Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het my begeerte om ’n sendeling te wees, ryklik geseën

Jehovah het my begeerte om ’n sendeling te wees, ryklik geseën

Lewensverhaal

Jehovah het my begeerte om ’n sendeling te wees, ryklik geseën

Soos vertel deur Sheila Winfield da Conceição

’n Sendeling wat uit Afrika kom kuier het, het ons eenkeer vertel dat almal in haar gebied haar innooi en aandagtig na die goeie nuus van God se Koninkryk luister. ‘Hoe graag sal ek tog nie in so ’n gebied wil werk nie!’ het ek gedink. Daardie gesprek het in my, wat toe maar 13 jaar oud was, die begeerte gewek om ’n sendeling te word.

ONS gesin het egter baie vroeër van Jehovah begin leer. Een oggend in 1939 het twee netjies geklede jong mans aan ons deur geklop in Hemel Hempstead, net buite Groter Londen, Engeland. Hulle was Jehovah se Getuies. Ek is net die vorige jaar gebore; daarom onthou ek nie die besoek nie. In die hoop dat hulle sou weggaan, het my ma vir hulle gesê dat my pa dalk sal belangstel, maar dat hy eers teen nege-uur die aand sou terug wees. Hoe verbaas was sy tog toe hulle daardie selfde aand nog teruggekom het! My pa, Henry Winfield, het eers seker gemaak van hulle standpunt wat politieke en nasionalistiese aangeleenthede betref voordat hy hulle ingenooi en ’n Bybelstudie aanvaar het. Hy het gou tot doop gevorder. ’n Paar jaar later het my ma, Kathleen, ook begin studeer. Sy is in 1946 gedoop.

In 1948 het ek gereeld aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk begin deelneem. Ek het gedink dat ek ’n horlosie nodig sou hê om my tyd in die bediening akkuraat te kan rapporteer. As ons ons goed gedra het, het ek en my broers gewoonlik elke Saterdag ’n sikspens (’n muntstuk wat ses pennies werd was) vir sakgeld gekry. Ek het my sikspense byna twee jaar lank gespaar om die goedkoopste horlosie te koop wat destyds beskikbaar was. Ray, die jongste van my twee broers, het egter altyd vir my pa twee tiekies (muntstukke wat drie pennies werd was) gevra, nooit een sikspens nie. Eendag het hy so aangedring op twee muntstukke dat my pa kwaad geword het. Ray het begin huil en gesê dat hy twee tiekies nodig het as gevolg van ’n geheim tussen hom en Jehovah. Uiteindelik het Ray verduidelik: “Een tiekie is om in die bydraebussie te gooi en die ander tiekie is vir my.” My ma het gehuil van vreugde, my pa het gou kleingeld in die hande gekry en ek het geleer hoe belangrik dit is om die Koninkrykswerk finansieel te ondersteun.

Dit was ongeveer hierdie tyd dat my pa reëlings getref het om te verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. In 1949 het hy sy plaas sowel as sy sand-en-gruis-groef verkoop en as ’n pionier, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, begin dien. Ek is op 24 September 1950 gedoop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer. Van toe af het ek gedurende ons somervakansies aan vakansiepionierdiens (nou hulppionierdiens) deelgeneem en 100 uur per maand aan die bediening bestee. Maar dit was net die begin. Kort daarna het ’n sterk begeerte in my hart ontstaan om nog meer te doen om ware aanbidding te bevorder.

My begeerte om ’n sendeling te word

In 1951 het my pa ’n toewysing in Bideford, in die noorde van Devon, gekry. Kort ná ons aankoms het die sendeling wat in Afrika gedien het, ons gemeente besoek, soos ek aan die begin genoem het. Daarna het my begeerte om ’n sendeling te word, al my besluite beïnvloed. Die onderwysers op skool het geweet wat my doelwit is en het alles in hulle vermoë gedoen om my daarvan te laat afsien, in die hoop dat ek ’n sekulêre loopbaan sou volg. Maar toe ek die laaste dag op skool na die personeelkamer toe gegaan het om hulle te bedank en om totsiens te sê, het een van hulle gesê: “Veels geluk! Jy is die enigste leerling wat werklik weet wat jy in die lewe wil hê. Ons hoop jy bereik jou doelwit.”

