Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Redding behoort aan Jehovah”

“Redding behoort aan Jehovah”

“Redding behoort aan Jehovah”

TYDENS ’n nasionale krisis en internasionale spanning wend mense hulle tot hulle regering vir veiligheid. Regerings verskerp op hulle beurt pogings om die bevolking se steun te werf. Hoe meer die gevoel van patriotisme deur hierdie pogings aangewakker word, hoe geesdriftiger en gereelder word patriotiese seremonies gehou.

Wanneer ’n land ’n krisis ondervind, gee patriotisme mense dikwels ’n gevoel van eenheid en krag en kan dit ’n gees van samewerking en ’n burgersin onder hulle bevorder. Maar “patriotisme is net so onvoorspelbaar soos enige ander emosie”, sê ’n artikel in The New York Times Magazine, want “as dit eers tot uiting kom, kan dit handuit ruk”. Dit kan in so ’n mate ontaard dat dit inbreuk maak op die burgerlike vryhede sowel as die godsdiensvryheid van sekere landsburgers. Veral ware Christene kom onder druk om hulle oortuigings prys te gee. Hoe moet hulle optree wanneer so ’n atmosfeer in die wêreld om hulle heers? Watter Bybelbeginsels help hulle om met insig op te tree en om hulle onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?

“Jy mag jou nie voor hulle neerbuig . . . nie”

Met tye word die saluering van ’n landsvlag ’n gewilde manier om uiting te gee aan patriotiese gevoelens. Maar op vlae is daar dikwels voorstellings van dinge in die hemel, soos sterre, sowel as dinge op die aarde. God het getoon hoe hy daaroor voel as mense hulle voor sulke voorwerpe neerbuig toe hy sy volk beveel het: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie, want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.”—Eksodus 20:4, 5.

Versuim ’n mens werklik om aan Jehovah God uitsluitlike toegewydheid te gee as jy ’n vlag wat die Staat verteenwoordig, salueer of daarvoor kniel? Die eertydse Israeliete het wel “tekens”, of vaandels, gehad, waar hulle driestamafdelings in die wildernis bymekaargekom het (Numeri 2:1, 2). McClintock en Strong se Cyclopedia sê in ’n kommentaar oor die Hebreeuse woorde wat vir hierdie vaandels gebruik is: “Nie een van hulle dra egter die gedagte oor waaraan ‘vaandel’ ons laat dink nie, naamlik ’n vlag.” Daarbenewens is Israel se vaandels nie as heilig beskou nie, en ook het geen seremonies met die gebruik daarvan gepaardgegaan nie. Hulle het bloot as tekens gedien om die volk te wys waar hulle moes bymekaarkom.

Die voorstellings van gerubs in die tabernakel en in Salomo se tempel het hoofsaaklik as afbeeldings van die hemelse gerubs gedien (Eksodus 25:18; 26:1, 31, 33; 1 Konings 6:23, 28, 29; Hebreërs 9:23, 24). Dat hierdie kunstige voorstellings nooit vereer moes word nie, blyk duidelik uit die feit dat die volk oor die algemeen dit nooit gesien het nie en dat engele self nie aanbid mag word nie.—Kolossense 2:18; Openbaring 19:10; 22:8, 9.

Neem byvoorbeeld ook die koperslang wat die profeet Moses gemaak het terwyl die Israeliete in die wildernis was. Daardie beeld het as ’n simbool gedien en het profetiese betekenis gehad (Numeri 21:4-9; Johannes 3:14, 15). Dit is nie vereer of vir aanbidding gebruik nie. Maar eeue ná Moses se dag het die Israeliete daardie selfde beeld verkeerdelik begin aanbid, en selfs reukwerk daarvoor gebrand. Daarom het die Judese koning Hiskia dit laat verbrysel.—2 Konings 18:1-4.

