Ons het liefde vir Jehovah by ons kinders ingeskerp
Lewensverhaal
Ons het liefde vir Jehovah by ons kinders ingeskerp
SOOS VERTEL DEUR WERNER MATZEN
’n Hele paar jaar gelede het my oudste seun, Hans Werner, my ’n Bybel gegee. Hy het aan die binnekant van die omslag geskryf: “Liewe Pa, Mag Jehovah se Woord ons as ’n gesin voortdurend op die weg van die lewe rig. Met dank, Pa se oudste seun.” Hierdie woorde het my hart met dankbaarheid en vreugde vervul, soos enige ouer sal verstaan. Min het ek toe geweet voor watter uitdagings ons as ’n gesin nog te staan sou kom.
EK IS in 1924 gebore in Halstenbek, ongeveer 20 kilometer van die Duitse hawe Hamburg af, en my ma en oupa het my grootgemaak. Nadat ek ’n vakleerlingskap as ’n gereedskapmaker voltooi het, is ek in 1942 opgeroep vir die Wehrmacht, of die leër. My wedervaringe gedurende die Tweede Wêreldoorlog terwyl ek aan die Russiese front geveg het, is te verskriklik om te beskryf. Ek het buiktifus opgedoen, maar is ná behandeling na die front teruggestuur. In Januarie 1945 was ek in Lodz, Pole, waar ek ernstig gewond is en in ’n militêre hospitaal opgeneem is. Ek was nog daar toe die oorlog geëindig het. In die hospitaal en later in die gevangenekamp in Neuengamme het ek tyd gehad om te dink. Die vrae wat my gekwel het, was: Is daar werklik ’n God? Indien wel, waarom laat hy dan al die wreedheid toe?
In September 1947, kort nadat ek uit die gevangenekamp vrygelaat is, het ek met Karla getrou. Ons het in dieselfde dorp grootgeword, maar Karla was ’n Katoliek, terwyl godsdiens
nie ’n rol in my opvoeding gespeel het nie. Die priester wat ons getrou het, het voorgestel dat ons elke aand ten minste die Onse Vader saam opsê. Ons het gedoen wat hy gesê het sonder dat ons werklik geweet het waarvoor ons bid.’n Jaar later is Hans Werner gebore. Omstreeks dieselfde tyd het ek deur Wilhelm Ahrens, ’n kollega by die werk, van Jehovah se Getuies te wete gekom. Hy het my in die Bybel gewys dat oorloë eendag sal ophou (Psalm 46:9). In die herfs van 1950 het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek gedoop. Hoe verheug was ek tog toe my dierbare vrou ’n jaar later ook gedoop is!
Ons het ons kinders in die weë van Jehovah grootgemaak
Ek het in die Bybel gelees dat Jehovah die huwelik ingestel het (Genesis 1:26-28; 2:22-24). Omdat ek by was met die geboorte van ons kinders—Hans Werner, Karl-Heinz, Michael, Gabriele en Thomas—het dit my selfs meer vasbeslote gemaak om ’n goeie man en pa te wees. Ek en Karla was verheug oor die geboorte van elkeen van ons kinders.
Die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in 1953 in Neurenberg was ’n betekenisvolle gebeurtenis vir ons gesin. Vrydagmiddag, gedurende die toespraak “Hoe om kinders in die nuwewêreld-gemeenskap groot te maak”, het die spreker iets gesê wat ons nooit vergeet het nie: “Die grootste erfenis wat ons ons kinders kan gee, is die begeerte om knegte van God te wees.” Dit is wat ek en Karla met Jehovah se hulp wou doen. Maar hoe?
