‘Kies die lewe en bly lewe’
‘Kies die lewe en bly lewe’
“Ek [het] jou die lewe en die dood voorgehou . . . , die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe.”—DEUTERONOMIUM 30:19.
1, 2. In watter opsigte is die mens na God se beeld geskep?
“LAAT ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis.” Hierdie woorde van God is in die eerste hoofstuk van die Bybel opgeteken. Daarop het “God . . . die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep”, vertel Genesis 1:26, 27. Die eerste mens het dus van al die ander skeppingswerke op aarde verskil. Hy was soos sy Skepper in die sin dat hy ’n gesindheid soos dié van God kon weerspieël in sy redenering, in die openbaring van liefde, geregtigheid, wysheid en mag. Hy het die gawe van ’n gewete gehad om hom te help om besluite te maak wat hom tot voordeel sou strek en sy hemelse Ouer sou behaag (Romeine 2:15). Kortom, Adam het wilsvryheid gehad. Jehovah het die samestelling van sy aardse seun waargeneem en sy handewerk so beoordeel: “Kyk! dit [is] baie goed.”—Genesis 1:31; Psalm 95:6.
2 As Adam se nakomelinge is ons ook na God se beeld en gelykenis gemaak. Maar het ons werklik ’n keuse in wat ons doen? Hoewel Jehovah die vermoë het om vooruit te weet wat gaan gebeur, word ons individuele dade en lot nie deur hom voorbestem nie. Hy laat nooit toe dat sy aardse kinders deur voorbeskikking beheer word nie. Om ons te help begryp dat dit belangrik is om ons wilsvryheid te gebruik om die regte keuses te maak, kan ons eerstens ’n les by die nasie Israel leer.—Romeine 15:4.
Keusevryheid in Israel
3. Wat was die eerste gebod van die Tien Gebooie, en hoe het getroue Israeliete gekies om dit te gehoorsaam?
3 “Ek is Jehovah jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het”, het Jehovah vir die Israeliete gesê (Deuteronomium 5:6). In 1513 v.G.J. is die nasie Israel op wonderdadige wyse uit slawerny in Egipte verlos, en daarom het hulle geen rede gehad om aan daardie woorde te twyfel nie. In die eerste gebod van die Tien Gebooie het Jehovah deur middel van sy woordvoerder Moses gesê: “Jy mag geen ander gode teen my aangesig hê nie” (Eksodus 20:1, 3). By daardie geleentheid het die nasie Israel gekies om gehoorsaam te wees. Hulle het Jehovah gewilliglik hulle uitsluitlike toegewydheid gegee.—Eksodus 20:5; Numeri 25:11.
4. (a) Watter keuse het Moses voor Israel gestel? (b) Watter keuse het ons vandag?
4 Sowat 40 jaar later het Moses ’n ander geslag Israeliete kragtig herinner aan die keuse voor hulle. “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle”, het hy gesê, “dat ek jou die lewe en die dood voorgehou het, die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). Ons het ook vandag ’n keuse. Ja, ons kan kies om Jehovah getrou te dien met die ewige lewe in die vooruitsig of ons kan kies om ongehoorsaam aan hom te wees en die gevolge te dra. Beskou twee voorbeelde van mense wat teenoorgestelde keuses gemaak het.
5, 6. Watter keuse het Josua gemaak, en met watter gevolg?
5 In 1473 v.G.J. het Josua die Israeliete in die Beloofde Land ingelei. In ’n kragtige vermaning wat Josua voor sy dood gegee het, het hy die hele nasie versoek: “As dit sleg is in julle oë om Jehovah te dien, kies dan vandag vir julle wie julle sal dien, hetsy die gode wat julle voorvaders gedien het wat aan die oorkant van die Rivier was, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon.” Toe het hy met verwysing na sy gesin gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien.”—Josua 24:15.
6 Vroeër het Jehovah Josua aangespoor om moedig en sterk te wees en hom beveel om nie af te wyk van gehoorsaamheid aan God se Wet nie. As Josua die Wetboek dag en nag op gedempte toon sou lees, sou hy sy weg suksesvol kon maak (Josua 1:7, 8). En dit is wat gebeur het. Josua se keuse het tot seëninge gelei. “Geen belofte van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie”, het Josua gesê. “Alles is bewaarheid.”—Josua 21:45.
