Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Spiritisme en die soeke na ware geestelikheid

Spiritisme en die soeke na ware geestelikheid

Spiritisme en die soeke na ware geestelikheid

ONS almal het geestelike sowel as materiële behoeftes. Dit is waarom soveel mense vrae stel, soos: Wat is die doel van die lewe, waarom ly mense en wat gebeur met ons wanneer ons sterf? Talle opregte mense soek na antwoorde op hierdie en soortgelyke vrae deur na séances te gaan, waar hulle mediums raadpleeg in die hoop om met die geeste van die dooies te kommunikeer. Hierdie gebruik word spiritisme genoem.

Aanhangers van spiritisme word in baie lande gevind, en hulle kom in gemeentes en kerke byeen. In Brasilië is daar byvoorbeeld na raming 4 000 000 spiritiste wat die leerstellings volg wat gekodifiseer is deur Hyppolyte Léon Denizard Rivail, ’n 19de-eeuse Franse opvoedkundige en filosoof wat onder die naam Allan Kardec geskryf het. Kardec het in 1854 die eerste keer in spiritistiese verskynsels begin belangstel. Hy het later vrae aan mediums op verskillende plekke gestel en die antwoorde opgeteken in die boek The Book of Spirits, wat in 1857 uitgegee is. Twee ander werke wat hy geskryf het, is The Mediums’ Book en The Gospel According to Spiritism.

Spiritisme is al geassosieer met godsdiensgebruike soos voedoe, heksery, toorkuns of Satanisme. Maar diegene wat die leerstellings van Allan Kardec volg, sê dat hulle opvattings anders is. Hulle publikasies haal dikwels die Bybel aan, en hulle verwys na Jesus as “die gids en voorbeeld vir die hele mensdom”. Hulle sê dat Jesus se leringe “die suiwerste vorm van Goddelike wette” is. Allan Kardec het spiritistiese geskrifte as die derde openbaring van God se wet aan die mensdom beskou; die eerste twee is die leringe van Moses en dié van Jesus.

Spiritisme lok baie mense omdat dit naasteliefde en liefdadigheid beklemtoon. Een spiritistiese opvatting is: “Sonder liefdadigheid is daar geen redding nie.” Baie spiritiste doen heelwat maatskaplike werk en help hospitale, skole en ander instellings. Sulke pogings is prysenswaardig. Maar hoe vergelyk die opvattings van spiritiste met Jesus se leringe soos dit in die Bybel opgeteken is? Kom ons kyk na twee voorbeelde: die hoop vir die dooies en die rede vir lyding.

Watter hoop vir die dooies?

Baie spiritiste glo aan reïnkarnasie. Een spiritistiese publikasie sê: “Reïnkarnasie is die enigste leerstelling wat voldoen aan ons idee van goddelike geregtigheid; dit is die enigste leerstelling wat die toekoms kan verduidelik en ons hoop kan versterk.” Spiritiste verduidelik dat die siel, of “geïnkarneerde gees”, die liggaam ná die dood verlaat—soos ’n skoenlapper wat uit sy kokon kom. Hulle glo dat hierdie geeste later gereïnkarneer word as mense om hulle te suiwer van sondes wat in ’n vorige lewe gepleeg is. Maar hulle onthou glad nie hierdie vroeëre sondes nie. “God het dit as gepas beskou dat die verlede versluier moet bly”, sê The Gospel According to Spiritism.

“Om reïnkarnasie te ontken, is ook om die woorde van Christus te ontken”, het Allan Kardec geskryf. Maar Jesus het nooit die woord “reïnkarnasie” gebruik nie en nooit so ’n konsep gemeld nie. (Sien “Is reïnkarnasie ’n Bybellering?” op bladsy 22.) Jesus het mense eerder van die opstanding van die dooies geleer. Hy het gedurende sy aardse bediening drie mense opgewek—die seun van ’n weduwee in Nain, die dogter van die presiderende beampte van ’n sinagoge en sy goeie vriend Lasarus (Markus 5:22-24, 35-43; Lukas 7:11-15; Johannes 11:1-44). Kom ons kyk na een van hierdie merkwaardige gebeure en sien wat Jesus met “opstanding” bedoel het.

