Moenie vrees nie—Jehovah is met jou!
Moenie vrees nie—Jehovah is met jou!
MEER as 50 jaar gelede, kort nadat die eerste kernbomme ontplof het, het die wetenskaplike Harold C. Urey, ’n Nobelpryswenner, van die toekoms gesê: “Ons sal in vrees eet, in vrees slaap, in vrees lewe en in vrees sterf.” Vrees oefen inderdaad ’n wurggreep uit op die wêreld waarin ons vandag lewe, en dit is geen wonder nie! Koerante berig daagliks oor angswekkende terreurdade, geweldsmisdade en geheimsinnige siektes.
As Christene weet ons wat hierdie toestande beteken. Dit toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel lewe, wat volgens die voorspellings in die Bybel gekenmerk sou word deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Ons vertroue word dus versterk dat Jehovah God binnekort ’n nuwe wêreld tot stand gaan bring waarin regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13). Maar is ons intussen immuun teen vrees?
Vrees en God se knegte
Jakob, Dawid en Elia was onder Jehovah se knegte wat ’n mate van vrees ervaar het toe hulle voor potensiële gevaar te staan gekom het (Genesis 32:6, 7; 1 Samuel 21:11, 12; 1 Konings 19:2, 3). Hierdie manne het nie ’n gebrek aan geloof gehad nie. Inteendeel, hulle het onwrikbare vertroue in Jehovah getoon. Jakob, Dawid en Elia was nietemin menslik; gevolglik was hulle onderhewig aan vrees. “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n”, het die dissipel Jakobus geskryf.—Jakobus 5:17.
Ons voel dalk ook angstig as ons dink aan ’n struikelblok waarmee ons nou te kampe het of een waarvoor ons in die toekoms te staan kan kom. Dit is te verstane. Die Bybel sê immers dat Satan die Duiwel vasbeslote is om “oorlog te voer” teen diegene “wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:17). Hoewel hierdie woorde spesifiek op gesalfde Christene van toepassing is, het Paulus geskryf: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Nogtans hoef vrees ons nie te oorweldig wanneer ons voor probleme te staan kom nie. Waarom nie?
“’n God van reddingsdade”
Die psalmis Dawid het geskryf: “Die ware God is vir ons ’n God van reddingsdade” (Psalm 68:20). Jehovah het sy vermoë om sy volk te red, herhaaldelik getoon deur hulle uit gevaarlike situasies te verlos of hulle die krag te gee om te volhard (Psalm 34:17; Daniël 6:22; 1 Korintiërs 10:13). Hoeveel van hierdie “reddingsdade” kan jy uit jou studie van die Bybel onthou?
Deur die Watch Tower Publications Index a te gebruik, kan jy gerus navorsing doen oor werklike gebeurtenisse soos die aardwye Vloed van Noag se dag, die verlossing van Lot en sy dogters uit Sodom en Gomorra, Israel se uittog uit Egipte en hulle trek deur die Rooi See, of Haman se mislukte komplot om die Jode te vernietig. Wanneer jy sulke opwindende verslae lees en dan daaroor peins, sal dit jou geloof versterk dat Jehovah ’n God van reddingsdade is. Dít sal jou dan help om toetse van jou geloof onbevrees te verduur.
Hedendaagse voorbeelde
Kan jy dink aan hedendaagse voorbeelde van volharding in jou omgewing? Dit kan iemand wees wat weens sy getroue weg in die
tronk gestop is. Jy weet dalk van ’n bejaarde Christen wat Jehovah ten spyte van swak gesondheid dien. Of dink aan jongmense wat afgeskeie van die wêreld bly ten spyte van geweldige druk van hulle skoolmaats. Dan is daar enkelouers wat sonder ’n huweliksmaat kinders grootmaak of ongetroudes wat Jehovah dien al voel hulle eensaam. Wat kan jy by hierdie persone leer? As jy oor hulle getroue weg nadink, kan dit jou help om te volhard en onbevrees te bly ondanks enige beproewing waarvoor jy te staan kom.Ons moet onbevrees wees, nie net wanneer ons voor teenstand en vervolging te staan kom nie, maar ook as ons begin twyfel aan Jehovah se liefde vir ons. Ons moet die vertroue opbou dat Christus se losprys ten behoewe van ons as individue aangewend word (Galasiërs 2:20). Dan kan ons Jehovah sonder ongepaste vrees nader. As ons voel dat ons Jehovah se liefde nie waardig is nie, kan ons nadink oor Jesus se woorde aan sy volgelinge: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matteus 10:29-31.
Die Wagtoring en Ontwaak! publiseer gereeld ondervindinge van hedendaagse Getuies van Jehovah wat uitdagings onbevrees die hoof gebied het. Dit beteken nie dat hulle nie negatiewe gevoelens oor hulle situasie gehad het nie. Maar hulle het nie toegelaat dat hierdie gevoelens hulle laat ophou om Jehovah te dien nie. Hulle gepubliseerde ondervindinge kan jou ook help om onbevrees te volhard. Beskou twee voorbeelde.
