Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe kan ’n Christenvrou ’n balans vind tussen lojaliteit aan God en onderdanigheid aan haar ongelowige man as hy godsdienstige vakansiedae vier?

Dit sal wysheid en takt van haar verg. Maar sy doen die regte ding as sy ’n balans tussen haar twee verpligtinge probeer vind. Jesus het raad oor ’n soortgelyke situasie gegee: “Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). Hy het weliswaar oor verpligtinge teenoor regerings gepraat, waaraan Christene later aangesê is om onderdanig te wees (Romeine 13:1). Maar sy raad kan ook toegepas word op die situasie van ’n vrou wat ’n balans probeer vind tussen haar verpligtinge teenoor God en haar skriftuurlike onderdanigheid aan haar man, al is hy ’n ongelowige.

Niemand wat met die Bybel vertroud is, sal ontken dat dit die feit beklemtoon dat ’n Christen se eerste verpligting teenoor die almagtige God is, dat ons te alle tye aan hom lojaal moet wees nie (Handelinge 5:29). En tog kan ’n ware aanbidder in baie gevalle aan die versoeke of eise van ’n ongelowige in gesag voldoen sonder om God se verhewe wette te verbreek.

Ons vind ’n leersame voorbeeld in die drie Hebreërs, soos opgeteken in Daniël hoofstuk 3. Hulle regeringshoof, Nebukadnesar, het opdrag gegee dat hulle en ander in die dal Dura bymekaarkom. Die drie Hebreërs het besef dat valse aanbidding daar beoefen sou word en sou waarskynlik verkies het om weg te bly. Miskien kon Daniël homself verskoon, maar hierdie drie kon nie. a Hulle gehoorsaamheid het dus gestrek tot die punt waar hulle teenwoordig was, maar hulle sou nie aan enige verkeerde daad deelneem nie, en hulle het ook nie.—Daniël 3:1-18.

’n Ongelowige man kan eweneens in die vakansieseisoen sy Christenvrou vra of van haar vereis om iets te doen wat sy liewer sou wou vermy. Kyk na ’n paar voorbeelde: Hy sê vir haar om ’n sekere dis voor te berei op die dag wat hy en ander ’n vakansiedag sal vier. Of hy dring aan dat die gesin (onder andere sy vrou) op daardie dag na sy familie gaan vir ’n maaltyd of om bloot daar te gaan kuier. Of selfs voor die vakansiedag sê hy dalk dat sy vrou, terwyl sy inkopies doen, sekere dinge vir hom moet koop—kos wat spesifiek vir die vakansiedag bedoel is, artikels wat as geskenke gebruik gaan word of geskenkpapier en kaartjies om saam met sy geskenke te gebruik.

Weer eens moet die Christenvrou vasbeslote wees om nie aan valse godsdiensgebruike deel te neem nie, maar wat dan van sulke versoeke? Hy is die gesinshoof, en God se Woord sê: “Vrouens, wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here” (Kolossense 3:18). Kan sy in hierdie gevalle vroulike onderdanigheid toon en terselfdertyd lojaal aan God wees? Sy moet besluit hoe om ’n balans te vind tussen gehoorsaamheid aan haar man en haar alles oorheersende gehoorsaamheid aan Jehovah.

Op ander tye sal haar man haar dalk vra om ’n sekere dis voor te berei, hetsy omdat dit sy gunstelingkos is of omdat hy daaraan gewoond is om daardie dis in ’n sekere seisoen te eet. Sy sal graag liefde aan hom wil betoon en sy hoofskap wil erken. Kan sy instem as hy die versoek op ’n vakansiedag doen? Party Christenvroue sal dit moontlik met ’n skoon gewete kan doen en dit bloot beskou as net nog ’n maaltyd wat sy voorberei. Geen lojale Christen sal natuurlik spesiale betekenis daaraan heg nie, al is dit vir haar man spesiaal. Hy verwag dalk ook van haar om saam met hom sy familie op verskillende tye elke maand of jaar te besoek. Kan sy dit doen al is dit op ’n vakansiedag? Of sal sy normaalweg bereid wees om artikels op sy versoek te koop, sonder om gevolgtrekkings te maak oor wat hy beplan om met die artikels te doen wat sy vir hom koop terwyl sy haar inkopies doen?

’n Christenvrou moet natuurlik aan ander dink—watter uitwerking dit op hulle sal hê (Filippense 2:4). Sy sal hoegenaamd nie die indruk wil skep dat sy die vakansiedag vier nie, net soos die drie Hebreërs waarskynlik sou verkies het dat ander hulle nie na die dal Dura sien reis het nie. Sy kan dit dus op ’n taktvolle wyse met haar man probeer bespreek om te sien of hy nie ter wille van haar gevoelens sekere dinge wat met die vakansiedag verband hou, self sal doen nie om sodoende sy vrou in ag te neem wat hom liefhet en respekteer. Hy sal dalk die wysheid daarin sien om ’n situasie te vermy waarin albei van hulle in die verleentheid gestel kan word as sy sou moes weier om aan valse godsdiensgebruike deel te neem. Ja, ’n kalm bespreking voor die tyd kan ’n vreedsame oplossing teweegbring.—Spreuke 22:3.

Dit berus uiteindelik by die getroue Christen om die feite op te weeg en te besluit wat om te doen. Gehoorsaamheid aan God moet eerste kom, soos in die geval van die drie Hebreërs (1 Korintiërs 10:31). Maar daarmee in gedagte moet die individuele Christen besluit watter dinge op die versoek van iemand met gesag in die gesin of in die gemeenskap gedoen kan word sonder om Goddelike standaarde prys te gee.

[Voetnoot]

a Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2001.