Die “Septuagint”—Destyds en vandag nuttig
Die “Septuagint”—Destyds en vandag nuttig
’N INVLOEDRYKE man van Etiopië was van Jerusalem af op pad huis toe. Terwyl hy met ’n woestynpad langs op sy wa gereis het, het hy hardop uit ’n godsdiensgeskrif gelees. Toe die woorde wat hy gelees het, aan hom verduidelik is, het dit sy lewe ingrypend verander (Handelinge 8:26-38). Die man het Jesaja 53:7, 8 gelees uit die heel eerste Bybelvertaling —die Griekse Septuagint. Hierdie vertaling het deur die eeue heen so ’n belangrike rol in die verspreiding van die Bybel se boodskap gespeel dat dit bekend geword het as ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het.
Wanneer en onder watter omstandighede is die Septuagint vertaal? Waarom was so ’n vertaling nodig? Hoe nuttig was dit deur die eeue heen? Kan ons vandag iets uit die Septuagint leer?
Vir die Griekssprekende Jode
Toe Aleksander die Grote Egipte in 332 v.G.J. binnegeval het, nadat hy die Fenisiese stad Tirus vernietig het, is hy as ’n bevryder begroet. Daar het hy die stad Aleksandrië gestig, ’n sentrum van opvoeding in die antieke wêreld. Omdat Aleksander wou hê dat mense in die verowerde lande die Griekse kultuur moes aanneem, het hy gewone Grieks (Koine) die taal van sy uitgestrekte ryk gemaak.
In die derde eeu v.G.J. het Aleksandrië ’n groot Joodse bevolking gehad. Baie Jode wat ná die Babiloniese ballingskap in verspreide kolonies buite Palestina gewoon het, het na Aleksandrië getrek. Hoe goed het hierdie Jode Hebreeus geken? McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Dit is algemeen bekend dat die Jode, nadat hulle uit gevangenskap in Babilon teruggekeer het, nie meer ’n basiese kennis van die eertydse Hebreeus gehad het nie en dat voorlesings uit die boeke van Moses in die sinagoges van Palestina in die Galdese taal aan hulle verduidelik is . . . Die Jode van Aleksandrië het waarskynlik nog minder kennis van Hebreeus gehad; hulle omgangstaal was Aleksandrynse Grieks.” In Aleksandrië was die klimaat blykbaar reg vir ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks.
Aristobulus, ’n Jood wat in die tweede eeu v.G.J. gelewe het, het geskryf dat ’n weergawe van die Hebreeuse wet in Grieks vertaal is en gedurende die heerskappy van Ptolemeus Filadelfus (285-246 v.G.J.) voltooi is. Daar is verskillende menings oor wat Aristobulus met die “wet” bedoel het. Party dink dat hy bloot na die Pentateug verwys het, terwyl ander sê dat hy dalk die hele Hebreeuse Geskrifte in gedagte gehad het.
Hoe dit ook al sy, volgens tradisie was ongeveer 72 Joodse geleerdes betrokke by daardie eerste geskrewe vertaling van die Skrif uit Hebreeus in Grieks. Later is die getal tot 70 afgerond. Daarom is die vertaling die Septuagint genoem, wat “70” beteken, en is dit die simbool LXX gegee, die Romeinse syfer vir 70. Teen die einde van die tweede eeu v.G.J. kon al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks gelees word. Die naam Septuagint het dus later verwys na die hele Hebreeuse Geskrifte wat in Grieks vertaal is.
Nuttig in die eerste eeu
Die Septuagint is algemeen gebruik deur Griekssprekende Jode voor en gedurende die tyd van Jesus Christus en sy apostels. Baie van die Jode en proseliete wat op Pinksterdag 33 G.J. in Jerusalem vergader het, was van Asië, Egipte, Libië, Rome en Kreta—gebiede waar mense Grieks gepraat het. Dit was ongetwyfeld hulle gebruik om uit die Septuagint te lees (Handelinge 2:9-11). Hierdie vertaling het dus in die eerste eeu ’n groot rol in die verspreiding van die goeie nuus gespeel.
Toe die dissipel Stefanus byvoorbeeld met manne van Sirene, Aleksandrië, Silisië en Asië gepraat het, het hy gesê: “Josef [het] gestuur en Jakob, sy vader, en al sy familielede van [Kanaän af] laat roep, altesaam vyf-en-sewentig siele” (Handelinge 6:8-10; 7:12-14). Die Hebreeuse teks in Genesis hoofstuk 46 sê dat Josef se familielede altesaam sewentig was. Maar die Septuagint praat van vyf-en-sewentig. Stefanus het klaarblyklik uit die Septuagint aangehaal.—Genesis 46:20, 26, 27, voetnoot in NW.
