Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onderwerp jou lojaal aan God se gesag

Onderwerp jou lojaal aan God se gesag

Onderwerp jou lojaal aan God se gesag

“Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning.”—JESAJA 33:22.

1. In watter opsigte was eertydse Israel uniek onder die nasies?

 IN 1513 v.G.J. het die nasie Israel in aansyn gekom. Op daardie stadium het hulle geen hoofstad, geen vaderland en geen sigbare koning gehad nie. Die volk was gewese slawe. Maar daardie nuwe nasie was ook in ’n ander opsig uniek. Jehovah God was hulle onsigbare Regter, Wetgewer en Koning (Eksodus 19:5, 6; Jesaja 33:22). Geen ander nasie kon hierop aanspraak maak nie!

2. Watter vraag ontstaan oor die manier waarop Israel georganiseer was, en waarom is die antwoord vir ons van belang?

2 Aangesien Jehovah ’n God van orde sowel as ’n God van vrede is, sou ons verwag dat enige nasie wat hy regeer, goed georganiseerd sou wees (1 Korintiërs 14:33). Dit was beslis met Israel die geval. Maar hoe kon ’n aardse, sigbare organisasie deur ’n onsigbare God gerig word? Dit sal goed wees as ons kyk na die manier waarop Jehovah daardie eertydse nasie gelei het en as ons veral let op hoe sy handelinge met Israel beklemtoon dat dit vir ons belangrik is om ons lojaal aan God se gesag te onderwerp.

Hoe eertydse Israel gelei is

3. Watter praktiese reëlings het Jehovah getref om sy volk te lei?

3 Hoewel Jehovah Israel se onsigbare Koning was, het hy getroue manne as sy sigbare verteenwoordigers aangestel. Daar was owerstes, hoofde van vaderhuise en ouer manne wat as raadgewers en regters van die volk gedien het (Eksodus 18:25, 26; Deuteronomium 1:15). Maar ons moenie dink dat daardie verantwoordelike manne sonder God se leiding met onberispelike onderskeidingsvermoë en insig sou kon regspreek nie. Hulle was nie volmaak nie, en hulle kon nie die harte van hulle medeaanbidders lees nie. Godvresende regters kon nietemin hulle medegelowiges nuttige raad gee omdat dit op Jehovah se Wet gegrond was.—Deuteronomium 19:15; Psalm 119:97-100.

4. Watter neigings wou Israel se getroue regters nougeset vermy, en waarom?

4 Daar is egter meer van ’n regter vereis as om die Wet te ken. As onvolmaakte mense moes die ouer manne daarop let dat hulle enige verkeerde neiging—soos selfsug, partydigheid en gierigheid—bedwing, want dit kon hulle oordeel benewel. Moses het vir hulle gesê: “Julle mag in die regspraak nie partydig wees nie. Julle moet klein en groot op dieselfde wyse aanhoor. Julle mag nie bang word vir ’n mens nie, want die regspraak is God s’n.” Ja, Israel se regters het vir God reggespreek. Wat ’n ontsagwekkende voorreg was dit tog!—Deuteronomium 1:16, 17.

5. Watter ander voorsienings het Jehovah vir sy volk gemaak, behalwe om regters aan te stel?

5 Jehovah het ander voorsienings gemaak om in die geestelike behoeftes van sy volk te voorsien. Nog voordat hulle in die Beloofde Land aangekom het, het hy hulle beveel om die tabernakel, die sentrum van ware aanbidding, op te rig. Hy het ook ’n priesterdom voorsien om onderrigting in die Wet te gee, om diereoffers te bring en om die reukwerk in die oggend en die aand te brand. God het Moses se ouer broer, Aäron, as Israel se eerste hoëpriester ingehuldig en Aäron se seuns aangestel om hulle vader met sy pligte te help.—Eksodus 28:1; Numeri 3:10; 2 Kronieke 13:10, 11.

6, 7. (a) Wat was die verhouding tussen die priesters en die niepriesterlike Leviete? (b) Wat kan ons leer uit die feit dat die Leviete ’n verskeidenheid take verrig het? (Kolossense 3:23).

