Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie nuus word versprei in kleurvolle Haïti

Goeie nuus word versprei in kleurvolle Haïti

Goeie nuus word versprei in kleurvolle Haïti

HAÏTI en die Dominikaanse Republiek deel die tropiese eiland Hispaniola, wat met die hoogste berge van die Karibiese Eilande spog. ’n Aantal pieke is tot ver oor die 2 400 meter hoog. Gedurende die “koue” maande kan ryp en dun lagies ys op klein poele in die hooglande vorm.

Die berge en valleie in die suide van Haïti is met welige tropiese woude bedek. Elders is die berge meestal kaal, dor, dikwels skerp uitgebeitel—slagoffers van ontbossing. Of jy nou noord of suid ry, oral in Haïti sal jy skilderagtige tonele sien. Op party van die smal, kronkelende bergpaaie sal jy beloon word met ’n asemrowende verskeidenheid panoramiese uitsigte oor land en see. Jy sien ook oral blomme in ’n groot verskeidenheid en in helder kleure.

Die 8,3 miljoen mense in hierdie kleurvolle land is hoofsaaklik landelike mense van Afrika-oorsprong. Hoewel die meeste van hulle baie min op materiële gebied het, is hulle vriendelik en gasvry. Jehovah se Getuies geniet dit al sowat 60 jaar om die goeie nuus van God se Koninkryk na hierdie mense te neem en hulle word hartlik verwelkom.—Matteus 24:14.

Predikingswerk in ’n plattelandse dorpie

’n Sendeling het met haar eerste besoek aan ’n plattelandse dorpie ’n tipiese ondervinding gehad. Sy het geskryf:

“Op ’n dag in Maart 2003 het ons die predikingswerk in Casale gaan doen, ’n dorpie ongeveer ’n halfuur van Cabaret, waar ons huidige sendinghuis is, en omtrent 30 kilometer noord van Port-au-Prince, die hoofstad. Getuies het laas in 1999 in Casale gewerk, en ons was dus vol afwagting toe ons sewe-uur die oggend op ons reis vertrek het. Twee-en-twintig van ons—byna ons hele gemeente—het die tog in twee vierwielaangedrewe voertuie aangepak. Almal het opgewonde gelag en gesels terwyl ons met steil grondpaaie gery het tot in ’n vallei met heelwat groot bome. ’n Rivier vloei deur die vallei, en die dorp Casale lê aan weerskante van die rivier.

“Die geskiedenis van hierdie stil dorpie het in die vroeë 1800’s begin toe ’n paar Poolse soldate na Haïti gekom het om voormalige slawe te help om vir hulle onafhanklikheid te veg, en hulle het hulle toe in hierdie vrugbare vallei saam met hulle Haïtiese vrouens gevestig. Die gevolg was ’n pragtige volk van gemengde afkoms. Dit is fassinerend om wit, ligbruin en donkerbruin plattelanders te sien met groen oë, donkerbruin oë, ensovoorts.

“By die eerste deur waar ons geklop het, het die persoon wat oopgemaak het, nie belanggestel nie. Ons het omgedraai en ’n man gesien wat van onder in die straat na ons toe aangeloop het. Hy wou weet of ons glo dat daar ’n verskil is tussen Jesus en God. Ons het hom gevra om sy Bybel te gaan haal, en die skriftuurlike bespreking wat daarop gevolg het, het hom oortuig dat Jesus die Seun van God is en dat Jehovah ‘die enigste ware God’ is (Johannes 17:3). Baie mense het ons genooi om te sit en met hulle te praat. Party het gevra: ‘Wanneer gaan julle terugkom om die Bybel met ons te studeer?’

“Teen die middel van die dag het ons ’n lekker koelteplek gevind en middagete gereedgekry. Twee susters het ’n groot pot vis saamgebring. Dit was heerlik! Terwyl ons rustig daar geëet en gesels het, het ons ook vir verbygangers getuig. Toe het ons die rivier oorgesteek na die ander deel van die dorp. Ons het dit geniet om met hierdie vriendelike mense te gesels wat naby hulle eenvoudige huise onder die bome gesit het. Hoe aangenaam was dit tog om te sien en te hoor hoe kinders speel, vroue hulle klere in die rivier was en ouma’s koffiebone maal!

“Kort voor lank was dit vieruur, en ons vrolike groep het na die voertuie teruggekeer vir die terugtog na Cabaret. Vir my en my man was dit ’n waarlik genotvolle eerste besoek aan Casale, met sy gasvrye en vriendelike mense.”

