Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy die waarheid jou eie gemaak?

Het jy die waarheid jou eie gemaak?

Het jy die waarheid jou eie gemaak?

“Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.”—ROMEINE 12:2.

1, 2. Waarom is dit vandag nie maklik om ’n ware Christen te wees nie?

 DIT is nie maklik om in hierdie laaste dae—hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’—’n ware Christen te wees nie (2 Timoteus 3:1). Feit is dat ’n mens die wêreld moet oorwin as jy Christus se voorbeeld wil navolg (1 Johannes 5:4). Onthou dat Jesus oor die Christelike weg gesê het: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.” Hy het ook gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.”—Matteus 7:13, 14; Lukas 9:23.

2 As ’n Christen eers die smal pad na die lewe gevind het, is sy volgende uitdaging om daarop te bly. Waarom is dit ’n uitdaging? Omdat ons toewyding en doop ons ’n skyf maak van Satan se listige dade, of subtiele sette (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Hy let op ons swak punte en probeer dit uitbuit in ’n poging om ons geestelikheid te ondermyn. As hy Jesus se onkreukbaarheid probeer ondermyn het, waarom sou hy ons dan in vrede laat?—Matteus 4:1-11.

Satan se listige taktiek

3. Hoe het Satan twyfelgedagtes by Eva gesaai?

3 Een set wat Satan gebruik, is om twyfelgedagtes by ons te saai. Hy soek na swak plekke in ons geestelike wapenrusting. Heel in die begin het hy hierdie taktiek met Eva gebruik en gevra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1). Met ander woorde, Satan het gesê: ‘Is dit werklik moontlik dat God so ’n verbod op julle kon geplaas het? Sou hy iets wat so goed is van julle weerhou? God weet immers dat die dag as julle van die boom eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken!’ Satan het ’n saadjie van twyfel gesaai en gewag dat dit ontkiem.—Genesis 3:5NW.

4. Watter twyfelgedagtes het vandag moontlik ’n uitwerking op party?

4 Hoe gebruik Satan hierdie taktiek vandag? As ons ons Bybellees, ons persoonlike studie, ons gebede en ons Christelike bediening en vergaderinge verwaarloos, kan dit makliker wees vir ander om twyfelgedagtes by ons te wek. Byvoorbeeld: “Hoe weet ons dat ons die waarheid het wat Jesus mense geleer het?” “Lewe ons werklik in die laaste dae? Ons is immers reeds in die 21ste eeu.” “Is ons op die drumpel van Armageddon of is dit nog ver in die toekoms?” Wat kan ons doen om sulke twyfelgedagtes te verdryf as dit wel by ons opkom?

5, 6. Wat moet ons doen as twyfelgedagtes ontstaan?

5 Jakobus het praktiese raad gegee toe hy geskryf het: “As een van julle . . . wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word. Trouens, dié mens moet nie veronderstel dat hy enigiets van Jehovah sal ontvang nie; hy is ’n besluitelose mens, onbestendig in al sy weë.”—Jakobus 1:5-8.

6 Wat moet ons dan doen? As ons vrae of twyfelgedagtes het, moet ons “aanhou om God te vra” vir geloof en insig en moet ons ons selfs meer inspan om persoonlike studie te doen. Ons kan ook diegene wat sterk is in die geloof, om hulp vra, en ons moet nooit twyfel dat Jehovah ons die nodige ondersteuning sal gee nie. Jakobus het ook gesê: “Onderwerp julle dus aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle wegvlug. Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Ja, ons twyfelgedagtes sal verdwyn namate ons nader aan God kom deur middel van studie en gebed.—Jakobus 4:7, 8.

7, 8. Wat is ’n paar basiese maatstawwe waarvolgens ons kan bepaal watter vorm van aanbidding Jesus mense geleer het, en wie voldoen daaraan?