6 Dit was ’n ontsaglike taak om in die geestelike behoeftes van ’n paar miljoen mense te voorsien, en die priesters was redelik min. Daar is dus gereël dat ander lede van die stam van Levi hulle sou help. Jehovah het vir Moses gesê: “Jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee. Hulle is gegewenes, wat aan hom gegee is uit die kinders van Israel.”—Numeri 3:9, 39.

7 Die Leviete was goed georganiseerd. Hulle was ingedeel volgens die drie families—die Gersoniete, die Kehatiete en die Merariete—elk met ’n werkstoewysing om uit te voer (Numeri 3:14-17, 23-37). Party toewysings het dalk belangriker as ander gelyk, maar almal was noodsaaklik. Die Kehatitiese Leviete het weens hulle werk na aan die heilige verbondsark en die toebehore van die tabernakel gekom. Maar elke Leviet het wonderlike voorregte geniet, of hy nou ’n Kehatiet was of nie (Numeri 1:51, 53). Ongelukkig het party nie hulle voorregte waardeer nie. In plaas van hulle lojaal aan God se gesag te onderwerp, het hulle onvergenoeg geword en voor trots, ambisie en jaloesie geswig. ’n Leviet met die naam Korag was een van hulle.

“Moet julle . . . ook nog die priesterskap probeer verkry?”

8. (a) Wie was Korag? (b) Wat het moontlik daartoe gelei dat Korag die priesters bloot uit ’n menslike oogpunt begin beskou het?

8 Korag was nie die hoof van die vaderhuis van Levi nie, en hy was ook nie die hoof van die families van die Kehatiete nie (Numeri 3:30, 32). Maar hy was ’n geëerde owerste in Israel. Weens Korag se pligte het hy moontlik noue omgang met Aäron en sy seuns gehad (Numeri 4:18, 19). Aangesien Korag die onvolmaakthede van hierdie manne met sy eie oë gesien het, het hy dalk geredeneer: ‘Hierdie priesters is beslis onvolmaak, en tog word daar van my verwag om aan hulle onderdanig te wees! Nou die dag nog het Aäron ’n goue kalf gemaak. Omdat ons volk daardie kalf aanbid het, het hulle by afgodediens betrokke geraak. Nou dien Aäron, Moses se broer, as hoëpriester! Watter voortrekkery! En wat van Aäron se seuns, Nadab en Abihu? Hulle het so ’n algehele minagting vir hulle diensvoorregte getoon dat Jehovah hulle moes doodmaak!’ a (Eksodus 32:1-5; Levitikus 10:1, 2). Hoe Korag ook al geredeneer het, dit is duidelik dat hy die priesterdom uit ’n menslike oogpunt begin beskou het. Dít het tot sy opstand teen Moses en Aäron en, uiteindelik, teen Jehovah gelei.—1 Samuel 15:23; Jakobus 1:14, 15.

9, 10. Watter beskuldiging het Korag en sy medeopstandiges teen Moses ingebring, en waarom moes hulle van beter geweet het?

9 Aangesien Korag ’n invloedryke man was, was dit nie vir hom moeilik om ander met dieselfde gesindheid aan sy kant te kry nie. Hy, tesame met Datan en Abiram, het 250 ondersteuners gevind—almal owerstes van die vergadering. Saam het hulle Moses en Aäron genader en gesê: “Die hele vergadering, hulle almal, is heilig, en Jehovah is in hulle midde. Waarom moet julle julle dan bo die gemeente van Jehovah verhef?”—Numeri 16:1-3.

10 Die opstandiges moes van beter geweet het as om Moses se gesag te betwis. Kort tevore het Aäron en Mirjam dit ook gedoen. Trouens, hulle het selfs soortgelyke redenasie as dié van Korag gebruik! Volgens Numeri 12:1, 2 het hulle gevra: “Praat Jehovah net deur Moses alleen? Het hy nie ook deur ons gepraat nie?” Jehovah het geluister. Hy het Moses, Aäron en Mirjam beveel om na die ingang van die tent van samekoms te gaan sodat Hy kon toon wie hy as leier gekies het. Toe het Jehovah gesê: “As iemand onder julle ’n profeet van Jehovah word, sal ek my in ’n visioen aan hom bekend maak. In ’n droom sal ek met hom praat. So is dit nie met my kneg Moses nie! Aan hom is my hele huis toevertrou.” Daarna het Jehovah Mirjam tydelik met melaatsheid getref.—Numeri 12:4-7, 10.

