Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal godsdiens wêreldvrede bring?

Sal godsdiens wêreldvrede bring?

Sal godsdiens wêreldvrede bring?

VAN 28 tot 31 Augustus 2000 het meer as 500 verteenwoordigers van 73 lande in die stad New York saamgekom. Hulle het by die Verenigde Nasies vergader vir “Die Millennium-wêreldvredesberaad van Godsdiens- en Geestelike Leiers”. Die leiers—waarvan baie in tulbande, saffraankleurige gewade, geveerde hooftooisels of lang, swart mantels geklee was—het ’n menigte gelowe verteenwoordig. Onder hulle was Bahaïsme, Boeddhisme, Djainisme, Hindoeïsme, Islam, Judaïsme, Sikhisme, Sjinto, Taoïsme, Zoroastrisme en godsdienste van die Christendom.

Die afgevaardigdes het die eerste twee dae van die vierdaagse konferensie by die Verenigde Nasies bymekaargekom. Die konferensie is egter nie deur die Verenigde Nasies georganiseer of gefinansier nie, maar deur verskeie stigtings. Nogtans het VN-leiers sowel as godsdiensleiers gepraat oor die belangrikheid daarvan om saam te werk om ’n einde te maak aan armoede, rassisme, omgewingsprobleme, oorlog en wapens vir massavernietiging.

Die afgevaardigdes het ’n dokument onderteken met die titel “Verbondenheid tot wêreldvrede”. Hoewel die dokument erken het dat geweld en oorlog “soms in die naam van godsdiens plaasvind”, het dit verklaar dat die ondertekenaars ‘met die Verenigde Nasies sou saamwerk in die strewe na vrede’. Daar is egter geen spesifieke resolusies aangeneem wat aangedui het hoe dit gedoen kan word nie.

Op die tweede dag het Bawa Jain, die sekretaris-generaal van die beraad, sy inleidingskommentare afgesluit deur te verduidelik dat hy ’n paar jaar tevore ’n sekere skildery by die Verenigde Nasies gesien het. In die skildery was daar ’n man wat langer is as die Verenigde Nasies se Sekretariaat-gebou. Hy het aan die gebou geklop asof dit ’n deur was. Onder die skildery was die byskrif: “Vredevors”. Mnr. Jain het gesê: “[Die skildery] het ’n groot uitwerking op my gehad die oomblik toe ek dit sien. Ek het verskillende mense gevra wat [dit] beteken. Ek dink ek het vandag die antwoord. Die feit dat julle almal, die geestelike en godsdiensleiers van die wêreld, hier byeengekom het, toon vir my dat [dit] die vredevors is wat aan die deur van die Verenigde Nasies klop.”

Die Bybel gee ’n ander beskouing. Dit toon dat die Vredevors Jesus Christus is. Hy sal wêreldvrede bring, nie deur die pogings van hierdie wêreld se politieke of godsdiensleiers nie, maar deur middel van God se Koninkryk. Dit is hierdie Koninkryk—God se hemelse regering—wat gehoorsame mense met welslae sal verenig en God se wil op die aarde sal laat geskied.—Jesaja 9:5; Matteus 6:9, 10.