Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die merkwaardige Arktiese seeswaeltjie

Die merkwaardige Arktiese seeswaeltjie

DAAR is lank geglo dat die Arktiese seeswaeltjie omtrent 35 000 km vlieg, vanaf die Arktiese streek tot by Antarktika en terug. Maar onlangse studies het gewys dat hierdie voëltjie eintlik baie verder vlieg.

Seeswaeltjies volg nie ’n reguit roete nie, soos ons in die prentjie kan sien

Klein instrumente is aan ’n paar voëltjies vasgemaak om die afstand van hulle vlug te meet. Hierdie slim toestelletjies weeg skaars een gram. Dit het gewys dat party seeswaeltjies elke jaar gemiddeld 90 000 km trek—die grootste afstand wat enige dier migreer. Een voëltjie het amper 96 000 km ver gevlieg! Hoekom so ver?

Dit maak nie saak waar die Arktiese seeswaeltjie sy trek begin nie, hy volg nooit ’n reguit roete nie. Soos ons in die prentjie kan sien, vorm die gewone roete oor die Atlantiese Oseaan ’n “S”. Hoekom? Die voëls maak eenvoudig gebruik van heersende winde.

Seeswaeltjies vlieg ver oor die 2,4 miljoen km gedurende hulle leeftyd van omtrent 30 jaar. Dit is soos om drie of vier keer heen en weer na die maan te vlieg! “Dis ’n ongelooflike prestasie vir ’n voëltjie wat net ’n bietjie meer as 100 gram weeg”, het een navorser gesê. En omdat die Arktiese seeswaeltjies elke keer by die Noord- en Suidpool is wanneer dit daar somer is, ervaar hulle “meer daglig as enige ander dier of mens”, sê die boek Life on Earth: A Natural History.