’n Besering het sy lewe verander
Die Ontwaak! van 22 April 2003 het die artikel “Hoe ’n besering my lewe verander het” bevat. Daarin vertel Stanley Ombeva, een van Jehovah se Getuies in Kenia, van die uitdagings waarvoor hy te staan gekom het toe ’n motor hom raakgery het. Toe sy gesondheid agteruitgegaan het, het hy sy werk verloor, sowel as al die voordele wat dit gebied het. Broer Ombeva erken in sy verhaal: “Ek [het] negatief, selfsugtig en geïrriteerd geraak . . . namate ek die erns van my toestand besef het. By tye was ek kwaad en verbitterd.” Ten spyte van sy beproewing het hierdie Christenman onbevrees gebly. Hy het nie toegelaat dat teleurstelling hom oorweldig en maak dat hy heeltemal moed opgee nie. Hy het eerder op Jehovah vertrou. “Hy het my altyd deur al my beproewinge heen ondersteun—in so ’n mate dat ek my partykeer geskaam het”, sê broer Ombeva. “Ek het my voorgeneem om tekste wat ek geweet het my in my situasie sou vertroos, te lees en daaroor te peins.”
Broer Ombeva se eerlike kommentare het baie ander in staat gestel om beproewinge onbevrees te verduur. “Ek het gehuil toe ek hierdie artikel gelees het”, het een Christensuster geskryf. “Ek het gevoel dat Jehovah deur hierdie artikel sy geneentheid en liefdevolle sorg openbaar en my vertroos.” ’n Ander Getuie het geskryf: “Sulke artikels is baie aanmoedigend vir dié van ons wat in soortgelyke situasies is en in stilte ly.”
Hoe om emosionele probleme te verwerk
Nog ’n roerende ondervinding is dié van Herbert Jennings, wat in die artikel “Julle weet b vertel word. Broer Jennings ly aan bipolêre versteuring. Wanneer hy terugdink aan die vroeë dae van sy siekte, sê hy: “Dit was werklik ’n stryd net om Christelike vergaderinge by te woon. Ek was nietemin vas oortuig van die waarde van geestelike omgang. Om dit makliker te maak, het ek gewoonlik by die Koninkryksaal ingestap nadat almal gaan sit het en uitgeloop net voordat almal aan die einde van die program begin rondbeweeg het.”
nie wat julle lewens môre sal wees nie”Dit was ook moeilik om die predikingswerk te doen. “Soms het ek by ’n huis aangekom, maar kon dit net nie regkry om die deurklokkie te lui nie”, vertel broer Jennings. “Ek het egter nie tou opgegooi nie omdat ek besef het dat ons bediening redding beteken vir onsself en vir enigeen wat gunstig reageer (1 Timoteus 4:16). Ná ’n ruk sou ek dan my gevoelens onder beheer kry, na die volgende deur gaan en weer probeer. Deur met die bediening vol te hou, het ek geestelik redelik gesond gebly, en dit het my gehelp om die mas op te kom.”
Broer Jennings se eerlike verslag het baie lesers gehelp om hulle probleme met dieselfde onbevreesdheid die hoof te bied. Een Christensuster het byvoorbeeld geskryf: “In die 28 jaar wat ek Die Wagtoring en Ontwaak! lees, was ek nog nooit so diep getref soos toe ek hierdie artikel gelees het nie. Ek moes my voltydse diens laat vaar en het baie skuldig gevoel, want ek het geredeneer dat ek sou kon voortgaan as ek net meer geloof gehad het. Toe ek lees hoe broer Jennings ’n toewysing as gevolg van sy siekte moes prysgee, het dit my gehelp om ’n gebalanseerde beskouing van my situasie te kry. Dit was beslis ’n antwoord op my gebede!”
’n Christenbroer het eweneens geskryf: “Nadat ek tien jaar lank as ’n gemeentelike ouer man gedien het, moes ek my voorreg prysgee as gevolg van ’n geestesiekte. Die gevoel dat ek ’n mislukking is, was so erg dat ek dit dikwels te neerdrukkend gevind het om lewensverhale te lees, wat dikwels vertel van buitengewone prestasies van Jehovah se knegte. Maar broer Jennings se volharding het my versterk. Ek het die artikel al telkemale deurgelees.”
Gaan met vertroue vooruit
Soos broers Ombeva en Jennings, gaan baie van Jehovah se Getuies voort om Jehovah God onbevrees te aanbid, ten spyte van oorweldigende beproewinge. As jy een van hulle is, verdien jy om geprys te word. Wees verseker: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.
Net soos Jehovah sy getroue knegte van die ou tyd gehelp het om hulle vyande te oorwin, kan hy jou help om die oorwinning te behaal oor enige struikelblok waarvoor jy moontlik te staan kom. Neem derhalwe die woorde van Jehovah ter harte wat hy deur middel van die profeet Jesaja gespreek het: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”—Jesaja 41:10.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Sien Die Wagtoring van 1 Desember 2000, bladsy 24-8.
[Prente op bladsy 16]
Soos Stanley Ombeva (bo) en Herbert Jennings (regs) is daar baie wat Jehovah onbevrees dien
[Foto-erkenning op bladsy 14]
USAF photo