Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volharding in Jehovah se weg gee ons krag en vreugde

Volharding in Jehovah se weg gee ons krag en vreugde

Lewensverhaal

Volharding in Jehovah se weg gee ons krag en vreugde

SOOS VERTEL DEUR LUIGGI D. VALENTINO

“Dit is die weg, wandel daarop”, spoor Jehovah ons aan (Jesaja 30:21). Vandat ek 60 jaar gelede gedoop is, was dit nog altyd my doelwit om hierdie raad te volg. Dit is ’n doelwit wat ek vroeg reeds gestel het weens die voorbeeld van my ouers, immigrante uit Italië, wat hulle in 1921 in Cleveland, Ohio, VSA, gevestig het. Daar het hulle drie kinders grootgemaak—my ouer broer Mike, my jonger suster Lydia en vir my.

MY OUERS het verskillende godsdienste ondersoek, maar het uiteindelik uit teleurstelling tou opgegooi. Toe, eendag in 1932, het my pa na ’n Italiaanse radioprogram geluister. Dit was ’n uitsending deur Jehovah se Getuies, en my pa het gehou van wat hy gehoor het. Hy het geskryf om meer inligting te vra, en ’n Italiaanse Getuie het van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gekom om ons te besoek. Ná ’n lewendige bespreking wat tot dagbreek geduur het, was my ouers oortuig dat hulle die ware godsdiens gevind het.

My pa en ma het die Christelike vergaderinge begin bywoon en huisvesting aan reisende opsieners gegee. Al was ek maar ’n seuntjie, het hierdie manne my saam met hulle in die predikingswerk geneem en my daaraan laat dink om Jehovah voltyds te dien. Een van hierdie besoekers was Carey W. Barber, wat nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is. Kort voor lank, in Februarie 1941, is ek op die ouderdom van 14 gedoop, en in 1944 het ek as pionier in Cleveland begin dien. Mike en Lydia het ook die weg van Bybelwaarheid begin volg. Mike het Jehovah tot sy dood gedien, en Lydia het haar man, Harold Weidner, 28 jaar lank in die reisende werk vergesel. Vandag dien hulle as spesiale voltydse bedienaars.

Die tronk maak my meer vasbeslote om te volhard

Vroeg in 1945 het ek in die Chillicothe-gevangenis in Ohio beland omdat my Bybelopgeleide gewete my beweeg het om in ooreenstemming met Jesaja 2:4 op te tree, wat sê dat mense van hulle swaarde pikke sal smee. Op een stadium het die tronkowerheid die Getuiegevangenes toegelaat om ’n beperkte hoeveelheid Bybellektuur te hê wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Maar Getuies in ’n nabygeleë gemeente het gehelp. Soms het hulle ’n paar publikasies in die veld naby die tronk versteek. Die volgende oggend, wanneer die gevangenes na hulle werksplekke geneem is, het hulle na hierdie publikasies gesoek en dit dan ongemerk in die tronk ingebring. Teen die tyd dat ek by die tronk aangekom het, is ons toegelaat om meer lektuur te hê. Ek het nogtans meer as ooit geleer om die geestelike voedsel te waardeer wat Jehovah voorsien—’n les wat ek nog steeds onthou elke keer as ek ’n nuwe Wagtoring of Ontwaak! ontvang.

Hoewel ons toegelaat is om gemeentelike vergaderinge in die tronk te hou, is dié wat nie Getuies was nie, nie toegelaat om dit by te woon nie. Tog het party tronkbeamptes en gevangenes dit in die geheim bygewoon, en ’n paar het selfs die waarheid aangeneem (Handelinge 16:30-34). Broer A. H. Macmillan se besoeke was ’n besondere bron van aanmoediging. Hy het ons altyd verseker dat die tyd wat ons in die tronk deurgebring het, nie tevergeefs was nie omdat dit ons vir toekomstige toewysings voorberei het. Daardie dierbare ouer broer het my hart geraak en my meer vasbeslote gemaak om in Jehovah se weg te bly wandel.

Ek kry ’n maat

Die Tweede Wêreldoorlog het geëindig, die tronk se hekke is geopen, en ek het die pionierdiens, of die voltydse bediening, hervat. Maar in 1947 is my pa oorlede. Om die gesin te onderhou, het ek sekulêre werk begin doen en ook in geneeskundige massering gekwalifiseer—’n vaardigheid wat my en my vrou omtrent 30 jaar later gedurende ’n moeilike tyd sou help. Maar ek loop die storie vooruit. Laat ek eers van my vrou vertel.

