Hulle het dorings in die vlees verduur
Hulle het dorings in die vlees verduur
‘Ek is ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van Satan, om my te bly slaan.’—2 KORINTIËRS 12:7.
1. Wat is party van die probleme waarmee mense vandag te kampe het?
WORSTEL jy met ’n voortslepende beproewing? Indien wel, is jy nie alleen nie. In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, het getroue Christene te kampe met hewige teenstand, gesinsprobleme, siekte, finansiële sorge, emosionele probleme, die dood van geliefdes en ander uitdagings (2 Timoteus 3:1-5). In sekere lande word baie mense se lewe deur voedseltekorte en oorloë bedreig.
2, 3. Watter negatiewe gesindheid kan ontstaan as gevolg van die doringagtige probleme wat ons ondervind, en watter gevaar kan dit inhou?
2 Sulke probleme kan ’n mens heeltemal oorweldig laat voel, veral as ’n hele paar jou tegelykertyd oorval. Let op wat Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Ja, moedeloosheid as gevolg van ons beproewinge kan ons van broodnodige krag beroof en ons vasbeslotenheid ondermyn om tot die einde toe te volhard. Hoe so?
3 Wel, ontmoediging kan veroorsaak dat ons nie meer objektief dink nie. Dit is byvoorbeeld maklik vir ons om ons probleme te vergroot en onsself te begin bejammer. Party roep dalk selfs tot God en sê: “Waarom laat u dit met my gebeur?” As so ’n negatiewe gesindheid in iemand se hart posvat, kan dit sy vreugde en vertroue ondermyn. ’n Kneg van God kan so mismoedig word dat hy selfs ophou om “die goeie stryd van die geloof” te stry.—1 Timoteus 6:12.
4, 5. Hoe is Satan in party gevalle betrokke by ons probleme, maar watter vertroue kan ons hê?
4 Jehovah God veroorsaak beslis nie ons beproewinge nie (Jakobus 1:13). Party toetse kom eenvoudig oor ons omdat ons aan hom getrou probeer bly. Trouens, almal wat Jehovah dien, word teikens van sy aartsvyand, Satan die Duiwel. In die kort tydjie wat hy oor het, probeer dié bose “god van hierdie stelsel van dinge” om enigeen wat Jehovah liefhet, te beïnvloed om nie meer Sy wil te doen nie (2 Korintiërs 4:4). Satan bring soveel lyding as wat hy kan oor die hele gemeenskap van ons broers dwarsdeur die wêreld (1 Petrus 5:9). Satan veroorsaak nou wel nie al ons probleme regstreeks nie, maar hy kan die probleme waarvoor ons te staan kom, gebruik om ons verder te probeer verswak.
5 Ongeag hoe vreeswekkend Satan of sy wapens egter is, ons kan hom oorwin! Hoe kan ons daarvan seker wees? Omdat Jehovah God vir ons veg. Hy het seker gemaak dat sy knegte nie onkundig is omtrent Satan se taktiek nie (2 Korintiërs 2:11). Trouens, God se Woord gee ons baie inligting oor die beproewinge waarvoor ware Christene te staan kom. In die apostel Paulus se geval het die Bybel die uitdrukking “’n doring in die vlees” gebruik. Waarom? Kom ons kyk hoe God se Woord hierdie frase verduidelik. Dan sal ons sien dat ons beslis nie die enigstes is wat Jehovah se hulp nodig het om oor beproewinge te seëvier nie.
