Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Verstandige vrou luister na haar gewete

DIE BYBEL SE BESKOUING

Aborsie

Aborsie

Elke jaar word meer as 50 miljoen aborsies opsetlik uitgevoer. Dit is meer as die bevolking van baie lande.

Is dit net ’n persoonlike besluit?

WAT MENSE SÊ

 

Daar is baie redes waarom vrouens ’n aborsie ondergaan. Moontlik is dit omdat hulle finansieel swaarkry, probleme in hulle verhouding het, graag verder wil studeer of op hulle loopbaan wil konsentreer. Party sien nie kans om ’n kind alleen groot te maak nie. Maar ander glo dat aborsie verkeerd is omdat die swanger vrou nie haar morele verpligting nakom nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

 

In God se oë is lewe—veral menselewe—heilig (Genesis 9:6; Psalm 36:9). Dit geld ook vir ’n ongebore baba. God wou hê dat die baarmoeder vir die baba ’n veilige plek moet wees om te ontwikkel. ’n Bybelskrywer het gesê: “U het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. . . . U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe, met betrekking tot die dae toe hulle gevorm is.”—Psalm 139:13, 16.

God se beskouing van die lewe van ’n ongebore baba word weerspieël in die Wet wat hy aan die nasie Israel gegee het en in ons godgegewe gewete. God se Wet het gesê dat iemand wat ’n swanger vrou beseer en haar ongebore kind se dood veroorsaak, doodgemaak moes word. Die moordenaar moes met sy eie lewe betaal vir die lewe wat hy geneem het (Eksodus 21:22, 23). Die regters moes natuurlik die motiewe van die oortreder en al die omstandighede in ag neem.—Numeri 35:22-24, 31.

Mense het ook ’n gewete van God ontvang. Wanneer ’n vrou na haar gewete, of innerlike stem, luister deur die lewe van haar ongebore kind te beskerm, sal sy ’n skoon gewete hê. * As sy haar gewete ignoreer, sal dit haar begin pla of selfs veroordeel (Romeine 2:14, 15). Volgens studies is daar ’n groter kans dat vroue wat ’n aborsie ondergaan het, aan angs en depressie sal ly.

Maar sê nou jy is bang vir die verantwoordelikheid om ’n kind groot te maak, veral as die swangerskap nie beplan is nie? Kyk wat God belowe vir diegene wat aan hom gehoorsaam is: “Met iemand wat lojaal is, sal u lojaal handel; met die onberispelike man [of vrou] sal u onberispelik handel” (Psalm 18:25). Ons lees ook: “Want Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie.”—Psalm 37:28.

“Terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle eie gedagtes hulle onderling beskuldig of selfs verontskuldig.”Romeine 2:15.

Sê nou jy het ’n aborsie gehad?

WAT MENSE SÊ

 

Ruth, ’n enkelouer, sê: “Ek het drie jong kinders gehad en ek het nie kans gesien vir nog ’n kind nie. Maar nadat ek ’n aborsie gehad het, het dit gevoel asof ek iets verskrikliks gedoen het.” * Sal God haar ooit kan vergewe vir wat sy gedoen het?

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Jesus Christus se woorde weerspieël hoe God hieroor voel: “Ek het nie gekom om regverdiges tot berou te roep nie, maar sondaars” (Lukas 5:32). Ja, wanneer ons regtig jammer is oor iets wat ons gedoen het en berou toon en God vra om ons te vergewe, doen hy dit vryelik—selfs al is dit ’n ernstige sonde (Jesaja 1:18). “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie”, sê Psalm 51:17.

God gee die berouvolle persoon ’n skoon gewete en gemoedsrus wanneer hy of sy nederig tot hom bid. Filippense 4:6, 7 sê: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.” * Ruth het hierdie innerlike vrede gekry nadat sy die Bybel gestudeer het en haar hart voor God uitgestort het. Sy het besef dat daar “ware vergifnis” by God is.—Psalm 130:4.

[God] het nie met ons gehandel volgens ons sondes nie; ook het hy nie volgens ons oortredings oor ons gebring wat ons verdien nie.”Psalm 103:10.

^ par. 10 ’n Moontlike gesondheidsgevaar vir die ma of die kind regverdig nie ’n aborsie nie. As ’n paartjie tydens geboorte moet kies tussen die lewe van die ma of die kind, is dit ’n persoonlike besluit. Maar in ontwikkelde lande is daar al soveel mediese vooruitgang gemaak dat so ’n situasie baie ongewoon is.

^ par. 15 Naam is verander.

^ par. 18 Die opstandingshoop kan ook ’n persoon help om innerlike vrede te kry. Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 April 2009. Dit bespreek of daar enige hoop op ’n opstanding is vir ’n baba wat in die baarmoeder sterf.