Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat God se Woord jou voetstappe rig

Laat God se Woord jou voetstappe rig

Laat God se Woord jou voetstappe rig

“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—PSALM 119:105.

1, 2. Waarom het die meeste mense nie daarin geslaag om ware vrede en geluk te vind nie?

 KAN jy aan ’n geleentheid dink toe jy iemand aanwysings moes vra? Miskien was jy naby jou bestemming maar nie seker van die laaste paar draaie nie. Of dalk het jy heeltemal verdwaal en moes jy in ’n totaal ander rigting gaan. Sal dit nie in enigeen van dié gevalle verstandig wees om die aanwysings te volg van iemand wat die omgewing ken nie? So iemand kan jou help om jou bestemming te bereik.

2 Die mensdom in die algemeen probeer al duisende jare lank om sonder goddelike hulp hulle pad deur die lewe te vind. Maar op hulle eie is onvolmaakte mense heeltemal verlore. Hulle kan eenvoudig nie die pad na ware vrede en geluk vind nie. Waarom is hulle nie in staat om hierdie bestemming te bereik nie? Die profeet Jeremia het meer as 2 500 jaar gelede gesê: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Enigiemand wat sy eie voetstappe probeer rig sonder om bekwame hulp te aanvaar, sal beslis frustrasie ondervind. Ja, die mensdom het leiding nodig!

3. Waarom is Jehovah God hoogs bekwaam om die mensdom van leiding te voorsien, en wat belowe hy?

3 Jehovah God is hoogs bekwaam om hierdie leiding te voorsien. Waarom? Omdat hy die samestelling van mense beter verstaan as enigiemand anders. En hy is ten volle bewus van hoe die mensdom die spoor byster geraak en verdwaal het. Hy weet ook wat hulle moet doen om weer op koers te kom. Verder weet Jehovah, as die Skepper, altyd wat die beste is vir ons (Jesaja 48:17). Ons kan dus sy belofte in Psalm 32:8 ten volle vertrou: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.” Dit ly geen twyfel nie: Jehovah voorsien die beste leiding. Maar presies hoe lei hy ons?

4, 5. Hoe kan God se woorde ons rig?

4 ’n Psalmis het in gebed tot Jehovah gesê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). God se verklarings en herinneringe word in die Bybel gevind, en dit kan ons help om struikelblokke wat ons op ons pad teëkom, te oorkom. Ja, wanneer ons die Bybel lees en toelaat dat dit ons rig, ervaar ons persoonlik wat in Jesaja 30:21 beskryf word: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop.’”

5 Maar let daarop dat Psalm 119:105 na twee verwante funksies van God se Woord verwys. Eerstens, dit dien as ’n lamp vir ons voet. Wanneer ons van dag tot dag voor uitdagings te staan kom, moet beginsels in die Bybel ons voetstappe rig sodat ons verstandige besluite kan neem en die strikke en slaggate van hierdie wêreld kan vermy. Tweedens, God se herinneringe verlig ons pad deur ons te help om keuses te maak wat strook met ons hoop om vir ewig in God se beloofde Paradys te lewe. As die pad vorentoe goed verlig is, sal ons die gevolge—goed of sleg—van ’n sekere handelswyse kan sien (Romeine 14:21; 1 Timoteus 6:9; Openbaring 22:12). Kom ons kyk in meer besonderhede hoe God se woorde in die Bybel ’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad kan wees.

“’n Lamp vir my voet”

6. Onder watter omstandighede kan God se woorde ’n lamp vir ons voet wees?

6 Ons neem elke dag besluite. Party besluite lyk miskien redelik onbelangrik, maar soms kom ons voor ’n situasie te staan wat ons sedelikheid, ons eerlikheid of ons neutraliteit toets. Om hierdie beproewinge suksesvol die hoof te bied, moet ons “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen [wees] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Deur juiste kennis van God se Woord op te doen en ’n begrip van die beginsels daarin te verkry, lei ons ons gewete op sodat ons besluite sal neem wat Jehovah behaag.—Spreuke 3:21.

7. Beskryf ’n situasie waarin ’n Christen dalk geneig sal wees om met ongelowige werksmaats te assosieer.

7 Beskou ’n voorbeeld. Is jy ’n volwassene wat opreg probeer om Jehovah se hart bly te maak? (Spreuke 27:11). Dan moet jy geprys word. Maar stel jou vir ’n oomblik voor dat ’n paar werksmaats vir jou ’n kaartjie aanbied om saam met hulle na ’n sportgeleentheid te gaan. Hulle geniet jou geselskap by die werk en wil graag ook ná werk met jou assosieer. Jy is redelik seker dat hulle nie slegte mense is nie. Hulle het moontlik selfs ’n paar goeie beginsels. Wat sal jy doen? Sal dit enige gevaar inhou om die uitnodiging te aanvaar? Hoe kan God se Woord jou help om ’n goeie besluit in hierdie saak te neem?

