Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Veroordeel God werklik mense tot ’n brandende hel?”

“Veroordeel God werklik mense tot ’n brandende hel?”

“Veroordeel God werklik mense tot ’n brandende hel?”

“Volg julle ’n teologiekursus?”

Hierdie vraag het Joel en Carl verbaas. Die twee jong mans—vrywillige werkers by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York—was in ’n boekwinkel daar naby. Terwyl Joel deur Bybelkonkordansies geblaai het, het Carl hom van ’n bespreking vertel wat hy in die bediening gehad het. ’n Man wat daar naby gestaan het, het dele van hierdie gesprek gehoor en hulle toe genader.

Maar eintlik wou die man nie net weet of die twee jong mans ’n teologiekursus volg nie—hy was meer besorg oor iets anders. Hy het verduidelik: “Ek is Joods, en van my Christenvriende het vir my gesê dat ek in die hel sal brand omdat die Jode Jesus verwerp het. Dit pla my baie. So ’n straf van ’n liefdevolle God lyk net nie regverdig nie. Veroordeel God werklik mense tot ’n brandende hel?”

Joel en Carl het vir hierdie opregte man gesê dat hulle ernstige studente van die Bybel is. Hulle het hom uit die Skrif gewys dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is en bloot in die dood slaap terwyl hulle op ’n opstanding wag. Hulle verduur dus geen foltering of ’n pynlike helse vuur nie (Psalm 146:3, 4; Prediker 9:5, 10; Daniël 12:13; Johannes 11:11-14, 23-26). Aan die einde van hulle gesprek van 45 minute het die man sy adres vir Joel en Carl gegee en meer inligting oor die onderwerp gevra.

As die hel ’n plek van vurige foltering is, sal enigiemand dan ooit vra om daarheen gestuur te word? Tog het die patriarg Job, wat uit sy toestand verlos wou word, hierdie versoek gerig: “Wie sal my dit skenk, dat u my in die hel sou beskerm en my versteek totdat u toorn verby is?” (Job 14:13, Douay Version). Dit is duidelik dat Job nie geglo het dat die hel ’n plek van foltering is nie. Hy het eerder beskerming daar gesoek. Die dood is ’n toestand van niebestaan, en in die Bybel is die hel die gemeenskaplike graf van die mensdom.

As jy graag meer inligting wil hê oor wat met ons gebeur wanneer ons sterf en watter hoop ons daarna kan hê, word jy hartlik genooi om van die volgende aanbod gebruik te maak.

SAL JY ’N BESOEK VERWELKOM?

Jy kan selfs in hierdie wêreld vol probleme geluk vind deur juiste Bybelkennis aangaande God, sy Koninkryk en sy wonderlike voorneme vir die mens op te doen. As jy graag meer inligting wil hê of as jy wil hê dat iemand jou tuis moet besoek om ’n gratis Bybelstudie met jou te hou, kan jy gerus jou naam en woonadres stuur aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die gepaste adres op bladsy 2.