Een middag in 1949, terwyl ek in die Koninkryksaal besig was, het die telefoon gelui. Ek het geantwoord en ’n pragtige stem hoor sê: “My naam is Christine Genchur. Ek is een van Jehovah se Getuies. Ek het Cleveland toe getrek om werk te kry, en ek wil graag met ’n gemeente assosieer.” Ons Koninkryksaal was ver van die gebied waar sy gewoon het, maar ek het van haar stem gehou en haar die pad na ons saal toe verduidelik en haar aangemoedig om daardie Sondag te kom—wanneer ek die openbare toespraak sou hou. Die Sondag was ek die heel eerste persoon in die Koninkryksaal, maar geen onbekende suster het opgedaag nie. Ek het deur die hele toespraak kort-kort na die ingang gekyk, maar niemand het ingekom nie. Die volgende dag het ek haar gebel, en sy het gesê dat sy nog nie mooi weet hoe die busroetes werk nie. Ek het dus aangebied om haar te ontmoet en dit vir haar mooier te verduidelik.

Ek het uitgevind dat haar ouers immigrante uit Tsjeggo-Slowakye is wat met die Bybelstudente begin assosieer het nadat hulle die boekie Waar is die dode? gelees het. Haar ouers is in 1935 gedoop. In 1938 het Christine se pa die groepkneg (wat nou die presiderende opsiener genoem word) van die gemeente van Jehovah se Getuies in Clymer, Pennsilvanië, VSA, geword, en in 1947 is Christine gedoop toe sy 16 was. Dit het my nie lank geneem om verlief te raak op hierdie pragtige, geestelikgesinde suster nie. Ons is op 24 Junie 1950 getroud, en van toe af was Christine my getroue maat, altyd gewillig om God se Koninkryksbelange eerste te stel. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hierdie deugsame metgesel ingestem het om haar lewe met my te deel.—Spreuke 31:10.

’n Groot verrassing

Op 1 November 1951 het ons saam begin pionier. Twee jaar later het broer Hugo Riemer en broer Albert Schroeder by ’n streekbyeenkoms in Toledo, Ohio, met ’n groep pioniers gepraat wat in sendingdiens belanggestel het. Ons was onder hulle. Ons is aangemoedig om voort te gaan met ons pionierdiens in Cleveland, maar net die volgende maand het ons ’n groot verrassing gekry—’n uitnodiging om die 23ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon wat in Februarie 1954 sou begin!

Op pad na die Gileadskool, wat destyds in South Lansing, New York, gehou is, was Christine so senuweeagtig dat sy heeltyd vir my gesê het: “Ry stadiger!” Ek het gesê: “Christine, as ons enigsins stadiger sou ry, sal ons stilstaan.” Maar toe ons by die skool aankom, het ons spoedig meer op ons gemak gevoel. Broer Nathan Knorr het die groep studente verwelkom en ons die plek gewys. Hy het ook verduidelik hoe ons water en elektrisiteit kan spaar en beklemtoon dat spaarsaamheid ’n deug is wanneer ’n mens na Koninkryksbelange omsien. Ons het daardie raad onthou. Ons pas dit nog steeds toe.

Ons vlieg na Rio

Kort voor lank het ons gegradueer, en op 10 Desember 1954 het ons van die koue stad New York af na die sonnige Rio de Janeiro, Brasilië, gevlieg, opgewonde oor ons nuwe toewysing. Peter en Billie Carrbello, medesendelinge, het saam met ons gereis. Die vlug was veronderstel om 24 uur te duur, en die vliegtuig sou in Puerto Rico, Venezuela en Belém in noordelike Brasilië stop. Weens enjinprobleme het ons Rio de Janeiro egter eers 36 uur later onder ons gesien. Maar wat ’n pragtige gesig! Die stadsliggies het soos vonkelende diamante op ’n fluweelmat geglinster, en die silwer maanlig het op die water van die Guanabara-baai geblink.

’n Hele paar lede van die Bethelgesin het by die lughawe vir ons gewag. Nadat hulle ons hartlik verwelkom het, het hulle ons na die takkantoor geneem, en omtrent drie-uur die oggend is ons bed toe. ’n Paar uur later het die oggendklok ons daaraan herinner dat ons eerste dag as sendelinge begin het!

’n Les wat ons vroeg geleer het

Ons het spoedig ’n belangrike les geleer. Ons het ’n aandjie by ’n Getuiegesin deurgebring. Toe ons na die takkantoor toe wou terugloop, het die gasheer kapsie gemaak en gesê: “Nee, julle kan nie gaan nie; dit reën”, en hy het aangedring dat ons daar oorslaap. “Waar ons vandaan kom, reën dit ook”, het ek gesê en gelag. En daar loop ons toe.

