Moet geloof op rede gegrond wees?
Moet geloof op rede gegrond wees?
“Daar is te veel ‘godsdienstige’ mense wat godsdienstig word juis sodat hulle nie hoef te dink nie”, skryf die dekaan van ’n teologiese kweekskool in die Verenigde State. “Hulle wil eenvoudig alles aanvaar ‘deur net te glo’”, voeg hy by.
HIERUIT kan afgelei word dat die meeste verklaarde gelowiges nouliks nadink oor waarom hulle glo wat hulle glo en of daar ’n redelike grondslag vir hulle geloof is. Dit is geen wonder nie dat godsdiens ’n onderwerp geword het waaroor baie mense nie graag praat nie.
Ongelukkig ontmoedig dinge soos die gebruik van godsdiensbeelde en die gedagtelose herhaling van gebede mense ook om te redeneer. Hierdie gebruike, tesame met indrukwekkende argitektuur, pragtig gebrandskilderde vensters en meesleurende musiek, is min of meer hoe ver die godsdienservaring van miljoene strek. Hoewel sommige kerke beweer dat hulle geloof op die Bybel gegrond is, plaas hulle boodskap van ‘glo in Jesus en jy sal gered word’ min klem op ernstige Bybelstudie. Ander verkies ’n sosiale of politieke evangelie. Waartoe lei al hierdie dinge?
’n Godsdiensskrywer het aangaande die situasie in Noord-Amerika gesê: “Die Christelike godsdiens . . . is geneig om oppervlakkig te wees, [en] die navolgers daarvan is nie goed onderrig in die geloof nie.” ’n Meningspeiler het selfs sover gegaan as om die Verenigde State te beskryf as “’n nasie van Bybelongeletterdes”. Daar moet redelikerwys erken word dat dit ook in ander sogenaamde Christelike lande die geval is. Talle nie-Christelike godsdienste spoor mense ook nie aan om te redeneer nie en lê eerder die klem op dreunsang, rituele gebede en verskeie vorme van bepeinsing waarby die mistiek eerder as logiese, konstruktiewe denke betrokke is.
Tog sal dieselfde mense wat min aandag skenk aan die juistheid of waaragtigheid van hulle godsdiensoortuiging, dikwels in hulle alledaagse lewe ander sake baie goed deurdink. Is dit nie vir jou vreemd nie dat iemand wat omvattende navorsing doen net om ’n motor te koop—wat eendag op die ashoop gaan beland—van sy godsdiens sal sê: ‘As dit goed genoeg was vir my ouers, is dit goed genoeg vir my’?
As ons God werklik wil behaag, moet ons dan nie die juistheid van dit wat ons oor hom glo, ernstig oorweeg nie? Die apostel Paulus het van sekere godsdienstige mense van sy dag gepraat wat “’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Sulke mense kan vergelyk word met ’n gehuurde verwer wat hard werk om ’n huis te verf, maar die verkeerde kleure gebruik omdat hy nie na die eienaar se instruksies luister nie. Die verwer is dalk in sy skik met sy werk, maar sal dit vir die eienaar aanvaarbaar wees?
Wat is vir God aanvaarbaar wat ware aanbidding betref? Die Bybel antwoord: “Dit is goed en aangenaam in die oë van ons Redder, God, wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Party meen dalk dat dit onmoontlik is om sulke kennis onder die talle godsdienste van vandag te vind. Maar dink hieroor na—as dit God se wil is dat mense tot ’n juiste kennis van die waarheid moet kom, sou hy dit dan op onregverdige wyse vir hulle verberg? Nie volgens die Bybel nie, wat sê: “As jy [God] soek, sal hy hom deur jou laat vind.”—1 Kronieke 28:9.
Hoe maak God hom bekend aan diegene wat hom opreg soek? Die volgende artikel sal die antwoord voorsien.