Die opstanding van Lasarus

Jesus het gehoor dat sy vriend Lasarus siek was. Twee dae later het hy vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” Die dissipels het nie verstaan wat Jesus bedoel het nie, en daarom het hy eenvoudig gesê: “Lasarus het gesterf.” Toe Jesus uiteindelik by Lasarus se graf kom, was die man al vier dae lank dood. Nogtans het Jesus beveel dat die klip wat die graf se ingang verseël het, weggeneem moet word. Toe het hy uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Daarop het iets wonderliks gebeur. “Die man wat dood was, het uitgekom met sy voete en hande met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai. Jesus het vir hulle gesê: ‘Maak hom los en laat hom gaan.’”—Johannes 11:5, 6, 11-14, 43, 44.

Dit was beslis nie reïnkarnasie nie. Jesus het gesê dat die dooie Lasarus geslaap het, of in ’n toestand van onbewustheid was. Soos die Bybel dit stel: ‘Sy gedagtes het vergaan.’ Hy was “van hoegenaamd niks bewus nie” (Psalm 146:4, NW; Prediker 9:5, NW). Die verrese Lasarus was nie ’n ander persoon met ’n gereïnkarneerde gees nie. Hy het dieselfde persoonlikheid gehad, was dieselfde ouderdom en het dieselfde herinneringe gehad. Hy het sy lewe voortgesit waar dit ontydig opgehou het en na die geliefdes teruggekeer wat oor sy dood getreur het.—Johannes 12:1, 2.

Later het Lasarus weer gesterf. Wat was dus die doel van sy opstanding? Saam met die ander opstandings wat Jesus verrig het, versterk dit ons vertroue in God se belofte dat Sy getroue knegte op Sy bestemde tyd uit die dood opgewek sal word. Daardie wonderwerke van Jesus het baie gewig aan sy woorde gegee: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy.”—Johannes 11:25.

Aangaande daardie toekomstige opstanding het Jesus gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [my] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het tot ’n opstanding van oordeel” (Johannes 5:28, 29). Soos dit die geval met Lasarus was, sal dit ’n opstanding van dooie mense wees. Dit sal nie ’n hereniging van bewuste geeste wees met verrese liggame wat ontbind het en dalk selfs in ander lewende organismes opgeneem is nie. Om die dooies op te wek, is heeltemal binne die vermoë van die Skepper van hemel en aarde, wat oneindige wysheid en krag het.

Openbaar die leerstelling van die opstanding, soos dit deur Jesus Christus geleer is, nie God se innige liefde vir mense as individue nie? Maar wat van die tweede vraag wat vroeër gemeld is?

Wat is die rede vir lyding?

Menslike lyding word in groot mate veroorsaak deur dinge wat onverstandige, onervare of selfs goddelose mense doen. Maar wat van tragiese gebeure waarvoor mense nie direk die skuld kan kry nie? Waarom is daar byvoorbeeld ongelukke en natuurrampe? Waarom word party kinders met aangebore gebreke gebore? Allan Kardec het sulke dinge as ’n straf beskou. Hy het geskryf: “As ons gestraf word, dan het ons iets verkeerd gedoen. As daardie verkeerde daad nie gedurende die huidige lewe gepleeg is nie, moet dit uit ’n vorige bestaan kom.” Spiritiste word geleer om te bid: “Here, U is geheel en al regverdig. Die siekte wat U goedgevind het om aan my te stuur, het ek seker verdien . . . Ek aanvaar dit as ’n versoening vir my verlede en as ’n toets van my geloof en onderworpenheid aan U geseënde wil.”—The Gospel According to Spiritism.