7 Dink byvoorbeeld aan die vraag: Hoe weet ons dat ons God aanbid op die manier wat Jesus mense geleer het? Volgens watter maatstawwe kan ons dit bepaal? Die Bybel toon dat ware Christene ware liefde onder mekaar moet hê (Johannes 13:34, 35). Hulle moet God se naam, Jehovah, heilig (Jesaja 12:4, 5; Matteus 6:9). En hulle moet hierdie naam bekend maak.—Exodus 3:15, NW; Johannes 17:26.

8 Nog ’n kenmerk van ware aanbidding is respek vir God se Woord, die Bybel. Dit is die enigste boek wat God se persoonlikheid en sy voornemens openbaar (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Daarbenewens verkondig ware Christene die Koninkryk van God as die mensdom se enigste hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde (Markus 13:10; Openbaring 21:1-4). Hulle raak nie by hierdie wêreld se korrupte politiek en verdorwe lewenswyse betrokke nie (Johannes 15:19; Jakobus 1:27; 4:4). Wie voldoen vandag werklik aan hierdie maatstawwe? Die feite toon duidelik dat daar net een antwoord is—Jehovah se Getuies.

Sê nou twyfelgedagtes wil nie weggaan nie?

9, 10. Wat kan ons doen as ons twyfelgedagtes nie wil weggaan nie?

9 Gestel ons vind dat ons deur twyfelgedagtes oorweldig word. Wat moet ons doen? Die wyse koning Salomo gee die antwoord: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”Spreuke 2:1-5, ons kursiveer.

10 Is dit nie ’n verstommende gedagte nie? As ons gewillig is om noukeurig ag te slaan op God se wysheid, sal ons “die kennis van God vind”. Ja, die kennis van die Soewereine Heer van die heelal is binne ons bereik as ons gewillig is om sy woorde aan te neem en te bewaar. Dit beteken dat ons ons in gebed en deur persoonlike studie tot Jehovah wend. Die verborge skatte van sy Woord kan enige twyfelgedagtes verdryf en ons help om die lig van waarheid te sien.

11. Watter uitwerking het twyfel op Elisa se dienaar gehad?

11 ’n Goeie voorbeeld van hoe gebed ’n kneg van God gehelp het wat vreesbevange was en twyfelgedagtes gekoester het, word in 2 Konings 6:11-18 gevind. Elisa se dienaar het nie geestelike insig gehad nie. Hy kon nie onderskei dat ’n hemelse leërskaar daar was om God se profeet, wat deur die Aramese leër omsingel was, te ondersteun nie. Die dienaar het vreesbevange uitgeroep: “Ag, my heer, hoe sal ons maak?” Hoe het Elisa gereageer? “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Maar hoe sou die dienaar oortuig word? Hy kon nie die hemelse leërskaar sien nie.

12. (a) Hoe is die dienaar se twyfelgedagtes verdryf? (b) Hoe kan ons enige twyfelgedagtes verdryf wat ons dalk het?

12 “Elisa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.” Jehovah het in dié geval die dienaar die hemelse leërskaar wat Elisa beskerm het, laat sien. Ons moet egter nie vandag verwag dat God ons op presies dieselfde manier sal help nie. Onthou, daardie dienaar van die profeet het nie die hele Bybel gehad wat hy kon bestudeer om sy geloof te versterk nie. Ons het wel die Bybel. As ons dit goed benut, kan ons geloof op soortgelyke wyse versterk word. Ons kan byvoorbeeld nadink oor die verskeie verslae wat ’n beskrywing gee van Jehovah in sy hemelse hof. Dit laat geen twyfel dat Jehovah wel ’n hemelse organisasie het wat sy knegte vandag in die wêreldwye onderrigtingswerk ondersteun nie.—Jesaja 6:1-4; Esegiël 1:4-28; Daniël 7:9, 10; Openbaring 4:1-11; 14:6, 7.

Pas op vir Satan se sette!