Waarom toetse soos dorings is
6. Wat het Paulus bedoel met “’n doring in die vlees”, en wat was daardie doring moontlik?
6 Paulus, wat swaar beproef is, is geïnspireer om te skryf: ‘Ek is ’n doring in die vlees gegee, ’n engel van Satan, om my te bly slaan, sodat ek my nie te veel sou verhef nie’ (2 Korintiërs 12:7). Wat was hierdie doring in Paulus se vlees? Wel, ’n doring wat diep onder die vel sit, sou beslis pynlik wees. Die metafoor dui dus op iets wat Paulus pyn veroorsaak het—hetsy fisies, emosioneel of albei. Dit kan wees dat Paulus ’n oogprobleem of ’n ander kwaal gehad het. Of die doring kon betrekking gehad het op daardie individue wat Paulus se kwalifikasies as ’n apostel in twyfel getrek en sy predikings- en onderrigtingswerk bevraagteken het (2 Korintiërs 10:10-12; 11:5, 6, 13). Wat daardie doring ook al was, dit was altyd met hom en kon nie verwyder word nie.
7, 8. (a) Waarop dui die uitdrukking “bly slaan”? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons enige dorings wat ons nou pynig, verduur?
7 Let op dat die doring Paulus bly slaan het. Dit is interessant dat die Griekse werkwoord wat Paulus hier gebruik het, van die woord vir “kneukels” kom. Daardie woord word in Matteus 26:67 letterlik en in 1 Korintiërs 4:11 figuurlik gebruik. In hierdie verse dra dit die gedagte oor van iemand wat met die vuis geslaan word. Met die oog op Satan se bittere haat vir Jehovah en Sy knegte kan ons daarvan seker wees dat die Duiwel behae daarin geskep het dat ’n doring Paulus bly slaan het. Vandag skep Satan net soveel behae daarin wanneer ons ook deur ’n doring in die vlees gepynig word.
8 Ons moet dus, soos Paulus, weet hoe om sulke dorings te verduur. Ons lewe hang daarvan af! Onthou dat Jehovah graag ons lewe vir ewig wil verleng in sy nuwe wêreld, waar doringagtige probleme ons nooit weer sal kwel nie. Om ons te help om hierdie wonderlike prys te verwerf, het God ons baie voorbeelde in sy heilige Woord, die Bybel, gegee wat toon dat sy getroue knegte daarin geslaag het om dorings in die vlees te verduur. Hulle was gewone, onvolmaakte mense, net soos ons. As ons na die voorbeelde van party onder hierdie groot “wolk van getuies” kyk, kan dit ons help om “die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding [te] hardloop” (Hebreërs 12:1). As ons peins oor wat hulle verduur het, kan dit ons vertroue versterk dat ons enige dorings wat Satan teen ons gebruik, kan verduur.
Die dorings wat Mefiboset gepynig het
9, 10. (a) Wat het daartoe gelei dat Mefiboset ’n doring in die vlees gehad het? (b) Hoe het koning Dawid goedhartigheid teenoor Mefiboset bewys, en hoe kan ons Dawid navolg?
9 Dink byvoorbeeld aan Mefiboset, die seun van Dawid se vriend Jonatan. Toe Mefiboset vyf jaar oud was, is die berig gebring dat sy vader, Jonatan, en sy oupa, koning Saul, gesneuwel het. Die seun se versorgster het paniekbevange geraak. Sy “het hom begin dra . . . , maar terwyl sy paniekbevange gehardloop het om te vlug, het hy geval en kreupel geword” (2 Samuel 4:4). Hierdie gebrek moes beslis ’n vreeslike doring vir Mefiboset gewees het om te verduur terwyl hy grootgeword het.
10 Jare later het koning Dawid, weens sy groot liefde vir Jonatan, liefderyke goedhartigheid teenoor Mefiboset bewys. Dawid het al Saul se eiendom aan hom gegee en Saul se dienaar Siba as opsigter oor hierdie grond aangestel. Dawid het ook vir Mefiboset gesê: “Jy sal voortdurend aan my tafel brood eet” (2 Samuel 9:6-10). Dawid se liefderyke goedhartigheid was ongetwyfeld ’n vertroosting vir Mefiboset en het gehelp om die pyn van sy gebrek te verlig. Wat ’n goeie les! Ons moet ook goedhartigheid betoon teenoor diegene wat met ’n doring in die vlees worstel.
