Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat ons aan almal goed doen’

Laat ons aan almal goed doen’

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

Laat ons aan almal goed doen’

JESUS se vernaamste werk was om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dit aan ander te leer (Markus 1:14; Lukas 8:1). Aangesien Christus se volgelinge hom graag wil navolg, beskou hulle die werk om ander die Bybel se boodskap oor God se Koninkryk te leer, as die belangrikste werk in hulle lewe (Lukas 6:40). Dit is inderdaad vir Jehovah se Getuies hartverblydend om te sien hoe die Koninkryksboodskap blywende verkwikking bring vir diegene wat dit aanneem—net soos dit die geval was toe Jesus op die aarde was.—Matteus 11:28-30.

Buiten dat Jesus ander van God se Woord geleer het, het hy ander goeie werke verrig, soos om die siekes te genees en dié wat honger was, te voed (Matteus 14:14-21). Net so vul Jehovah se Getuies hulle Bybelonderrigtingswerk aan met dade wat behoeftige mense help. Die Skrif rus Christene immers toe “vir elke goeie werk” en spoor hulle aan om “aan almal goed [te] doen”.—2 Timoteus 3:16, 17; Galasiërs 6:10.

‘Ons broers was daar’

In September 1999 is Taiwan deur ’n verwoestende aardbewing geskud. ’n Paar maande later het stortreëns en grondstortings een van die ergste natuurrampe in Venezuela se geskiedenis veroorsaak. In onlangser tye het hewige oorstromings Mosambiek geteister. In al drie gevalle het Jehovah se Getuies gou op die toneel aangekom met voorrade kos, water, medisyne, klere, tente en kooktoestelle vir die slagoffers. Vrywilligers met mediese vaardighede het tydelike hospitale opgerig om die beseerdes te behandel, en vrywillige konstruksiewerkers het nuwe huise gebou vir dié wat dakloos gelaat is.

Die slagoffers is ontroer deur die tydige hulp wat hulle gekry het. “Toe ons heeltemal radeloos was, was ons broers daar”, sê Malyori, wie se huis deur ’n grondstorting in Venezuela platgevee is. Nadat vrywilligers ’n splinternuwe huis vir haar gesin gebou het, het Malyori uitgeroep: “Ons kan Jehovah nooit genoeg bedank vir alles wat hy vir ons gedoen het nie!” En toe slagoffers van die oorstromings in Mosambiek die sleutels vir hulle pasgeboude huise ontvang het, het die hele groep die Koninkrykslied “Jehovah is ons toevlug” begin sing. a

Dit was ook vir die vrywilligers verkwikkend om behoeftiges te help. “Dit het goed gevoel om hierdie broers wat soveel gely het, te help”, het Marcelo gesê, wat as ’n verpleër in ’n vlugtelingkamp in Mosambiek gedien het. Hoeang, ’n vrywilliger in Taiwan, het gesê: “Dit het my groot vreugde verskaf om kos en tente aan ons behoeftige broers te help aflewer. Dit was geloofversterkend.”

’n Vrywilligerprogram wat werk

Vrywillige werk het ook geestelike verkwikking gebring vir tienduisende gevangenes regoor die wêreld. Hoe? In onlangse jare het Jehovah se Getuies Bybellektuur voorsien aan oor die 30 000 mense wat in sowat 4 000 gevangenisse in die Verenigde State alleen aangehou word. Daarbenewens besoek Getuies, waar moontlik, die gevangenisse persoonlik om die Bybel met gevangenes te studeer en om Christelike vergaderinge te hou. Vind die gevangenes hierby baat?

Party gevangenes wat die Bybel bestudeer, begin medegevangenes van die verkwikkende leringe van God se Woord vertel. Gevolglik is daar nou in ’n hele paar gevangenisse regoor die wêreld groepies gevangenes wat Jehovah saam aanbid. “Ons groep floreer”, het ’n gevangene in Oregon, VSA, in 2001 geskryf. “Ons het 7 Koninkryksverkondigers en hou 38 Bybelstudies. Meer as 25 mense woon die openbare toespraak en Wagtoring-studie by, en daar was 39 wat die Gedenkmaalviering [van Christus se dood] bygewoon het. Nog drie mense gaan binnekort gedoop word!”

Voordele en vreugdes

Gevangenisamptenare het opgemerk dat hierdie vrywilligerprogram werk. Wat amptenare die meeste beïndruk, is die blywende voordele van hierdie vrywilligerprogram. Een verslag sê: “In die tien jaar wat hierdie program al in werking is, het nie een gevangene wat in die gevangenis as een van Jehovah se Getuies gedoop is en vrygelaat is, na die gevangenis teruggekeer nie—in teenstelling met ander groepe wat ’n terugkeersyfer van 50-60 persent het.” ’n Gevangeniskapelaan in Idaho, wat getref is deur die resultate wat Getuie-vrywilligers behaal het, het in ’n brief aan die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies gesê: “Hoewel ek self nie met julle teologie saamstem nie, is ek baie beïndruk met julle organisasie.”

Dit is ook vir die vrywilligers bevredigend om diegene in gevangenisse te help. Nadat ’n vrywilliger ’n vergadering gehou het met ’n groep gevangenes wat ’n Koninkrykslied vir die eerste keer gesing het, het hy geskryf: “Dit was aanmoedigend om te sien hoe 28 mans saam lofliedere tot Jehovah sing. En hulle het hard gesing! Wat ’n voorreg was dit tog om by so ’n geleentheid teenwoordig te wees!” ’n Vrywilliger wat gevangenisse in Arizona besoek, het gesê: “Wat ’n seën is dit tog om aan hierdie spesiale werk deel te neem!”

Getuie-vrywilligers van regoor die wêreld stem geredelik met Jesus saam, wat gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Hulle bevestig ook dat dit beslis verkwikkend is om die Bybel se vermaning na te kom om aan almal goed te doen.—Spreuke 11:25.

[Voetnoot]

a Sien lied nommer 85 in die boek Sing lofliedere voor Jehovah, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

[Prent op bladsy 8]

Venezuela

[Prent op bladsy 8]

Taiwan

[Prent op bladsy 8]

Mosambiek