13. Op watter maniere probeer Satan ons houvas op die waarheid verswak?

13 Wat is van die ander maniere waarop Satan ons geestelikheid en ons houvas op die waarheid kan verswak? Een manier is onsedelikheid, in sy verskillende vorme. In vandag se seksbehepte wêreld het die sogenaamde verhouding (’n eufemisme vir ontrouheid) of ’n enkele nag van passie (losse geslagsomgang) iets alledaags geword vir ’n hedonistiese geslag wat daarop uit is om ten alle koste pret te hê. Rolprente, die TV en video’s bevorder hierdie lewenswyse. Die media, en veral die Internet, is deurtrek van pornografie. En die nuuskieriges loop gevaar om in versoeking te kom.—1 Tessalonisense 4:3-5; Jakobus 1:13-15.

14. Waarom het party Christene die slagoffer van Satan se sette geword?

14 Party Christene het toegelaat dat hulle nuuskierigheid die oorhand kry en het hulle verstand en hart besoedel deur na sagte pornografie of selfs harde pornografie te kyk. Hulle het toegelaat dat hulle in Satan se verloklike strik trap. Dit het dikwels gelei tot geestelike skipbreuk. Hierdie mense het nie “klein kindertjies ten opsigte van slegtheid” gebly nie. Hulle het nie “volgroeid in begripsvermoëns” geword nie (1 Korintiërs 14:20). Elke jaar moet duisende die wrange vrugte pluk omdat hulle nie by die beginsels en standaarde van God se Woord gebly het nie. Hulle het nagelaat om hulle “volledige wapenrusting . . . wat van God kom”, aan te trek en in stand te hou.—Efesiërs 6:10-13; Kolossense 3:5-10; 1 Timoteus 1:18, 19.

Bewaar wat ons het

15. Waarom is dit dalk vir party moeilik om hulle geestelike erfenis te waardeer?

15 “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”, het Jesus gesê (Johannes 8:32). Die meeste Getuies moes hulle vorige lewenswyse en godsdiensbande laat vaar. Daarom is hulle meer geneig om die vryheid te waardeer wat die waarheid bring. Aan die ander kant vind sommige jongmense wat grootgemaak is deur ouers wat in die waarheid is, dit dalk moeilik om hulle geestelike erfenis te waardeer. Hulle was nog nooit ’n deel van valse godsdiens of ’n deel van hierdie wêreld met sy klem op die najaging van plesier, sy dwelmverslawing en sy onsedelikheid nie. Gevolglik sien hulle nie die skerp teenstelling tussen ons geestelike paradys en Satan se verdorwe wêreld nie. Sommige swig dalk selfs voor die versoeking om die wêreld se gif te proe om te sien wat hulle misgeloop het!—1 Johannes 2:15-17; Openbaring 18:1-5.

16. (a) Watter vrae kan ons ons afvra? (b) Wat word ons geleer en aangemoedig om te doen?

16 Moet ons werklik ons vingers brand om te weet wat pyn en lyding is? Kan ons nie uit die slegte ondervindinge van ander leer nie? Moet ons na “die modder” van hierdie wêreld gaan om te sien of ons enigiets misgeloop het? (2 Petrus 2:20-22). Petrus het Christene van die eerste eeu wat voorheen ’n deel van Satan se wêreld was, herinner: “Die tyd wat verby is, is voldoende vir julle om die wil van die nasies te kon volbring toe julle in losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye, drinkpartye en onwettige afgoderye gewandel het.” Ons hoef sekerlik nie in die wêreld se “lae poel van losbandigheid” af te sink om te sien hoe verdorwe die lewe kan wees nie (1 Petrus 4:3, 4). Inteendeel, ons word Jehovah se hoë sedelike standaarde geleer by ons Koninkryksale, wat sentrums vir Bybelonderrig is. En ons word aangemoedig om ons denkvermoë te gebruik om aan onsself te bewys dat ons die waarheid het en om sodoende die waarheid ons eie te maak.—Josua 1:8; Romeine 12:1, 2; 2 Timoteus 3:14-17.

