Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat

Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat

Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat

‘EK MOES dit nie gesê het nie.’ ‘Ek het my nie duidelik uitgedruk nie.’ Het jy al ooit so gevoel nadat jy met jou huweliksmaat probeer kommunikeer het? Kommunikasie is ’n vaardigheid wat ontwikkel moet word. Soos met enige vaardigheid, lyk dit asof party mense dit sommer maklik baasraak, terwyl dit vir ander moeiliker is. Maar selfs al behoort jy tot laasgenoemde groep, kan jy leer om jou gedagtes op ’n mooi manier oor te dra, om doeltreffend te kommunikeer.

Soms beïnvloed mense se kultuur die manier waarop hulle teenoor hulle huweliksmaat optree. Daar word moontlik vir mans gesê: ‘Om manlik te wees, moet jy nie baie praat nie.’ Spraaksame mans word miskien as ligsinnig en onopreg beskou. Die Bybel sê weliswaar: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Maar hierdie raad is op mans sowel as vrouens van toepassing en toon dat kommunikasie meer behels as om net te praat. Twee mense gesels dalk lank met mekaar, maar sê nou hulle luister nie na mekaar nie? Dan word daar waarskynlik nie werklik gekommunikeer nie. Suksesvolle kommunikasie behels in groot mate die kuns om te luister, soos bogenoemde teks toon.

Kommunikasie sonder woorde

In party gemeenskappe word daar van vrouens verwag om stil te bly en nie hulle mening te lug nie. Mans moet ’n afsydige houding teenoor hulle gesin behou. In so ’n milieu moet die man en vrou raai wat hulle maat in enige gegewe situasie verwag. Party vrouens raak later bedrewe daarin om te sien wat hulle man nodig het en onmiddellik daardie behoefte te bevredig. In sulke gevalle kommunikeer die man en vrou sonder woorde. Maar hierdie soort kommunikasie is gewoonlik eensydig. Terwyl die vrou miskien leer om te onderskei wat haar man dink of voel, word daar selde van die man verwag om dieselfde vaardigheid te ontwikkel en sy vrou se gevoelens te onderskei.

In sommige kulture let mans weliswaar op vrouens se emosionele behoeftes en probeer hulle daarin voorsien. Maar selfs in sulke kulture sal baie huwelike by beter kommunikasie baat vind.

Kommunikasie is noodsaaklik

Openhartige kommunikasie kan misverstande en verkeerde gevolgtrekkings voorkom. Vroeg in die geskiedenis van die Israeliete het die stamme Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse wat oos van die Jordaanrivier gewoon het, “’n baie opvallende altaar” by die Jordaan gebou. Ander stamme het hulle optrede verkeerd verstaan. Omdat hulle gedink het dat hulle broers oorkant die Jordaan ’n daad van afvalligheid gepleeg het, het die stamme aan die westekant hulle gereedgemaak om teen die “opstandelinge” op te trek. Voordat hulle egter opgetrek het, het hulle ’n afvaardiging gestuur om met die oostelike stamme te praat. Wat ’n wyse besluit was dit tog! Hulle het gevind dat die altaar nie vir ongeoorloofde brandoffers of offerandes was nie. Dit is eerder opgerig omdat die stamme aan die oostekant bang was dat die ander stamme in die toekoms vir hulle sou sê: “Julle het geen deel aan Jehovah nie.” Die altaar sou dus ’n getuie wees dat hulle ook aanbidders van Jehovah is (Josua 22:10-29). Hulle het die altaar Getuie genoem, moontlik omdat dit as ’n getuie gedien het dat hulle Jehovah as die ware God beskou het.—Josua 22:34, voetnoot in NW.