Eerstens het ons ’n gewoonte daarvan gemaak om elke dag as ’n gesin saam te bid. Dit het die kinders laat besef dat gebed belangrik is. Elke kind het al vroeg geleer dat ons altyd bid voor ons eet. Selfs toe hulle nog babas was, het hulle hulle koppies gebuig en hulle handjies gevou sodra hulle hulle bottel gesien het. Ons is eenkeer uitgenooi na die troue van een van my vrou se familielede, wat nie ’n Getuie was nie. Ná die seremonie het die bruid se ouers die gaste vir verversings na hulle huis genooi. Almal wou sommer dadelik begin eet. Maar ons vyfjarige Karl-Heinz het nie gedink dit is reg nie. “Gaan ons dan nie eers bid nie?” het hy gevra. Die gaste het na hom, toe na ons en uiteindelik na die gasheer gekyk. Om verleentheid te voorkom, het ek aangebied om ’n dankgebed vir die ete te doen, en die gasheer het ingestem.
Die voorval het my aan Jesus se woorde laat dink: “Uit die mond van klein kindertjies en suigelinge het u lof berei” (Matteus 21:16). Ons is seker dat ons gereelde en hartgrondige gebede die kinders gehelp het om Jehovah as hulle liefdevolle hemelse Vader te beskou.
Ons verantwoordelikheid teenoor Jehovah
Kinders word ook geleer om God lief te hê deur sy Woord gereeld te lees en te bestudeer. Daarom het ons elke week, meestal op ’n Maandagaand, ’n gesinstudie gehad. Aangesien daar ’n ouderdomsverskil van nege jaar tussen ons oudste en jongste kind is, was die kinders se behoeftes baie verskillend, en daarom kon ons nie altyd dieselfde inligting met hulle almal bespreek nie.
Ons het byvoorbeeld die onderrigting redelik eenvoudig gehou vir die kinders wat nog nie in die skool was nie. Karla het net een Bybelteks met hulle bespreek, of sy het die prente in Bybelpublikasies gebruik. Ek onthou nog goed hoe ek vroegoggend wakker gemaak is deur die jonger kinders wat in ons bed klim om ons hulle geliefkoosde prente in die boek The New World a te wys.
Karla het die kuns bemeester om die kinders geduldig te leer van die talle redes wat ons almal het om Jehovah lief te hê. Dit klink dalk eenvoudig en maklik, maar eintlik was dit vir my sowel as Karla fisies en emosioneel feitlik ’n voltydse werk. Maar ons het nie opgegee nie. Ons wou hulle teer hartjies bereik voordat ander mense wat Jehovah nie ken nie, hulle begin beïnvloed. Gevolglik het ons verwag dat ons kinders by die gesinstudie moes wees sodra hulle kon sit.
As ouers het ek en Karla besef hoe belangrik dit is om vir ons kinders die regte voorbeeld te stel wanneer dit by aanbidding kom. En hetsy ons geëet, in die tuin gewerk of gaan stap het, ons het elke kind se verhouding met Jehovah probeer versterk (Deuteronomium 6:6, 7). Ons het seker gemaak dat elke kind van jongs af sy of haar eie Bybel het. Wanneer ons tydskrifte gekry het, het ek ook die naam van elke gesinslid op sy of haar persoonlike eksemplaar geskryf. So het die kinders geleer om hulle eie lektuur te herken. Ons het die plan gekry om die kinders toewysings te gee om sekere Ontwaak!-artikels te lees. Ná ons middagete op ’n Sondag het hulle aan ons verduidelik hoe hulle die inligting verstaan.
Ons het die kinders die aandag gegee wat hulle nodig gehad het
Dinge het natuurlik nie altyd glad verloop nie. Terwyl die kinders groter geword het, het ons uitgevind dat ons eers moes weet wat reeds in hulle harte was voordat ons liefde by hulle kon inskerp. Dit het beteken dat ons na hulle moes luister. Soms het ons kinders gevoel dat hulle rede het om te kla, en dan het ek en Karla gaan sit en die saak met hulle uitgepraat. Ons het ’n spesiale halfuur aan die einde van die gesinstudie hiervoor afgestaan. Enigeen kon openhartig sê hoe hy of sy voel.
