit sal ontgroei?’
Jy kan jou kind leer om gehoorsaam te wees. Maar voordat ons bespreek hoe om dit te doen, kyk na een moontlike rede vir sy slegte gedrag.
WAAROM DIT GEBEUR
Toe jou kind ’n baba was, was jou vernaamste rol dié van versorger. Jy moes altyd vir hom regstaan. As hy net ’n kermgeluidjie gemaak het, het jy aangehardloop gekom om hom enigiets te gee wat hy nodig het. Hierdie reaksie was natuurlik gepas en belangrik. ’n Baba het voortdurend ’n ouer se aandag nodig.
Maar nadat ’n kind maande lank so behandel is, is dit net natuurlik dat hy sal optree asof hy die baas in die huis is en sy ouers die knegte is, wat moet doen wat hy sê. Dan, gewoonlik teen tweejarige ouderdom, word die kind bewus van ’n wrede werklikheid: Sy “alleenheerskappy” het tot ’n einde gekom. Sy ouers voer nie meer sy bevele uit nie; hulle verwag dat hy hulle bevele moet uitvoer. Dit is ’n wrede ontnugtering vir kinders! Party reageer met woedeuitbarstings. Ander stel hulle ouers se gesag op die proef deur te weier om gehoorsaam te wees.
Gedurende hierdie kritieke tyd moet ’n ouer ’n nuwe rol aanneem—dié van ’n gesagsfiguur wat duidelike leiding gee oor wat van die kind verwag word. Maar sê nou die kind ignoreer of verwerp hierdie leiding, soos uitgebeeld word in die scenario aan die begin van hierdie artikel?
WAT JY KAN DOEN
Neem die leiding. Jou kind sal nie jou rol as leier aanvaar tensy hy sien dat jy die leiding neem nie. Jy moet dus jou gesag op ’n gebalanseerde wyse laat geld. In onlangse dekades het party sogenaamde deskundiges die woord “gesag” na iets wreeds laat klink. Een van hulle noem ouerlike gesag selfs “oneties” en “onsedelik”. Maar die alternatief—permissiwiteit—kan kinders verwar en hulle laat dink dat hulle altyd hulle sin kan kry en dat hulle op alles geregtig is. Dít sal hulle nie juis help om verantwoordelike volwassenes te word nie.—Bybelbeginsel: Spreuke 29:15.
Pas dissipline toe. Een woordeboek omskryf dissipline as “opleiding wat gehoorsaamheid of selfbeheersing tot gevolg het, dikwels in die vorm van reëls en straf as hierdie reëls verbreek word”. Dissipline moet natuurlik nooit onredelik of wreed wees nie. Maar dit moet ook nie vaag of ongegrond wees nie, sodat die kind geen motivering het om te verander nie.—Bybelbeginsel: Spreuke 23:13.
Sê reguit wat jy verwag. Party ouers vra bloot vir hulle kind se gehoorsaamheid. (“Ek wil hê jy moet jou kamer aan die kant maak—Oukei?”) Hulle voel dalk dat dit beleefd is. Maar hierdie benadering kan die ouer in ’n onderdanige posisie plaas en die kind toelaat om die voor- en nadele van die versoek te oorweeg en dan te besluit of hy dit wil gehoorsaam of nie. Moenie van jou gesag afstand doen nie, maar gee eerder duidelike leiding in die vorm van stellings.—Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 14:9.
Tree beslissend op. As jy nee sê, bly daarby, en vorm ’n verenigde front met jou huweliksmaat. As jy op ’n straf vir ongehoorsaamheid besluit het, voer dit deur. Moenie betrokke raak by onderhandelinge of by ’n lang bespreking van waarom jy ’n sekere besluit geneem het nie. Dit sal vir jou kind—en vir jou—baie makliker wees as jy eenvoudig ‘jou Ja, Ja laat beteken, en jou Nee, Nee’.—Jakobus 5:12.
Wees liefdevol. Die gesin is nie ’n demokrasie of ’n diktatorskap nie. Dit is eerder ’n godgegewe reëling waaronder kinders liefdevol gelei kan word om verantwoordelike volwassenes te word. As deel van hierdie proses sal dissipline jou kind leer om gehoorsaam te wees en hom help om veilig te voel in jou liefde.
^ par. 5 Hoewel ons na die kind as ’n seun verwys, is die beginsels wat in hierdie artikel bespreek word, ook op meisies van toepassing.