Hulle verduideliking was voldoende om die ander stamme te oortuig, wat toe die idee laat vaar het om teen die twee en ’n half stamme op te tree. Ja, openhartige en eerlike kommunikasie het ’n gewapende konflik afgeweer. Later, toe Israel in opstand gekom het teen Jehovah God, hulle figuurlike eggenoot, het hy vir hulle gesê dat hy op barmhartige wyse ‘tot hulle hart sal spreek’ (Hosea 2:14). Wat ’n goeie voorbeeld vir egpare! Ja, streef daarna om jou maat se hart te bereik sodat hy of sy jou gevoelens kan verstaan. Dit is belangrik, veral wanneer dit sterk emosies behels. “Party sê dat woorde min werd is”, skryf Pattie Mihalik, ’n joernalis in die Verenigde State, “maar woorde kan ook van onskatbare waarde wees. En hoewel dit dalk vir party moeilik is om hulle gevoelens uit te druk, kan dit baie meer oplewer as geld in die bank.”

Hoe om kommunikasievaardighede te ontwikkel

‘Ons huwelik was van die staanspoor af ’n mislukking’, beweer party dalk. ‘Hierdie huwelik kan nie gered word nie’, meen ander miskien. Hulle voel dalk dat dit onmoontlik is om hulle kommunikasievaardighede ná die troudag te verbeter. Maar dink aan mense in gemeenskappe waar huwelike deur familielede gereël word. Baie in sulke kulture leer uiteindelik om in hulle getroude lewe goed te kommunikeer.

Een egpaar in ’n Oosterse land se huwelik is vir hulle gereël. ’n Tussenganger is gevra om ver te reis om ’n bruid vir die man te vind. Nogtans het die egpaar, wat bykans 4 000 jaar gelede gelewe het, besonder goeie kommunikasievaardighede gehad. Die man, Isak, het die tussenganger en die toekomstige bruid in die veld ontmoet. Die tussenganger “het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het”. Die Bybelverslag oor hierdie huwelik sê verder: “Daarna het Isak haar [Rebekka] in die tent van sy moeder Sara ingebring [hierdie stap het as die amptelike huweliksbevestiging gedien]. So het hy Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgekry.”—Genesis 24:62-67.

Let daarop dat Isak eers na die verslag geluister het en “daarna” vir Rebekka as sy vrou geneem het. Die tussenganger was ’n betroubare kneg wat toegewy was aan Jehovah God, vir wie Isak aanbid het. Isak het goeie rede gehad om hierdie man te vertrou. Daarna het Isak Rebekka, met wie hy getrou het, “liefgekry”.

Het Isak en Rebekka goeie kommunikasievaardighede ontwikkel? Nadat hulle seun Esau met twee dogters van Het getrou het, het ’n ernstige familieprobleem ontstaan. Rebekka het vir Isak “bly sê: ‘Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het. As Jakob [hulle jonger seun] ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het . . . , watter nut het die lewe dan vir my?’” (Genesis 26:34; 27:46). Sy het haar bekommernis beslis baie duidelik uitgespreek.

Isak het vir Jakob, Esau se tweelingbroer, gesê om nie ’n vrou uit die dogters van Kanaän te neem nie (Genesis 28:1, 2). Rebekka het haar punt duidelik gestel. Hierdie egpaar het suksesvol gekommunikeer oor ’n baie gevoelige familiesaak en vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Maar sê nou huweliksmaats kan nie oor iets saamstem nie? Wat kan dan gedoen word?

Wanneer ’n meningsverskil ontstaan

As jy en jou maat ’n ernstige meningsverskil het, moet jy nie weier om met jou maat te praat nie. Dit sal ’n baie duidelike boodskap oordra: Jy is nie gelukkig nie en jy wil hê dat jou maat ook ongelukkig moet wees. Maar miskien verstaan jou maat nie eens heeltemal wat jy wil hê en hoe jy voel nie.

Jy en jou maat sal sake moontlik moet uitpraat. As dit ’n gevoelige onderwerp is, sal dit dalk moeilik wees om kalm te bly. Isak se ouers, Abraham en Sara, het eenkeer voor ’n moeilike besluit te staan gekom. Omdat Sara onvrugbaar was, het sy volgens die gebruik van daardie tyd haar diensmeisie, Hagar, vir Abraham as ’n byvrou gegee om ’n nageslag te verwek. Hagar het vir Abraham ’n seun, Ismael, gebaar. Later het Sara egter self swanger geword en vir Abraham ’n seun, Isak, gebaar. Toe Isak gespeen sou word, het Sara gesien hoe Ismael haar seun spot. Gevolglik het Sara, wat hierin ’n gevaar vir haar seun gesien het, Abraham aangespoor om die slavin en Ismael te verdryf. Ja, Sara het reguit gesê hoe sy voel. Maar wat sy gevra het, het Abraham baie mishaag.

