Toon respek vir ons heilige samekomste
Toon respek vir ons heilige samekomste
“Hulle sal ek ook na my heilige berg bring en in my huis van gebed vreugde gee.”—JESAJA 56:7.
1. Watter skriftuurlike redes het ons om gepaste respek vir ons vergaderinge te toon?
JEHOVAH het sy volk, gesalfde Christene en hulle metgeselle, versamel om hom by sy “heilige berg” te aanbid. Hy gee hulle vreugde in sy “huis van gebed”, sy geestelike tempel, wat “’n huis van gebed . . . vir al die nasies” is (Jesaja 56:7; Markus 11:17). Hierdie verwikkelinge dui aan dat Jehovah se aanbidding heilig, rein en verhewe is. Deur gepaste respek vir ons vergaderinge vir studie en aanbidding te toon, bewys ons dat ons Jehovah se beskouing van heilige dinge het.
2. Wat dui aan dat Jehovah die plek wat hy vir sy aanbidding gekies het, as heilig beskou het, en hoe het Jesus getoon dat hy dit ook so beskou?
2 In eertydse Israel moes die plek wat Jehovah vir sy aanbidding gekies het, as heilig beskou word. Die tabernakel en sy toebehore en voorwerpe moes gesalf en geheilig word ‘sodat hulle inderdaad hoogheilig kon word’ (Eksodus 30:26-29). Die twee afdelings van die heiligdom is “die Heilige” en “die Allerheiligste” genoem (Hebreërs 9:2, 3). Die tabernakel is later deur die tempel in Jerusalem vervang. As die sentrum van Jehovah se aanbidding is Jerusalem “die heilige stad” genoem (Nehemia 11:1; Matteus 27:53). Gedurende Jesus se aardse bediening het hy gepaste respek vir die tempel getoon. Hy was verontwaardig teenoor die mense oor die oneerbiedige manier waarop hulle die tempelterrein vir kommersiële doeleindes en as ’n kortpad gebruik het.—Markus 11:15, 16.
3. Wat dui daarop dat Israel se vergaderinge heilig was?
3 Die Israeliete het gereeld vergader om Jehovah te aanbid en om na die voorlesing van sy Wet te luister. Sekere dae van hulle feeste is heilige byeenkomste of plegtige vergaderinge genoem, wat daarop dui dat hierdie samekomste heilig was (Levitikus 23:2, 3, 36, 37). By ’n openbare vergadering in die dae van Esra en Nehemia het die Leviete “die wet aan die volk verduidelik”. Aangesien ‘die hele volk gehuil het toe hulle die woorde van die wet hoor’, het die Leviete “die hele volk die swye opgelê en gesê: ‘Wees stil! want hierdie dag is heilig.’” Die Israeliete het toe die sewedaagse Huttefees met “baie groot blydskap” gevier. Verder is daar “dag na dag . . . uit die wetboek van die ware God voorgelees, van die eerste dag tot die laaste dag; en hulle het die fees sewe dae lank gehou, en op die agtste dag was daar ’n plegtige vergadering, volgens die reël” (Nehemia 8:7-11, 17, 18). Dit was waarlik heilige geleenthede wat respekvolle aandag vereis het van diegene wat dit bygewoon het.
Ons vergaderinge is heilige samekomste
4, 5. Watter aspekte van ons vergaderinge bewys dat dit heilige samekomste is?
4 Jehovah het vandag weliswaar nie ’n letterlike heilige stad op die aarde met ’n spesiale tempel wat aan sy aanbidding gewy is nie. Nietemin moet ons nie die feit uit die oog verloor dat vergaderinge vir die aanbidding van Jehovah heilige samekomste is nie. Ons vergader drie keer per week om die Skrif te lees en te bestudeer. Jehovah se Woord word “uitgelê”, en soos in Nehemia se tyd word ‘betekenis daaraan gegee’ (Nehemia 8:8). Al ons vergaderinge begin en eindig met gebed, en by die meeste sing ons lofliedere aan Jehovah (Psalm 26:12). Die gemeentelike vergaderinge is werklik ’n deel van ons aanbidding en vereis ’n biddende gesindheid en respekvolle aandag van ons.