Is landsvlae maar net tekens wat ’n praktiese doel dien? Wat simboliseer hulle? “Nasionalisme se hoofsimbool van geloof en vernaamste voorwerp van aanbidding is die vlag”, het die skrywer J. Paul Williams gesê. The Encyclopedia Americana sê: “Die vlag, soos die kruis, is heilig.” Die vlag is die simbool van die Staat. Om dus daarvoor te buig of dit te salueer, is ’n godsdiensseremonie waarin die Staat vereer word. So ’n daad skryf redding aan die Staat toe en is nie in ooreenstemming met wat die Bybel oor afgodediens sê nie.

Die Skrif sê duidelik: “Redding behoort aan Jehovah” (Psalm 3:8). Redding moenie aan menslike instellings of hulle simbole toegeskryf word nie. Die apostel Paulus het mede-Christene vermaan: “My geliefdes, vlug vir die afgodediens” (1 Korintiërs 10:14). Die vroeë Christene het nie dade van aanbidding teenoor die Staat verrig nie. In die boek Those About to Die sê Daniel P. Mannix: “Christene het geweier om . . . offerandes te bring aan die [Romeinse] keiser se beskermgees—wat vandag min of meer dieselfde is as om te weier om die vlag te salueer.” Dit is ook wat ware Christene vandag doen. Ten einde uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee, salueer hulle geen land se vlag nie. Sodoende stel hulle God eerste terwyl hulle steeds regerings en hulle heersers respekteer. Hulle besef beslis hulle verantwoordelikheid om aan die regerende “hoër owerhede” onderdanig te wees (Romeine 13:1-7). Maar wat sê die Bybel oor die sing van patriotiese liedere, soos die volkslied?

Wat is ’n volkslied?

“’n Volkslied is ’n lied waarin uiting gegee word aan patriotiese gevoelens, en dit sluit dikwels ’n versoek in dat God die volk of hulle heersers moet lei en beskerm”, sê The Encyclopedia Americana. ’n Volkslied is in werklikheid ’n gesang of ’n gebed ten behoewe van ’n nasie. Daarin word gewoonlik gevra vir die nasie se materiële voorspoed en sy voortbestaan. Kan ware Christene deelneem aan sulke bedes?

Die profeet Jeremia het onder mense gewoon wat bely het dat hulle God dien. En tog het Jehovah hom beveel: “Moenie vir hierdie volk bid nie, en moet ook nie vir hulle ’n smekende geroep of ’n gebed opstuur of my smeek nie, want ek sal nie na jou luister nie” (Jeremia 7:16; 11:14; 14:11). Waarom is Jeremia hierdie bevel gegee? Omdat dit in daardie gemeenskap algemeen was om te steel, moord en egbreuk te pleeg, vals te sweer en afgode te aanbid.—Jeremia 7:9.

Jesus Christus het ’n presedent geskep toe hy gesê het: “Ek doen nie versoek aangaande die wêreld nie, maar aangaande dié wat u my gegee het” (Johannes 17:9). Die Skrif sê dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’ en dat dit ‘verbygaan’ (1 Johannes 2:17; 5:19). Hoe kan ware Christene dan met ’n skoon gewete bid vir die voorspoed en voortbestaan van so ’n stelsel?

Nie alle volksliedere sluit natuurlik bedes tot God in nie. “Die inhoud van volksliedere verskil”, sê die Encyclopædia Britannica, “van bedes ten behoewe van die koning tot verwysings na gevegte of opstande wat vir die land belangrik is . . . tot uitdrukkings van patriotiese gevoelens.” Maar kan diegene wat God wil behaag, hulle werklik verheug oor die oorloë of revolusies van enige nasie? Jesaja het aangaande ware aanbidders voorspel: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse” (Jesaja 2:4). “Hoewel ons in die vlees wandel”, het die apostel Paulus geskryf, “voer ons nie die stryd volgens wat ons in die vlees is nie. Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie.”—2 Korintiërs 10:3, 4.