11. Wat het Siba omtrent Mefiboset beweer, maar hoe weet ons dat sy bewering ’n leuen was? (Sien voetnoot.)
11 Later moes Mefiboset nog ’n doring in die vlees verduur. Sy dienaar Siba het hom belaster voor koning Dawid, wat toe besig was om uit Jerusalem te vlug weens die opstand van Absalom, Dawid se seun. Siba het gesê dat Mefiboset dislojaal was en in Jerusalem agtergebly het in die hoop om die koningskap oor te neem. a Dawid het Siba se laster geglo en alles wat aan Mefiboset behoort het, aan daardie leuenaar gegee!—2 Samuel 16:1-4.
12. Hoe het Mefiboset op sy situasie gereageer, en hoe is hy ’n goeie voorbeeld vir ons?
12 Maar toe Mefiboset uiteindelik by Dawid kom, het hy vir die koning vertel wat werklik gebeur het. Hy het gereedgemaak om by Dawid aan te sluit toe Siba hom bedrieg het en aangebied het om in sy plek te gaan. Het Dawid die onreg reggestel? Gedeeltelik. Hy het die eiendom tussen die twee mans verdeel. Hier was nog ’n potensiële doring in Mefiboset se vlees. Was hy baie teleurgesteld? Het hy kapsie gemaak teen Dawid se besluit en gekla dat dit onregverdig is? Nee, hy het die koning se beslissing nederig aanvaar. Hy het sy aandag op die positiewe sy van die saak toegespits en hom verbly dat Israel se regmatige koning veilig teruggekeer het. Mefiboset het beslis ’n uitstekende voorbeeld gestel deur ’n gebrek, laster en teleurstelling te verduur.—2 Samuel 19:24-30.
Nehemia het sy beproewinge verduur
13, 14. Watter dorings moes Nehemia verduur toe hy teruggekeer het om die mure van Jerusalem te herbou?
13 Dink aan die figuurlike dorings wat Nehemia verduur het toe hy in die vyfde eeu v.G.J na die onbemuurde stad Jerusalem teruggekeer het. Hy het gevind dat die stad feitlik onbeskermd was, en die herstelde Jode daar was ongeorganiseerd, mismoedig en onrein in die oë van Jehovah. Hoewel koning Artasasta hom volmag gegee het om die mure van Jerusalem te herbou, het Nehemia gou besef dat die goewerneurs van die nabygeleë lande gekant was teen sy sending. “Dit [was] in hulle oë iets baie slegs dat iemand gekom het om iets goeds vir die kinders van Israel te soek.”—Nehemia 2:10.
14 Daardie teenstanders in die ander lande het alles in hulle vermoë gedoen om Nehemia se werk stop te sit. Hulle dreigemente, leuens, laster, intimidasie—met inbegrip van spioene wat gestuur is om hom te ontmoedig—was sekerlik vir hom soos voortdurende dorings in sy vlees. Het hy voor die sette van daardie vyande geswig? Nee! Hy het sy volle vertroue in God gestel en nie ingegee nie. Toe Jerusalem se mure uiteindelik herbou is, het dit dus as blywende getuienis gedien van Jehovah se liefdevolle ondersteuning van Nehemia.—Nehemia 4:1-12; 6:1-19.
15. Watter probleme onder die Jode het Nehemia kwaai gepynig?
15 As goewerneur het Nehemia ook te kampe gehad met baie probleme onder God se volk. Hierdie probleme was soos dorings wat hom kwaai gepynig het omdat dit die volk se verhouding met Jehovah geraak het. Rykes het hoë rente geëis, en hulle armer broers moes van hulle grond afstand doen en selfs hulle kinders as slawe verkoop om hulle skuld sowel as die Persiese belasting te betaal (Nehemia 5:1-10). Baie Jode het die Sabbat ontheilig en het nie die Leviete en die tempel onderhou nie. Ook het party met “Asdodiese, Ammonitiese en Moabitiese vrouens” getrou. Hoe moes dit Nehemia tog gepynig het! Maar nie een van hierdie dorings het hom laat tou opgooi nie. Hy het oor en oor bewys dat hy ’n ywerige handhawer van God se regverdige wette is. Soos Nehemia moet ons nie toelaat dat die ontroue gedrag van ander ons laat ophou om lojale diens aan Jehovah te verrig nie.—Nehemia 13:10-13, 23-27.
