Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ten volle toegerus as onderrigters van God se Woord

Ten volle toegerus as onderrigters van God se Woord

Ten volle toegerus as onderrigters van God se Woord

‘God het ons inderdaad voldoende bekwaam gemaak om bedienaars te wees.’—2 KORINTIËRS 3:5, 6.

1, 2. Watter pogings word soms aangewend om predikingswerk te doen, maar waarom misluk dit gewoonlik?

 HOE sal jy daarvan hou as jy ’n taak gegee word wat jy nie bekwaam is om te verrig nie? Dink net: Jy het al die benodigdhede voor jou, en die gereedskap is byderhand. Maar jy het nie die vaagste benul hoe om te werk te gaan nie. Nog erger, hierdie spesifieke taak is dringend. Mense maak staat op jou. Hoe frustrerend tog!

2 So ’n verknorsing is nie heeltemal ’n denkbeeldige situasie nie. Beskou ’n voorbeeld. Soms probeer een van die Christendom se kerke om ’n deur-tot-deur-bediening te organiseer en te verrig. Sulke pogings misluk gewoonlik en loop binne weke of maande dood. Waarom? Die Christendom het nie sy lidmate gehelp om hulle vir die werk te bekwaam nie. Selfs die geestelikes is nie bekwaam om daardie predikingswerk te doen nie, dikwels ondanks jare lange opleiding aan sekulêre skole en kweekskole. Waarom kan ons dit sê?

3. Watter uitdrukking word drie keer in 2 Korintiërs 3:5, 6 gebruik, en wat beteken dit?

3 God se Woord verduidelik wat ’n ware verkondiger van die Christelike goeie nuus bekwaam maak. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Nie dat ons vanself voldoende bekwaam is om enigiets te beskou asof dit uit onsself kom nie, maar die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God, wat ons inderdaad voldoende bekwaam gemaak het om bedienaars . . . te wees” (2 Korintiërs 3:5, 6). Let op die uitdrukking wat drie keer hier gebruik word—“voldoende bekwaam”. Wat beteken dit? Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words sê: “Wanneer dit vir dinge gebruik word, dui [die oorspronklike Griekse woord] op ‘genoeg‘ . . . ; wanneer dit vir mense gebruik word, beteken dit ‘bevoeg’, ‘waardig’.” Iemand wat “voldoende bekwaam” is, is dus bevoeg en waardig om ’n gegewe taak aan te pak. Ja, ware bedienaars van die goeie nuus is bekwaam om hierdie werk te doen. Hulle is bevoeg, in staat of waardig om te preek.

4. (a) Hoe toon Paulus se voorbeeld dat bekwaamheid vir die Christelike bediening nie tot net ’n paar uitgesoekte mense beperk is nie? (b) Wat is drie middele waardeur Jehovah ons as bedienaars bekwaam maak?

4 Maar waar kom hierdie bevoegdheid vandaan? Is dit weens persoonlike talente? Weens ’n uitsonderlike intellek? Weens spesiale opleiding aan hoogaangeskrewe skole? Die apostel Paulus het klaarblyklik al hierdie dinge gehad (Handelinge 22:3; Filippense 3:4, 5). Tog het hy nederig erken dat sy bekwaamheid as ’n bedienaar nie van die skole van hoër onderwys gekom het nie, maar van Jehovah God. Is hierdie bekwaamheid net vir ’n paar uitgesoekte mense beskore? Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf oor “die feit dat ons voldoende bekwaam is”. Dit gee beslis te kenne dat Jehovah seker maak dat al sy getroue knegte bevoeg is, in staat om die werk te verrig wat hy aan hulle gegee het. Hoe maak Jehovah ware Christene vandag bekwaam? Kom ons bespreek drie middele wat hy gebruik: (1) sy Woord, (2) sy heilige gees en (3) sy aardse organisasie.

Jehovah se Woord maak ons bekwaam

5, 6. Watter uitwerking het die Heilige Skrif op ware Christene?

5 Eerstens, hoe maak God se Woord ons bekwaam as bedienaars? Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Die Heilige Skrif kan ons dus “volkome bevoeg [maak], ten volle toegerus” om die “goeie werk” te verrig om mense God se Woord te leer. Maar wat dan van al daardie lidmate van die kerke van die Christendom? Hulle het toegang tot die Bybel. Hoe kan een boek party mense help om bevoegde bedienaars te word en ander nie? Die antwoord lê in ons gesindheid teenoor die Bybel.

