Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In watter mate is die beperkings op ’n huwelik tussen familielede wat in die Mosaïese Wet uiteengesit is, vandag op Christene van toepassing?

Die Wet wat Jehovah aan die nasie Israel gegee het, sê nie veel oor huwelikseremonies en -prosedures nie. Dit verbied egter sekere huweliksverbintenisse. In Levitikus 18:6-20 vind ons byvoorbeeld ’n lys van verbode verhoudings met betrekking tot ’n “vleeslike naverwant”. Hierdie gedeelte bespreek redelik uitvoerig watter vleeslike naverwante nie met mekaar geslagsomgang mag hê nie. Christene is natuurlik nie onder die Mosaïese Wet nie en word ook nie deur die verordening daarvan gebind nie (Efesiërs 2:15; Kolossense 2:14). Dit beteken egter nie dat Christene hierdie saak bloot kan ignoreer wanneer hulle besluit met wie hulle gaan trou nie. Daar is ’n hele paar redes hiervoor.

Eerstens is daar sekulêre wette wat betrekking het op huwelike tussen naverwante, en Christene is verplig om die wette van die land waarin hulle woon, te gehoorsaam (Matteus 22:21; Romeine 13:1). Hierdie wette verskil natuurlik van plek tot plek. Die meeste moderne wette in hierdie verband is hoofsaaklik op genetiese oorwegings gegrond. Dit is ’n bekende feit dat enige kinders gebore uit ’n huwelik tussen vleeslike naverwante ’n groter kans staan om genetiese defekte en siektes te hê. Om hierdie rede en weens Christene se ‘onderdanigheid aan die hoër owerhede’ hou hulle by die plaaslike wette in verband met huwelike wanneer hulle trou.

Dan is daar ook die kwessie van wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is in die gemeenskap waarin ’n mens lewe. Byna elke kultuur het reëls en gebruike wat huwelike veroordeel tussen mense wat bloedverwante is, en hulle beskou hierdie verbintenisse dikwels as bloedskendig en dus as iets wat taboe is. Hoewel die spesifieke verhoudings wat veroordeel word, grootliks van kultuur tot kultuur kan verskil, “gebeur dit oor die algemeen dat hoe nader twee mense geneties aan mekaar verwant is, hoe groter en meer emosioneel gelaai is die taboe wat geslagsomgang tussen hulle verbied of ontmoedig”, sê The Encyclopædia Britannica. Selfs wanneer daar dus geen bloedskendige verhoudings betrokke is nie, wil Christene nie gevestigde gebruike of die gegronde gevoelens van die gemeenskap heeltemal verontagsaam en sodoende die Christengemeente of God se naam oneer aandoen nie.—2 Korintiërs 6:3.

Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is ons godgegewe gewete. Alle mense word gebore met ’n sin vir reg en verkeerd, goed en sleg (Romeine 2:15). Hulle gewete sê vir hulle wat normaal en gepas is en wat onnatuurlik en aanstootlik is, tensy dit deur perverse gebruike verdraai of afgestomp is. Jehovah het op hierdie feit gesinspeel toe hy die Israeliete sy wet gegee het teen ’n huwelik tussen vleeslike naverwante. Ons lees: “Soos Egipteland doen, waarin julle gewoon het, mag julle nie doen nie; en soos die land Kanaän doen, waarin ek julle bring, mag julle nie doen nie; en in hulle insettinge mag julle nie wandel nie” (Levitikus 18:3). Vir Christene is hulle Bybelopgeleide gewete baie kosbaar, en hulle laat nie toe dat dit deur die nasies se verdraaide sin vir reg en verkeerd verderf word nie.—Efesiërs 4:17-19.

Tot watter gevolgtrekking kan ons dan kom? Hoewel Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, sê hulle gewete duidelik vir hulle dat ’n huwelik tussen vleeslike naverwante—soos vader en dogter, moeder en seun, broer en suster—heeltemal onaanvaarbaar is in die Christengemeenskap. a En wanneer die verwantskap verder is, besef Christene dat daar wette en verordeninge is wat bepaal of ’n huwelik wettig is en dat daar standaarde is wat sosiaal en kultureel aanvaarbaar is. Dit moet sorgvuldig oorweeg word sodat ons die skriftuurlike opdrag kan nakom: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees.”—Hebreërs 13:4.

[Voetnoot]

a Sien asseblief die artikel “Bloedskendige huwelike—Hoe moet Christene hulle beskou?” in Die Wagtoring van 15 Junie 1978, bladsye 19-21, vir ’n uitvoerige bespreking van die onderwerp.