Sedert die eerste Getuiesendelinge in 1945 in Haïti aangekom het, het die getal Koninkryksverkondigers in hierdie land geleidelik toegeneem, sodat daar tans ongeveer 14 000 aan die predikingswerk deelneem en meer as 22 000 tuisbybelstudies gehou word. Hulle het die lewens geraak van die 59 372 mense wat in Maart 2005 die Gedenkmaal bygewoon het en hou aan om die goeie nuus van God se Koninkryk oral in die openbaar te verkondig. Kyk na die talle maniere waarop die werk van Jehovah se Getuies mense geraak het.

Die goeie nuus in kleurvolle kuns

Die meeste Haïtiane hou baie van kleur. Dit kan gesien word in hulle kleredrag, hulle geverfde huise, die verskeidenheid blomme in hulle tuine en in hulle kunswerk. Geverfde doeke in die helder plaaslike styl bekend as L’Art Haitien word oral in die strate van Port-au-Prince uitgestal. Kopers kom van regoor die wêreld.

Helder kleure is nie net op doek te sien nie. Die strate van Port-au-Prince is vol passasiersvoertuie wat camionettes, of tap-taps, genoem word en wat ryklik versier is met verbeeldingryke ontwerpe. ’n Mens sien dikwels in sulke ontwerpe tablo’s wat gebaseer is op die Bybel.

Terwyl jy in die straat afstap, sien jy dalk skielik ’n bekende toneel—soos een van Adam en Eva in die tuin van Eden. Ja, daar is dit, geverf op die agterruit van die camionette wat so pas verbygery het. Tekste en spreuke waarin die naam Jehovah voorkom, word dikwels op hierdie voertuie geverf of ingesluit in die name van kommersiële ondernemings.

Die goeie nuus op skool

Jong Getuies in Haïti het goeie geleenthede om ander leerders te help om van die Bybel te leer. ’n Voorbeeld hiervan is die volgende verslag van ’n 17-jarige Getuiemeisie.

“’n Klasmaat het my op ’n dag genader en gevra wat met ‘hoerery’ bedoel word. Ek het gedink dat hy met my probeer flankeer en het hom geïgnoreer. Maar toe hy een van die seuns dieselfde vraag vra, het die hele klas belangstelling begin toon. Die volgende week, nadat ek navorsing oor die onderwerp gedoen het, het ek dus ’n aanbieding vir die klas gedoen en verduidelik waarom Jehovah se Getuies sedelik, geestelik en fisies rein probeer wees.

“Die leerders het baie vrae gevra en die antwoorde aanvaar wat ek uit die Bybel gegee het. Selfs die skoolhoof, wat aanvanklik huiwerig was, het baie vrae gevra en gereël dat ek met van die ander klasse praat. Ek het vir hulle die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk a gewys, en baie het daarin belanggestel. Die volgende dag het ek 45 boeke onder my skoolmaats versprei. Baie het hulle boek vinnig deurgelees, en party studeer nou die Bybel met Getuies wat naby hulle woon. Een leerder in ons buurt woon nou al die vergaderinge by.”

Die Kreoolse taal word gebruik

Die mense en die land is kleurvol en interessant, en so ook Haïtiese Kreools, wat ’n vermenging van Franse woorde en Wes-Afrika-grammatika is. Dit is die Haïtiane se moedertaal, die taal van hulle hart. Dit is hoofsaaklik in hierdie taal wat Jehovah se Getuies hulle bediening uitvoer, en reëlings is getref om meer Bybellektuur in Haïtiese Kreools beskikbaar te stel.

In 1987 is die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! in Haïtiese Kreools vertaal, gevolg deur die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei en toe die brosjure Wat vereis God van ons? Hierdie publikasies is ’n groot hulp vir nuwe Bybelstudente wat ’n basiese begrip van God se Woord wil verkry. Sedert 1 September 2002 word Die Wagtoring ook in Haïtiese Kreools uitgegee. Lektuur in Frans word steeds gebruik, maar baie verkies om die publikasies in hulle eie taal te lees.

Die goeie nuus in gevangenisse

Jehovah se Getuies het onlangs begin om die goeie nuus na mans en vroue in die staatsgevangenisse te neem. Die Getuies wat dit doen, geniet dit om ’n boodskap van vertroosting te bring aan diegene wat hulle in hierdie droewige situasie bevind. ’n Christenbedienaar sê:

“Toe ons een van die tronke die eerste keer besoek het, is die gevangenes in ’n groot vertrek ingebring om ons te ontmoet. Ons het gewonder hoe hulle sou reageer. Toe ons verduidelik dat ons daar is om hulle te help om die Bybel te verstaan, het al 50 ons goed ontvang. Ons het vir hulle die Kreoolse uitgawes van die brosjures Apply Yourself to Reading and Writing en Jy kan vir ewig op die aarde lewe! aangebied en Bybelstudies met 26 van hulle begin. Onder diegene wat teenwoordig was, was tien ongeletterd, maar hulle het belangstelling getoon toe ons vir hulle wys hoe om met behulp van die prente in die brosjures die woorde te verstaan.”