Toe die apostel Paulus tydens sy tweede en derde sendingreis deur Klein-Asië en Griekeland gereis het, het hy getuig vir talle Handelinge 13:16, 26; 17:4). Hierdie mense het God begin vrees of hom begin aanbid omdat hulle uit die Septuagint van hom geleer het. Paulus het dikwels uit hierdie vertaling aangehaal of dele daarvan geparafraseer wanneer hy vir hierdie Griekssprekende mense getuig het.—Genesis 22:18, voetnoot in NW; Galasiërs 3:8.
nie-Jode wat God gevrees het en vir “Grieke wat God aanbid het” (Die Christelike Griekse Geskrifte bevat sowat 320 direkte aanhalings en altesaam moontlik tot 890 aanhalings en verwysings uit die Hebreeuse Geskrifte. Die meeste hiervan is op die Septuagint gebaseer. Gevolglik het aanhalings uit hierdie vertaling, en nie uit die Hebreeuse manuskripte nie, deel geword van die geïnspireerde Christelike Griekse Geskrifte. Hoe betekenisvol is dit tog nie! Jesus het voorspel dat die goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig sal word (Matteus 24:14). Om dit moontlik te maak, sou Jehovah toelaat dat sy geïnspireerde Woord vertaal word in die verskillende tale wat mense regoor die wêreld lees.
Nuttig vir vandag
Die Septuagint is selfs vandag nog nuttig en word gebruik om kopieerfoute op te spoor wat dalk ingesluip het in Hebreeuse manuskripte wat later oorgeskryf is. Die verslag in Genesis 4:8 sê byvoorbeeld: “Daarna het Kain vir sy broer Abel gesê: ‘Laat ons die veld ingaan.’ Terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgemaak.”
Die frase “laat ons in die veld ingaan”, word nie in Hebreeuse manuskripte gevind wat van die tiende eeu G.J. af dateer nie. Maar dit kom wel voor in ouer manuskripte van die Septuagint en in ’n paar ander vroeë verwysings. Die Hebreeuse teks bevat die woord wat gewoonlik direkte rede inlei, maar nie die woorde wat daarop moet volg nie. Wat kon gebeur het? In Genesis 4:8 is daar twee opeenvolgende frases wat met die uitdrukking “[in] die veld” eindig. McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die Hebreeuse kopiïs se oog is waarskynlik bedrieg omdat albei frases met die[selfde] woord . . . eindig.” Só het die kopiïs moontlik die eerste voorkoms van die uitdrukking “laat ons die veld ingaan” oorgeslaan. Dit is duidelik dat die Septuagint, sowel as ander ouer manuskripte wat nog bestaan, nuttig kan wees om foute in latere kopieë van die Hebreeuse teks op te spoor.
Aan die ander kant kan daar ook foute in afskrifte van die Septuagint voorkom, en soms word daar na die Hebreeuse teks verwys om die Grieks reg te stel. Deur die Hebreeuse manuskripte dus met die Grieks en vertalings in ander tale te vergelyk, word vertaal- en kopieerfoute opgespoor en verseker dit ons van ’n akkurate vertaling van God se Woord.
Daar is vandag volledige afskrifte van die Septuagint wat selfs uit die vierde eeu G.J. dateer. Hierdie manuskripte en latere afskrifte bevat nie God se naam, Jehovah, wat in Hebreeus deur die Tetragrammaton (JHWH) voorgestel word nie. Hierdie afskrifte het die Griekse woorde vir “God” en “Here” gebruik oral waar die Tetragrammaton in die Hebreeuse teks voorgekom het. Maar ’n ontdekking in Palestina sowat 50 jaar gelede het lig op hierdie saak gewerp. ’n Span wat grotte naby die weskus van die Dooie See verken het, het afgekom op fragmente van ’n ou leerboekrol van die 12 profete (Hosea tot Maleagi) wat in Grieks geskryf is. Hierdie geskrifte dateer van 50 v.G.J. tot 50 G.J. In hierdie vroeëre fragmente is die Tetragrammaton nie deur die Griekse woorde vir “God” en “Here” vervang nie. Die gebruik van die Goddelike naam in die vroeë Septuagint-vertaling van die Skrif is derhalwe bevestig.
In die jaar 1971 is fragmente van ’n ou papirusrol (Fouad 266 papyri) beskikbaar gestel vir publikasie. Wat het hierdie gedeeltes van die Septuagint, wat uit die tweede of eerste eeu v.G.J. dateer, aan die lig gebring? Die Goddelike naam het ook daarin voorgekom. Hierdie
vroeë fragmente van die Septuagint dien as ’n kragtige getuienis dat Jesus en sy eerste-eeuse dissipels God se naam geken en gebruik het.Vandag is die Bybel die mees vertaalde boek in die geskiedenis. Meer as 90 persent van die mensdom kan ten minste ’n deel daarvan in hulle eie taal lees. Ons is veral dankbaar vir ’n akkurate, moderne vertaling, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat nou in sy geheel of gedeeltelik in meer as 40 tale beskikbaar is. Die New World Translation of the Holy Scriptures—With References bevat honderde voetnootverwysings na die Septuagint en ander ou manuskripte. Ja, die Septuagint is nog steeds ’n belangrike en nuttige vertaling vir Bybelstudente van vandag.
[Prent op bladsy 26]
Die dissipel Filippus het ’n gedeelte verduidelik wat uit die “Septuagint” gelees is
[Prent op bladsy 29]
Die apostel Paulus het dikwels uit die “Septuagint” aangehaal