8. Watter skriftuurlike beginsels help ons om oor die kwessie van assosiasie te redeneer?

8 Beskou ’n paar skriftuurlike beginsels. Die eerste een waaraan ’n mens dalk dink, word in 1 Korintiërs 15:33 gevind, wat sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Beteken gehoorsaamheid aan hierdie beginsel dat jy ongelowiges heeltemal moet vermy? Die skriftuurlike antwoord op dié vraag is nee. Die apostel Paulus het immers self liefdevolle bedagsaamheid teenoor “alle soorte mense”, insluitende ongelowiges, getoon (1 Korintiërs 9:22). Die aard van die Christelike godsdiens vereis juis dat ons belangstelling in ander toon—insluitende dié wat nie dieselfde godsdiensoortuigings as ons het nie (Romeine 10:13-15). Hoe kan ons op stuk van sake die raad volg om “aan almal goed [te] doen” as ons ons afsonder van mense wat moontlik ons hulp nodig het?—Galasiërs 6:10.

9. Watter Bybelraad help ons om gebalanseerd te wees in ons verhoudinge met ons werksmaats?

9 Maar om vriendelik te wees teenoor ’n werksmaat is iets heeltemal anders as om sy hegte vriend te wees. ’n Ander skriftuurlike beginsel is hierby betrokke. Die apostel Paulus het Christene gewaarsku: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14). Wat beteken die uitdrukking ‘moenie onder ’n ongelyke juk kom nie’? Party Bybelvertalings gee hierdie woorde weer met “moenie saamspan nie”, “moenie as gelykes probeer saamwerk nie” of “hou op om ongepaste verhoudinge aan te knoop”. Op watter stadium word ’n verhouding met ’n werksmaat ongepas? Wanneer gaan dit te ver en kom jy onder ’n ongelyke juk? God se Woord, die Bybel, kan jou voetstappe in hierdie opsig rig.

10. (a) Hoe het Jesus vriende gekies? (b) Watter vrae kan ’n mens help om goeie besluite oor assosiasie te neem?

10 Beskou die voorbeeld van Jesus, wat al van die skepping af vir die mens lief is (Spreuke 8:31). Terwyl hy op die aarde was, het hy ’n hegte band met sy volgelinge gesmee (Johannes 13:1). Hy het selfs ’n man wat op godsdiensgebied mislei was, “liefgekry” (Markus 10:17-22). Maar Jesus het ook duidelike perke gestel in sy keuse van intieme vriende. Hy het nie noue bande gehad met mense wat nie opreg daarin belanggestel het om sy Vader se wil te doen nie. By een geleentheid het Jesus gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Johannes 15:14). Jy kom miskien wel goed oor die weg met ’n spesifieke werksmaat. Maar vra jou af: ‘Is hierdie persoon bereid om te doen wat Jesus beveel? Wil hy of sy van Jehovah leer, die een wat Jesus ons beveel het om te aanbid? Het hy of sy dieselfde sedelike standaarde wat ek as ’n Christen het?’ (Matteus 4:10). Wanneer jy met jou werksmaats praat en as jy streng by Bybelstandaarde hou, sal die antwoorde op hierdie vrae duidelik word.

11. Meld situasies waarin God se woorde ons voetstappe moet rig.

11 Daar is baie ander situasies waarin God se woorde soos ’n lamp vir ons voet kan wees. Byvoorbeeld, ’n werklose Christen word dalk ’n werk aangebied wat hy dringend nodig het. Maar die rooster is veeleisend, en as hy die werk aanvaar, sal hy etlike Christelike vergaderinge nie kan bywoon nie en ook nie aan ander bedrywighede kan deelneem wat met ware aanbidding verband hou nie (Psalm 37:25). ’n Ander Christen kom miskien in groot versoeking om na vermaak te kyk wat beslis Bybelbeginsels skend (Efesiërs 4:17-19). En ’n ander neem moontlik maklik aanstoot aan die onvolmaakthede van medegelowiges (Kolossense 3:13). In al hierdie situasies moet ons God se Woord toelaat om ’n lamp vir ons voet te wees. Deur Bybelbeginsels te volg, kan ons inderdaad enige uitdaging in die lewe met welslae die hoof bied. God se Woord is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer”.—2 Timoteus 3:16.

“’n Lig vir my pad”

12. Hoe is God se woorde ’n lig vir ons pad?

12 Psalm 119:105 sê ook dat God se woorde ’n lig vir ons pad kan wees deur die pad vorentoe te verlig. Ons word nie in die duister gelaat wat die toekoms betref nie, want die Bybel verduidelik wat die betekenis van onrusbarende wêreldtoestande is en wat die uiteinde sal wees. Ja, ons besef dat ons in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1-5). Die feit dat ons weet wat voorlê, moet ’n diepgaande invloed hê op hoe ons nou lewe. Die apostel Petrus het geskryf: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!”—2 Petrus 3:11, 12.