7. Watter keuse het party Israeliete in Jesaja se dag gemaak, en met watter gevolge?
7 Beskou in teenstelling hiermee die situasie in Israel sowat 700 jaar later. Teen daardie tyd het baie Israeliete heidense gebruike gevolg. Byvoorbeeld, op die laaste dag van die jaar het mense bymekaargekom om ’n tafel wat gedek was met allerhande smaaklike kossoorte en soetwyn. Dit was nie maar net ’n familiegeselligheid nie. Dit was ’n godsdiensseremonie ter ere van twee heidense gode. Die profeet Jesaja het God se beskouing van hierdie ontrouheid opgeteken: “Julle is dié wat Jehovah verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel vir die Geluksgod dek en wat gemengde wyn vir die god van die Noodlot skink.” Volgens hulle het die jaar se oes nie van Jehovah se seën afgehang nie, maar daarvan dat hulle “die Geluksgod” en “die god van die Noodlot” paai. Maar hulle lot is in werklikheid deur hulle opstandige weg en hulle doelbewuste keuse bepaal. “Ek sal julle vir die swaard bestem”, het Jehovah gesê, “en julle sal almal buig om geslag te word; want ek het geroep, maar julle het nie geantwoord nie, ek het gepraat, maar julle het nie geluister nie; en julle het bly doen wat sleg was in my oë en gekies wat my glad nie behaag het nie” (Jesaja 65:11, 12). Hulle onverstandige keuse het vernietiging oor hulle gebring, en die god van die Noodlot en die Geluksgod was magteloos om dit te keer.
Maak die regte keuse
8. Wat is volgens Deuteronomium 30:20 daarby betrokke om die regte keuse te maak?
8 Toe Moses Israel aangespoor het om die lewe te kies, het hy drie stappe uiteengesit wat hulle moes neem: “Deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef” (Deuteronomium 30:20). Kom ons ondersoek elkeen van hierdie stappe sodat ons die regte keuse kan maak.
9. Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah toon?
9 Deur Jehovah ons God lief te hê: Ons kies om Jehovah te dien omdat ons hom liefhet. Ons slaan ag op die waarskuwende voorbeelde uit Israel se dag en weerstaan gevolglik alle versoekings om onsedelik te wees en vermy lewenstyle wat ons in die wêreld se materialisme verstrik kan laat raak (1 Korintiërs 10:11; 1 Timoteus 6:6-10). Ons kleef Jehovah aan en onderhou sy voorskrifte (Josua 23:8; Psalm 119:5, 8). Voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses hulle vermaan: “Kyk, ek het julle voorskrifte en regterlike beslissings geleer, net soos Jehovah my God my beveel het, sodat julle so kan doen in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. En julle moet dit onderhou en dit nakom, want dit is wysheid en begrip van julle kant voor die oë van die volke wat van al hierdie voorskrifte sal hoor” (Deuteronomium 4:5, 6). Dit is nou die tyd om ons liefde vir Jehovah te toon deur Jehovah se wil eerste in ons lewe te stel. Ons sal beslis geseën word as ons kies om dit te doen.—Matteus 6:33.
10-12. Watter lesse leer ons wanneer ons let op wat in die dae van Noag gebeur het?
10 Deur na God se stem te luister: Noag was “’n prediker van regverdigheid” (2 Petrus 2:5). Feitlik al die mense wat in die wêreld voor die Vloed gelewe het, was behep met hulle eie strewes en het ‘geen ag geslaan’ op Noag se waarskuwings nie. Die gevolg? “Die vloed [het] gekom en hulle almal weggesleur.” Jesus het gewaarsku dat ons dag, gedurende “die teenwoordigheid van die Seun van die mens”, dieselfde sou wees. Wat in Noag se dag gebeur het, dien vandag as ’n kragtige waarskuwing vir mense wat kies om nie op God se boodskap ag te slaan nie.—Matteus 24:39.
11 Diegene wat spot met die goddelike waarskuwings wat deur God se hedendaagse knegte gegee word, moet besef wat dit gaan beteken as hulle versuim om op die waarskuwings ag te slaan. Die apostel Petrus het van sulke spotters gesê: “Ooreenkomstig hulle wens ontgaan hierdie feit hulle aandag, dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is. Maar deur dieselfde woord is die hemele en die aarde wat nou is, vir die vuur weggelê en word dit bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:3-7.