Het Jesus mense so iets geleer? Nee. Jesus het hierdie Bybelstelling goed geken: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11, NW). Hy het geweet dat slegte dinge soms net gebeur. Dit hoef nie ’n straf vir sondes te wees nie.

Kyk byvoorbeeld na hierdie gebeurtenis in Jesus se lewe: “Terwyl [Jesus] verbygegaan het, het hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. En sy dissipels het hom gevra: ‘Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?’” Die antwoord wat Jesus gegee het, is baie insiggewend: “Nóg hierdie man nóg sy ouers het gesondig, maar dit was sodat die werke van God in sy geval openbaar gemaak kon word. Nadat hy hierdie dinge gesê het, het hy op die grond gespoeg en klei met die speeksel gemaak en sy klei op die man se oë gesit en vir hom gesê: ‘Gaan was jou in die bad Siloam’ . . . En toe het hy weggegaan en hom gewas en siende teruggekom.”—Johannes 9:1-3, 6, 7.

Jesus se woorde het getoon dat nóg die man nóg sy ouers verantwoordelik was vir sy aangebore blindheid. Jesus het dus glad nie die idee gesteun dat die man gestraf is vir sondes wat in ’n vorige lewe gepleeg is nie. Jesus het weliswaar geweet dat alle mense sonde erf. Maar hulle erf die sonde van Adam, nie sondes wat hulle gepleeg het voordat hulle gebore is nie. Weens Adam se sonde word alle mense fisies onvolmaak gebore, onderworpe aan siekte en die dood (Job 14:4; Psalm 51:7; Romeine 5:12; 9:11). Trouens, dit was ’n situasie wat Jesus gestuur is om reg te stel. Johannes die Doper het gesê Jesus is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”—Johannes 1:29. a

Let ook daarop dat Jesus nie gesê het dat God opsetlik veroorsaak het dat die man blind gebore word sodat Jesus hom op die een of ander tyd sou kon genees nie. Wat ’n wrede, siniese daad sou dit tog gewees het! Sou dit lof aan God gebring het? Nee. Dit was eerder die wonderdadige genesing van die blinde man wat ‘die werke van God openbaar gemaak het’. Soos al die ander genesings wat Jesus verrig het, het dit God se opregte liefde vir die lydende mensdom weerspieël en die betroubaarheid van Sy belofte bevestig om op Sy bestemde tyd ’n einde te maak aan al die mens se siektes en lyding.—Jesaja 33:24.

Is dit nie vertroostend om uit te vind dat ons hemelse Vader nie lyding veroorsaak nie, maar eerder “goeie dinge gee aan dié wat hom vra”? (Matteus 7:11). Hoeveel eer sal dit tog aan die Allerhoogste bring wanneer die oë van die blindes geopen word, die ore van die dowes ontsluit word en die lammes loop, spring en hardloop!—Jesaja 35:5, 6.

Ons geestelike behoeftes word bevredig

Jesus het verklaar: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:4). Ja, ons geestelike behoeftes word bevredig wanneer ons God se Woord, die Bybel, lees en in ooreenstemming daarmee lewe. Om geestemediums te raadpleeg, bevredig nie waarlik ons geestelike behoeftes nie. Hierdie gebruik word in werklikheid uitdruklik veroordeel in dit waarna Allan Kardec verwys het as die eerste openbaring van God se wet.—Deuteronomium 18:10-13.

Baie, insluitende spiritiste, erken dat God die Opperwese is, dat hy ewig, oneindig volmaak, goedhartig, goed en regverdig is. Maar die Bybel openbaar baie meer. Dit deel ons mee dat hy ’n persoonlike naam, Jehovah, het wat ons moet eer soos Jesus gedoen het (Matteus 6:9; Johannes 17:6). Dit beeld God uit as ’n werklike persoon met wie mense ’n hegte verhouding kan geniet (Romeine 8:38, 39). Deur die Bybel te lees, leer ons dat God barmhartig is en dat hy ‘nie na ons sondes met ons handel en ons nie na ons ongeregtighede vergeld nie’ (Psalm 103:10). Die Soewereine Heer Jehovah openbaar sy liefde, oppergesag en redelikheid deur sy geskrewe Woord. Hy is die Een wat gehoorsame mense lei en beskerm. Dit “beteken die ewige lewe” om Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, te leer ken.—Johannes 17:3.

