Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer gee vreugde verskaf

Wanneer gee vreugde verskaf

Wanneer gee vreugde verskaf

GENIVAL, wat in ’n agterbuurt in die noordooste van Brasilië woon, het sy vrou en kinders onderhou met die karige loon wat hy as ’n sekuriteitswag by ’n hospitaal verdien het. Al het hy swaar gekry, het Genival pligsgetrou sy tiendes gegee. “Soms het my gesin honger gely”, sê hy terwyl hy oor sy maag vryf, “maar ek wou God my beste gee, ongeag watter opoffering nodig was.”

Nadat Genival sy werk verloor het, het hy nog steeds sy tiendes gegee. Sy predikant het hom aangespoor om God op die proef te stel deur ’n groot bydrae te gee. Die geestelike het hom verseker dat God beslis ’n seën oor hom sou uitstort. Daarom het Genival besluit om sy huis te verkoop en die geld vir die kerk te gee.

Genival is nie die enigste persoon wat so opreg gee nie. Talle brandarm mense gee getrou hulle tiendes omdat hulle deur hulle kerk geleer word dat tiendes ’n Bybelse vereiste is. Is dit waar?

Tiendes en die Wet

Die gebod om tiendes te gee, was deel van die Wet wat Jehovah God meer as 3 500 jaar gelede aan die 12 stamme van eertydse Israel gegee het. Daardie Wet het bepaal dat ’n tiende van die opbrengs van die land en vrugtebome en ’n tiende van die aanwas onder die kuddes aan die stam van Levi gegee moes word om hulle dienste by die tabernakel te ondersteun.—Levitikus 27:30, 32; Numeri 18:21, 24.

Jehovah het die Israeliete verseker dat die Wet ‘nie te moeilik vir hulle sou wees nie’ (Deuteronomium 30:11). Solank hulle Jehovah se gebooie, waaronder die gebod om tiendes te gee, getrou nagekom het, het hulle sy belofte van oorvloedige oeste gehad. En as voorsorg is ’n bykomende jaarlikse tiende gereeld opsy gesit, wat gewoonlik gebruik is wanneer die nasie vir hulle godsdiensfeeste byeengekom het. Sodoende kon ‘die inwonende vreemdeling, die vaderlose seun en die weduwee’ versadig word.—Deuteronomium 14:28, 29; 28:1, 2, 11-14.

Daar was geen straf in die Wet vir iemand wat versuim het om sy tiendes te betaal nie, maar elke Israeliet het sedelik verplig gevoel om ware aanbidding op hierdie manier te ondersteun. Trouens, Jehovah het die Israeliete wat in Maleagi se dag nagelaat het om hulle tiendes te gee, daarvan beskuldig dat hulle ‘hom in die tiendes en in die bydraes beroof’ (Maleagi 3:8). Kan dieselfde gesê word van Christene wat nie tiendes gee nie?

Wel, dink hieraan. Landswette geld gewoonlik nie buite die land se grense nie. Die wet wat motoriste in Brittanje byvoorbeeld verplig om aan die linkerkant van die pad te ry, is nie van toepassing op bestuurders in Frankryk nie. Net so was die wet wat tiendes vereis het, deel van ’n verbond wat uitsluitlik tussen God en die nasie Israel gesluit is (Eksodus 19:3-8; Psalm 147:19, 20). Daardie wet het net vir die Israeliete gegeld.

En hoewel dit waar is dat God nooit verander nie, verander sy vereistes soms wel (Maleagi 3:6). Die Bybel sê uitdruklik dat die offerdood van Jesus, in 33 G.J., die Wet en daarmee saam die “gebod om tiendes . . . in te vorder”, “uitgewis”, of “tot niet gemaak” het.—Kolossense 2:13, 14; Efesiërs 2:13-15; Hebreërs 7:5, 18.

Hoe Christene moet gee

Bydraes om ware aanbidding te ondersteun, was egter nog steeds nodig. Jesus het sy dissipels beveel om ‘getuies tot in die mees afgeleë deel van die aarde te wees’ (Handelinge 1:8). Die aantal gelowiges het toegeneem, en so ook die behoefte aan Christenonderrigters en -opsieners om die gemeentes te besoek en te versterk. Daar moes soms na weduwees, wese en ander behoeftiges omgesien word. Hoe het die eerste-eeuse Christene hierdie koste gedek?