11. Hoe het Moses die situasie hanteer waarby Korag betrokke was?

11 Korag en diegene wat sy kant gekies het, het ongetwyfeld van daardie voorval geweet. Hulle opstand was onverskoonbaar. Nogtans het Moses geduldig met hulle probeer redeneer. Hy het hulle aangespoor om hulle voorregte meer te waardeer en het gesê: “Is dit vir julle so ’n kleinigheid dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgesonder het om julle te laat nader kom na hom toe?” Nee, dit was nie “’n kleinigheid” nie! Die Leviete het reeds soveel gehad. Wat meer kon hulle begeer? Moses se verdere woorde het die redenasie van hulle hart blootgelê: “Moet julle . . . ook nog die priesterskap probeer verkry?” b (Numeri 12:3; 16:9, 10). Maar hoe het Jehovah op hierdie opstand teen Goddelike gesag gereageer?

Israel se Regter gryp in

12. Waarvan het Israel se voortgesette goeie verhouding met God afgehang?

12 Toe Jehovah die Wet aan Israel gegee het, het hy vir die volk gesê dat hulle “’n heilige nasie” sou word as hulle gehoorsaam sou wees en dat die nasie heilig kon bly solank hulle Jehovah se reëling aanvaar het (Eksodus 19:5, 6). Nou, met ’n openlike opstand aan die gang, was dit tyd vir Israel se Regter en Wetgewer om in te gryp! Moses het vir Korag gesê: “Jy en jou hele vergadering, wees môre voor Jehovah teenwoordig, jy en hulle en Aäron. En neem elkeen sy vuurbak, en julle moet reukwerk daarop plaas en elkeen sy vuurbak voor Jehovah aanbied, tweehonderd-en-vyftig vuurbakke, en jy en Aäron elkeen sy vuurbak.”—Numeri 16:16, 17.

13. (a) Waarom was dit vermetel van die opstandiges om reukwerk voor Jehovah te offer? (b) Hoe het Jehovah teen die opstandiges opgetree?

13 Volgens God se Wet kon net die priesters reukwerk offer. Die blote gedagte dat ’n niepriesterlike Leviet reukwerk voor Jehovah offer, moes daardie opstandiges tot besinning laat kom het (Eksodus 30:7; Numeri 4:16). Maar nie Korag en sy ondersteuners nie! Die volgende dag het hy “die hele vergadering teen [Moses en Aäron] bymekaargebring . . . by die ingang van die tent van samekoms”. Die verslag sê vir ons: “Jehovah het toe met Moses en Aäron gepraat en gesê: ‘Skei julle af van hierdie vergadering, sodat ek hulle in ’n oomblik kan uitroei.’” Maar Moses en Aäron het gepleit dat die lewens van die volk gespaar word. Jehovah het hulle versoek toegestaan. Wat Korag en sy groep betref, “’n vuur het van Jehovah af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk geoffer het”.—Numeri 16:19-22, 35. c

14. Waarom het Jehovah streng opgetree teen die vergadering van Israel?

14 Verbasend genoeg, die Israeliete wat gesien het hoe Jehovah teen die opstandiges optree, het nog steeds nie hulle les geleer nie. “Die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron begin murmureer en gesê: ‘Julle, julle het Jehovah se volk doodgemaak.’” Die Israeliete het die samesweerders se kant gekies! Uiteindelik het Jehovah se geduld opgeraak. Niemand—nie eers Moses of Aäron—kon toe vir die volk voorspraak doen nie. Jehovah het die ongehoorsames met ’n plaag getref, “en dié wat deur die plaag gesterf het, was veertienduisend-sewehonderd, benewens dié wat weens Korag gesterf het”.—Numeri 16:41-49.

15. (a) Om watter redes moes die Israeliete die leierskap van Moses en Aäron sonder huiwering aanvaar het? (b) Wat het hierdie verslag jou van Jehovah geleer?

