Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My lewe het verander toe ek leer waarom God lyding toelaat

My lewe het verander toe ek leer waarom God lyding toelaat

Lewensverhaal

My lewe het verander toe ek leer waarom God lyding toelaat

SOOS VERTEL DEUR HARRY PELOYAN

Waarom laat God lyding toe? Hierdie vraag het my gekwel vandat ek ’n klein seuntjie was. My ouers was hardwerkende, eerlike mense, wat hulle gesin as belangrik beskou het. Maar my pa was glad nie godsdienstig nie, en my ma was net ’n bietjie godsdienstig. Hulle kon dus nie daardie vraag vir my beantwoord nie.

EK HET selfs meer oor daardie vraag gewonder gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog, toe ek meer as drie jaar lank in die Amerikaanse Vloot gedien het. Ná die oorlog is ek oorgeplaas na ’n skip wat na China gestuur is om noodlenigingsvoorraad af te lewer. Ek was byna ’n jaar lank daar en het grootskaalse lyding gesien.

Die Chinese is hardwerkende, intelligente mense. Maar baie het groot ontberinge deurgemaak as gevolg van armoede sowel as die geweld wat deur die Tweede Wêreldoorlog ontketen is. Wat my veral ontstel het, was die arme ou kindertjies, van wie baie, ondervoed en in vodde geklee, by ons gebedel het wanneer ons aan wal gegaan het.

Waarom?

Ek is in 1925 gebore en het in Kalifornië, VSA, grootgeword. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Daarom het ek my keer op keer afgevra: ‘As daar ’n almagtige Skepper is, waarom sou hy toelaat dat soveel mense, veral onskuldige kinders, deur sulke toestande geteister word?’

Ek het ook gewonder waarom God, as hy wel bestaan het, sou toelaat dat die mensdom deur die eeue heen hierdie soort vernietiging, massamoord, dood en lyding ervaar—veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe meer as 50 miljoen mense hulle lewe verloor het. Wat meer is, waarom het mense van dieselfde godsdiens, onder aansporing van hulle geestelikes, mekaar tydens daardie oorlog doodgemaak net omdat hulle van verskillende nasionaliteite was?

Die teleskoop

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het en ’n grootskaalse slagting onder die mensdom plaasgevind het, het ek gevoel dat daar nie ’n God kan wees nie. Toe, gedurende ’n wetenskapkursus op hoërskool, is daar van elkeen van die leerders verwag om iets van ’n wetenskaplike aard te bou. Aangesien ek in sterrekunde belanggestel het, het ek besluit om ’n groot spieëlteleskoop te bou, waarvan die spieël ’n deursnee van 20 sentimeter sou hê.

Om hierdie teleskoop te bou, het ek ’n stuk glas gekoop wat meer as 2,5 sentimeter dik en 20 sentimeter breed was en ’n glassnyer gevra om dit rond te sny. Toe het ek die moeisame taak aangepak om dit met die hand te slyp om ’n holronde spieël daarvan te maak. Dit het ’n hele kwartaal lank al my vrye tyd in beslag geneem. Toe die spieël klaar was, het ek dit in ’n lang metaalbuis vasgesit en oogstukke van verskillende sterktes op die teleskoop aangebring.

Op ’n helder, maanlose nag het ek my voltooide teleskoop vir die eerste keer buitentoe geneem en dit op die sterre en die planete van ons sonnestelsel ingestel. Ek was verstom oor hoeveel hemelliggame daar was en hoe goed georganiseerd alles was. En toe ek uitvind dat party “sterre” in werklikheid sterrestelsels soos ons Melkweg is, wat elk miljarde sterre bevat, was ek selfs meer verstom.

‘Al hierdie dinge’, het ek gedink, ‘kon tog sekerlik nie net vanself ontstaan het nie. Niks wat georganiseerd is, kom per toeval tot stand nie. Die heelal is so goed georganiseerd dat dit lyk asof ’n genie dit gemaak het. Is daar dalk wel ’n God?’ Die ondervinding met die teleskoop het my laat afsien van die dogmatiese ateïstiese beskouing wat ek voorheen gehad het.

