Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ebla—’n Antieke stad verrys uit die vergetelheid

Ebla—’n Antieke stad verrys uit die vergetelheid

Ebla—’n Antieke stad verrys uit die vergetelheid

In die somer van 1962 het Paolo Matthiae, ’n jong Italiaanse argeoloog, met onsekerheid oor die vlaktes van noordwes-Sirië uitgekyk. Die Siriese binneland is as argeologies arm beskou. Tog sou daar uit die uitgrawings wat twee jaar later begin is by Tel-Mardikh, sowat 60 kilometer suid van Aleppo, iets te voorskyn kom wat deur baie as ‘die belangrikste argeologiese vonds van die 20ste eeu’ beskou word.

ANTIEKE inskripsies het getuig van die bestaan van ’n stad genaamd Ebla. Maar niemand het geweet onder watter een van die baie puinheuwels wat oor die Midde-Ooste versprei is, dit dalk gevind kon word nie. Een teks vertel van die oorwinning van Sargon, koning van Akkad, oor “Mari, Jarmoeti en Ebla”. In ’n ander inskripsie meld die Sumeriese koning Gudea die kosbare hout wat hy van “die berge van Ibla [Ebla]” ontvang het. Die naam Ebla het ook in Karnak, Egipte, verskyn in ’n lys van antieke stede wat farao Toetmosis III verower het. Jy kan verstaan waarom argeoloë Ebla probeer vind het.

Verdere opgrawings het egter vrugte afgewerp. In 1968 is ’n deel van ’n standbeeld van Ibbit-Lim, ’n koning van Ebla, gevind. Daarop was ’n inskripsie van ’n gelofte in Akkadies wat getoon het dat dit aan die godin Isjtar gewy is, wat “in Ebla geskyn het”. Ja, argeologiese vondse het “’n nuwe taal, ’n nuwe geskiedenis en ’n nuwe kultuur” begin openbaar.

In 1974/75 is daar bevestig dat Tel-Mardikh met die antieke Ebla ooreenkom, toe spykerskriftablette ontdek is waarop daardie antieke naam herhaaldelik voorgekom het. Opgrawings het ook getoon dat die stad ten minste twee keer bestaan het. Nadat dit ’n tyd lank ’n invloedryke stad was, is dit verwoes. Daarna is Ebla herbou, maar dit is weer verwoes en het vir eeue in die vergetelheid verdwyn.

Een stad, baie geskiedenisse

Die oudste stede is op spoelvlaktes gebou, soos dié tussen die Tigris- en die Eufraatrivier, waar intensiewe landbou moontlik was. Die eerste stede wat in die Bybel gemeld word, was in Mesopotamië geleë (Genesis 10:10). Dit wil voorkom asof die naam Ebla “Wit Rots” beteken, met verwysing na die kalksteensubstraat waarop die stad gestaan het. Die ligging is klaarblyklik gekies omdat die kalksteenlaag die teenwoordigheid van ’n natuurlike waterbron gewaarborg het, wat belangrik was in ’n streek wat ver van groot riviere is.

Die neerslag in die streek waar Ebla geleë is, het grootskaalse boerdery beperk tot graansoorte, druiwe en olyfbome. Die gebied was ook geskik om met vee, veral skape, te boer. Die strategiese ligging van Ebla—tussen die Mesopotamiese vlakte en die Middellandse See—was geskik vir die handel in hout, sierstene en metale. Die stad het ’n streek oorheers wat deur sowat 200 000 mense bewoon is, waarvan tot ’n tiende in die hoofstad gewoon het.

Die oorblyfsels van ’n groot paleis getuig van die grootsheid van hierdie fase van die Eblaïtiese beskawing. Toegang tot die paleis is verkry deur middel van ’n portaal wat sowat 12 tot 15 meter hoog was. Die paleis is met verloop van tyd vergroot om plek te maak vir die toenemende behoeftes van ’n administrasie wat al hoe meer mag uitgeoefen het. Amptenare het onder ’n ingewikkelde hiërargie gewerk—die koning en sy koningin is bygestaan deur “here” en “oudstes”.

Meer as 17 000 kleitablette en -fragmente is gevind. Aanvanklik was daar waarskynlik meer as 4 000 volledige tablette, wat versigtig op houtrakke geplaas is. Hierdie dokumente lewer bewys van die geweldige omvang van Ebla se handelsbedrywighede. Die stad het byvoorbeeld met Egipte handel gedryf, soos aangedui word deur die koninklike simbole van twee farao’s. Die tablette is hoofsaaklik in Sumeriese spykerskrif geskryf. Maar party was in Eblaïties, ’n baie ou Semitiese taal wat danksy hierdie dokumente ontsyfer kon word. Oriëntaliste was verbaas om so ’n ou Semitiese taal te ontdek. Jy sal dit dalk interessant vind om te weet dat party tablette tweetalige Sumeries-Eblaïtiese lyste bevat. Die boek Ebla—Alle origini della civiltà urbana (Ebla—by die oorsprong van die stedelike beskawing) noem dit “die oudste bekende woordeboeke”.

Ebla was klaarblyklik ’n militêre moondheid, want opgegraafde snywerk beeld Eblaïtiese soldate uit wat hulle vyande teregstel of afgekapte koppe vertoon. En tog het die luisterrykheid van Ebla tot ’n einde gekom toe hy met die opkomende moondhede Assirië en Babilon te doen gekry het. Dit is nie maklik om daardie gebeure presies na te speur nie, maar dit wil voorkom asof Sargon I (nie die Sargon wat in Jesaja 20:1 gemeld word nie) en toe sy kleinseun Naram-Sin teen Ebla opgetrek het. Die argeologiese bewyse toon dat die ontmoetings gewelddadig en die plundertogte wreedaardig was.