15 Dit was so onnodig vir al daardie mense om hulle lewe te verloor. As hulle maar net sake uitgeredeneer het. Hulle kon hulle afgevra het: ‘Wie het voor Farao verskyn selfs al het dit hulle lewe in gevaar gestel? Wie het geëis dat die Israeliete vrygelaat word? Wie alleen is ná Israel se verlossing genooi om teen die berg Horeb op te klim om van aangesig tot aangesig met God se engel te praat?’ Moses en Aäron se merkwaardige rekord het beslis bewys gelewer van hulle lojaliteit teenoor Jehovah en hulle liefde vir die volk (Eksodus 10:28; 19:24; 24:12-15). Jehovah het geen behae daarin geskep om die opstandiges dood te maak nie. Maar toe dit duidelik word dat die volk met hulle opstand gaan volhou, het hy daadwerklik opgetree (Esegiël 33:11). Dit alles is vandag vir ons van groot belang. Waarom?

Hoe om die hedendaagse kanaal te identifiseer

16. (a) Watter getuienis moes die eerste-eeuse Jode oortuig het dat Jesus Jehovah se verteenwoordiger is? (b) Waarom het Jehovah die Levitiese priesterdom vervang, en waarmee?

16 Vandag is daar ’n nuwe “nasie” waarvan Jehovah die onsigbare Regter, Wetgewer en Koning is (Matteus 21:43). Hierdie “nasie” het in die eerste eeu G.J. in aansyn gekom. Teen daardie tyd was die tabernakel van Moses se dag vervang deur ’n pragtige tempel in Jerusalem, waar Leviete nog steeds diens gedoen het (Lukas 1:5, 8, 9). Maar in die jaar 29 G.J. het ’n ander tempel tot stand gekom, ’n geestelike tempel met Jesus Christus as Hoëpriester (Hebreërs 9:9, 11). Die kwessie van Goddelike gesag het weer eens ontstaan. Wie sou Jehovah gebruik om hierdie nuwe “nasie” te lei? Jesus het bewys gelewer dat hy onvoorwaardelik lojaal aan God is. Hy het die volk liefgehad. Hy het ook talle verbasende tekens gedoen. Maar soos hulle hardnekkige voorouers het die meeste Leviete geweier om Jesus te aanvaar (Matteus 26:63-68; Handelinge 4:5, 6, 18; 5:17). Uiteindelik het Jehovah die Levitiese priesterdom vervang met ’n heeltemal ander priesterdom—’n koninklike priesterdom. Hierdie koninklike priesterdom bestaan vandag nog.

17. (a) Wie maak vandag die koninklike priesterdom uit? (b) Hoe gebruik Jehovah die koninklike priesterdom?

17 Wie maak vandag hierdie koninklike priesterdom uit? Die apostel Petrus beantwoord hierdie vraag in sy eerste geïnspireerde brief. Petrus het aan gesalfde lede van die liggaam van Christus geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:9). Uit hierdie woorde is dit duidelik dat die gesalfde voetstapnavolgers van Jesus, as ’n groep, hierdie “koninklike priesterdom” uitmaak, wat Petrus ook “’n heilige nasie” genoem het. Hulle is die kanaal wat Jehovah gebruik om sy volk van onderrigting en geestelike riglyne te voorsien.—Matteus 24:45-47.

18. Watter verband is daar tussen aangestelde ouer manne en die koninklike priesterdom?

18 Die koninklike priesterdom word verteenwoordig deur aangestelde ouer manne, wat in verantwoordelike posisies in gemeentes van Jehovah se volk oor die hele aarde dien. Hierdie manne verdien ons respek en heelhartige ondersteuning, hetsy hulle van die gesalfdes is of nie. Waarom? Omdat Jehovah die ouer manne deur sy heilige gees in hulle posisies aangestel het (Hebreërs 13:7, 17). Hoe kan dit wees?

