Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goddelike beginsels kan jou tot voordeel strek

Goddelike beginsels kan jou tot voordeel strek

Goddelike beginsels kan jou tot voordeel strek

JY WEET ongetwyfeld dat diere deur instink gelei word. Talle masjiene word ontwerp om volgens instruksies te werk. Maar mense is in werklikheid geskep om deur beginsels gerig te word. Hoe kan jy hiervan seker wees? Wel, Jehovah, die Skepper van alle regverdige beginsels, het met die skepping van die eerste mense gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis.” Die Skepper is ’n gees; hy het nie ’n fisiese liggaam soos ons nie. Ons is dus na sy “beeld” geskep in die sin dat ons sy persoonlikheid kan weerspieël en sy goeie eienskappe tot ’n mate aan die dag kan lê. Mense het die vermoë om hulle lewe volgens beginsels te rig, dit wil sê volgens wat hulle glo die kode vir korrekte optrede is. Jehovah het baie van hierdie beginsels in sy Woord laat opteken.—Genesis 1:26; Johannes 4:24; 17:17.

‘Maar die Bybel bevat honderde beginsels’, sê ’n mens dalk. ‘Ek sal hulle nooit almal kan leer nie.’ Dit is waar. Maar dink hieraan: Hoewel alle Goddelike beginsels nuttig is, is party gewigtiger as ander. Jy kan dit in Matteus 22:37-39 sien, waar Jesus getoon het dat party van die wette en ooreenstemmende beginsels in die Mosaïese Wet belangriker as ander was.

Watter beginsels is gewigtiger? Die grondbeginsels van die Bybel is dié wat direk verband hou met ons verhouding met Jehovah. As ons op hierdie beginsels ag slaan, word die Skepper die grootste invloed op ons sedelike kompas. Dan is daar ook beginsels wat ons verhoudinge met ander mense raak. As ons hierdie beginsels toepas, sal dit ons help om die “ek eerste”-gesindheid, hoe dit ook al beskryf word, te weerstaan.

Kom ons begin by een van die belangrikste waarhede in die Bybel. Wat is daardie waarheid, en hoe raak dit ons?

“Die Allerhoogste oor die hele aarde”

Die Heilige Skrif toon duidelik dat Jehovah ons Grootse Skepper, God die Almagtige, is. Niemand sal ooit aan hom gelyk kan wees of sy plek kan inneem nie. Dit is ’n grondwaarheid wat in die Bybel opgeteken is.—Genesis 17:1; Prediker 12:1.

Een van die skrywers van die boek Psalms het aangaande Jehovah gesê: “U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” Eertydse koning Dawid het gesê: “Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah, u wat u ook as hoof oor alles verhef.” En die bekende profeet Jeremia is beweeg om dié woorde op te teken: “Daar is hoegenaamd niemand soos u nie, o Jehovah. U is groot, en u naam is groot in mag.”—Psalm 83:18; 1 Kronieke 29:11; Jeremia 10:6.

Hoe moet ons hierdie waarhede oor God in ons daaglikse lewe toepas?

Dit is duidelik wie in werklikheid die vernaamste plek in ons lewe moet beklee—ons Skepper en Lewegewer. Sal dit dan nie gepas wees om enige neiging te weerstaan om die aandag op onsself te vestig nie—’n neiging wat in party dalk sterker is as in ander? ’n Wyse rigsnoer is om “alles tot heerlikheid van God” te doen (1 Korintiërs 10:31). Die profeet Daniël het ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig gestel.

Die geskiedenisverslag vertel ons dat koning Nebukadnesar van Babilon eenkeer deur ’n droom ontstel is en geëis het dat die betekenis aan hom bekend gemaak word. Al was al die ander verbyster, het Daniël die koning presies vertel wat hy wou weet. Het Daniël hom die eer hiervoor toegeëien? Nee, hy het die “God in die hemel wat ’n Openbaarder van geheime is”, verheerlik. Daniël het verder gesê: “Dit is nie deur enige wysheid wat in my is meer as in al die ander lewendes dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie.” Daniël was ’n beginselvaste man. Geen wonder dat hy in die boek Daniël drie keer beskryf word as ’n “besonder geliefde man” in God se oë nie.—Daniël 2:28, 30; 9:23; 10:11, 19.

Dit sal jou tot voordeel strek as jy Daniël navolg. ’n Mens se beweegredes speel die beslissende rol as jy Daniël se voorbeeld wil volg. Wie moet die eer kry vir wat jy doen? Ongeag jou situasie, jy het die vermoë om in ooreenstemming met hierdie uiters belangrike Bybelbeginsel op te tree—Jehovah is die Soewereine Heer. As jy dit doen, sal dit jou ‘besonder geliefd’ in sy oë maak.

Kom ons ondersoek nou twee grondbeginsels wat ons kan rig op die gebied van menseverhoudinge. Aangesien daar oral soveel klem op ‘die eie ek’ geplaas word, bied hierdie aspek van die lewe veral ’n uitdaging.