Ons naam is nie bloot ’n etiket nie

17. Hoe kan ons as Getuies van Jehovah ons werk doeltreffend doen?

17 As ons die waarheid ons eie maak, sal ons by elke gepaste geleentheid vir ander daarvan wil vertel. Dit beteken nie dat ons dit sal probeer afdwing op diegene wat geen belangstelling toon nie (Matteus 7:6). Maar ons sal nie bang wees om onsself as Jehovah se Getuies te identifiseer nie. As iemand selfs net ’n bietjie belangstelling toon deur ’n opregte vraag te vra of deur ’n Bybelpublikasie te neem, sal ons gereed en voorbereid wees om hom van ons hoop te vertel. Dit sou natuurlik beteken dat ons altyd die een of ander vorm van lektuur by ons moet hê ongeag waar ons is—by die huis, by die werk, by die skool, in die winkel of by ontspanningsplekke.—1 Petrus 3:15.

18. Hoe kan dit ’n positiewe krag in ons lewe wees as ons ons duidelik identifiseer as Christene?

18 Wanneer ons ons duidelik identifiseer as Christene, versterk ons ons weerstand teen Satan se verraderlike aanvalle. As daar ’n verjaarsdag- of Kerspartytjie of ’n lotery by die werk is, sal medewerkers dikwels sê: “Jy hoef haar nie te vra nie. Sy is een van Jehovah se Getuies.” Mense sal om dieselfde rede minder geneig wees om vuil grappe in ons teenwoordigheid te vertel. As ons ons Christelike standpunt bekend maak, dien dit dus as ’n positiewe krag in ons lewe, net soos die apostel Petrus getoon het: “Ja, wie is die mens wat julle kwaad sal aandoen as julle ywerig word vir wat goed is? Maar selfs as julle ter wille van regverdigheid sou ly, is julle gelukkig.”—1 Petrus 3:13, 14.

19. Hoe weet ons dat ons diep in die laaste dae lewe?

19 Nog ’n voordeel daarvan om die waarheid ons eie te maak, is dat ons oortuig sal wees dat ons beslis in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge lewe. Ons sal weet dat baie van die Bybel se profesieë in ons tyd hulle klimaks bereik. a Paulus se waarskuwing dat “daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”, word dubbel en dwars bevestig deur die skrikwekkende gebeure van die afgelope eeu (2 Timoteus 3:1-5; Markus 13:3-37). ’n Onlangse koerantartikel aangaande die 20ste eeu het dié opskrif gehad: “Dit sal as die eeu van barbaarsheid onthou word.” Die artikel het gesê: “1999 was die moorddadigste jaar in die tweede helfte van die moorddadigste eeu.”

20. Dit is nou die tyd vir watter optrede?

20 Dit is nie nou die tyd om op twee gedagtes te hink nie. Jehovah se seën kan duidelik gesien word op die grootste Bybelonderrigtingswerk wat in die hele wêreld gedoen is tot ’n getuienis vir die nasies (Matteus 24:14). Maak die waarheid jou eie en verkondig dit aan ander. Jou ewige toekoms hang af van wat jy nou doen. As ons verslap, sal ons nie Jehovah se seën ontvang nie (Lukas 9:62). Dit is nou eerder die tyd om “standvastig, onbeweeglik [te word], terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie”.—1 Korintiërs 15:58.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 15 Januarie 2000, bladsye 12-14. Paragrawe 13-18 gee ’n oorsig van ses kragtige bewyse dat ons sedert 1914 in die laaste dae lewe.

Onthou jy?

• Hoe kan ons twyfelgedagtes verdryf?

• Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Elisa se dienaar?

• Teen watter sedelike versoekings moet ons voortdurend waak?

• Waarom moet ons ons duidelik identifiseer as Jehovah se Getuies?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Gereelde Bybelstudie en gebed kan ons help om twyfelgedagtes te verdryf

[Prent op bladsy 11]

Die twyfelgedagtes van Elisa se dienaar is deur ’n visioen verdryf

[Prent op bladsy 12]

Ons word Jehovah se hoë sedelike standaarde geleer by Koninkryksale soos hierdie saal in Benin