6 Ongelukkig is daar baie kerkgangers wat nie die Bybelboodskap aanvaar “soos dit waarlik is, as die woord van God” nie (1 Tessalonisense 2:13). Die Christendom het ’n skandelike reputasie in hierdie opsig opgebou. Is die geestelikes, ná jare van studie aan kweekskole, toegerus as onderrigters van God se Woord? Nie eintlik nie. Party studente glo in die Bybel wanneer hulle met hulle studies aan die kweekskool begin, maar wanneer hulle gradueer, is hulle skepties daaroor! In plaas van daarna die Woord van God te verkondig—waarin baie van hulle nie meer glo nie—rig hulle hulle bediening in ander rigtings deur kant te kies in politieke kwessies, ’n maatskaplike evangelie te bevorder of menslike filosofieë in hulle preke te bespreek (2 Timoteus 4:3). In teenstelling hiermee volg ware Christene die voorbeeld van Jesus Christus.

7, 8. Hoe het Jesus se gesindheid teenoor God se Woord verskil van dié van die godsdiensleiers van sy dag?

7 Jesus het nie toegelaat dat die godsdiensleiers van sy dag sy denke vorm nie. Of Jesus nou ’n klein groepie, soos sy apostels, of groot menigtes onderrig het, hy het goed gebruik gemaak van die heilige geskrifte (Matteus 13:10-17; 15:1-11). Hierdie gebruik het hom van die godsdiensleiers van daardie tyd onderskei. Hulle het die gewone mense ten sterkste ontmoedig om die diep dinge van God te ondersoek. Trouens, dit was gebruiklik vir ’n onderrigter van daardie tyd om aan te voer dat party gedeeltes van die Bybel eenvoudig te diep is om met enigiemand behalwe sy intiemste leerling te bespreek—en selfs dan net op gedempte toon en met ’n bedekte hoof. Daardie godsdiensleiers was amper net so bygelowig oor die bespreking van sekere dele van die Bybel as oor die gebruik van God se naam!

8 Christus was nie so nie. Hy het geglo dat mense in die algemeen, nie net ’n paar uitgesoektes nie, “elke woord wat uit Jehovah se mond kom”, moet oordink. Jesus het nie daarin belanggestel om enige sleutel van kennis aan ’n uitgesoekte groep geleerdes te gee nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Wat ek vir julle in die duisternis vertel, moet julle in die lig sê; en wat julle hoor gefluister word, moet julle van die dakke af verkondig” (Matteus 4:4; 10:27). Dit was Jesus se vurige begeerte om die kennis van God aan soveel mense moontlik bekend te maak.

9. Hoe gebruik ware Christene die Bybel?

9 God se Woord moet die spil wees waarom ons onderrigting draai. Wanneer ons byvoorbeeld ’n toespraak by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies hou, is dit gewoonlik nie genoeg om gekose verse uit die Bybel te lees nie. Ons sal moontlik ’n teks in sy konteks moet verduidelik, toelig en toepas. Ons doel is om die Bybelboodskap verder as die gedrukte bladsy te laat strek en dit in die harte van ons luisteraars te laat insink (Nehemia 8:8, 12). Die Bybel moet ook gebruik word wanneer dit nodig is om raad of regstellende dissipline te gee. Hoewel Jehovah se volk verskillende tale praat en uit verskeie agtergronde kom, het hulle almal respek vir die Boek der boeke—die Bybel.

10. Watter uitwerking kan die Bybel se geïnspireerde boodskap op ons hê?

10 Wanneer die Bybel met soveel respek gebruik word, het die boodskap daarin krag (Hebreërs 4:12). Dit beweeg mense om veranderinge in hulle lewe te maak; byvoorbeeld om onskriftuurlike gebruike soos hoerery, egbreuk, afgodediens, dronkenskap en diefstal die rug toe te keer. Dit het baie mense gehelp om die ou persoonlikheid af te lê en hulle met die nuwe te beklee (Efesiërs 4:20-24). Ja, as ons meer respek vir die Bybel het as vir enige menslike mening of oorlewering en dit getrou gebruik, kan dit ons bevoeg maak, ten volle toegerus as onderrigters van God se Woord.

Jehovah se gees maak ons bekwaam

11. Waarom word Jehovah se heilige gees gepas “die helper” genoem?

11 Tweedens kan ons die rol bespreek wat Jehovah se heilige gees, of werkende krag, daarin speel om ons ten volle toe te rus. Ons moet nooit vergeet dat Jehovah se gees die sterkste krag is wat bestaan nie. Jehovah het sy geliefde Seun die gesag gegee om hierdie ontsagwekkende krag ten behoewe van alle ware Christene te gebruik. Jesus het die heilige gees gepas “die helper” genoem (Johannes 16:7). Hy het sy volgelinge aangespoor om Jehovah om hierdie gees te vra en het hulle verseker dat Jehovah dit mildelik sal voorsien.—Lukas 11:10-13; Jakobus 1:17.

12, 13. (a) Waarom is dit belangrik dat ons bid vir heilige gees om ons in ons bediening te help? (b) Hoe het die Fariseërs getoon dat die heilige gees nie in hulle werksaam was nie?