Omstreeks 55 G.J. is ’n versoek aan nie-Joodse Christene in Europa en Klein-Asië gerig om die behoeftige gemeente in Judea te help. In sy briewe aan die gemeente in Korinte beskryf die apostel Paulus hoe hierdie “insameling vir die heiliges” georganiseer is (1 Korintiërs 16:1). Jy sal moontlik verbaas wees oor wat Paulus se woorde aan die lig bring oor die wyse waarop Christene moet gee.

Die apostel Paulus het nie druk op medegelowiges uitgeoefen om te gee nie. Trouens, die Masedoniese Christene wat “onder verdrukking” en in “diep armoede” was, moes hom “bly smeek . . . om die voorreg om goedgunstig te gee en om ’n aandeel te hê in die bediening wat vir die heiliges bestem is”.—2 Korintiërs 8:1-4.

Dit is so dat Paulus die welvarender Korintiërs aangespoor het om die voorbeeld van hulle vrygewige broers in Masedonië na te volg. Nogtans het hy volgens een naslaanwerk ‘nie bevele uitgereik nie, maar verkies om te vra, voor te stel, aan te spoor of te versoek. Die Korintiërs sou nie spontaan en uit die hart kon gee as hulle gedwing is nie.’ Paulus het geweet dat ‘God ’n blymoedige gewer liefhet’, nie een wat “teësinnig of onder dwang” gee nie.—2 Korintiërs 9:7.

Oorvloedige geloof en kennis tesame met opregte liefde vir mede-Christene sou die Korintiërs beweeg om spontaan te gee.—2 Korintiërs 8:7, 8.

“Soos hy hom in sy hart voorgeneem het”

Paulus het nie ’n spesifieke bedrag of persentasie genoem nie, maar bloot voorgestel: “Op die eerste dag van elke week, moet elkeen . . . ’n bedrag geld opsysit na gelang van sy inkomste.” (Ons kursiveer; 1 Korintiërs 16:2, New International Version.) Deur te beplan en gereeld ’n bedrag opsy te sit, sou daar geen druk op die Korintiërs wees sodat hulle teësinnig of om emosionele redes sou gee wanneer Paulus daar aankom nie. Elke Christen moes persoonlik besluit hoeveel hy wou gee, “soos hy hom in sy hart voorgeneem het”.—2 Korintiërs 9:5, 7.

Die Korintiërs moes oorvloedig saai as hulle oorvloedig wou maai. Daar is geen aanduiding dat dit vir hulle ’n las moes wees om te gee nie. ‘Ek bedoel nie dat dit vir julle moeilik moet wees nie’, het Paulus hulle verseker. Bydraes was ‘veral aanneemlik volgens wat iemand gehad het, nie volgens wat hy nie gehad het nie’ (2 Korintiërs 8:12, 13; 9:6). In ’n latere brief het die apostel gewaarsku: “As iemand vir . . . dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Paulus het Christene nie aangespoor om soveel te gee dat hierdie beginsel verontagsaam word nie.

Dit is ook opmerkenswaardig dat Paulus toesig gehou het oor ’n “insameling vir die heiliges” wat behoeftig was. Ons lees nêrens in die Skrif dat Paulus of die ander apostels geldinsamelings gereël het of tiendes ontvang het om hulle eie bediening te finansier nie (Handelinge 3:6). Hoewel Paulus altyd dankbaar was vir die geskenke wat die gemeentes aan hom gestuur het, het hy ’n punt daarvan gemaak om nie “’n duur las” vir sy broers te wees nie.—1 Tessalonisense 2:9; Filippense 4:15-18.

Vrywillige bydraes vandag

Dit is duidelik dat die volgelinge van Christus gedurende die eerste eeu nie tiendes gegee het nie, maar vrywillige bydraes. Jy wonder dalk of dit nog steeds ’n doeltreffende manier is om die verkondiging van die goeie nuus te finansier en na behoeftige Christene om te sien.

