Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die doop van Clovis—1 500 jaar van Katolisisme in Frankryk

Die doop van Clovis—1 500 jaar van Katolisisme in Frankryk

Die doop van Clovis—1 500 jaar van Katolisisme in Frankryk

“IN DIE naam van die Pous, boem”, was die boodskap by ’n tuisgemaakte bom wat gevind is in ’n Franse kerk wat pous Johannes-Paulus II in September 1996 sou besoek. Dit was ’n uiterste voorbeeld van die teenstand wat sy vyfde besoek aan die Franse vasteland gekenmerk het. Nietemin het sowat 200 000 mense daardie jaar na die Franse stad Reims gekom om saam met die Pous die 1 500ste herdenking te vier van die Frankiese koning Clovis se bekering tot Katolisisme. Wie was hierdie koning wie se doop al die doop van Frankryk genoem is? En waarom het die herdenking daarvan tot soveel omstredenheid gelei?

Die kwynende ryk

Clovis is omstreeks 466 G.J. gebore en was die seun van Childeric I, die koning van die Saliese Franke. Nadat hierdie Germaanse stam in 358 G.J. deur die Romeine onderwerp is, is hulle toegelaat om hulle te vestig in wat nou België is, op voorwaarde dat hulle die grens verdedig en soldate aan die Romeinse leër voorsien. Die noue kontak met die plaaslike Gallo-Romeinse bevolking wat hierop gevolg het, het tot ’n geleidelike romanisering van hierdie Franke gelei. Childeric I was ’n bondgenoot van die Romeine en het invalle deur ander Germaanse stamme, soos die Wes-Gote en die Saksers, probeer afweer. Die Gallo-Romeinse bevolking was hom hiervoor baie dankbaar.

Die Romeinse provinsie Gallië het van die Rynrivier, in die noorde, tot by die Pireneë, in die suide, gestrek. Maar ná die dood van die Romeinse generaal Aetius in 454 G.J. was die land sonder ’n heerser. Wat meer is, die ondergang van Romulus Augustulus, die laaste keiser in Rome, in 476 G.J. en die einde van die Westelike Romeinse Ryk was die oorsaak van groot politieke onbestendigheid in die streek. Gevolglik was Gallië soos ’n ryp vrug wat gepluk kon word deur een van die stamme wat hulle binne sy grense gevestig het. Dit is glad nie verbasend dat Clovis, nadat hy sy vader opgevolg het, die grense van sy koninkryk wou begin uitbrei nie. In 486 G.J. het hy die laaste verteenwoordiger van Rome in Gallië in ’n geveg naby die stad Soissons verslaan. Hierdie oorwinning het die hele gebied tussen die Somme-rivier, in die noorde, en die Loire-rivier, in die sentrale en westelike deel van Gallië, onder sy beheer gebring.

Die man wat koning sou wees

Anders as ander Germaanse stamme het die Franke heidene gebly. Maar Clovis se huwelik met ’n Boergondiese prinses, Clotilda, het ’n diepgaande invloed op sy lewe gehad. Clotilda was ’n ywerige Katoliek en het haar onvermoeid vir haar man se bekering beywer. Volgens die geskiedenis wat in die sesde eeu G.J. deur Gregorius van Tours opgeteken is, het Clovis in 496 G.J., tydens die veldslag van Tolbiac (Zülpich, Duitsland) teen die stam van die Alemanni, belowe om die heidendom die rug toe te keer as Clotilda se God hom die oorwinning sou gee. Hoewel Clovis se troepe op die randjie van ’n nederlaag was, is die Alemanni-koning doodgemaak en het sy leër oorgegee. Clovis het geglo dat Clotilda se God hom die oorwinning gegee het. Volgens tradisie is Clovis op 25 Desember 496 G.J. deur “sint” Remigius in die katedraal van Reims gedoop. Maar party meen dat ’n latere datum, 498/9 G.J., waarskynliker is.

Clovis se pogings om die Boergondiese koninkryk in die suidooste te verower, het misluk. Maar sy krygstog teen die Wes-Gote is met sukses bekroon toe hy hulle in 507 G.J. verslaan het by Vouillé, naby Poitiers, ’n oorwinning wat hom beheer oor die grootste deel van die suidweste van Gallië gegee het. Ter erkenning van hierdie oorwinning het die keiser van die Oostelike Romeinse Ryk, Anastasius, aan Clovis ’n erekonsulskap toegeken. So het hy ’n hoër status as al die ander westelike konings verkry, en sy heerskappy was toe wettig in die oë van die Gallo-Romeinse bevolking.