Thomas en Gabriele, ons twee jongstes, het byvoorbeeld gemeen dat ons as ouers hulle oudste broer voortrek. Tydens een bespreking het hulle reguit gepraat en gesê: “Pa, ons dink Pa en Ma gee Hans Werner altyd sy sin.” Eers kon ek my ore nie glo nie. Maar nadat ek en Karla onbevooroordeeld na die saak gekyk het, moes ons erken dat daar iets in die kinders se woorde steek. Ons het toe harder probeer om al die kinders eenders te behandel.
Soms het ek die kinders oorhaastig of onregverdig gestraf. By hierdie geleenthede moes ons as ouers leer om verskoning te vra. Daarna het ons Jehovah in gebed genader. Dit was belangrik dat die kinders besef dat hulle pa bereid is om Jehovah en hulle, ons kinders, om verskoning te vra. Gevolglik het ons ’n hegte en gemoedelike verhouding met hulle gehad. Hulle het baie keer vir ons gesê: “Pa en Ma is ons beste vriende.” Dit het ons baie gelukkig gemaak.
As ’n gesin saam werk, bevorder dit eenheid. Daarom het almal vasgestelde takies gehad.
Hans Werner moes een keer per week winkels toe gaan en kruideniersware koop, wat gewoonlik beteken het dat hy ’n inkopielys en geld gekry het. Een week het ons hom nie ’n lys of geld gegee nie. Hy het sy ma hieroor gevra, en sy het vir hom gesê dat ons nog geen geld het nie. Wel, die kinders het onder mekaar begin fluister, en toe het elkeen sy spaarbussie gaan haal en dit op die tafel leeggemaak. “Ma, ons kan nou winkel toe gaan!” het hulle almal uitgeroep. Ja, die kinders het geleer om in ’n noodgeval te help, en dit het die gesin nog nader aan mekaar gebring.Toe die seuns ouer word, het hulle in meisies begin belangstel. Thomas het byvoorbeeld baie in ’n 16-jarige mede-Getuie belanggestel. Ek het aan hom verduidelik dat hy, as hy ernstig is oor die meisie, bereid moet wees om met haar te trou en om die verantwoordelikheid van ’n vrou en kinders op hom te neem. Thomas het besef dat hy nie gereed is vir die huwelik nie, aangesien hy maar 18 jaar oud was.
Ons het as ’n gesin vooruitgang gemaak
Terwyl die kinders nog bloedjonk was, het hulle die een na die ander by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit. Ons het aandagtig na hulle toesprake geluister, en dit was vir ons aanmoedigend om die kinders se hartgrondige liefde vir God te sien. Kring- en streekopsieners wat af en toe by ons gebly het, het van hulle eie ondervindinge vertel of vir ons uit die Bybel gelees. Hierdie mans en hulle vrouens het gehelp om ’n liefde vir die voltydse diens in die harte van ons gesin te kweek.
Ons het na die streekbyeenkomste uitgesien. Dit was ’n vername manier waarop ons die begeerte om knegte van God te wees, by ons kinders ingeskerp het. Vir die kinders was dit ’n spesiale oomblik wanneer hulle hulle lapelkaarte aangesteek het voordat ons na die byeenkomsterrein gereis het. Dit het ons diep geraak toe Hans Werner op tienjarige ouderdom gedoop is. Baie het gedink dat hy te jonk is om hom aan Jehovah toe te wy, maar toe hy 50 jaar oud was, het hy vir my gesê hoe dankbaar hy is dat hy Jehovah al 40 jaar lank dien.
Ons het vir ons kinders gewys dat ’n persoonlike verhouding met Jehovah belangrik is, maar ons het nie druk op hulle uitgeoefen om hulle toe te wy nie. Ons was nietemin bly toe die ander ook uiteindelik tot doop gevorder het.