Baie ander getroues het volhard
16-18. Met watter gesinsprobleme het Isak en Rebekka, Hanna, Dawid en Hosea te kampe gehad?
16 Die Bybel bevat baie ander voorbeelde van mense wat moeilike situasies wat soos dorings was, die hoof gebied het. ’n Algemene oorsaak van sulke dorings was gesinsprobleme. Esau se twee vrouens “was vir Isak en Rebekka [Esau se ouers] ’n bron van bitterheid van gees”. Rebekka het selfs gesê dat sy ’n afsku gekry het van haar lewe saam met daardie vroue (Genesis 26:34, 35; 27:46). Dink ook aan Hanna en hoe haar mededingster, Peninna, haar “erg getart” het omdat Hanna onvrugbaar was. Hanna het moontlik hierdie teistering dikwels in die privaatheid van hulle huis verduur. Peninna het haar ook in die openbaar getart—ongetwyfeld voor familielede en vriende—terwyl die gesin die fees in Silo bygewoon het. Dit was soos om die doring dieper in Hanna se vlees in te druk.—1 Samuel 1:4-7.
17 Dink aan wat Dawid verduur het weens die waansinnige jaloesie van sy skoonvader, koning Saul. Om sy lewe te red, moes Dawid noodgedwonge in grotte in die wildernis van En-Gedi bly, waar hy oor steil en gevaarlike kranse moes klim. Die onreg moes hom diep gegrief het, want hy het Saul geen kwaad aangedoen nie. En tog moes Dawid jare lank as ’n voortvlugtige lewe—dit alles weens Saul se jaloesie.—1 Samuel 24:14, 15; Spreuke 27:4.
18 Stel jou die gesinsprobleme voor waarmee die profeet Hosea te kampe gehad het. Sy vrou het ’n egbreekster geword. Haar onsedelikheid moes soos dorings gewees het wat in sy hart gesteek het. En watter verdere pyn moes dit hom tog veroorsaak het toe sy vrou twee buite-egtelike kinders uit haar hoerery voortgebring het!—Hosea 1:2-9.
19. Voor watter vervolging het die profeet Migaja te staan gekom?
19 Nog ’n doring in die vlees is vervolging. Dink byvoorbeeld aan die ondervinding van die profeet Migaja. Dit moes Migaja se regverdige siel gepynig het om te sien dat goddelose koning Agab met valse profete assosieer en dat Agab hulle infame leuens glo. En wat het die leier van daardie bedrieërs gedoen toe Migaja vir Agab sê dat al daardie profete volgens “’n bedrieglike gees” spreek? Hy het “Migaja op die wang geslaan”! Wat nog erger was, was Agab se reaksie op Jehovah se waarskuwing dat die veldtog om Ramot-Gilead te herower, tot mislukking gedoem is. Agab het beveel dat Migaja in die tronk gegooi word en ’n verminderde rantsoen ontvang (1 Konings 22:6, 9, 15-17, 23-28). Dink ook aan Jeremia en hoe hy deur sy moorddadige vervolgers behandel is.—Jeremia 20:1-9.
20. Watter dorings moes Naomi verduur, en hoe is sy beloon?
20 Die dood van geliefdes is nog ’n uiters onaangename situasie wat soos ’n doring in die vlees kan wees. Naomi moes die pynlike verlies van haar man en haar twee seuns verduur. Sy het nog nie daardie traumatiese ervaring heeltemal verwerk toe sy na Betlehem teruggekeer het nie. Sy het vir haar vriende gesê om haar nie Naomi te noem nie, maar Mara, ’n naam wat die bitterheid van haar ondervindinge weerspieël het. Op die ou end het Jehovah egter haar volharding beloon met ’n kleinseun wat ’n skakel in die geslagslyn van die Messias geword het.—Rut 1:3-5, 19-21; 4:13-17; Matteus 1:1, 5.