12 Ons moet elke dag vir heilige gees bid, veral om ons in ons bediening te help. Watter uitwerking kan hierdie werkende krag op ons hê? Dit kan ons verstand en hart beïnvloed en ons help om te verander, te groei en die ou persoonlikheid met die nuwe te vervang (Kolossense 3:9, 10). Dit kan ons help om kosbare eienskappe soos dié van Christus aan te kweek. Baie van ons kan Galasiërs 5:22, 23 uit die kop opsê. Hierdie verse noem die vrugte van God se gees. Die eerste is liefde. Dié eienskap is noodsaaklik in ons bediening. Waarom?

13 Liefde is die groot dryfveer. Liefde vir Jehovah en hulle medemens beweeg ware Christene om die goeie nuus bekend te maak (Markus 12:28-31). Sonder hierdie liefde kan ons nie werklik bekwaam word as onderrigters van God se Woord nie. Let op die verskil tussen Jesus en die Fariseërs. Matteus 9:36 sê van Jesus: “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder.” Hoe het die Fariseërs oor die gewone mense gevoel? Hulle het gesê: “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense” (Johannes 7:49). Daardie Fariseërs het geen liefde vir die volk gehad nie, maar het hulle eerder met groot minagting bejeën. Dit is duidelik dat Jehovah se gees nie in hulle werksaam was nie.

14. Wat moet Jesus se voorbeeld van liefde in sy bediening ons aanspoor om te doen?

14 Jesus het medelye vir mense gevoel. Hy het hulle leed geken. Hy het geweet dat hulle mishandel, gestroop en rondgegooi was soos skape sonder ’n herder. Johannes 2:25 sê vir ons dat Jesus ‘geweet het wat in die mens is’. Omdat Jesus gedurende die skepping Jehovah se Meesterwerker was, het hy ’n diepe begrip van die menslike natuur gehad (Spreuke 8:30, 31). Daardie begrip het sy liefde verinnig. Mag sulke liefde altyd die dryfveer agter ons predikingswerk wees! As ons dink dat ons in hierdie opsig kan verbeter, moet ons vir Jehovah se gees bid en dan in ooreenstemming met ons gebede optree. Jehovah sal ons verhoor. Hy sal hierdie onstuitbare krag stuur om ons te help om meer soos Christus te wees, wat uiters bekwaam was om die goeie nuus te verkondig.

15. Hoe was die woorde van Jesaja 61:1-3 op Jesus van toepassing terwyl dit ook die skrifgeleerdes en Fariseërs aan die kaak gestel het?

15 Hoe is Jesus bekwaam gemaak? “Jehovah se gees is op my”, het hy gesê (Lukas 4:17-21). Ja, Jehovah self het Jesus deur middel van die heilige gees aangestel. Jesus het geen verdere kwalifikasies nodig gehad nie. Is die godsdiensleiers van sy dag deur die heilige gees aangestel? Nee. Hulle was ook nie toegerus om Jesaja 61:1-3 te vervul nie, wat Jesus hardop gelees en op homself toegepas het. Lees asseblief hierdie verse en sien self dat die huigelagtige skrifgeleerdes en Fariseërs nie aan die beskrywing beantwoord het nie. Hulle het geen goeie nuus gehad om aan die armes bekend te maak nie. En hoe kon hulle ’n vrylating aan die gevangenes en ’n herstel van gesig aan die blindes verkondig? In geestelike sin was hulle self blind en in slawerny aan mensgemaakte oorleweringe! Is ons, in teenstelling met daardie manne, bekwaam om mense te onderrig?

16. Watter vertroue kan Jehovah se volk vandag hê met betrekking tot hulle bekwaamheid as bedienaars?

16 Dit is so dat ons nie aan die Christendom se skole van hoër onderwys gestudeer het nie. Ons is nie deur ’n kweekskool as onderrigters aangestel nie. Kom ons dan die nodige kwalifikasies kort? Beslis nie! Ons aanstelling as sy Getuies kom van Jehovah (Jesaja 43:10-12). As ons vir sy gees bid en in ooreenstemming met ons gebed optree, het ons die hoogste kwalifikasies. Ons is natuurlik onvolmaak en skiet te kort aan die voorbeeld wat die Groot Leermeester, Jesus, gestel het. Is ons nogtans nie dankbaar dat Jehovah sy gees gebruik om ons bekwaam te maak en toe te rus as onderrigters van sy Woord nie?

Jehovah se organisasie maak ons bekwaam

17-19. Hoe help die vyf weeklikse vergaderinge wat deur Jehovah se organisasie voorsien word, ons om bekwame bedienaars te word?