Die Bybel voorsien al die inligting wat ons nodig het, aangaande God se voornemens, en dit sê vir ons wat ons moet doen as ons hom wil behaag. ’n Sorgvuldige ondersoek van die Bybel voorsien ware en bevredigende antwoorde op ons vrae. Die Bybel gee ons ook leiding om te bepaal wat reg en verkeerd is, en dit voorsien ’n vaste hoop. Dit verseker ons dat God dít in die nabye toekoms gaan doen: “Hy sal elke traan van [die mensdom se] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge [sou] verbygegaan [het]” (Openbaring 21:3, 4). Deur middel van Jesus Christus sal Jehovah die mensdom bevry van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid, en gehoorsame mense sal ewige lewe op ’n paradysaarde beërf. Dan sal hulle fisiese en geestelike behoeftes heeltemal bevredig wees.—Psalm 37:10, 11, 29; Spreuke 2:21, 22; Matteus 5:5.

[Voetnoot]

a Sien hoofstuk 6 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n bespreking van hoe sonde en die dood ontstaan het.

[Venster op bladsy 22]

IS REÏNKARNASIE ’N BYBELLERING?

Word die leerstelling van reïnkarnasie deur enige Bybeltekste gesteun? Kyk na ’n paar van die tekste wat al gebruik is deur mense wat aan hierdie leerstelling glo:

“Want almal, die Profete en die Wet, het tot op Johannes geprofeteer . . . Hy self is ‘Elia wat bestem is om te kom’.”—Matteus 11:13, 14.

Was Johannes die Doper Elia wat weer gebore is? Toe Johannes gevra is: “Is jy Elia?” het hy duidelik geantwoord: “Ek is nie” (Johannes 1:21). Daar is egter voorspel dat Johannes voor die Messias sou kom “met Elia se gees en krag” (Lukas 1:17; Maleagi 4:5, 6). Met ander woorde, Johannes die Doper was Elia in die sin dat hy ’n werk gedoen het wat met Elia s’n vergelyk kon word.

“Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Moet jou nie verwonder omdat ek vir jou gesê het: Julle moet weer gebore word nie.”—Johannes 3:3, 7.

Een van die apostels het later geskryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Petrus 1:3, 4, AB; Johannes 1:12, 13). Die wedergeboorte waarna Jesus verwys het, was uiteraard ’n geestelike ondervinding wat sou plaasvind terwyl sy volgelinge nog gelewe het, nie ’n toekomstige reïnkarnasie nie.

“Wanneer ’n mens dood is, lewe hy vir ewig: wanneer die dae van my bestaan op Aarde verby is, sal ek wag, aangesien ek weer sal terugkeer.”—’n “Griekse vertaling” van Job 14:14 wat in The Gospel According to Spiritism aangehaal is.

Die Revised Standard Version vertaal hierdie vers so: “As ’n mens sterf, sal hy weer lewe? Al die dae van my diens sal ek wag, totdat my verlossing kom.” Lees die konteks van hierdie vers. Jy sal sien dat die dooies in die graf wag op hulle “verlossing” (Vers 13). Terwyl hulle wag, bestaan hulle nie. “’n Mens wat gesterf het, is heeltemal weg; en wanneer ’n sterfling gevalle is, bestaan hy nie meer nie.”—Job 14:10, Bagster se Septuagint-vertaling.

[Prent op bladsy 21]

Die opstandingshoop openbaar God se diep belangstelling in ons as individue

[Prente op bladsy 23]

God sal ’n einde maak aan alle menselyding