12 Stel dit teenoor die keuse wat Noag en sy gesin gemaak het. “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou.” Die feit dat hy op die waarskuwing ag geslaan het, het redding vir sy huisgesin beteken (Hebreërs 11:7). Mag ons net so gou wees om God se boodskap te hoor en dan gehoorsaam daarop ag te slaan.—Jakobus 1:19, 22-25.
13, 14. (a) Waarom is dit noodsaaklik om ‘Jehovah aan te kleef’? (b) Hoe moet ons Jehovah, “ons Pottebakker”, toelaat om ons te vorm?
13 Deur Jehovah aan te kleef: Om ‘die lewe te kies en te bly lewe’, behels nie net dat ons Jehovah moet liefhê en na hom moet luister nie, maar ook dat ons ‘Jehovah moet aankleef’, dit wil sê daarin volhard om sy wil te doen. “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf”, het Jesus gesê (Lukas 21:19). Die keuse wat ons in hierdie verband maak, openbaar in werklikheid wat in ons hart is. “Gelukkig is die man wat voortdurend vrees, maar hy wat sy hart verhard, sal in rampspoed val”, sê Spreuke 28:14. Farao van eertydse Egipte was ’n voorbeeld hiervan. Toe elkeen van die Tien Plae oor Egipte gekom het, het Farao nie godvrugtige vrees aan die dag gelê nie, maar eerder sy hart verhard. Jehovah het Farao nie gedwing om ’n ongehoorsame weg te volg nie, maar het daardie trotse heerser toegelaat om te kies. Hoe dit ook al sy, Jehovah se wil is volbring, soos die apostel Paulus aangaande Jehovah se beskouing van Farao verduidelik het: “Juis om dié rede het ek jou laat voortbestaan, dat ek in verband met jou my krag kan toon, en dat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word.”—Romeine 9:17.
14 Eeue nadat Israel uit Farao se mag verlos is, het die profeet Jesaja gesê: “O Jehovah, u is ons Vader. Ons is die klei, en u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand” (Jesaja 64:8). Namate ons toelaat dat Jehovah ons vorm deur ons persoonlike studie en die toepassing van sy Woord, beklee ons ons geleidelik met die nuwe persoonlikheid. Ons word sagmoediger en meer vormbaar, wat dit vir ons makliker maak om Jehovah lojaal aan te kleef, omdat dit ons opregte begeerte is om hom te behaag.—Efesiërs 4:23, 24; Kolossense 3:8-10.
‘Jy moet dit bekend maak’
15. Aan watter tweevoudige verantwoordelikheid het Moses Israel volgens Deuteronomium 4:9 herinner?
15 Vir die vergaderde nasie Israel wat gereed was om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses gesê: “Let op jouself en gee goed ag op jou siel, sodat jy nie die dinge vergeet wat jou oë gesien het nie en sodat dit al die dae van jou lewe nie uit jou hart wyk nie; en jy moet dit aan jou kinders en aan jou kleinkinders bekend maak” (Deuteronomium 4:9). As die volk Jehovah se seën wou hê en voorspoedig wou wees in die land wat hulle binnekort sou beërf, moes hulle ’n tweevoudige verantwoordelikheid voor Jehovah hulle God nakom. Hulle moes nie die wonderlike dinge vergeet wat Jehovah voor hulle oë gedoen het nie, en hulle moes dit vir toekomstige geslagte leer. As God se knegte moet ons vandag dieselfde doen as ons ‘die lewe wil kies en bly lewe’. Watter dinge wat Jehovah ten behoewe van ons gedoen het, het ons met ons oë gesien?
16, 17. (a) Wat het Gileadopgeleide sendelinge in die Koninkrykspredikingswerk vermag? (b) Watter voorbeelde van onblusbare ywer ken jy?