Met die berge om Rio versamel reënwater vinnig en vloei dit af tot in die stad, wat dikwels ’n vloed veroorsaak. Kort voor lank het ons kniediep deur die water geloop. Naby die takkantoor het die strate in sterk strome verander en het die water tot aan ons bors gereik. Ons was papnat toe ons uiteindelik by Bethel aangekom het. Die volgende dag was Christine siek aan ingewandskoors, en dit het haar ’n lang ruk swak laat voel. Dit is seker onnodig om te sê dat ons as nuwe sendelinge na die raad van ervare plaaslike Getuies moes geluister het.

Ons eerste ondervindinge in die sending- en reisende werk

Ná hierdie ietwat wankelrige begin, het ons ywerig met ons veldbediening begin. Ons het ’n aanbieding in Portugees gelees vir enigiemand wat ons ontmoet het, en ons het blykbaar teen dieselfde tempo gevorder. Een huisbewoner sou vir Christine sê: “Ek verstaan wat jy sê, maar nie wat hy sê nie”, en dan na my wys. ’n Ander huisbewoner sou vir my sê: “Ek verstaan jou, maar ek verstaan haar nie.” Ons was nietemin verheug om gedurende daardie eerste paar weke meer as 100 intekeninge op Die Wagtoring te kry. Trouens, ’n hele paar van ons Bybelstudente is gedurende ons eerste jaar in Brasilië gedoop, wat ons ’n voorsmakie gegee het van hoe produktief hierdie sendingtoewysing sou wees.

In die middel-1950’s is baie gemeentes in Brasilië nie gereeld deur kringopsieners besoek nie omdat daar te min bekwame broers was. Al was ek dus nog besig om die taal aan te leer en het ek nog nie ’n openbare toespraak in Portugees gehou nie, is ek in 1956 gevra om kringwerk in die staat Sao Paulo te doen.

Aangesien die eerste gemeente wat ons besoek het, twee jaar laas ’n kringbesoek gehad het, het almal met hoë verwagting na die openbare toespraak uitgesien. Toe ek die toespraak voorberei het, het ek paragrawe uit Wagtoring-artikels in Portugees uitgeknip en dit op velle papier geplak. Daardie Sondag was die Koninkryksaal stampvol. Mense het selfs op die verhoog gesit, in afwagting van die groot gebeurtenis. Die toespraak, of liewer die voorlesing, het begin. Ek het so nou en dan opgekyk, en tot my verbasing het niemand beweeg nie, nie eens die kinders nie. Almal het my met groot oë aangestaar. Ek het gedink: ‘Sjoe, Valentino, jou Portugees het baie verbeter! Hierdie mense luister aandagtig.’ Jare later, toe ek daardie gemeente weer besoek het, het ’n broer wat met daardie eerste besoek teenwoordig was, gesê: “Onthou jy daardie openbare toespraak wat jy gehou het? Ons het nie ’n woord daarvan verstaan nie.” Ek het erken dat ek self nie veel van daardie toespraak verstaan het nie.

In daardie eerste jaar op die kring het ek dikwels Sagaria 4:6 gelees. Die woorde ‘nie deur krag nie, maar deur my Gees,’ het my daaraan herinner dat Jehovah se gees die enigste rede is dat die Koninkrykswerk vorder. En dit het gevorder, ten spyte van ons ooglopende beperkings.

Uitdagings en seëninge

Kringwerk het beteken dat ons die land moes deurkruis terwyl ons ’n tikmasjien, bokse lektuur, tasse en velddienssakke moes saamdra. Christine was slim om ons bagasie te nommer sodat ons nie iets vergeet wanneer ons vinnig van een bus na ’n ander moes oorklim nie. Dit was niks ongewoons om 15 uur lank met ’n bus op grondpaaie te ry na ons volgende bestemming nie. Soms was dit senutergend, veral wanneer twee busse uit teenoorgestelde rigtings mekaar op ’n lamlendige brug verbygesteek het en so na aan mekaar gery het dat ’n stukkie sneespapier skaars tussen hulle sou inpas. Ons het ook per trein, per skip en te perd gereis.

In 1961 het ons streekwerk begin doen en van kring tot kring in plaas van gemeente tot gemeente gereis. ’n Paar aande per week het ons rolprente vertoon wat deur Jehovah se organisasie vervaardig is—elke keer op ’n ander plek. Ons moes dikwels flinker as die plaaslike geestelikes optree, wat hierdie vertonings probeer verhinder het. In een dorp het die priester ’n eienaar van ’n saal gedwing om die kontrak met ons te kanselleer. Nadat ons dae lank na ’n ander plek gesoek het, het ons een gevind, maar ons het niemand daarvan vertel nie en mense nog steeds na die oorspronklike saal genooi. Voordat die program begin het, het Christine na daardie saal toe gegaan en almal wat die rolprent wou sien, onopsigtelik na die nuwe plek gestuur. Daardie aand het 150 mense die rolprent gesien, wat die gepaste titel The New World Society in Action gehad het.