17 Kom ons bespreek nou ’n derde middel waardeur Jehovah ons toerus as onderrigters van sy Woord—sy aardse gemeente, of organisasie, wat ons oplei om bedienaars te wees. Hoe? Dink net aan die onderrigtingsprogram wat ons geniet! In ’n tipiese week woon ons vyf Christelike vergaderinge by (Hebreërs 10:24, 25). Ons kom in klein groepies by die Gemeentelike Boekstudie bymekaar om ’n diepgaande Bybelstudie te geniet met behulp van ’n handboek wat deur Jehovah se organisasie voorsien word. Deur te luister en kommentaar te lewer, leer ons by mekaar en spoor ons mekaar aan. Ons ontvang ook persoonlike onderrigting en aandag van die boekstudieopsiener. By die Openbare Vergadering en die Wagtoring-studie neem ons nog ryk geestelike voedsel in.

18 Ons Teokratiese Bedieningskool is bedoel om ons op te lei om te kan onderrig. Wanneer ons studentetoesprake voorberei, leer ons hoe om God se Woord te gebruik om ander oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe te onderrig (1 Petrus 3:15). Het jy nie, wanneer jy ’n toespraak oor ’n heel bekende onderwerp moes hou, al gevind dat jy dan iets nuuts daaroor leer nie? Dit gebeur dikwels. Niks verdiep ons kennis van ’n onderwerp meer as wanneer ons dit vir ander moet leer nie. Al moet ons nie self ’n toespraak hou nie, kan ons nog steeds leer om beter onderrigters te wees. In elke student sien ons goeie eienskappe, en ons kan dink hoe ons daardie eienskappe kan navolg.

19 Die Diensvergadering is ook bedoel om ons toe te rus as onderrigters van God se Woord. Week na week geniet ons lewendige toesprake, besprekings en demonstrasies in verband met ons bediening. Watter aanbieding gaan ons gebruik? Hoe kan ons besondere uitdagings in ons openbare bediening die hoof bied? Watter geleenthede om te preek, is daar waaraan ons meer aandag moet skenk? Wat sal ons bekwamer onderrigters maak wanneer ons herbesoeke doen en Bybelstudies hou? (1 Korintiërs 9:19-22). Hierdie vrae word in besonderhede by die Diensvergadering bespreek. Baie vergaderingdele word gebaseer op artikels in Ons Koninkryksbediening, nog ’n instrument wat voorsien word om ons vir ons noodsaaklike werk toe te rus.

20. Hoe kan ons ten volle baat vind by die vergaderinge en byeenkomste?

20 Deur vir ons vergaderinge voor te berei en dit by te woon en dan in ons werk as onderrigters toe te pas wat ons geleer het, ontvang ons omvattende opleiding. Maar daar is nog meer. Ons het ook groter vergaderinge—kring- en streekbyeenkomste—om ons toe te rus as onderrigters van God se Woord. En hoe sien ons tog daarna uit om aandagtig daar te luister en die raad toe te pas!—Lukas 8:18.

21. Watter getuienis toon dat ons opleiding suksesvol was, en wie kom die eer toe?

21 Was die opleiding wat Jehovah voorsien het, suksesvol? Laat die feite self getuig. Honderdduisende mense word elke jaar gehelp om basiese Bybelleerstellings te leer en om te lewe in ooreenstemming met wat God van hulle vereis. Ons getalle neem toe, maar nie een van ons kan die eer daarvoor inoes nie. Soos Jesus, moet ons dinge realisties beskou. Hy het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Soos die eertydse apostels, is die meeste van ons ongeleerde en gewone mense (Johannes 6:44; Handelinge 4:13). Ons sukses hang van Jehovah af, wat opregtes van hart na die waarheid trek. Paulus het dit goed gestel: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei.”—1 Korintiërs 3:6.

22. Waarom moet ons nooit te ontmoedig voel om ’n volle deelname aan die Christelike bediening te hê nie?

22 Ja, Jehovah God is daadwerklik betrokke by ons werk as onderrigters van sy Woord. Ons voel miskien nie altyd bekwaam as onderrigters nie. Maar onthou, dit is Jehovah wat mense na hom en sy Seun toe trek. Dit is Jehovah wat ons deur middel van sy Woord, sy heilige gees en sy aardse organisasie bekwaam maak om daardie nuwelinge te help. Laat ons ag gee op Jehovah se opleiding deur die goeie dinge toe te pas wat hy nou voorsien om ons ten volle toe te rus as onderrigters van God se Woord!

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe rus die Bybel ons toe vir die predikingswerk?

• Watter rol speel die heilige gees daarin om ons as bedienaars bekwaam te maak?

• Op watter maniere het Jehovah se aardse organisasie jou gehelp om bekwaam te word as ’n verkondiger van die goeie nuus?

• Waarom kan ons vol vertroue wees wanneer ons aan die bediening deelneem?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

As ’n onderrigter van God se Woord het Jesus liefde vir mense getoon