Beskou die volgende. In 1879 het die uitgewers van hierdie tydskrif openlik gesê dat hulle “nooit [sal] bedel of mense om ondersteuning [sal] smeek nie”. Het daardie besluit die pogings van Jehovah se Getuies om Bybelwaarheid te versprei, gedwarsboom?

Tans versprei die Getuies Bybels, Christelike boeke en ander publikasies in 235 lande. Die Wagtoring, ’n Bybelopvoedkundige tydskrif, het aanvanklik ’n maandelikse verspreiding van 6 000 eksemplare in een taal gehad. Dit het sedertdien ’n halfmaandelikse tydskrif geword waarvan meer as 24 000 000 eksemplare in 146 tale gedruk word. Om hulle wêreldwye Bybelonderrigtingswerk te organiseer, het die Getuies administratiewe sentrums in 110 lande gebou of gekoop. Daarbenewens het hulle duisende plaaslike vergaderplekke sowel as groot byeenkomssale gebou waar belangstellendes verdere Bybelonderrig kan ontvang.

Hoewel Jehovah se Getuies hoofsaaklik na mense se geestelike behoeftes omsien, ignoreer hulle nie die materiële behoeftes van medegelowiges nie. Wanneer hulle broers weens oorloë, aardbewings, droogtes en storms ly, snel hulle hulle te hulp met mediese voorraad, kos, klere en ander noodsaaklikhede. Dit word moontlik gemaak deur die bydraes van individuele Christene en gemeentes.

Om vrywillige bydraes te gee, is nie net doeltreffend nie, maar dit verlig ook die las van diegene met beperkte middele, soos Genival wat vroeër genoem is. Gelukkig het Maria, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, Genival besoek voordat hy sy huis verkoop het. “Daardie gesprek het my gesin heelwat onnodige ellende gespaar”, sê Genival.

Genival het uitgevind dat die Here se werk nie van tiendes afhang nie. Trouens, tiendes is nie meer ’n skriftuurlike vereiste nie. Hy het geleer dat Christene geseën word wanneer hulle vrygewig is, maar dat hulle nie verplig is om meer te gee as wat hulle kan bekostig nie.

Dit verskaf Genival ware vreugde om vrywillig te gee. Hy stel dit so: “Of ek nou 10 persent kan gee of nie, ek is gelukkig met my bydrae, en ek is seker dat Jehovah ook gelukkig is.”

[Venster/Prente op bladsy 6]

Het die vroeë kerkvaders die gee van tiendes voorgestaan?

“Die rykes onder ons help die behoeftiges . . . Diegene wat goed daaraan toe is en gewillig is, gee elkeen soos hy goeddink.”—Eerste Apologie, Justinus die Martelaar, ca. 150 G.J.

“Die Jode het inderdaad die tiendes van hulle besittings aan Hom gewy, maar diegene wat vryheid ontvang het, het al hulle besittings tot die Here se beskikking gestel, . . . soos daardie arm weduwee wat haar hele lewensonderhoud in die skatkis van God gegooi het.”—Teen die Dwaalleringe, Ireneus, ca. 180 G.J.

“Hoewel ons ons skatkis het, bestaan dit nie uit losgeld nie, asof dit ’n godsdiens is waarvoor jy moet betaal nie. Elkeen kan op die maandelikse dag ’n klein bydrae insit as hy wil; maar net as hy dit graag wil doen, en net as hy dit kan doen: want daar is geen verpligting nie; alles is vrywillig.”—Apologie, Tertullianus, ca. 197 G.J.

“Namate die Kerk uitgebrei en verskeie instellings ontstaan het, moes wette gemaak word wat die behoorlike en permanente ondersteuning van die geestelikes sou verseker. Die betaling van tiendes is uit die Ou Wet oorgeneem . . . Die vroegste uitdruklike wetgewing oor die onderwerp is blykbaar vervat in ’n brief van die biskoppe wat in 567 by Tours vergader het en in die [kerkreëls] van die Konsilie van Macon in 585.”—The Catholic Encyclopedia.

[Erkenning]

Munt, links bo: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 4, 5]

Dit verskaf vreugde om vrywillig te gee

[Prente op bladsy 7]

Vrywillige bydraes word gebruik vir die predikingswerk, noodleniging en die bou van vergaderplekke