“Jehovah was nog altyd baie goed vir my!”
“Jehovah was nog altyd baie goed vir my!”
IN Maart 1985 het mans en vroue in die Skryfafdeling by die hoofkantoor van Jehovah se Getuies in New York, VSA, ’n heerlike aand saam deurgebring om ’n mylpaal te vier. Karl F. Klein was op daardie stadium al 60 jaar lank in die voltydse bediening. Broer Klein het entoesiasties gesê: “Jehovah was nog altyd baie goed vir my!” Hy het bygevoeg dat Psalm 37:4 een van sy geliefkoosde Bybeltekste is. Later het almal dit geniet om te luister hoe hy die tjello speel.
Die daaropvolgende 15 jaar het broer Klein voortgegaan met sy werk as ’n lid van die skryfpersoneel en van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Toe, op 3 Januarie 2001, op die ouderdom van 95, het Karl Klein sy aardse loopbaan getrou voltooi.
Karl is in Duitsland gebore. Sy gesin het na die Verenigde State verhuis, en Karl het in ’n voorstad van Chicago, Illinois, grootgeword. Terwyl hulle nog jonk was, het Karl en sy jonger broer Ted baie in die Bybel begin belangstel. Karl is in 1918 gedoop, en die opwindende dinge wat hy in 1922 by ’n streekbyeenkoms van die Bybelstudente gehoor het, het by hom ’n lewenslange liefde vir die veldbediening gewek. Hy wou nie hê dat ’n week moes verbygaan sonder dat hy aan die predikingswerk deelneem nie—iets wat hy selfs in die laaste weke van sy lewe gedoen het.
Karl het in 1925 ’n lid van die hoofkantoorpersoneel geword en eers in die drukkery gewerk. Hy was baie lief vir musiek en het jare lank die tjello in ’n orkes gespeel, waarvan die musiek tydens ’n Christelike radioprogram uitgesaai is. Daarna het hy in die Diensafdeling gewerk en veral sy assosiasie met sy opsiener, T. J. Sullivan, geniet. Intussen is Ted getroud, en hy en sy vrou, Doris, is as sendelinge na Puerto Rico gestuur.
Karl Klein het ’n halfeeu lank in die Skryfafdeling gewerk, waar hy ’n groot bydrae gelewer het omdat hy daarvan gehou het om navorsing te doen en ook ’n uitstekende kennis van die Bybel gehad het. In 1963 het Karl met Margareta, ’n Duitse sendeling wat in Bolivia gedien het, getrou. Al het hy gesondheidsprobleme gehad, kon hy met sy vrou se liefdevolle ondersteuning ver verby die ouderdom werk waarop die meeste mense aftree. Karl se natuurlike openhartigheid, tesame met sy geesdrif as musikant, het bygedra tot sy onvergeetlike toesprake in gemeentes en by byeenkomste. Nie lank voor sy dood nie het hy een oggend die dagteksbespreking van die groot Bethelgesin in New York gelei, tot genot en voordeel van almal.
Talle gereelde lesers van Die Wagtoring sal broer Klein se lewensverhaal onthou, ’n treffende verhaal van sy ondervindinge wat in die nommer van 1 Oktober 1984 verskyn het. Jy sal dit geniet om daardie verhaal te lees of dalk weer te lees, terwyl jy in gedagte hou dat die skrywer daarvan nog ’n dekade en ’n half daarna as ’n getroue en toegewyde Christen gelewe het.
As een van die Here se gesalfdes het broer Klein met sy hele hart begeer om saam met Christus in die hemel te regeer. Ons het alle rede om te glo dat Jehovah nou daardie begeerte vervul het.—Lukas 22:28-30.
[Prent op bladsy 31]
Karl in 1943 saam met T. J. Sullivan en Ted en Doris
[Prent op bladsy 31]
Karl en Margareta, Oktober 2000