Ek het geen tyd verspil om ’n deeltydse werk te kry nie, en op 1 Desember 1955 het ek ’n gewone pionier geword. Later het my ma en my broers ook pioniers geword. Almal in die gesin was dus etlike jare lank in die voltydse diens.

Na Ierland

’n Jaar later het ek ’n uitnodiging ontvang om in Ierland te gaan dien. Dit was ’n stap nader aan my doelwit om ’n sendeling te word. In Februarie 1957 het ek en twee ander jong pioniers, June Napier en Beryl Barker, in Cork, in die suide van Ierland, aangekom.

Velddiens in Ierland was ’n uitdaging. Die Rooms-Katolieke Kerk het ons hewig teëgestaan. Ons het geleer om seker te maak dat daar ’n ander uitgang uit ’n woonstelblok of behuisingskompleks was, ingeval ons vinnig moes padgee. Ons het gewoonlik ons fietse ’n ent daarvandaan weggesteek, maar dikwels het iemand dit gekry en die bande stukkend gesny of laat afblaas.

Eenkeer, terwyl ek en Beryl die inwoners van ’n groot behuisingskompeks besoek het, het ’n groep kinders beledigings begin skreeu en ons met klippe gegooi. Ons het toe in ’n melkwinkel ingegaan, wat deel was van iemand se huis. Buite het ’n groep mense begin saamdrom. Aangesien Beryl baie lief was vir melk, het sy twee of drie glase baie stadig gedrink, in die hoop dat die groep uitmekaar sou gaan. Hulle het nie. Toe het ’n jong priester by die winkel ingekom. Hy het gedink dat ons besoekers is en het dus aangebied om ons rond te neem. Maar eers het hy ons na ’n ander kamer in die huis geneem, en terwyl ons daar gesit het sonder om ’n woord te sê, het hy die laaste sakramente aan ’n sterwende bejaarde man bedien. Daarna het ons saam met die priester die huis verlaat. Toe die groep ons met hom sien gesels, het hulle uitmekaargegaan.

Na Gilead

In 1958 is die “Goddelike Wil”- internasionale byeenkoms in New York gehou. My pa sou dit bywoon, en ek wou ook gaan, maar ek het niks geld gehad nie. Toe is my ouma onverwags oorlede, en sy het vir my 100 pond nagelaat. Die retoervlug na die byeenkoms het 96 pond gekos, en ek het dus dadelik my sitplek bespreek.

Kort daarna het ’n verteenwoordiger van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Brittanje ons besoek en al die spesiale pioniers wat die byeenkoms sou bywoon, genooi om aansoek te doen vir sendingopleiding by die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Ek kon my ore nie glo nie! Hy het vir almal ’n aansoekvorm gegee, behalwe vir my. Ek was te jonk. Ek het gevra of ek ook kon gaan en het verduidelik dat ek reeds my vaderland verlaat het en as ’t ware klaar in ’n sendingtoewysing is. Toe hy sien hoe vasbeslote ek is, het hy vir my ’n vorm gegee. Hoe het ek tog gebid om aanvaar te word! Die antwoord het gou gekom, en ek is genooi om Gilead toe te gaan.

Tot my groot vreugde is ek in die 33ste klas van Gilead ingeskryf, saam met 81 ander pioniers uit 14 lande. Die vyf maande van die kursus het verbygevlieg. Aan die einde daarvan het broer Nathan H. Knorr vir ons ’n vier uur lange motiverende toespraak gehou. Hy het dié wat ongetroud kon bly, aangespoor om dit te doen (1 Korintiërs 7:37, 38). Maar hy het dié van ons wat wel eendag wou trou, aangeraai om ’n lys te maak van ons persoonlike vereistes vir ’n gepaste huweliksmaat. As ’n moontlike kandidaat dan op die toneel verskyn, kon ons die persoon in die lig van hierdie vereistes evalueer.

My persoonlike lys vereistes vir ’n toekomstige huweliksmaat het die volgende dinge ingesluit: Hy moes ’n medesendeling wees en Jehovah liefhê, meer oor Bybelwaarheid weet as ek, bereid wees om ter wille van die voltydse diens voor Armageddon sonder kinders te bly, Engels vlot kon praat en ouer wees as ek. Hierdie lys was ’n groot hulp vir my, ’n 20-jarige wat op die punt gestaan het om ’n toewysing na ’n verafgeleë land te ontvang.