21, 22. Watter verliese het Job ondervind, en hoe het hy gereageer?
21 Dink net hoe geskok Job moes gewees het toe hy hoor van die skielike en gewelddadige dood van sy tien geliefde kinders, om nie eers van die verlies van al sy vee en knegte te praat nie. Dit het gelyk of sy hele wêreld skielik in duie gestort het! En terwyl Job nog ná al hierdie skokke tot verhaal probeer kom het, het Satan hom met siekte getref. Job het heel moontlik gedink dat hy weens hierdie kwaadaardige siekte sou sterf. Sy pyn het so ondraaglik geword dat hy gevoel het dat die dood ’n verligting sou wees.—Job 1:13-20; 2:7, 8.
22 Asof dit alles nie genoeg was nie, het sy vrou, in haar verdriet en benoudheid, na hom toe gekom en uitgeroep: “Vervloek God en sterf!” Wat ’n doring moes dit tog in sy pynlike vlees gewees het! Hierna het Job se drie metgeselle, in plaas van hom te vertroos, hom met valse redenasies aangeval en hom beskuldig van verborge sondes wat volgens hulle die rede vir sy ellende was. Hulle onjuiste bewerings het die dorings as ’t ware al hoe dieper in sy vlees ingedruk. Hou ook in gedagte dat Job nie geweet het waarom hierdie verskriklike dinge oor hom kom nie; hy het ook nie geweet dat sy lewe gespaar sou word nie. Maar “in dit alles het Job nie gesondig of enigiets ongepas aan God toegeskryf nie” (Job 1:22; 2:9, 10; 3:3; 14:13; 30:17). Hoewel hy tegelykertyd deur baie dorings getref is, het hy nooit afgewyk van sy weg van onkreukbaarheid nie. Hoe bemoedigend tog!
23. Waarom kon die getroue knegte wat ons bespreek het, verskillende dorings in die vlees verduur?
23 Die voorgaande voorbeelde is beslis nie ’n uitvoerige lys nie. Die Bybel bevat nog baie ander. Al hierdie getroue knegte moes hulle eie figuurlike dorings verduur. En met watter groot verskeidenheid probleme het hulle tog te kampe gehad! Hulle het nietemin iets in gemeen gehad. Nie een van hulle het opgehou om Jehovah te dien nie. Ten spyte van al hulle verskriklike toetse het hulle Satan oorwin in die krag wat Jehovah hulle gegee het. Hoe? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord en ons help om te sien hoe ons ook enigiets wat soos ’n doring in die vlees is, kan verduur.
[Voetnoot]
a So ’n ambisieuse plan sou strydig wees met die karakter van so ’n waarderende, nederige man soos Mefiboset. Hy was ongetwyfeld goed bekend met die getroue lewenswandel van sy vader, Jonatan. Hoewel Jonatan ’n seun van koning Saul was, het hy nederig Jehovah se keuse van Dawid as koning oor Israel erken (1 Samuel 20:12-17). As die godvresende vader van Mefiboset en ’n lojale vriend van Dawid sou Jonatan nie sy jong seun geleer het om na koninklike mag te streef nie.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom kan die probleme waarvoor ons te staan kom, met dorings in die vlees vergelyk word?
• Wat was party van die dorings wat Mefiboset en Nehemia moes verduur?
• Watter van die skriftuurlike voorbeelde van manne en vroue wat verskillende dorings in die vlees verduur het, het jou veral getref, en waarom?
[Studievrae]
[Prente op bladsy 15]
Mefiboset moes ’n gebrek, laster en teleurstelling verduur
[Prent op bladsy 16]
Nehemia het volhard ondanks teenstand