Volksliedere druk dikwels gevoelens van nasietrots of meerderwaardigheid uit. Hierdie beskouing het geen skriftuurlike grondslag nie. In sy toespraak by die Areopagus het die apostel Paulus gesê: “[Jehovah God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:26). “God [is] nie partydig . . . nie”, het die apostel Petrus gesê, “maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

Weens hulle begrip van die Bybel besluit baie mense om nie die vlag te salueer en patriotiese liedere te sing nie. Maar hoe tree hulle op in situasies waar hulle voor hierdie geskille te staan kom?

Weier op eerbiedige wyse

Koning Nebukadnesar van eertydse Babilon het ’n enorme goue beeld in die vlakte Dura opgerig om die eenheid van sy ryk te probeer versterk. Hy het toe ’n inwydingseremonie gereël waarheen hy sy satrape, prefekte, goewerneurs, raadgewers en ander hoë amptenare genooi het. Almal wat daar byeen was, moes neerbuig en die beeld aanbid sodra hulle die musiek gehoor het. Onder diegene wat daar teenwoordig moes wees, was drie jong Hebreërs—Sadrag, Mesag en Abednego. Hoe het hulle getoon dat hulle nie aan hierdie godsdiensseremonie deelneem nie? Toe die musiek begin, het dié wat daar byeen was, voor die beeld neergeval, maar die drie Hebreërs het bly staan.—Daniël 3:1-12.

Vandag word vlae gewoonlik gesalueer met ’n uitgestrekte arm of deur die hand teen die voorkop of oor die hart te hou. Soms word ’n spesiale liggaamshouding aangeneem. In party lande word daar van kinders op skool verwag om te kniel en die vlag te soen. Ware Christene sal in sulke gevalle net as eerbiedige waarnemers daar staan terwyl ander die vlag salueer.

Sê nou ’n vlagseremonie word op so ’n manier gehou dat die feit dat iemand staan, te kenne sou gee dat hy daaraan deelneem? Gestel byvoorbeeld een leerling in ’n skool word gekies om die hele skool te verteenwoordig en die vlag buite by ’n vlagpaal te salueer terwyl daar van die ander leerlinge verwag word om in die klaskamer op aandag te staan. Die blote feit dat iemand in hierdie geval opstaan, gee te kenne dat hy saamstem met die reëling dat die leerling daarbuite as ’n persoonlike verteenwoordiger vir hom optree om die vlag te salueer. Ongeag in watter posisie iemand dan sou staan, dit sou aandui dat hy aan die seremonie deelneem. In so ’n geval sou diegene wat net eerbiedige waarnemers wil wees, bly sit. Sê nou die klas staan reeds wanneer so ’n seremonie begin? As ’n persoon in dié geval bly staan, sal dit nie die indruk skep dat hy daaraan deelneem nie.

Gestel iemand word nie gevra om die vlag te salueer nie, maar bloot om dit vas te hou, tydens ’n optog of in die klaskamer of elders, sodat ander dit kan salueer. Dit sou beteken dat hy nie “vlug vir die afgodediens”, soos die Bybel beveel nie, maar in werklikheid ’n hooffiguur in die seremonie is. Dieselfde beginsel geld vir patriotiese optogte. Ware Christene se gewete laat hulle nie toe om daaraan deel te neem nie, want dit sou beteken dat hulle hulle steun gee aan dit wat deur die optog vereer word.

Wanneer ’n volkslied gespeel word, hoef ’n persoon gewoonlik net op te staan om te wys dat hy saamstem met die boodskap van die lied. In sulke gevalle sal Christene bly sit. As hulle reeds staan wanneer die volkslied gespeel word, is dit egter nie nodig dat hulle spesiaal gaan sit nie. Dit is nie asof hulle spesifiek daarvoor opgestaan het nie. As daar aan die ander kant van ’n groep verwag word om te staan en te sing, sal die feit dat iemand uit respek opstaan sonder om saam te sing, nie beteken dat hy met die boodskap van die lied saamstem nie.