19. In watter sin word ouer manne deur die heilige gees aangestel?

19 Hierdie ouer manne voldoen aan die vereistes wat uiteengesit word in God se Woord, wat deur God se gees voortgebring is (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Gevolglik kan ons sê dat hulle deur die heilige gees aangestel is (Handelinge 20:28). Die ouer manne moet deeglik vertroud wees met God se Woord. Soos die Opperregter wat hulle aangestel het, moet die ouer manne ook enige sweem van partydigheid in die regspraak haat.—Deuteronomium 10:17, 18.

20. Wat waardeer jy omtrent hardwerkende ouer manne?

20 Ons waardeer werklik ons hardwerkende ouer manne en betwis nie hulle gesag nie! Hulle rekord van getroue diens, dikwels oor baie dekades, boesem vertroue by ons in. Hulle berei getrou voor vir gemeentelike vergaderinge, hou die vergaderinge, werk skouer aan skouer saam met ons in die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk” en gee skriftuurlike raad wanneer ons dit nodig het (Matteus 24:14; Hebreërs 10:23, 25; 1 Petrus 5:2). Hulle besoek ons wanneer ons siek is en vertroos ons wanneer ons treur. Hulle bevorder Koninkryksbelange lojaal en onselfsugtig. Jehovah se gees is op hulle; hulle geniet sy goedkeuring.—Galasiërs 5:22, 23.

21. Waarvan moet die ouer manne bewus wees, en waarom?

21 Die ouer manne is natuurlik nie volmaak nie. Aangesien hulle van hulle beperkings bewus is, probeer hulle nie baasspeel oor die kudde, “God se erfenis”, nie. Hulle beskou hulle eerder as ‘medewerkers vir die vreugde van hulle broers’ (1 Petrus 5:3; 2 Korintiërs 1:24). Nederige, hardwerkende ouer manne het Jehovah lief, en hulle weet dat hulle meer tot voordeel van die gemeente sal kan doen as hulle hom noukeuriger navolg. Met die oog hierop streef hulle voortdurend daarna om godvrugtige eienskappe soos liefde, medelye en geduld aan te kweek.

22. Hoe het ’n kykie na die verslag van Korag jou geloof in Jehovah se sigbare organisasie versterk?

22 Hoe gelukkig is ons tog om Jehovah as ons onsigbare Heerser, Jesus Christus as ons Hoëpriester, lede van die gesalfde koninklike priesterdom as ons onderrigters en getroue Christen- ouer manne as ons raadgewers te hê! Hoewel geen organisasie wat deur mense gerig word, volmaak kan wees nie, is ons verheug om God te kan dien saam met getroue medegelowiges, wat hulle met graagte aan God se gesag onderwerp!

[Voetnote]

a Aäron se ander twee seuns, Eleasar en Itamar, was voorbeeldig in hulle diens aan Jehovah.—Levitikus 10:6.

b Korag se medesamesweerders, Datan en Abiram, was Rubeniete. As sodanig het hulle klaarblyklik nie die priesterskap begeer nie. Hulle was gegrief oor Moses se leierskap en die feit dat hulle verwagting om die Beloofde Land te bereik, toe nog nie verwesenlik was nie.—Numeri 16:12-14.

c In die tyd van die aartsvaders het elke gesinshoof sy vrou en kinders voor God verteenwoordig en selfs offerandes ten behoewe van hulle gebring (Genesis 8:20; 46:1; Job 1:5). Maar toe die Wet ingestel is, het Jehovah manlike lede van Aäron se gesin as priesters aangestel om die offerandes te bring. Die 250 opstandiges was klaarblyklik nie bereid om met hierdie verandering in prosedure saam te werk nie.

Wat het jy geleer?

• Watter liefdevolle voorsienings het Jehovah gemaak om vir die Israeliete te sorg?

• Waarom was Korag se opstand teen Moses en Aäron onverskoonbaar?

• Watter les kan ons leer uit die manier waarop Jehovah teen die opstandiges opgetree het?

• Hoe kan ons vandag toon dat ons Jehovah se reëlings waardeer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Beskou jy enige toewysing in Jehovah se diens as ’n voorreg?

[Prent op bladsy 10]

“Waarom moet julle julle dan bo die gemeente van Jehovah verhef?”

[Prent op bladsy 13]

Aangestelde ouer manne verteenwoordig die koninklike priesterdom