16 Ons is verheug om te sien hoe Jehovah ons predikings- en dissipelmaakwerk geseën het. Sedert die opening van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in 1943 het sendelinge in baie lande die voortou geneem met die werk om dissipels te maak. Tot vandag toe het van die eerste gegradueerdes van hierdie skool steeds ’n ywer vir Koninkryksprediking, selfs al is hulle gevorderd in jare en worstel party met fisiese beperkings. Een goeie voorbeeld is Mary Olson, wat in 1944 aan Gilead gegradueer het. Sy het eers in Uruguay as ’n sendeling gedien, toe in Colombia, en sy dien nou in Puerto Rico. Hoewel fisiese probleme weens bejaardheid beperk wat sy kan doen, bly suster Olson entoesiasties oor die predikingswerk. Sy sit elke week tyd opsy om saam met die plaaslike verkondigers in die veldbediening te werk, waartydens sy haar kennis van Spaans gebruik.
17 Nancy Porter, wat nou ’n weduwee is, het in 1947 aan die Gileadskool gegradueer en dien nog steeds in die Bahamas. Sy is ook ’n sendeling wat besig bly met die predikingswerk. “Dit is ’n besondere bron van vreugde om vir ander Bybelwaarheid te leer”, vertel suster Porter in haar lewensverhaal. a “Dit gee my ’n ordelike geestelike roetine wat my lewe doelgerig en bestendig gemaak het.” Wanneer suster Porter en ander getroue knegte terugkyk, vergeet hulle nie wat Jehovah gedoen het nie. Wat van ons? Kyk ons met waardering na die manier waarop Jehovah die Koninkrykswerk in ons omgewing geseën het?—Psalm 68:11.
18. Wat kan ons leer wanneer ons die lewensverhale van sendelinge lees?
18 Ons is verheug oor wat hierdie bejaarde broers en susters al gedoen het en nog steeds doen. Dit is vir ons aanmoedigend om hulle lewensverhale te lees, want wanneer ons sien wat Jehovah vir hierdie getroues gedoen het, versterk dit ons vasbeslotenheid om Jehovah te dien. Lees jy gereeld hierdie opwindende verslae wat in Die Wagtoring gepubliseer word en peins jy daaroor?
19. Hoe kan Christenouers goed gebruik maak van die lewensverhale wat in Die Wagtoring gepubliseer word?
19 Moses het die Israeliete daaraan herinner dat hulle nie al die dinge wat Jehovah vir hulle gedoen het, moet vergeet nie en dat hierdie dinge al die dae van hulle lewe nie uit hulle hart moes wyk nie. Hy het toe nog ’n stap bygevoeg: “Jy moet dit aan jou kinders en aan jou kleinkinders bekend maak” (Deuteronomium 4:9). Ware verhale het ’n spesiale bekoring. Kinders het goeie voorbeelde nodig terwyl hulle grootword. Ongetroude susters kan lesse leer uit die getroue voorbeeld van ouer susters wie se lewensverhale in Die Wagtoring vertel word. Diens in ’n anderstalige gebied in hulle eie land bied broers sowel as susters meer geleenthede om besig te wees met die verkondiging van die goeie nuus. Christenouers, julle kan gerus die ondervindinge van getroue Gileadopgeleide sendelinge en ander gebruik om julle kinders aan te spoor om ’n lewe van voltydse diens te kies.
20. Wat moet ons doen om “die lewe [te] kies”?
20 Hoe kan elkeen van ons dan “die lewe kies”? Deur die wonderlike gawe van wilsvryheid te gebruik om vir Jehovah te toon dat ons hom liefhet en deur aan te hou om ons bes in sy diens te doen solank hy ons hierdie voorreg toelaat. “Want”, soos Moses gesê het, Jehovah “is jou lewe en die lengte van jou dae”.—Deuteronomium 30:19, 20.
[Voetnoot]
a Sien “Vreugdevol en dankbaar ondanks ’n hartverskeurende verlies” in Die Wagtoring van 1 Junie 2001, bladsye 23-7.
Kan jy onthou?
• Wat het jy geleer uit die voorbeelde van verskillende keuses wat ons bespreek het?
• Watter stappe moet ons neem om ‘die lewe te kies’?
• Watter tweevoudige verantwoordelikheid word ons aangespoor om na te kom?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 26]
‘Ek het jou die lewe en die dood voorgehou’
[Prent op bladsy 29]
Dit het redding vir Noag en sy gesin beteken om na God se stem te luister
[Prent op bladsy 30]
Mary Olson
[Prent op bladsy 30]
Nancy Porter