Toe het ek my afgevra: ‘As daar dan wel ’n God is wat so kragtig en wys is dat hy hierdie verstommende heelal kon skep, kan hy dan nie die droewige situasie op die aarde regstel nie? Waarom het hy in die eerste plek toegelaat dat daar soveel ellende is?’ Wanneer ek hierdie vrae aan godsdienstige mense gestel het, kon hulle my nie bevredigende antwoorde gee nie.

Nadat ek my hoërskoolopleiding voltooi het en ’n paar jaar op universiteit deurgebring het, het ek by die Amerikaanse Vloot aangesluit. Maar die kapelane kon ook nie regtig my vrae beantwoord nie. Godsdienstige mense het alte dikwels iets gesê soos: “Die Here se weë is moeilik om te verstaan.”

My soeke gaan voort

Nadat ek weg is uit China, het my vrae oor waarom God lyding toelaat, my bly kwel. Ek kon dit nie uit my gedagtes kry nie, veral nie wanneer ek oorlogsbegraafplase gesien het op die verskillende eilande in die Stille Oseaan waar ons op pad huis toe aangedoen het nie. Byna al die grafte was van jong manne wie se lewe skaars begin het.

Toe ek na die Verenigde State teruggekeer het en uit die vloot ontslaan is, moes ek nog een studiejaar voltooi aan Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Ek het ná daardie jaar my graad gekry, maar ek het nie huis toe gegaan na Kalifornië nie. Ek het besluit om ’n ruk lank aan die Ooskus te bly om antwoorde op my vrae te probeer vind. Ek wou graag na New York-stad gaan, waar daar baie godsdienste was, om van die dienste daar by te woon en uit te vind wat hulle leer.

In New York het my tante, Isabel Kapigian, my genooi om by haar te kom bly. Sy en haar twee dogters, Rose en Ruth, was Jehovah se Getuies. Omdat ek nie gedink het dat ek in hulle opvattings sou belangstel nie, het ek die dienste van ander godsdienste begin bywoon, met die mense gesels en hulle lektuur gelees. Ek het hulle gevra waarom God lyding toelaat, maar hulle het net so min geweet wat die antwoord is as ek. Ek het tot die slotsom gekom dat daar dalk tog nie ’n God is nie.

Ek vind die antwoorde

Later het ek my tante en haar dogters gevra of ek van hulle lektuur kan lees om te sien wat Jehovah se Getuies glo. Toe ek die publikasies gelees het, het ek gou besef dat die Getuies baie van ander godsdienste verskil. Die antwoorde was uit die Bybel en was baie bevredigend. Binne ’n kort tydjie was my vrae oor waarom God lyding toelaat, beantwoord.

Dit was nie al nie; ek kon ook sien dat Jehovah se Getuies se dade ooreenstem met hulle Bybelse antwoorde. Byvoorbeeld, ek het my tante gevra wat die jong manne wat Jehovah se Getuies was, gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland gedoen het. Het hulle daar by die leër aangesluit, “Heil Hitler!” gesê en die swastikavlag gesalueer? Haar antwoord was nee, hulle het nie. En weens hulle neutrale standpunt is hulle na konsentrasiekampe gestuur, waar baie van hulle vermoor is. Sy het verduidelik dat Jehovah se Getuies in alle wêrelddele dieselfde standpunt tydens die oorlog ingeneem het—hulle was neutraal. Selfs in demokratiese lande is jong manne onder Jehovah se Getuies weens hulle neutrale standpunt in die tronk gegooi.

My tante het my toe gevra om Johannes 13:35 te lees, wat sê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Ware Christene moet hierdie liefde, wat ’n identifiserende kenmerk is, op internasionale skaal betoon. Hulle sal nooit teenoorgestelde kante in oorloë ondersteun en mekaar doodmaak omdat hulle van verskillende nasionaliteite is nie! Sy het gevra: “Kan jy jou voorstel dat Jesus en sy dissipels ooit teenoorgestelde kante in Rome se oorloë sou ondersteun en mekaar sou doodmaak?”

Sy het my ook 1 Johannes 3:10-12 laat lees. Dit sê: “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. . . . Ons [moet] liefde vir mekaar . . . hê; nie soos Kain, wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer doodgemaak het nie.”

