Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe goed kommunikeer jy?

Hoe goed kommunikeer jy?

Hoe goed kommunikeer jy?

“’N LIEFDESBRIEF van ’n 60-jarige.” Dit was die tema van ’n kompetisie wat ’n bank in Japan ’n paar jaar gelede gereël het. Dit het Japannese in hulle vyftiger- en sestigerjare aangespoor om hulle “eerlike gevoelens” teenoor hulle huweliksmaat uit te druk. Een deelnemer het vir sy vrou geskryf: “Jy sal dalk lag, maar ek sal spyt wees as ek dit nie sê nie; daarom sê ek dit nou hard en duidelik: Dankie dat jy met my getrou het.”

In baie kulture, insluitende party in die Ooste, word mense ontmoedig om hulle gevoelens vryelik uit te spreek. En tog het meer as 15 000 aan daardie liefdesbriefkompetisie deelgeneem. Dit was so gewild dat ’n opvolgkompetisie gehou is, en boeke is oor die briewe gepubliseer. Dit toon dat baie, in hulle diepste wese, daarna smag om te sê hoe hulle oor hulle geliefde maat voel. Ander skram egter daarvan weg. Waarom? Heel waarskynlik omdat dit ’n mate van inspanning en vaardigheid verg om ander—soos hulle maat—te laat verstaan hoe hulle voel.

Hitosji Kato, wat ’n boek oor aftrede geskryf het, sê dat baie egskeidingsake onder ouer egpare in Japan deur vrouens aanhangig gemaak word omdat diepgewortelde wrokke oor die jare toegeneem het. “Maar”, sê hy, “dit is ook omdat die egpaar nie sake uitgepraat het wanneer hulle voor krisisse te staan gekom het nie.”

Met sy aftrede word ’n man dalk onaangenaam verras deurdat sy vrou hom om ’n egskeiding vra. Die egpaar het moontlik jare lank nie gesels oor hoe hulle oor mekaar voel nie. Die man en vrou het hulle gevoelens dalk probeer uitspreek, maar nie daarin geslaag om die gesprek positief te hou nie. In plaas van ’n hegter verhouding op te bou, het hulle gevind dat hulle keer op keer in argumente gewikkel is.

Hoe kan ’n man en vrou hulle verskille op ’n vreedsame manier bespreek en hulle gevoelens op ’n mooi manier lug? Jy sal dit moontlik interessant vind om te weet dat die praktiesste wenke gevind word, nie in ’n onlangse boek deur ’n huweliksberader nie, maar in ’n ou boek wat al eeue lank hoog op prys gestel word—die Bybel.