5 Jehovah seën sy volk wanneer hulle vergader om hom te aanbid, sy Woord te bestudeer en aangename Christelike omgang te geniet. Wanneer dit tyd is om ’n vergadering by te woon, kan ons daarvan seker wees dat dít is waar “Jehovah die seën gebied” (Psalm 133:1, 3). Ons deel in hierdie seën as ons teenwoordig is en aandagtig na die geestelike program luister. Wat meer is, Jesus het gesê: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde.” In die konteks is hierdie woorde van toepassing op Christen- ouer manne wat vergader om ernstige probleme tussen persone te hanteer, maar in beginsel is dit ook van toepassing op ons vergaderinge (Matteus 18:20). As Christus, deur middel van die heilige gees, teenwoordig is wanneer Christene in sy naam vergader, moet sulke samekomste dan nie as heilig beskou word nie?
6. Wat kan van ons vergaderplekke, groot sowel as klein, gesê word?
6 Dit is waar dat Jehovah nie in mensgemaakte tempels woon nie. Maar ons Koninkryksale is plekke van ware aanbidding (Handelinge 7:48; 17:24). Ons vergader daar om Jehovah se Woord te bestudeer, tot hom te bid en sy lof te besing. Dit geld ook vir ons Byeenkomssale. Groter fasiliteite wat vir ons byeenkomste gehuur word—soos ouditoriums, tentoonstellingsale of sportstadions —word plekke van aanbidding terwyl dit vir ons heilige samekomste gebruik word. Hierdie geleenthede vir aanbidding, groot en klein, verdien ons respek, en hierdie respek moet deur ons gesindheid en gedrag weerspieël word.
Maniere waarop ons respek vir ons samekomste toon
7. Op watter tasbare manier kan ons respek vir ons samekomste toon?
7 Daar is tasbare maniere waarop ons respek vir ons samekomste kan toon. Een manier is deur teenwoordig te wees wanneer Koninkryksliedere gesing word. Baie hiervan is in die vorm van gebede en moet dus op eerbiedige wyse gesing word. Die apostel Paulus het Psalm 22 aangehaal en van Jesus geskryf: “Ek sal u naam aan my broers bekend maak; in die midde van die gemeente sal ek u met sang loof” (Hebreërs 2:12). Ons moet ons dus daarop toelê om in ons sitplek te wees voordat die voorsitter die lied aankondig en om dan te let op die betekenis van die woorde terwyl ons sing. Mag ons sang die gevoelens weerspieël van die psalmis wat geskryf het: “Ek sal Jehovah met my hele hart prys in die intieme groep van die regskapenes en die vergadering” (Psalm 111:1). Ja, om lofliedere aan Jehovah te sing, is ’n baie goeie rede om vroeg by ons vergaderinge aan te kom en tot aan die einde te bly.
8. Watter voorbeeld in die Bybel toon dat gebede by ons vergaderinge ons respekvolle aandag verdien?
8 Nog iets wat al ons vergaderinge geestelik verryk, is hartgrondige gebed wat gedoen word namens almal wat daar vergader is. By een geleentheid het eerste-eeuse Christene in Jerusalem bymekaargekom en in vurige gebed “eendragtig die stem tot God verhef”. Gevolglik het hulle voortgegaan om—ondanks vervolging—‘die woord van God met vrymoedigheid te spreek’ (Handelinge 4:24-31). Kan ons ons voorstel dat enigiemand wat daar teenwoordig was, hulle gedagtes gedurende daardie gebed sou laat dwaal het? Nee, hulle het “eendragtig” gebid. Gebede wat by ons vergaderinge gedoen word, weerspieël die gevoelens van almal in die gehoor. Dit verdien ons respekvolle aandag.