Die Bybel is duidelik. Ware Christene het mekaar lief, ongeag van watter nasie hulle is. Hulle sal dus nooit hulle geestelike broers of enigiemand anders doodmaak nie. Dit is waarom Jesus van sy volgelinge kon sê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—Johannes 17:16.

Waarom lyding toegelaat word

Ek het weldra gesien dat die Bybel vir ons sê waarom God lyding toelaat. Dit verduidelik dat God ons eerste ouers volmaak geskep het en hulle in ’n paradystuin geplaas het (Genesis 1:26; 2:15). Hy het hulle ook ’n baie begeerlike gawe gegee—wilsvryheid. Maar hulle moes hierdie vermoë op verantwoordelike wyse gebruik. As hulle gehoorsaam aan God en sy wette was, sou hulle in volmaaktheid in ’n paradys bly lewe het. Hulle sou die grense van daardie paradys uitgebrei het totdat die hele aarde ’n paradys was. Hulle nageslag sou ook volmaak gewees het, sodat hierdie aarde mettertyd ’n glorieryke paradys vol volmaakte, gelukkige mense sou gewees het.—Genesis 1:28.

Maar as Adam en Eva sou kies om hulle eie weg, onafhanklik van God, in te slaan, sou hy nie langer hulle lewe in volmaaktheid onderhou nie (Genesis 2:16, 17). Ongelukkig vir die mensdom, het ons eerste ouers hulle wilsvryheid misbruik en gekies om onafhanklik van God te wees. Hulle is aangehits deur ’n opstandige geesskepsel wat later Satan die Duiwel genoem is. Hy het onafhanklikheid van God begeer, asook die aanbidding wat God alleen toekom.—Genesis 3:1-19; Openbaring 4:11.

Satan het sodoende “die god van hierdie stelsel van dinge” geword (2 Korintiërs 4:4). Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Jesus het Satan “die heerser van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). Die ongehoorsaamheid van Satan en ons eerste ouers het onvolmaaktheid, geweld, die dood, droefheid en lyding oor die hele mensdom gebring.—Romeine 5:12.

“Dit behoort nie aan die mens”

Om te toon wat dit vir die mensegesin sou beteken om die Skepper se wette te ignoreer, het God toegelaat dat die gevolge hiervan duisende jare lank voortduur. Hierdie tydperk het genoegsame geleentheid vir die hele mensdom gebied om die waarheid in te sien van die Bybel se woorde dat “aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie. Wys my tereg, o Jehovah.”—Jeremia 10:23, 24.

Nou, na al hierdie eeue, kan ons sien dat heerskappy wat onafhanklik van God is, rampspoedig is. God se voorneme is dus om nie langer toe te laat dat die mens hierdie noodlottige eksperiment van onafhanklikheid van hom en sy wette voortsit nie.

’n Wonderlike toekoms

Bybelprofesieë toon dat God binnekort hierdie bose, wrede stelsel van dinge tot ’n einde gaan bring: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.

’n Profesie in Daniël 2:44 sê: “In die dae van dié konings [alle vorme van heerskappy wat nou bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.” Menseheerskappy sal nooit weer toegelaat word nie. Die hele aarde sal deur God se Koninkryk regeer word. Onder die administrasie daarvan sal die hele aarde in ’n paradys omskep word en die mensdom tot volmaaktheid gebring word sodat hulle vir ewig in geluk sal kan lewe. Die Bybel belowe: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Wat ’n wonderlike toekoms stel God tog vir ons in die vooruitsig!

My lewe verander

Die bevredigende antwoorde wat ek op my vrae gekry het, het my lewe verander. Van toe af wou ek God dien en ander help om hierdie antwoorde te vind. Ek het die erns besef van die woorde in 1 Johannes 2:17: “Die wêreld [hierdie huidige stelsel van dinge onder Satan se heerskappy] gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Ek wou graag vir ewig in God se nuwe wêreld lewe. Ek het besluit om in New York te bly, waar ek met ’n gemeente van Jehovah se Getuies begin assosieer het en talle goeie ondervindinge geniet het terwyl ek ander help leer het wat ek geleer het.

