VIR GETROUDES
3: Respek
WAT DIT BETEKEN
’n Man en vrou wat mekaar respekteer, bly lief vir mekaar selfs wanneer hulle nie oor iets saamstem nie. Die boek Ten Lessons to Transform Your Marriage sê: “Getroudes wat mekaar respekteer, bly nie hardkoppig by hulle eie standpunt nie. Hulle praat eerder oor die probleem en luister mooi na mekaar. Hulle probeer oplossings kry waarmee altwee gelukkig sal wees.”
BYBELWAARHEID: “Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie.” — 1 Korintiërs 13:4, 5.
“As ek my vrou respekteer, beteken dit dat ek haar waardeer. En ek wil niks doen wat haar of ons huwelik sal seermaak nie.” — Micah.
HOEKOM DIT BELANGRIK IS
As daar geen respek is nie, kan getroudes mekaar begin seermaak deur gereeld kritiese, sarkastiese en lelike dinge te sê. Navorsers sê dat dit die eerste tekens is dat ’n paartjie heel moontlik sal skei.
“As jy grappies oor jou vrou maak, negatiewe dinge oor haar sê of lelike dinge insinueer, sal dit julle huwelik beskadig. Dit sal haar selfvertroue breek en sy sal haar vertroue in jou heeltemal verloor.” — Brian.
WAT JULLE KAN DOEN
’N TOETS VIR JOU
Hou vir ’n week lank alles dop wat jy sê en doen. Beantwoord dan die volgende vrae:
-
‘Hoe gereeld het ek my maat gekritiseer, en hoe gereeld het ek haar gekomplimenteer?’
-
‘Op watter maniere het ek gewys dat ek my maat respekteer?’
’N TOETS VIR JULLE
-
Wat kan jou maat doen en sê om te wys dat hy of sy jou respekteer?
-
Wat doen en sê jou maat wat jou laat voel dat hy of sy jou nie respekteer nie?
PROBEER DIE VOLGENDE
-
Skryf drie dinge neer wat jy wil hê jou maat moet doen om te wys dat hy of sy jou respekteer. Laat jou maat ook ’n lysie maak. Vat mekaar se lysies en werk aan die punte wat jou maat neergeskryf het.
-
Maak ’n lysie van jou maat se goeie eienskappe. Sê dan vir jou maat hoe baie jy van hierdie eienskappe hou.
“Ek respekteer my man deur vir hom te wys dat ek hom waardeer en wil hê dat hy gelukkig moet wees. Die dinge wat ek doen, is nie altyd iets groots nie. Partykeer is dit die klein dingetjies wat tel.” — Megan.
Op die einde van die dag maak dit nie saak of jy dink dat jy jou maat respekteer of nie. Wat regtig belangrik is, is dat jou maat voel dat jy hom of haar respekteer.
BYBELWAARHEID: Beklee julle dan met simpatie, goedhartigheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. — Kolossense 3:12.