Die mensdom se probleme—Sal dit ooit tot ’n einde kom?
Die mensdom se probleme—Sal dit ooit tot ’n einde kom?
“’N KWART van die wêreldbevolking lewe in armoede, 1,3 miljard het minder as $1 per dag om van te lewe, 1 miljard is ongeletterd, 1,3 miljard het nie veilige drinkwater nie en 1 miljard ly elke dag honger.” Dit is wat ’n verslag uit Ierland sê oor die toestand waarin die wêreld is.
Wat ’n droewige bewys is dit tog van die mens se onvermoë om blywende oplossings vir die wêreld se probleme te vind! Hierdie probleme lyk selfs tragieser wanneer ’n mens besef dat die oorgrote meerderheid van die mense wat in daardie verslag beskryf word, weerlose vroue en kinders is. Is dit nie verskriklik nie dat hulle regte selfs nou, in die 21ste eeu, nog steeds “elke dag op so ’n groot skaal geskend word dat dit onmoontlik is om te bereken”?—The State of the World’s Children 2000.
“’n Nuwe wêreld binne een geslag”
Die Verenigde Nasies-kinderfonds het die vertroue uitgespreek dat “die sluier wat hierdie skendings . . . oor lewens regoor die aarde gewerp het, gelig kan word”. Hierdie organisasie sê dat die vreeslike toestande wat hierdie ongelukkige miljarde tans moet verduur, “nie onafwendbaar of onveranderlik” is nie. Trouens, hulle het ’n oproep gedoen op “alle mense om ’n nuwe wêreld binne een geslag tot stand te laat kom”. Hulle hoop dat dit ’n wêreld sal wees waarin die hele mensdom “vry van armoede en diskriminasie, vry van geweld en siekte” sal wees.
Diegene wat sulke wense uitspreek, word geïnspireer deur die feit dat daar selfs nou besorgde mense is wat ’n ontsaglike taak verrig om die droewige gevolge van “’n skynbaar oneindige rits konflikte en krisisse” te verlig. Oor die afgelope 15 jaar het die Tjernobil-kinderprojek byvoorbeeld “die lyding help verlig van honderde kinders wat geraak is deur die kankers wat die kernneerslag tot gevolg gehad het” (The Irish Examiner, 4 April 2000). Groot sowel as klein bystandsorganisasies maak beslis ’n groot verskil in die lewe van die tallose slagoffers van oorloë en rampe.
Diegene wat by sulke humanitêre pogings betrokke is, is nogtans realisties. Hulle weet dat die probleme waarmee hulle te kampe het, “algemener voorkom en dieper gewortel is as selfs ’n dekade gelede”. David Begg, die hoof- uitvoerende beampte van die Ierse liefdadigheidsorganisasie, Concern, sê dat “personeel, ondersteuners en skenkers uitstekend gereageer het” toe Mosambiek deur katastrofiese oorstromings getref is. “Maar”, voeg hy by, “weens die omvang van hierdie rampe kan ons dit nie alleen hanteer nie.” Hy het ronduit oor die noodlenigingspogings in Afrika erken: “Die paar kerse van hoop wat daar wel is, flikker maar flouerig.” Baie sal voel dat sy kommentaar ook ’n juiste beskrywing van die wêreldsituasie is.
Is dit realisties om te dink dat ons die verwagte “nuwe wêreld binne een geslag” sal sien? Hoewel huidige humanitêre pogings waarlik prysenswaardig is, maak dit beslis sin om ’n ander vooruitsig op ’n regverdige en vreedsame nuwe wêreld te ondersoek. Die Bybel toon dat daar so ’n vooruitsig is, soos in die volgende artikel bespreek sal word.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Bladsy 3, kinders: UN/DPI Photo by James Bu