In 1949 het ek Rose Marie Lewis ontmoet. Sy, haar ma Sadie en haar ses susters was almal Jehovah se Getuies. Rose het God in die voltydse predikingswerk gedien. Sy het talle goeie eienskappe gehad, en ek het dadelik tot haar aangetrokke gevoel. Ons is in Junie 1950 getroud en het in New York gebly. Ons was gelukkig in wat ons gedoen het en het ons verbly in die hoop om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe.

In 1957 is ek en Rose Marie genooi om voltyds by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York, te dien. Teen Junie 2004 was ons 54 jaar lank gelukkig getroud, waarvan ons 47 by die hoofkwartier in Brooklyn deurgebring het. Dit was geseënde jare waarin ons Jehovah gedien het en sy aan sy met duisende medegelowiges gewerk het.

My ergste lyding

Ongelukkig is daar vroeg in Desember 2004 vasgestel dat Rose Marie ’n kankeragtige gewas in een van haar longe het. Deskundiges was dit eens dat dit vinnig groei en verwyder moes word. Die operasie is later in Desember gedoen en omtrent ’n week daarna het die chirurg by Rose se hospitaalkamer ingekom terwyl ek daar was en gesê: “Rose Marie, jy kan huis toe gaan! Jy is gesond!”

Maar net ’n paar dae nadat Rose Marie huis toe gekom het, het sy verskriklike pyne in haar maag en elders begin kry. Dit het voortgeduur, en daarom is sy terug hospitaal toe vir verdere toetse. Daar is gevind dat bloedklonte in ’n paar van haar lewensorgane gevorm het wat verhinder het dat hierdie organe die nodige suurstof kry. Die dokters het alles in hulle vermoë gedoen om dit te probeer teëwerk, maar kon nie daarin slaag nie. Net ’n paar weke later, op 30 Januarie 2005, het ek die verpletterendste slag van my hele lewe ervaar. My geliefde Rose Marie is oorlede.

Ek was toe amper 80 jaar oud en het my lewe lank gesien hoe mense ly, maar wat ek nou ervaar het, was anders. Ek en Rose Marie was, soos die Bybel sê, “een vlees” (Genesis 2:24). Ek het die lyding van ander gesien en self gely wanneer vriende en familielede gesterf het. Maar die lyding wat ek ondervind het toe my vrou gesterf het, was baie intenser en het langer geduur. Ek besef nou ten volle watter ontsaglike droefheid die dood van geliefdes al so lank oor die mensdom bring.

Maar die feit dat ek verstaan waar lyding vandaan kom en hoe dit sal eindig, was ’n groot hulp. Psalm 34:18 sê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.” Iets wat ’n mens baie help om hierdie lyding te verduur, is die wete dat die Bybel leer dat daar ’n opstanding sal wees, dat dié in die grafte sal uitkom en die geleentheid sal hê om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe. Handelinge 24:15 sê dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees”. Rose Marie het ’n groot liefde vir God gehad. Ek is seker dat hy haar net so liefgehad het en dat hy haar sal onthou en op sy bestemde tyd sal terugbring, hopelik binnekort.—Lukas 20:38; Johannes 11:25.

Hoewel ’n mens groot droefheid ondervind wanneer jy ’n geliefde aan die dood afstaan, sal die vreugde wanneer jy ’n geliefde terugverwelkom, baie groter wees (Markus 5:42). God se Woord belowe: “U dooies sal lewe. . . . Die aarde sal selfs dié wat magteloos is in die dood, voortbring soos by ’n geboorte” (Jesaja 26:19). Baie van “die regverdiges” wat in Handelinge 24:15 genoem word, sal waarskynlik vroeg opgewek word. Hoe wonderlik sal daardie tyd tog wees! En Rose Marie sal onder diegene wees wat teruggebring word. Wat ’n groot verwelkoming sal sy tog van haar geliefdes ontvang! Hoe bevredigend sal dit wees om dan in ’n wêreld te lewe waar daar geen lyding is nie!

[Prente op bladsy 9]

Ek het lyding gesien terwyl ek in China gestasioneer was

[Prente op bladsy 10]

Ek dien sedert 1957 by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn

[Prent op bladsy 12]

Ek het in 1950 met Rose Marie getrou

[Prent op bladsy 13]

Op ons 50ste huweliksherdenking, in 2000