Na Brasilië

Ons het op Sondag 2 Augustus 1959 gegradueer en ons toewysings ontvang. Ek en Vehanouch Yazedjian, Sarah Greco, Ray en Inger Hatfield, Sonia Springate en Doreen Hines is na Brasilië gestuur. Ons was baie opgewonde. Ek het my woude, slange, rubberbome en Indiane voorgestel. Maar wat ’n verrassing was dit tog toe ek daar aanland! In plaas van in die Amasonereënwoud het ek in Rio de Janeiro aangekom, ’n sonnige en moderne stad wat destyds die land se hoofstad was.

Ons eerste uitdaging was om Portugees te leer. Gedurende die eerste maand het ons elke dag 11 uur lank gestudeer. Nadat ek ’n ruk lank in Rio gepreek het en by die takkantoor van Jehovah se Getuies gewoon het, is ek na ’n sendinghuis in Piracicaba, in die staat São Paulo, gestuur en later na ’n sendinghuis in Porto Alegre, in die staat Rio Grande do Sul.

Toe, vroeg in 1963, het ek ’n uitnodiging ontvang om in die Vertaalafdeling by die takkantoor te gaan werk. Floriano Ignez da Conceição, wat ons by ons aankoms Portugees geleer het, was die opsiener van die departement. Hy het die waarheid in 1944 geleer toe daar net sowat 300 Getuies in Brasilië was, en hy was in die 22ste klas van Gilead. Eendag, ’n paar maande later, het broer Conceição my gevra om met etenstyd agter te bly, omdat hy met my wou praat. Ek was eers bekommerd. Het ek iets verkeerd gedoen? Toe die etensklok uiteindelik lui, het ek hom gevra wat hy vir my wou sê. In antwoord hierop het hy gevra: “Sal jy met my trou?” Ek was stomgeslaan. Ek het vir hom gevra of ek daaroor kon dink en my na die eetsaal gehaas.

Floriano was nie die eerste broer wat in my belanggestel het nie. Maar tot op daardie stadium het niemand aan my persoonlike vereistes vir ’n gepaste huweliksmaat voldoen nie. Ek glo dat my lys my gehelp het om nie ’n verkeerde besluit te neem nie. Hierdie keer was dit anders. Floriano het aan al my vereistes voldoen! Ons is dus op 15 Mei 1965 getroud.

Die uitdaging van siekte

Ek en Floriano was nog altyd gelukkig in ons huwelik, ten spyte van die uitdagings waarvoor ons te staan gekom het. Een hiervan was Floriano se gesondheidsprobleme, wat kort voor ons huwelik begin het. Jare vroeër het sy linkerlong ineengestort, en die nagevolge het nou vir hom baie lyding begin veroorsaak. Daarom het ons Bethel verlaat en is ons as spesiale pioniers na die stad Teresópolis gestuur, in die bergagtige gebied van die staat Rio de Janeiro. Ons het gehoop dat die klimaat hom daar sou help om te herstel.

Daarbenewens het ek in Desember 1965 die nuus ontvang dat my ma ernstig siek is aan kanker. Hoewel ons gereeld vir mekaar geskryf het, was dit sewe jaar vandat ek my ma laas gesien het. Daarom het sy ons reisgeld na Engeland betaal sodat ons haar kon besoek. My ma het ’n operasie ondergaan, maar die dokters kon nie die kanker verwyder nie. Al was sy bedlêend en baie siek, was dit nog altyd haar begeerte om aan die predikingswerk deel te neem. Sy het ’n tikmasjien in haar slaapkamer gehad sodat sy briewe kon dikteer en dit getik kon word. Sy kon ook ’n bietjie vir besoekers getuig. Op 27 November 1966 is sy oorlede. Sy het daardie maand tien uur velddiens gerapporteer! My pa het tot met sy dood in 1979 getrou in die pionierdiens gebly.

Ná my ma se dood het ek en Floriano na Brasilië teruggekeer, waar ons sedertdien in die staat Rio de Janeiro dien. Ons is aanvanklik gevra om in die staat se hoofstad op die kring te dien, maar hierdie vreugde was van korte duur, aangesien Floriano weer baie siek geword het. Toe is ons as spesiale pioniers na Teresópolis gestuur.