9. Hoe kan ons ons respek vir heilige samekomste toon deur ons kleredrag en gedrag?
9 Verder kan ons toon hoe groot ons respek vir die heiligheid van ons samekomste is deur die manier waarop ons aantrek. Ons voorkoms wat ons kleredrag sowel as ons haarstyl betref, kan grootliks tot die waardigheid van ons vergaderinge bydra. Die apostel Paulus het gemaan: “Ek [wil] hê dat die manne op elke plek moet aanhou bid en lojale hande moet ophef, sonder gramskap en debatte. So ook wil ek hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer” (1 Timoteus 2:8-10). Wanneer ons groot byeenkomste bywoon wat in opelugstadions gehou word, kan ons kleredrag gepas wees vir die weerstoestande en nog steeds waardig wees. Daarbenewens sal ons respek vir die geleentheid ons daarvan weerhou om gedurende die sessies te eet of kougom te kou. Gepaste kleredrag en gedrag by ons samekomste vereer Jehovah God, sy aanbidding en ons medeaanbidders.
Gedrag wat by God se huisgesin pas
10. Hoe het die apostel Paulus getoon dat ’n hoë gedragstandaard by ons Christelike vergaderinge vereis word?
10 In 1 Korintiërs, hoofstuk 14, vind ons die apostel Paulus se wyse raad oor hoe Christelike vergaderinge gehou moet word. Hy het afgesluit deur te sê: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Korintiërs 14:40). Ons vergaderinge is ’n belangrike deel van die bedrywighede van die Christengemeente, en dit vereis die soort gedrag wat by Jehovah se huisgesin pas.
11, 12. (a) Wat moet ingeprent word in die verstande van kinders wat ons vergaderinge bywoon? (b) Op watter gepaste manier kan kinders hulle geloof by ons vergaderinge uitspreek?
11 Kinders in die besonder moet geleer word hoe hulle hulle by ons vergaderinge moet gedra. Christenouers moet aan hulle kinders verduidelik dat die Koninkryksaal en die plek waar die Gemeentelike Boekstudie gehou word, nie speelplekke is nie. Dit is plekke waar ons Jehovah aanbid en sy Woord bestudeer. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Gee ag op jou voete wanneer jy na die huis van die ware God gaan; en kom nader om te hoor” (Prediker 5:1). Moses het die Israeliete geleer om volwassenes en “kindertjies” byeen te bring. Hy het gesê: “Laat die volk bymekaarkom . . . sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer, aangesien hulle Jehovah julle God moet vrees en al die woorde van hierdie wet sorgvuldig moet onderhou. En hulle kinders wat dit nie geken het nie, moet luister, en hulle moet leer om Jehovah . . . te vrees.”—Deuteronomium 31:12, 13.
12 Ons jonges woon vandag ook die vergaderinge saam met hulle ouers by hoofsaaklik om te luister en te leer. Sodra hulle aandag kan skenk en ten minste basiese Bybelwaarhede kan verstaan, kan kinders ook ’n “openbare bekendmaking” van hulle geloof doen deur met kort kommentare deel te neem (Romeine 10:10). ’n Jong kind kan begin deur ’n paar woorde te sê in antwoord op ’n vraag wat hy verstaan. Aanvanklik moet hy dalk die antwoord lees, maar mettertyd sal hy hom in sy eie woorde probeer uitdruk. Dit is voordelig en aangenaam vir die kind, en sulke spontane betuigings van geloof maak die harte van ouer persone in die gehoor bly. Ouers stel natuurlik die voorbeeld deur self kommentaar te lewer. Waar moontlik is dit ook goed dat kinders hulle eie Bybel, liedereboek en eksemplaar het van die publikasie wat bestudeer word. Hulle moet leer om gepaste respek vir hierdie publikasies te toon. Al hierdie dinge sal dit in die verstande van die kinders inprent dat ons vergaderinge heilige samekomste is.
13. Wat hoop ons met betrekking tot diegene wat ons vergaderinge vir die eerste keer bywoon?
13 Ons wil natuurlik nie hê dat ons vergaderinge soos die Christendom se kerkdienste moet wees nie. Hierdie dienste kan koud en alte sedig wees of luidrugtig soos rockkonserte. Ons wil hê dat die vergaderinge by ons Koninkryksale hartlik en aangenaam moet wees, maar nie in so ’n mate dat dit met die buurt se sosiale klub ooreenkom nie. Ons vergader om Jehovah te aanbid, en daarom moet ons vergaderinge altyd waardig wees. Ons wil hê dat diegene wat dit vir die eerste keer bywoon, nadat hulle geluister het na die materiaal wat aangebied is en ons gedrag en dié van ons kinders gesien het, die volgende sal sê: “God is werklik onder julle.”—1 Korintiërs 14:25.
