Moet jy sorgeloos wees?
Moet jy sorgeloos wees?
DIE meeste mense sal waarskynlik meen dat dit ’n kompliment is as ander jou as sorgeloos beskou, iemand wat ontspanne, rustig, verdraagsaam is. Maar sorgeloosheid het ook ’n ander sy. Die Bybel sê: “Hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde” (Spreuke 1:32, Die Bybel, 1953). Wat beteken dit?
Ander Bybelvertalings gee die oorspronklike Hebreeuse woord weer met uitdrukkings soos “onverskilligheid” (American Standard Version), “selfvoldaanheid” (The New American Bible) en “oorgerustheid” (The New English Bible). In hierdie sin word sorgeloosheid verbind met luiheid en onverskilligheid en gevolglik met sotheid of dwaasheid.
In die eerste eeu was Christene in die gemeente in Laodisea salig onbewus van hulle geestelike gebreke of onbesorg daaroor. Hulle het selfvoldaan gespog dat hulle “hoegenaamd niks nodig [het] nie”. Jesus Christus het hulle tereggewys en hulle vermaan om hernieude Christelike ywer aan die dag te lê.—Openbaring 3:14-19.
Oorgerustheid was ook ’n kenmerk van die mense in Noag se dag. Hulle was behep met die alledaagse dinge van die lewe, “hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee . . . en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”. Jesus het toe bygevoeg: “So sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37-39.
Vervulde Bybelprofesieë toon dat ons gedurende “die teenwoordigheid van die Seun van die mens”, Jesus Christus, lewe. Mag ons nooit oorgerus, onverskillig of selfvoldaan word nie—sorgeloos in die negatiewe sin van die woord.—Lukas 21:29-36.