Nadat Clovis die gebied van die Rynse Franke in die ooste onder sy gesag gebring het, het hy Parys sy hoofstad gemaak. Die laaste paar jaar van sy lewe het hy sy koninkryk versterk deur dit ’n geskrewe wetlike kode te gee, die Lex Salica, en ’n konsilie in Orléans te belê om die verhouding tussen Kerk en Staat te definieer. By sy dood, waarskynlik op 27 November 511 G.J., was hy die enigste heerser oor driekwart van Gallië.

The New Encyclopædia Britannica noem Clovis se bekering tot die Katolieke geloof “’n beslissende oomblik in die geskiedenis van westelike Europa”. Waarom was hierdie heidense koning se bekering so belangrik? Wat dit so betekenisvol maak, is die feit dat Clovis Katolisisme gekies het en nie Arianisme nie.

Die Ariaanse geskil

Omstreeks 320 G.J. het Arius, ’n priester in Aleksandrië, Egipte, radikale idees oor die Drie-eenheid begin versprei. Arius het ontken dat die Seun in wese dieselfde as die Vader is. Die Seun kon nie God of gelyk aan die Vader wees nie, aangesien hy ’n begin gehad het (Kolossense 1:15). Wat die heilige gees betref, het Arius geglo dat dit ’n persoon was, maar dat dit ondergeskik aan die Vader sowel as die Seun was. Hierdie leer, wat groot gewildheid verwerf het, het hewige teenstand binne die kerk laat ontstaan. In 325 G.J., by die Konsilie van Nicea, is Arius verban en sy leringe veroordeel. a

Maar dit het nie die geskil beëindig nie. Die leerstellige krisis het sowat 60 jaar voortgeduur, met opeenvolgende keisers wat hulle by of die een of die ander party geskaar het. In 392 G.J. het keiser Teodosius I uiteindelik ortodokse Katolisisme met sy Drie-eenheidsleer die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk gemaak. Die Gote is intussen deur Ulfilas, ’n Germaanse biskop, tot Arianisme bekeer. Ander Germaanse stamme het weldra hierdie vorm van “die Christelike godsdiens” aangeneem. b

Teen die tyd van Clovis het die Katolieke Kerk in Gallië ’n krisis beleef. Die Ariaanse Wes-Gote het Katolisisme probeer onderdruk deur te weier dat biskoppe wat gesterf het, vervang word. Daarbenewens het die kerk te kampe gehad met twee pouslike skeurings, waartydens priesters van die strydende partye mekaar in Rome doodgemaak het. Hierdie verwarring is vererger deur sommige Katolieke skrywers wat vorendag gekom het met die idee dat die einde van die wêreld in die jaar 500 G.J. sou kom. Die Frankiese veroweraar se bekering tot Katolisisme is dus as ’n gunstige gebeurtenis gesien, wat “die nuwe millennium van die heiliges” ingelui het.

Maar wat was Clovis se beweegredes? Hoewel godsdienstige beweegredes nie uitgesluit kan word nie, het hy beslis politieke oogmerke gehad. Deur Katolisisme te kies, het Clovis die guns van die Gallo-Romeinse bevolking verkry wat oorwegend Katoliek was, asook die ondersteuning van die invloedryke hiërargie van die kerk. Dit het hom ’n besliste voordeel bo sy politieke mededingers gegee. The New Encyclopædia Britannica sê dat “sy verowering van Gallië ’n oorlog geword het waarin hulle van die juk van die gehate Ariaanse ketters bevry is”.

Wie was die ware Clovis?

In die tyd voor die 1996-herdenking, het die aartsbiskop van Reims, Gérard Defois, Clovis as “die simbool van ’n weldeurdagte en verantwoordelike bekering” beskryf. Maar die Franse geskiedkundige Ernest Lavisse het gesê: “Die bekering van Clovis het geensins sy karakter verander nie; die welwillende en vreedsame etiek van die Evangelie het nie sy hart geraak nie.” ’n Ander geskiedkundige het gesê: “In stede van hom op Odin [’n Noorse god] te beroep, het hy hom op Christus beroep en dieselfde gebly.” Soortgelyk aan Konstantyn se optrede ná sy sogenaamde bekering tot die Christelike godsdiens, het Clovis onderneem om sy heerskappy te versterk deur alle mededingers om die troon stelselmatig uit te roei. Hy het “al sy familielede, selfs dié wat verlangs verwant was”, uitgewis.

