Vrae van lesers
Vrae van lesers
Wat kan iemand wat deur demone geteister word, doen om verligting te kry?
God se Woord toon dat diegene wat demoonaanvalle ondervind, van hierdie teistering bevry kan word. Gebed speel ’n noodsaaklike rol in hierdie bevryding (Markus 9:25-29). Maar iemand wat deur demone geteister word, sal dalk nog ander stappe moet doen. Gebeure waarby die eerste-eeuse Christene betrokke was, lig toe wat moontlik verder nodig is.
Voordat hulle volgelinge van Christus geword het, was party in eertydse Efese betrokke by demonisme. Maar nadat hulle besluit het om God te dien, het “dié wat toorkunste beoefen het, . . . hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand” (Handelinge 19:19). Deur hulle boeke oor waarsêery te vernietig, het daardie nuwe gelowiges in Efese ’n voorbeeld gestel vir enigiemand wat hom vandag van demoonaanvalle wil bevry. Dit is uiters noodsaaklik dat hierdie mense ontslae raak van alle voorwerpe wat met spiritisme verband hou. Dit sluit in boeke, tydskrifte, rolprente, materiaal uit elektroniese bronne, musiekopnames wat ’n spiritistiese inslag het sowel as gelukbringers of ander items wat vir “beskerming” gedra word of met spiritistiese gebruike verband hou.—Deuteronomium 7:25, 26; 1 Korintiërs 10:21.
’n Paar jaar nadat daardie Christene in Efese hulle boeke oor die toorkuns vernietig het, het die apostel Paulus geskryf: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte” (Efesiërs 6:12). Paulus het Christene gemaan: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette [“listige dade”, voetnoot in NW] van die Duiwel” (Efesiërs 6:11). Daardie raad geld vandag nog. Christene moet hulle geestelike verdedigingstelsel versterk sodat hulle buite die bereik van bose geeste kan bly. “Neem bowenal die groot skild van geloof op”, het Paulus beklemtoon, “waarmee julle al die brandende pyle van die bose sal kan blus” (Efesiërs 6:16). Ons geloof word deur Bybelstudie versterk (Romeine 10:17; Kolossense 2:6, 7). Gereelde Bybelstudie help ons dus om geloof op te bou wat as ’n skans teen die invloed van bose geeste dien.—Psalm 91:4; 1 Johannes 5:5.
Daardie Christene in Efese moes nog ’n belangrike stap doen. Paulus het vir hulle gesê: “[Hou aan om] met elke vorm van gebed en smeking . . . by elke geleentheid in gees te bid” (Efesiërs 6:18). Ja, vir diegene wat vandag van demoonaanvalle bevry wil word, is dit uiters noodsaaklik om vurig vir Jehovah se beskerming te bid (Spreuke 18:10; Matteus 6:13; 1 Johannes 5:18, 19). Die Bybel sê gepas: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—Jakobus 4:7.
Hoewel die persoon wat deur die demone aangeval word, vurig moet bid vir verligting, kan ander ware Christene ook bid ten behoewe van die persoon wat Jehovah graag wil dien en hard probeer om bose geesmagte te weerstaan. Hulle kan God vra dat die een wat deur demone geteister word, die geestelike krag kan verkry om demoonaanvalle te weerstaan. Aangesien God se Woord sê dat ‘die smeking van ’n regverdige groot krag het wanneer dit aan die werk is’, sal gebede deur God se knegte ongetwyfeld geteisterdes help wat hulle uiterste bes doen om ‘die Duiwel teë te staan’.—Jakobus 5:16.
[Prent op bladsy 31]
Gelowiges in Efese het hulle boeke oor die toorkuns vernietig