Hoewel die reisende werk in afgeleë gebiede soms veeleisend was, het die nederige broers in daardie gebiede ons besoeke so waardeer en ons so gasvry in hulle beskeie huise ontvang dat ons Jehovah altyd gedank het dat ons saam met hulle kon wees. Ons vriendskappe met hulle het vir ons groot seëninge meegebring (Spreuke 19:17; Haggai 2:7). Hoe hartseer was ons dus toe ons sendingdae in Brasilië ná meer as 21 jaar tot ’n einde gekom het!

Gedurende ’n krisis het Jehovah ons die weg gewys

In 1975 het Christine ’n operasie gehad. Ons het die reisende werk hervat, maar Christine se gesondheid het versleg. Dit het gelyk of dit die beste sou wees om na die Verenigde State toe terug te gaan sodat sy mediese sorg kon kry. In April 1976 het ons in Long Beach, Kalifornië, aangekom en by my ma gebly. Nadat ons twee dekades in die buiteland was, het ons nie geweet hoe ons hierdie situasie sou kon hanteer nie. Ek het massering begin doen en genoeg verdien om ons te onderhou. Die staat Kalifornië het Christine ’n plek in ’n hospitaal gegee, maar daar het sy elke dag swakker gevoel omdat die dokters geweier het om haar sonder bloed te behandel. Ons was desperaat en het Jehovah om leiding gesmeek.

Een middag terwyl ek velddiens gedoen het, het ek ’n dokter se spreekkamer gesien en op die ingewing van die oomblik besluit om in te gaan. Die dokter was op pad huis toe, maar hy het my in sy spreekkamer laat inkom, en ons het twee uur lank gepraat. Toe het hy gesê: “Ek waardeer julle werk as sendelinge, en ek sal jou vrou sonder enige koste en sonder ’n bloedoortapping behandel.” Ek kon my ore nie glo nie.

Hierdie gawe dokter, wat in werklikheid ’n gesiene spesialis was, het Christine laat oorplaas na ’n hospitaal waar hy gewerk het, en onder sy bekwame sorg het haar toestand vinnig verbeter. Hoe dankbaar was ons tog dat Jehovah ons gedurende daardie moeilike tyd die weg gewys het!

Nuwe toewysings

Terwyl Christine aangesterk het, het ons as pioniers gedien en die vreugde gehad om etlike mense in Long Beach te help om aanbidders van Jehovah te word. In 1982 is ons gevra om kringwerk in die Verenigde State te doen. Ons het Jehovah elke dag gedank dat hy ons weer in die reisende werk gebruik het—’n faset van die bediening waarvoor ons baie lief was. Ons het in Kalifornië en daarna in Nieu-Engeland gedien, waar die kring ’n paar Portugeessprekende gemeentes ingesluit het. Later het dit ook Bermuda ingesluit.

Ná vier verkwikkende jare het ons ’n ander toewysing ontvang. Ons is die keuse gegee om as spesiale pioniers te dien waar ons ook al wou. Hoewel ons hartseer was om die reisende werk te verlaat, was ons vasbeslote om in ons nuwe toewysing te volhard. Maar waar? In die reisende werk het ek opgemerk dat die Portugese gemeente in New Bedford, Massachusetts, hulp nodig het—ons het dus New Bedford gekies.

Toe ons daar aankom, het die gemeente vir ons ’n groot verwelkomingspartytjie gegee. Hoe welkom het dit ons tog laat voel! Dit het ons diep geroer. ’n Jong paartjie met twee klein kindertjies was so gaaf om ons te huisves totdat ons ons eie woonstel gekry het. Jehovah het ons in hierdie toewysing as spesiale pioniers waarlik meer geseën as wat ons verwag het. Vanaf 1986 het ons omtrent 40 persone in hierdie dorp gehelp om Getuies te word. Hulle is ons geestelike gesin. Boonop het ek die vreugde gehad om te sien hoe vyf plaaslike broers vordering maak en liefdevolle herders van die kudde word. Dit was soos om in ’n produktiewe sendingtoewysing te dien.

Wanneer ons terugkyk, verbly ons ons dat ons Jehovah van jongs af gedien het en die waarheid ons lewenswyse gemaak het. Die ouderdom en kwale het nou wel ’n uitwerking, maar volharding in Jehovah se weg gee ons nog steeds krag en vreugde.

[Prent op bladsy 26]

Nadat ons pas in Rio de Janeiro aangekom het

[Prent op bladsy 28]

Ons geestelike gesin in New Bedford, Massachusetts