“Met ootmoed”

Diegene wat hulleself eerste stel, is selde tevrede. Die meeste wil altyd ’n beter lewe hê, en hulle wil dit nou hê. Vir hulle is beskeidenheid ’n soort swakheid. Hulle beskou geduld as iets wat net ander aan die dag moet lê. Wat húlle vooruitgang betref, is enigiets toelaatbaar. Dink jy dat jy geen ander keuse het as om soos hulle op te tree nie?

Knegte van God kom daardie gesindheid elke dag teë, maar dit moet hulle nie beïnvloed nie. Ryp Christene glo hierdie beginsel: “Nie hy wat homself aanbeveel, is goedgekeur nie, maar hy wat deur Jehovah aanbeveel word.”—2 Korintiërs 10:18.

Dit sal ook help om die beginsel in Filippense 2:3, 4 toe te pas. Daar is die aansporing om ‘niks uit twisgierigheid of uit egotisme te doen nie, maar om met ootmoed die ander hoër as jouself te ag’. Sodoende sal ’n mens ‘uit persoonlike belangstelling nie net ’n oog op jou eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander’.

Iemand wat ’n gepaste beskouing van homself gehad het en nie te veel waarde aan sy eie belangrikheid geheg het nie, was Gideon, ’n rigter onder die eertydse Hebreërs. Hy het nie daarna gestreef om die leier van Israel te wees nie. Toe hy egter die toewysing ontvang het om daardie rol te vervul, het Gideon die aandag op sy onwaardigheid gevestig. “My duisend is die geringste in Manasse, en ek is die kleinste in my vader se huis”, het hy verduidelik.—Rigters 6:12-16.

Wat meer is, nadat Jehovah Gideon ’n oorwinning gegee het, het manne van Efraim met hom rusie gemaak. Hoe het Gideon gereageer? Het hy nou weens die oorwinning baie vernaam gevoel? Nee. Hy het ’n ramp afgeweer deur ’n sagte antwoord te gee. “Wat het ek dan nou in vergelyking met julle gedoen?” Gideon was ootmoedig.—Rigters 8:1-3.

Die gebeure waarby Gideon betrokke was, het weliswaar lank gelede plaasgevind. Dit is nogtans nuttig om die verslag te ondersoek. ’n Mens kan sien dat Gideon se gesindheid heeltemal verskil het van wat vandag so algemeen is, en hy het daarvolgens gelewe, tot sy voordeel.

Die heersende “ek eerste”-gesindheid kan ons ’n verdraaide beskouing van eiewaarde gee. Bybelbeginsels stel daardie beskouing reg en leer ons ons werklike waarde met betrekking tot die Skepper en ander.

Deur Bybelbeginsels toe te pas, kry ons die oorhand oor hierdie heersende gesindheid. Ons word nie langer deur ons gevoelens of persoonlikheid oorheers nie. Hoe meer ons oor regverdige beginsels leer, hoe beter leer ons die Skepper daarvan ken. Ja, dit is beslis die moeite werd om spesifiek te let op Goddelike beginsels wanneer ons die Bybel lees.—Sien venster.

Jehovah het die mens hoër gemaak as die diere, wat hoofsaaklik hulle instink volg. Om God se wil te doen, behels dat ons Goddelike beginsels toepas. Sodoende kan ons ons sedelike kompas in ’n goeie, werkende toestand hou, ’n kompas wat ons sal rig tot in ’n nuwe stelsel wat deur God tot stand gebring sal word. Die Bybel gee ons rede om binnekort ’n aardwye nuwe stelsel te verwag waarin ‘regverdigheid sal woon’.—2 Petrus 3:13.

[Venster/Prente op bladsy 6]

’n Paar nuttige Bybelbeginsels

In die gesin:

“Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.

“Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie.”—1 Korintiërs 13:4, 5.

“Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.”—Efesiërs 5:33.

“Vrouens, wees onderdanig aan julle mans.”—Kolossense 3:18.

“Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie.”—Spreuke 23:22.

Op skool, by die werk of in sakeaangeleenthede:

“’n Bedrieglike weegskaal is . . . iets verfoeiliks . . . Die goddelose verkry valse loon.”—Spreuke 11:1, 18.

“Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk.”—Efesiërs 4:28.

“As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.”—2 Tessalonisense 3:10.

“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah.”—Kolossense 3:23.

“Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.

Gesindheid teenoor rykdom:

“Hy wat hom haas om rykdom te verwerf, sal nie onskuldig bly nie.”—Spreuke 28:20.

“Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie.”—Prediker 5:10.

Bepaling van jou eiewaarde:

“As mense hulle eie heerlikheid soek, is dit dan heerlikheid?”—Spreuke 25:27.

“Laat ’n vreemdeling jou prys, en nie jou eie mond nie.”—Spreuke 27:2.

“Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie.”—Romeine 12:3.

“As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand.”—Galasiërs 6:3.

[Prent op bladsy 5]

Daniël het God die verskuldigde eer gegee

[Prent op bladsy 7]

As ons Goddelike beginsels in ons handelinge met ander toepas, dra dit by tot aangename verhoudinge en geluk

[Foto-erkenning op bladsy 7]

U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./Robert Bridges