Toe die Getuies terugkeer, het een man gesê: “Ek het die brosjure gelees en weer gelees. Ek dink gedurig aan wat daarin staan, en ek het uitgesien na julle besoek.” ’n Man wat in hegtenis geneem is vir gewapende roof, het gesê dat hy wil verander, en hy het gevra dat iemand sy vrou besoek om die Bybel met haar te studeer. ’n Vader van twee wat in die gevangenis is, wou ook hê dat iemand sy vrou besoek, sodat sy die verskil tussen ware en valse godsdiensoortuigings kon sien. ’n Protestantse geestelike wat sy kerklidmate van ’n groot som geld beroof het, het gesê dat hy die waarheid gevind het en dat hy, nadat hy sy vonnis uitgedien het, lede van sy kerk sal help om Getuies van Jehovah te word.

Nog ’n gevangene, wat nie sy eie eksemplaar van die Vereis-brosjure in Kreools gehad het nie, het ’n selmaat se brosjure heeltemal oorgeskryf en uit sy kop geleer. ’n Vroulike gevangene het vir nege van haar selmaats begin vertel wat sy leer en selfs met hulle begin studeer. Nadat ’n manlike gevangene daardie brosjure klaar gestudeer het, het hy sy studie in die Kennis-boek voortgesit en vir ander gevangenes begin getuig. Kort voor lank het hy met vier van hulle Bybelstudies gehou.

Mercony b het die Bybel vantevore bestudeer en het familie wat Jehovah se Getuies is. Hy het ander gevangenes aangemoedig om die Bybellektuur te lees wat sy familie vir hom gebring het. Hy sê: “Wanneer ek die lektuur vir die gevangenes aanbied, noem hulle my ’n Getuie van Jehovah. Ek sê vir hulle dat ek nie een is nie, aangesien ek weet wat dit beteken om ’n Getuie te wees. Ek wil hierdie saak nou ernstig opneem, studeer en my laat doop. As ek dieselfde weg as my broers gevolg het toe ek jonger was, sou ek nie hier in die tronk gesit het nie.”

Een van die gevangenes wat by Mercony lektuur gekry het, het vir die Getuie wat hom besoek het, gesê: “Voordat julle verlede Maandag gekom het, was ek depressief en was ek van plan om my lewe te neem. Maar nadat ek die tydskrifte gelees het, het ek tot God gebid om my te vergewe vir die slegte dinge wat ek gedoen het en iemand te stuur om my die regte pad te wys. Hoe bly was ek tog toe julle die volgende dag gekom het om Bybelstudies vir die gevangenes aan te bied! Ek wil hê dat julle my moet leer hoe om Jehovah te dien.”

Ontwaak! bring die goeie nuus na baie

Die Ontwaak! van 8 November 2000 het gehandel oor verpleging. ’n Vrou het 2 000 eksemplare bekom en dit onder verpleegsters versprei wat ’n seminaar in Port-au-Prince bygewoon het. Die Ontwaak! van 8 Julie 2002 het artikels bevat oor die polisie en hulle werk, en dit is onder baie polisiemanne in Port-au-Prince versprei. Hulle het dit waardeer, en nou nog keer party van hulle die Getuies op straat voor vir nog eksemplare van daardie tydskrif.

Onlangs het ’n amptenaar van die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n program gereël om mense oor die probleem van vigs in te lig. Sy is na die takkantoor van Jehovah se Getuies genooi waar daar vir haar inligting oor die onderwerp gewys is wat in die Ontwaak! verskyn het. Sy was beïndruk om artikels te sien wat uit die Bybel bespreek wat die beste manier is om vigs te voorkom en wat toon hoe mense wat daarmee besmet is, gehelp kan word om hulle situasie te hanteer. Sy het gesê dat die Ontwaak! die voortou neem wat die voorsiening van sulke inligting oor die onderwerp betref.

Ja, Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van die Koninkryk op baie maniere in kleurvolle Haïti, net soos hulle in 234 ander lande regoor die wêreld doen. Baie reageer op hierdie boodskap van hoop en word gehelp om verby die huidige probleme van die lewe te kyk na ’n nuwe wêreld, waar almal wat die ware God, Jehovah, aanbid, volmaakte lewe in oorvloed sal geniet.—Openbaring 21:4.

[Voetnote]

a Die lektuur wat in hierdie artikel genoem word, word deur Jehovah se Getuies uitgegee.

b Naam is verander.

[Foto-erkenning op bladsy 9]

Agtergrond: ©Adalberto Rios Szalay/photodisc/age fotostock