Maar soos gemeld is, het die stad ná ’n tyd weer verrys en selfs belangrikheid in die streek verwerf. Die nuwe stad is volgens ’n presiese plan gebou, wat dit selfs indrukwekkender laat lyk het. In die onderste deel van die stad was ’n heilige gebied wat aan die godin Isjtar gewy is, wat ook deur die Babiloniërs as ’n vrugbaarheidsgodin beskou is. Dalk het jy al gehoor van die beroemde Isjtar-poort, wat in die ruïnes van Babilon ontdek is. Leeus, een van die godin Isjtar se heilige diere, is blykbaar in ’n besonder indrukwekkende gebou by Ebla gehuisves. Dit bring ons by die godsdiens in Ebla.

Godsdiens in Ebla

Soos op ander plekke in die antieke Ooste, het Ebla ’n panteon van gode gehad. Onder hulle was Baäl, Hadad (’n naam wat as deel van die name van party Siriese konings verskyn) en Dagan (1 Konings 11:23; 15:18; 2 Konings 17:16). Die Eblaïete het hulle almal gevrees. Hulle het selfs die gode van ander volke geëer. Argeologiese vondse dui daarop dat, veral in die tweede millennium v.G.J., vergoddelikte koninklike voorouers ook aanbid is.

Die Eblaïete het nie hulle volle vertroue in hulle gode gestel nie. Die nuwe Ebla is ook deur imponerende dubbele mure omring, wat moontlik ’n indruk op enige vyand sou gemaak het. Die buitenste mure het ’n omtrek van byna drie kilometer gehad. Dit is nog steeds duidelik sigbaar.

Nietemin het selfs die herboude Ebla tot ’n einde gekom. In omstreeks 1600 v.G.J. was dit moontlik die Hetiete wat hierdie voormalige groot moondheid die finale nederlaag laat ly het. Volgens ’n eertydse gedig is Ebla “soos ’n keramiekvaas verpletter”. Dit het kort voor lank uit die geskiedenis begin verdwyn. ’n Dokument wat geskryf is deur kruisvaarders wat in 1098 teen Jerusalem opgetrek het, meld die terrein waar Ebla eens gestaan het en beskryf dit as ’n afgeleë buitepos in die platteland, genaamd Mardikh. Ebla is feitlik vergeet en is eers ná baie eeue herontdek.

[Venster op bladsy 14]

EBLA EN DIE BYBEL

’n Artikel wat in 1976 in die tydskrif Biblical Archeologist gepubliseer is, het Bybelgeleerdes se nuuskierigheid geprikkel. Die ontsyferaar van die tablette uit Ebla het gewys op die moontlikheid dat die tablette onder andere die name van mense en plekke noem wat eeue later in die Bybel gemeld is. Party het dalk verder gegaan as wat die artikel werklik gesê het, en begin skryf dat Ebla argeologiese bewyse opgelewer het aangaande die betroubaarheid van die Genesisverslag. a Die Jesuïet Mitchell Dahood het beweer dat die “kleitablette [uit Ebla] lig werp op sake waaroor die Bybel duister is”. Hy het byvoorbeeld geglo dat dit “die probleem van die ouderdom van die naam van die God van Israel” kon help oplos.

Hierdie tekste word nou met groter objektiwiteit ondersoek. Met die oog op die feit dat Hebreeus en Eblaïties albei Semitiese tale is, kan ’n mens nie die moontlikheid uitsluit dat party name van stede of persone soortgelyk of identies aan dié in die Bybel is nie. Maar dit bewys nie dat dit van dieselfde plekke of persone praat nie. Ons sal nog moet sien tot watter mate die ontdekkings by Ebla die Bybelkunde sal beïnvloed. Wat die goddelike naam betref, die skrywer van die artikel in Biblical Archeologist het ontken dat hy ooit gesê het dat “Jahweh” in die Eblaïtiese tekste gemeld word. Volgens party verwys die spykerskrif-simbool wat as ja geïnterpreteer word, net na een van die baie godhede in die Eblaïtiese panteon, terwyl ’n aantal ander spesialiste dit as niks meer as ’n grammatikale teken beskou nie. Hoe dit ook al sy, dit verwys nie na die enigste ware God, Jehovah, nie.—Deuteronomium 4:35; Jesaja 45:5.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van hoe argeologie die Bybelverslag ondersteun, sien hoofstuk 4 van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaart/Prent op bladsy 12]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GROOT SEE

KANAÄN

SIRIË

Aleppo

Ebla (Tel-Mardikh)

Eufraatrivier

[Erkenning]

Argeoloog: Missione Archeologica Italiana a Ebla - Università degli Studi di Roma ‘La Sapienza’

[Prent op bladsy 12, 13]

’n Goue halssnoer wat uit omstreeks 1750 v.G.J. dateer

[Prent op bladsy 13]

Oorblyfsels van ’n groot paleis

[Prent op bladsy 13]

Kunstenaarsvoorstelling van kleitablette wat in die argiefkamer gehou is

[Prent op bladsy 13]

Tablet met spykerskrif

[Prent op bladsy 13]

Egiptiese koninklike knuppel, 1750-1700 v.G.J.

[Prent op bladsy 13]

Eblaïtiese soldaat met koppe van vyande

[Prent op bladsy 14]

’n Grafsuil wat aan die godin Isjtar gewy is

[Erkenning]

Missione Archeologica Italiana a Ebla - Università degli Studi di Roma ‘La Sapienza’

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Al die prente (behalwe oorblyfsels van paleis): Missione Archeologica Italiana a Ebla - Università degli Studi di Roma ‘La Sapienza’