Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense—Julle raak julle ouers se hart

Jongmense—Julle raak julle ouers se hart

Jongmense—Julle raak julle ouers se hart

“EK HET geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel”, het die bejaarde apostel Johannes geskryf (3 Johannes 4). Hoewel die kinders wat in hierdie Bybelvers gemeld word, na Christendissipels verwys, kan ’n godvresende ouer hom of haar maklik vereenselwig met hoe Johannes hier gevoel het. Net soos ouers ’n betekenisvolle verskil in die lewe van hulle kinders maak, maak kinders ’n groot verskil in die lewe van hulle ouers.

Koning Salomo van Israel het getoon watter groot uitwerking kinders op hulle ouers kan hê. Hy het geskryf: “’n Wyse seun maak ’n vader bly, en ’n dwase seun is die droefheid van sy moeder” (Spreuke 10:1). Alle kinders—selfs dié wat ouer is—kan dus gerus dink aan die uitwerking wat hulle dade op hulle vader en moeder sal hê. Waarom is dit gepas?

Dink net met hoeveel sorg jou godvresende ouers jou grootgemaak het! Hulle was besorg oor jou en het vir jou gebid lank voordat jy gebore is. Ná jou geboorte het albei jou ouers dit geniet om ’n hegte band met jou te smee en het hulle God waarskynlik gedank vir die wonderlike—maar gewigtige—voorreg en verantwoordelikheid van ouerskap. ’n Klein, hulpelose baba was nou in hulle sorg, en as aanbidders van Jehovah het hulle dit ernstig opgeneem.

Omdat jou ouers ware Christene is, het hulle hulle tot die Bybel en Bybellektuur gewend vir betroubare leiding, en hulle het raad gevra by diegene wat self al kinders grootgemaak het. Hulle het ook voortdurend tot God gebid oor hulle kwellinge (Rigters 13:8). Toe jy groter geword het, het jou ouers geweet wat jou sterk punte is, maar hulle was ook nie blind vir jou swakhede nie (Job 1:5). Met die tienerjare het nuwe uitdagings ontstaan. Jy was dalk soms opstandig, en jou ouers moes meer bid, meer lees en meer dink aan hoe om jou te help om voort te gaan om jou hemelse Vader, Jehovah, te aanbid.

Jou ouers hou nooit op om ’n moeder en ’n vader te wees nie. Hulle is nog steeds besorg oor jou fisiese, verstandelike, emosionele en geestelike welsyn selfs wanneer jy ouer word. Jou ouers hou egter altyd in gedagte dat jy wilsvryheid het en dat daar geen versekering is van hoe jou lewe sal verloop nie. Uiteindelik sal jy self moet besluit watter weg jy gaan volg.

As daar vir ouers “geen groter rede tot dankbaarheid” is as om te hoor dat hulle kinders “voortgaan om in die waarheid te wandel” nie, is dit dan nie logies dat die teenoorgestelde ook waar is nie? Ja, kinders wat dwaas optree, veroorsaak droefheid vir hulle ouers. Salomo het gesê: “’n Dwase seun is ’n ergernis vir sy vader en ’n bitterheid vir haar wat aan hom geboorte gegee het” (Spreuke 17:25). Watter groot hartseer ervaar ouers tog wanneer ’n kind die aanbidding van die ware God verlaat!

Dit is duidelik dat jy ’n groot invloed binne en buite jou gesin uitoefen. Jou gedrag raak jou ouers se hart grootliks. As jy jou rug op God en sy beginsels draai, sal jou ouers ly. Maar die teenoorgestelde is ook waar. As jy getrou en gehoorsaam aan Jehovah bly, sal dit jou ouers vreugde verskaf. Wees vasbeslote om jou ouers se hart bly te maak! Watter kosbaarder gawe sal jy ooit kan gee aan hulle wat jou grootmaak, beskerm en liefhet?