In 1974, ná jare van pynlike behandeling, het die dokters uiteindelik Floriano se linkerlong verwyder. Op daardie stadium kon hy nie as presiderende opsiener of as ’n spesiale pionier dien nie, maar hy kon tydens besoektyd in die hospitaal Bybelstudies hou—een van hulle was in Engels met Bob, ’n afgetrede Amerikaner. Bob het die waarheid aangeneem en is later gedoop. Floriano het geleidelik herstel en dien sedertdien as ’n gewone pionier.

Jehovah het my bediening geseën

Ek het oor die jare heen voortgegaan om as ’n spesiale pionier te dien, en Jehovah het my bediening geseën. In Teresópolis het ek die wonderlike voorreg gehad om meer as 60 mense te help om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Onder hulle was ’n vrou met die naam Jupira, wat ek ook leer lees het. Met verloop van tyd het ek met agt van haar volwasse kinders gestudeer. Gevolglik is Jupira en meer as 20 van haar familielede vandag bedrywige dienaars van Jehovah. Een is ’n ouer man, drie is bedieningsknegte en twee is pioniers.

Ek het geleer om altyd positief te wees oor die moontlikheid dat mense tot ’n kennis van die waarheid sal kom. By een geleentheid het ek ’n Bybelstudie met ’n jong vrou genaamd Alzemira gehou toe haar man, Antônio, gedreig het om twee groot honde op my los te laat as ek nie onmiddellik hulle huis verlaat nie. Daarna het ek net nou en dan met haar kontak gehad, tot ongeveer sewe jaar later toe ek daarin geslaag het om Antônio se toestemming te kry om weer met haar te studeer. Hy het my nietemin verbied om met hom oor die Bybel te praat. Maar op ’n reënerige dag het ek Antônio genooi om tydens die studie by te sit. Ek het toe uitgevind dat hy nie kon lees nie. Van toe af het Floriano en ander met hom gestudeer en hom leer lees. Vandag is Alzemira en Antônio albei gedoop. Hy is ’n groot hulp in die gemeente en werk saam met baie jongmense in die bediening.

Dit is net ’n paar van die ondervindinge wat ons geniet het gedurende die meer as 20 jaar wat ons in Teresópolis gedien het. Vroeg in 1988 het ons ’n nuwe toewysing ontvang—die stad Niterói, waar ons die volgende vyf jaar gedien het voordat ons na Santo Aleixo getrek het. Toe is ons gestuur na die Japuíba-gemeente in die hartjie van die staat, waar ons die voorreg gehad het om die Ribeira-gemeente te stig.

’n Eenvoudige maar lonende lewe

Oor die jare heen het ek en Floriano die voorreg gehad om meer as 300 mense te help om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Tans dien party van hulle by die takkantoor, en ander is pioniers, ouer manne en bedieningsknegte. Hoe dankbaar is ek tog dat God ons deur middel van sy heilige gees gebruik het om soveel mense te help!—Markus 10:29, 30.

Floriano het weliswaar ernstige gesondheidsprobleme gehad. Maar ondanks sy toestand bly hy standvastig, vreugdevol en vol vertroue in Jehovah. Hy sê dikwels: “’n Mens ervaar vandag nie vreugde omdat jy ’n probleemvrye lewe het nie. Jy ervaar vreugde wanneer Jehovah jou help om jou probleme die hoof te bied.”—Psalm 34:19.

In 2003 is daar kanker in my linkeroog gevind. Ek het ’n operasie gehad, en my oog is met ’n kunsoog vervang, wat etlike kere per dag skoongemaak moet word. Ten spyte hiervan het Jehovah my geseën met die energie om hom steeds as ’n spesiale pionier te dien.

Wat materiële dinge betref, het ek ’n eenvoudige lewe gelei. Tog het Jehovah my in my toewysing geseën en my geestelik ryk gemaak. Daardie sendelingsuster se kommentaar oor die predikingswerk in Afrika was ’n gepaste beskrywing van ons toewysing in Brasilië. Jehovah het voorwaar my begeerte om ’n sendeling te wees, ryklik geseën!

[Prent op bladsy 9]

Ons gesin, 1953

[Prent op bladsy 9]

Getuieniswerk in Ierland, 1957

[Prent op bladsy 10]

Brasilië, 1959, saam met medesendelinge. Van links na regs: Ek, Inger Hatfield, Doreen Hines en Sonia Springate

[Prent op bladsy 10]

Ek en my man