Ná Clovis se dood het mites begin ontstaan wat hom van ’n wrede krygsman in ’n geëerde heilige sou verander. Gregorius van Tours se verslag, wat byna ’n eeu later geskryf is, word as ’n doelbewuste poging beskou om Clovis te vereenselwig met Konstantyn, die eerste Romeinse keiser wat “die Christelike godsdiens” aangeneem het. En deur te beweer dat Clovis by sy doop 30 jaar oud was, lyk dit of Gregorius ’n ooreenkoms met Christus tot stand probeer bring het.—Lukas 3:23.

Hierdie proses is in die negende eeu deur Hincmar, die biskop van Reims, voortgesit. Gedurende ’n tyd toe katedrale meegeding het om pelgrims te lok, het hy waarskynlik die biografie oor sy voorganger, “sint” Remigius, geskryf om sy kerk beroemder te maak en te verryk. In sy verhaal het ’n wit duif ’n flessie olie gebring om Clovis by sy doop te salf—’n duidelike verwysing na Jesus se salwing met heilige gees (Matteus 3:16). So het Hincmar Clovis, Reims en die monargie met mekaar verbind en geloof geheg aan die idee dat Clovis die Here se gesalfde was. c

’n Omstrede herdenking

Die voormalige Franse president Charles de Gaulle het eenkeer gesê: “Wat my betref, begin die geskiedenis van Frankryk met Clovis, wat as koning van Frankryk gekies is deur die stam van die Franke, by wie Frankryk sy naam gekry het.” Maar dit is nie almal se beskouing nie. Die viering van die 1 500ste herdenking van Clovis se doop was ’n omstrede saak. In ’n nasie waar Kerk en Staat sedert 1905 amptelik geskei is, het baie die Staat se deelname aan wat hulle as ’n godsdienstige viering beskou, gekritiseer. Toe die stadsraad van Reims hulle planne bekend gemaak het om vir die podium te betaal wat gedurende die Pous se besoek gebruik sou word, het een vereniging die besluit in die hof betwis, waar dit as ongrondwetlik verklaar is. Ander het gemeen dat die kerk sy sedelike en wêreldlike gesag weer op Frankryk probeer afdwing. Die herdenking is nog verder gekompliseer toe Clovis uitgesonder is as ’n simbool van die verregse Nasionale Front en fundamentalistiese Katolieke groepe.

Ander het die herdenking uit ’n geskiedkundige oogpunt gekritiseer. Volgens hulle was dit nie Clovis se doop wat Frankryk tot Katolisisme bekeer het nie, aangesien hierdie godsdiens reeds onder die Gallo-Romeinse bevolking goed gevestig was. En hulle het beweer dat sy doop ook nie die geboorte van Frankryk as ’n nasie aandui nie. Volgens hulle word dit eerder aangedui deur die verdeling van Karel die Grote se koninkryk in 843 G.J., wat Karel die Kaalkop, en nie Clovis nie, die eerste koning van Frankryk sou maak.

1 500 jaar van Katolisisme

Hoe vaar Katolisisme vandag in Frankryk ná meer as 1 500 jaar as die “Kerk se oudste dogter”? Frankryk het tot in 1938 die grootste aantal gedoopte Katolieke ter wêreld gehad. Nou is dit sesde op die lys, naas lande soos die Filippyne en die Verenigde State. En al is daar 45 miljoen Katolieke in Frankryk, woon net 6 miljoen die mis gereeld by. ’n Onlangse opname onder Franse Katolieke het aan die lig gebring dat 65 persent “hulle nie aan die Kerk se leer oor seksuele sake steur nie”, en 5 persent meen dat Jesus “hoegenaamd niks” voorstel nie. Hierdie negatiewe neigings het die Pous in 1980 tydens sy besoek aan Frankryk laat vra: “Frankryk, wat het jy gedoen ten opsigte van jou doopbeloftes?”

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1984, bladsy 24.

b Sien Die Wagtoring van 15 Mei 1994, bladsye 8-9.

c Die naam Lodewyk is afgelei van Clovis (Chlodovech), na wie 19 Franse konings (waaronder Lodewyk XVII en Lodewyk-Filips) vernoem is.

[Kaart op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SAKSERS

Rynrivier

Somme-rivier

Soissons

Reims

Parys

GALLIË

Loire-rivier

Vouillé

Poitiers

PIRENEË

WES-GOTE

Rome

[Prent op bladsy 26]

Clovis se doop soos uitgebeeld in ’n 14de-eeuse manuskrip

[Erkenning]

© Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris

[Prent op bladsy 28]

Beeldhouwerk van die doop van Clovis (middelste figuur) aan die buitekant van die Reims-katedraal, Frankryk

[Prent op bladsy 29]

Johannes-Paulus II se besoek aan Frankryk om die doop van Clovis te herdenk, het tot groot omstredenheid gelei