Hoe is die geskil opgelos? Die Bybelverslag sê: “God [het] vir Abraham gesê: ‘Moenie dat enigiets wat Sara vir jou oor die seun en oor jou slavin bly sê, jou mishaag nie. Luister na haar stem, want wat jou saad genoem sal word, sal deur middel van Isak wees.’” Abraham het na Jehovah God se opdrag geluister en dienooreenkomstig opgetree.—Genesis 16:1-4; 21:1-14.

‘Wel’, sê jy dalk, ‘as God met ons vanuit die hemel praat, sal ons maklik ’n oplossing vind!’ Dit bring ons by nog ’n sleutel om geskille in die huwelik op te los. Egpare kan na God luister. Hoe? Deur die Woord van God saam te lees en wat dit sê, as God se leiding te aanvaar.—1 Tessalonisense 2:13.

Een ervare Christenvrou het gesê: “Baie maal as ’n jong vrou na my toe kom vir raad oor haar huwelik, vra ek haar of sy en haar man die Bybel saam lees. Baie wat probleme in hulle huwelik het, het nie hierdie gewoonte nie” (Titus 2:3-5). Ons kan almal by haar waarneming baat vind. Lees die Woord van God gereeld saam met jou maat. Op hierdie manier “hoor” jy God se woorde oor hoe jy van dag tot dag moet optree (Jesaja 30:21). Net ’n woordjie van waarskuwing: Moenie die Bybel as ’n lat gebruik om jou maat mee te slaan deur gedurig na tekste te verwys wat jy meen jou maat nie toepas nie. Probeer eerder sien hoe julle albei kan toepas wat julle lees.

As julle ’n moeilike probleem probeer oplos, kan julle gerus in die Watch Tower Publications Index a kyk vir inligting wat oor julle spesifieke probleem handel. Dalk sien julle om na bejaarde ouers en veroorsaak dit spanning in julle huwelik. Moenie argumenteer oor wat jou maat behoort of nie behoort te doen nie, maar sit eerder saam en raadpleeg die Index. Kyk eerstens na die hoofopskrif “Parents”. Julle kan dalk na ander verwysings onder die onderhofies kyk, soos “caring for aged parents”. Lees die verwante artikels in die publikasies van Jehovah se Getuies saam deur. Jy sal dalk verbaas wees om te sien hoeveel jy en jou maat kan baat vind by die Bybelse inligting, wat baie opregte Christene gehelp het.

As julle die verwysings naslaan en die materiaal saam deurlees, sal dit julle help om julle probleem in die regte perspektief te sien. Julle sal skriftuurlike aanhalings en teksverwysings vind wat julle God se denke oor die saak sal gee. Slaan dit in die Bybel na en lees dit saam. Ja, julle sal hoor wat God oor julle probleem sê!

Hou die kommunikasiekanale oop

Het jy al ooit probeer om ’n deur oop te maak wat ’n ruk lank nie gebruik is nie? Al krakend gee die geroeste skarniere geleidelik mee. Maar gestel die deur word gereeld gebruik en die skarniere is goed geolie. Dan sal dit maklik wees om oop te maak. Dieselfde is waar wat die deur van kommunikasie betref. As jy ’n gewoonte daarvan maak om te kommunikeer en die skarniere van die deur van kommunikasie met Christelike liefde olie, sal jy jou gedagtes makliker kan oordra, selfs wanneer daar ernstige meningsverskille is.

Jy moet iewers begin. Hoewel kommunikasie aanvanklik baie inspanning kan verg, moet jy hard daaraan werk. Dan kan jy uiteindelik ’n gemakliker verhouding met jou maat geniet, wat tot blywende begrip tussen julle sal lei.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 7]

Sal julle God se leiding soek wanneer julle ’n meningsverskil het?