13. Hoe moet die dringendheid van ons tye ons denke en ons lewenswyse beïnvloed?

13 Ons denke en ons lewenswyse moet ons vaste oortuiging weerspieël dat ‘die wêreld verbygaan en so ook sy begeerte’ (1 Johannes 2:17). As ons Bybelriglyne volg, sal dit ons help om wyse besluite oor ons toekomstige doelwitte te neem. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Hoe prysenswaardig is dit tog om te sien hoe talle jongmense geloof in Jesus se woorde stel deur die voltydse bediening na te streef! Ander—insluitende hele gesinne—het vrywillig verhuis na lande waar Koninkryksverkondigers dringend nodig is.

14. Hoe het een Christengesin hulle bediening uitgebrei?

14 Neem byvoorbeeld een Christengesin van vier wat van die Verenigde State na die Dominikaanse Republiek verhuis het om saam met ’n gemeente te dien in ’n dorp met ’n bevolking van 50 000. Die gemeente bestaan uit sowat 130 Koninkryksverkondigers. Maar op 12 April 2006 het ongeveer 1 300 die Herdenking van Christus se dood bygewoon! In daardie gebied is die veld so ‘wit vir die oes’ dat hierdie vader, moeder, seun en dogter ná net vyf maande altesaam 30 Bybelstudies gehou het (Johannes 4:35). Die vader verduidelik: “Die gemeente het 30 broers en susters wat hierheen getrek het om te help. Omtrent 20 is van die Verenigde State, terwyl die res van die Bahamas, Kanada, Italië, Nieu-Seeland en Spanje kom. Wanneer hulle hier aankom, is hulle gretig om aan die bediening deel te neem, en hulle het ’n ontsaglike invloed op die geesdrif van die plaaslike broers gehad.”

15. Watter seëninge het jy al geniet omdat jy Koninkryksbelange eerste stel in jou lewe?

15 Baie is natuurlik nie in ’n posisie om na ’n ander land te verhuis om te dien waar hulp nodig is nie. Maar dié wat kan—of wat hulle omstandighede kan aanpas om hulle beskikbaar te stel—sal beslis baie seëninge geniet deur aan hierdie aspek van die bediening deel te neem. En ongeag waar jy dien, moenie die geleentheid laat verbygaan om die vreugde te smaak wat dit verskaf om Jehovah met al jou krag te dien nie. As jy Koninkryksbelange eerste stel in jou lewe, belowe Jehovah dat hy “op [jou] ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie”.—Maleagi 3:10.

Vind baat by Jehovah se leiding

16. Hoe sal ons daarby baat vind as ons toelaat dat God se woorde ons rig?

16 Soos ons gesien het, word ons op twee verwante maniere deur Jehovah se woorde gerig. Dit dien as ’n lamp vir ons voet, deur ons te help om in die regte rigting vorentoe te beweeg en ons te lei wanneer ons besluite moet neem. En dit verlig ons pad en stel ons in staat om duidelik te sien wat voorlê. Dit help ons dan om Petrus se vermaning te gehoorsaam: “Versterk . . . julle verstand vir bedrywigheid, bly volkome nugter van verstand; vestig julle hoop op die onverdiende goedhartigheid wat julle deel sal word by die openbaring van Jesus Christus.”—1 Petrus 1:13.

17. Hoe sal Bybelstudie ons help om God se leiding te volg?

17 Dit ly geen twyfel dat Jehovah leiding voorsien nie. Die vraag is: Sal jy jou daaraan onderwerp? As jy die leiding wil verstaan wat Jehovah voorsien, moet jy jou voorneem om elke dag ’n gedeelte van die Bybel te lees. Peins oor wat jy lees, probeer Jehovah se wil in sake sien en dink aan verskillende maniere waarop die materiaal op jou lewe van toepassing kan wees (1 Timoteus 4:15). Gebruik dan jou “denkvermoë” wanneer jy persoonlike besluite neem.—Romeine 12:1.

18. Watter seëninge ontvang ons wanneer ons ons deur God se Woord laat rig?

18 As ons dit toelaat, sal die beginsels in God se Woord ons verlig en ons die nodige leiding gee wanneer ons besluite neem oor die regte weg om te volg. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah se opgetekende woorde ‘die onervarene wys maak’ (Psalm 19:7). Wanneer ons toelaat dat die Bybel ons rig, word ons geseën met ’n skoon gewete en die bevrediging wat dit verskaf om Jehovah te behaag (1 Timoteus 1:18, 19). As ons ons voetstappe elke dag deur God se woorde laat rig, sal Jehovah ons beloon met die allergrootste seën, die ewige lewe.—Johannes 17:3.

Onthou jy?

• Waarom is dit belangrik om toe te laat dat Jehovah God ons voetstappe rig?

• Hoe kan God se woorde ’n lamp vir ons voet wees?

• Hoe kan God se woorde ’n lig vir ons pad wees?

• Hoe sal Bybelstudie ons help om God se leiding te volg?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Wanneer word assosiasie met ’n ongelowige onverstandig?

[Prent op bladsy 16]

Jesus se intieme vriende was mense wat Jehovah se wil gedoen het

[Prente op bladsy 17]

Toon ons lewenswyse dat ons Koninkryksbelange eerste stel?