Ons het geleer om ons laste op Jehovah te werp
Ons was verheug toe Hans Werner in 1971 as ’n lid van die 51ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer en as ’n sendeling na Spanje gestuur is. Die ander kinders het ook een vir een ’n tyd lank
as voltydse bedienaars gedien, wat ons as ouers baie gelukkig gemaak het. Om en by dié tyd het Hans Werner my die Bybel gegee waarvan ek aan die begin van die artikel vertel het. Dit het gelyk of ons geluk as ’n gesin volkome is.Toe het ons besef hoe belangrik dit is dat ons na aan Jehovah moet bly. Waarom? Want ons het gesien dat van ons volwasse kinders probleme ondervind wat hulle geloof kwaai op die proef stel. Ons liewe dogter Gabriele het byvoorbeeld groot beproewinge deurgemaak. In 1976 het sy met Lothar getrou. Hy het kort ná hulle troue siek geword. Terwyl hy al hoe swakker geword het, het Gabriele hom tot sy dood versorg. Toe ons sien hoe ’n gesonde familielid siek word en sterf, het dit by ons tuisgebring hoe nodig ons die liefdevolle hand van Jehovah het.—Jesaja 33:2.
Voorregte in Jehovah se organisasie
Toe ek in 1955 aangestel is as gemeentekneg (wat vandag presiderende opsiener genoem word), het ek nie bekwaam gevoel vir die verantwoordelikheid nie. Daar was baie om te doen, en al hoe ek die werk gedoen kon kry, was deur party oggende vieruur op te staan. My vrou en kinders was ’n groot hulp en het seker gemaak dat ek nie saans gesteur word wanneer daar nog sake was waarna ek moes omsien nie.
Nogtans het ons as ’n gesin soveel vrye tyd moontlik saam deurgebring. Partykeer het my werkgewer sy motor vir my geleen sodat ek die gesin vir die dag op ’n uitstappie kon neem. Die kinders het die tye geniet wanneer ons Die Wagtoring in die woud bestudeer het. Ons het ook saam op staptoere gegaan en partykeer met begeleiding van my mondfluitjie liedere gesing terwyl ons deur die bos stap.
In 1978 is ek as waarnemende kringopsiener (reisende bedienaar) aangestel. Ek het oorweldig gevoel en gebid: “Jehovah, ek voel nie ek is in staat om dit te doen nie. Maar as u wil hê ek moet probeer, sal ek my bes doen.” Twee jaar later, toe ek 54 jaar oud was, het ek my klein onderneming aan ons jongste seun, Thomas, oorgedra.
Ons kinders was almal al groot, wat my en Karla die geleentheid gegee het om meer vir Jehovah te doen. Dieselfde jaar is ek as kringopsiener aangestel, en my toewysing was ’n deel van Hamburg en die hele Sleeswyk-Holstein. Omdat ons ervaring gehad het met die grootmaak van ’n gesin, kon ons besondere begrip vir ouers en hulle kinders toon. Baie van die broers het ons hulle kringouers genoem.
Nadat Karla my tien jaar lank in die kringwerk vergesel het, moes sy ’n operasie ondergaan. En in dieselfde jaar het dokters uitgevind dat ek ’n breingewas het. Ek het dus my diens as kringopsiener opgegee en ’n breinoperasie ondergaan. Eers drie jaar later kon ek weer as waarnemende kringopsiener dien. Ek en Karla is nou in die sewentig, en ons is nie meer in die reisende werk nie. Jehovah het ons gehelp om te sien dat dit geen sin het om aan ’n voorreg vas te klou wat ek nie langer kan behartig nie.
Wanneer ek en Karla terugkyk, is ons dankbaar teenoor Jehovah omdat hy ons gehelp het om ’n liefde vir die waarheid by ons kinders in te skerp (Spreuke 22:6). Deur die jare heen het Jehovah ons gelei en geleer en ons gehelp om ons verantwoordelikhede na te kom. Al is ons nou oud en swak, is ons liefde vir Jehovah net so jonk en lewendig soos altyd.—Romeine 12:10, 11.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou nie meer beskikbaar nie.
[Prent op bladsy 26]
Ons gesin stap langs die Elberivier, Hamburg, 1965
[Prent op bladsy 28]
Party gesinslede by die internasionale byeenkoms in Berlyn in 1998
[Prent op bladsy 29]
Saam met my vrou, Karla