“Behou ’n goeie gewete”

Nadat die psalmis beskryf het hoe nutteloos mensgemaakte voorwerpe van verering is, het hy gesê: “Dié wat hulle maak, sal net soos hulle word, almal wat op hulle vertrou” (Psalm 115:4-8). Dit is dus duidelik dat enige werk wat regstreeks verband hou met die vervaardiging van voorwerpe wat vereer word, waaronder landsvlae, onaanvaarbaar vir Jehovah se aanbidders sal wees (1 Johannes 5:21). Ander situasies kan ook by die werk ontstaan waarin Christene eerbiedig sal toon dat hulle Jehovah alleen aanbid en nie die vlag of wat dit verteenwoordig nie.

’n Werkgewer kan ’n werknemer byvoorbeeld vra om ’n vlag buite ’n gebou te hys of te stryk. Of iemand dit sal doen of nie, hang af van hoe hy die omstandighede beskou. As die vlag gehys of gestryk moet word as deel van ’n spesiale seremonie, waar mense op aandag staan of die vlag salueer, sal hierdie daad beteken dat ’n mens aan die seremonie deelneem.

As daar egter geen seremonie betrokke is wanneer die vlag gehys of gestryk word nie, dan is dit maar net nog een van die vele take in en om die gebou, soos om die deure oop en toe te sluit en vensters oop en toe te maak. In hierdie gevalle is die vlag bloot ’n embleem van die Staat, en om dit te hys of te stryk as deel van die gereelde take, is ’n saak waaroor elkeen self op grond van sy Bybelopgeleide gewete moet besluit (Galasiërs 6:5). Die gewete van een persoon sal hom miskien beweeg om sy werkgewer te vra dat iemand anders dit doen. ’n Ander Christen voel dalk dat sy gewete hom toelaat om die vlag te hanteer solank geen seremonie daarby betrokke is nie. Wat ware aanbidders ook al besluit, hulle moet ‘’n goeie gewete behou’ voor God.—1 Petrus 3:16.

Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om in openbare geboue waar die landsvlag hang, soos munisipale kantore en skole, te werk of te wees nie. ’n Vlag verskyn dalk ook op posseëls, nommerplate of ander items wat deur die regering gemaak word. Die gebruik van hierdie dinge beteken nie noodwendig dat iemand aan dade van verering deelneem nie. Wat van belang is, is nie die vlag of replika daarvan op die item nie, maar of ’n persoon spesiale waarde daaraan heg.

Vlae word dikwels op vensters, deure, motors, lessenaars of ander dinge vertoon. ’n Mens kan ook klere koop waarop daar ’n vlagmotief is. In sommige lande is dit onwettig om sulke kledingstukke te dra. Selfs al is so iets nie teen die wet nie, wat sal dit aandui oor ’n persoon se standpunt teenoor die wêreld? Jesus Christus het van sy volgelinge gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Ons moet ook nie uit die oog verloor hoe dit medegelowiges kan raak nie. Kan dit ander se gewete skaad? Kan dit hulle voorneme om standvastig in die geloof te bly, verswak? Paulus het Christene vermaan: “Maak [seker] van die belangriker dinge, sodat julle onberispelik kan wees en ander nie laat struikel nie.”—Filippense 1:10.

‘Wees teer teenoor almal’

Namate wêreldtoestande in hierdie “kritieke tye” versleg, sal patriotiese gevoelens waarskynlik sterker raak (2 Timoteus 3:1). Mag diegene wat God liefhet, nooit vergeet dat redding alleenlik aan Jehovah behoort nie. Hy verdien uitsluitlike toegewydheid. Toe Jesus se apostels gevra is om iets in stryd met Jehovah se wil te doen, het hulle gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.

“’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie”, het die apostel Paulus geskryf, “maar moet teer wees teenoor almal” (2 Timoteus 2:24). Daarom probeer Christene vreedsaam, eerbiedig en teer wees terwyl hulle op grond van hulle Bybelopgeleide gewete persoonlike besluite maak oor vlagsaluering en die sing van die volkslied.

[Prent op bladsy 23]

Vasbeslote maar eerbiedig, het drie Hebreërs besluit om God te behaag

[Prent op bladsy 24]

Hoe moet ’n Christen tydens ’n patriotiese seremonie optree?