’n Permanente deel van ons aanbidding
14, 15. (a) Hoe kan ons voorkom dat ons ‘die huis van ons God verwaarloos’? (b) Hoe word Jesaja 66:23 alreeds vervul?
14 Soos reeds gemeld is, versamel Jehovah sy volk en gee hy hulle vreugde in sy “huis van gebed”, sy geestelike tempel (Jesaja 56:7). Die getroue man Nehemia het sy mede-Jode daaraan herinner dat hulle gepaste respek vir die letterlike tempel moet toon deur dit materieel te ondersteun. Hy het gesê: “Ons moet die huis van ons God nie verwaarloos nie” (Nehemia 10:39). Ons moet ook nie Jehovah se uitnodiging om hom in sy “huis van gebed” te aanbid, ignoreer nie.
15 Jesaja het getoon dat dit nodig is om gereeld vir aanbidding te vergader toe hy geprofeteer het: “‘Van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat sal alle vlees beslis kom om hulle voor my neer te buig’, het Jehovah gesê” (Jesaja 66:23). Dit gebeur vandag. Toegewyde Christene kom gereeld, elke week van elke maand, bymekaar om Jehovah te aanbid. Hulle doen dit deur onder andere Christelike vergaderinge by te woon en aan die openbare bediening deel te neem. Is jy een van dié wat gereeld ‘kom en hulle voor Jehovah neerbuig’?
16. Waarom moet gereelde vergaderingbywoning nou al ’n permanente deel van ons lewe wees?
16 Jesaja 66:23 sal in die volste sin van toepassing wees op lewe in Jehovah se beloofde nuwe wêreld. Dan “sal alle vlees”, in letterlike sin, week na week en maand na maand “kom om hulle voor [Jehovah] neer te buig”, of hom te aanbid, tot in alle ewigheid. Aangesien vergaderinge om Jehovah te aanbid, ’n permanente deel van ons geestelike lewe in die nuwe stelsel van dinge sal wees, moet ons dan nie gereelde bywoning van ons heilige samekomste nou al ’n permanente deel van ons lewe maak nie?
17. Waarom het ons ons vergaderinge “des te meer” nodig “namate [ons] die dag sien nader kom”?
17 Namate die einde nader kom, moet ons meer vasbeslote as ooit wees om ons Christelike samekomste vir aanbidding by te woon. Uit respek vir die heiligheid van ons vergaderinge laat ons nie toe dat sekulêre werk, skoolwerk of aandklasse verhoed dat ons gereeld saam met ons medeaanbidders vergader nie. Ons het die krag nodig wat uit assosiasie verkry word. Ons gemeentelike vergaderinge bied ons die geleentheid om mekaar te leer ken, om aanmoediging te gee en om mekaar tot “liefde en goeie werke” aan te spoor. Ons moet dit doen “des te meer namate [ons] die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Mag ons dan altyd gepaste respek vir ons heilige samekomste toon deur ons gereelde bywoning daarvan, gepaste kleredrag en betaamlike gedrag. So toon ons dat ons Jehovah se beskouing van heilige dinge het.
Ter hersiening
• Wat toon dat die samekomste van Jehovah se volk as heilig beskou moet word?
• Watter aspekte van ons vergaderinge bewys dat dit heilige samekomste is?
• Hoe kan kinders toon dat hulle die heiligheid van ons vergaderinge respekteer?
• Waarom moet ons gereelde vergaderingbywoning ’n permanente deel van ons lewe maak?
[Studievrae]
[Prente op bladsy 28]
Vergaderinge om Jehovah te aanbid, is heilige samekomste ongeag waar dit gehou word
[Prent op bladsy 31]
Ons kindertjies woon vergaderinge by om te luister en te leer