Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons soeke na skatte het blywende rykdom opgelewer

Ons soeke na skatte het blywende rykdom opgelewer

Lewensverhaal

Ons soeke na skatte het blywende rykdom opgelewer

Soos vertel deur Dorothea Smith en Dora Ward

Watter soort skatte het ons gesoek? Ons was twee jong meisies met ’n vurige begeerte om deel te hê aan die vervulling van Jesus se opdrag: ‘Gaan en maak dissipels van mense van al die nasies’ (Matteus 28:19). Laat ons verduidelik hoe hierdie soeke blywende rykdom opgelewer het.

DOROTHEA: Ek is in 1915, kort nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, as die derde kind in ons gesin gebore. Ons het naby Howell, Michigan, in die Verenigde State, gewoon. My pa was nie godsdienstig nie, maar my ma was ’n godvresende vrou. Sy het ons probeer leer om die Tien Gebooie te onderhou, maar dit het haar bekommer dat ek, my broer, Willis, en my suster, Viola, nie aan ’n kerk behoort het nie.

Toe ek 12 jaar oud was, het my ma besluit dat ek in die Presbiteriaanse Kerk gedoop moet word. Ek onthou die dag toe ek gedoop is, nog baie goed. Twee babas, wat deur hulle ma’s vasgehou is, is saam met my gedoop. Dit was vir my ’n vreeslike vernedering om saam met babas gedoop te word. Die predikant het ’n paar druppels water op my kop gesprinkel en woorde geprewel wat ek nie verstaan het nie. Om eerlik te wees, daardie twee babas het net soveel van doop geweet as ek!

Op ’n dag in 1932 het ’n motor by ons oprit ingedraai, en my ma het die deur gaan oopmaak. Daar het twee jong mans gestaan wat vir haar godsdiensboeke aangebied het. Een van hulle het homself voorgestel as Albert Schroeder. Hy het vir my ma lektuur gewys wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Sy het die boeke geneem. Daardie publikasies het haar gehelp om die waarheid van God se Woord aan te neem.

Die soeke na skatte begin

Later het ek by my suster in Detroit gaan woon. Daar het ek ’n bejaarde dame ontmoet wat my suster besoek het om haar die Bybel te leer. Daardie besprekings het my aan ’n weeklikse radioprogram herinner waarna ek en my ma geluister het toe ek nog by die huis was. Dié program het bestaan uit ’n toespraak van 15 minute oor ’n Bybelonderwerp deur J. F. Rutherford, wat destyds die leiding onder Jehovah se Getuies geneem het. In 1937 het ons met die eerste gemeente van Jehovah se Getuies in Detroit begin omgaan. Ek is die volgende jaar gedoop.

Vroeg in die 1940’s is daar aangekondig dat Jehovah se Getuies ’n skool genaamd Gilead in South Lansing, New York, gaan open om sendelinge op te lei. Toe ek hoor dat party wat aan daardie skool gradueer, genooi gaan word om in die buiteland te dien, het ek by myself gedink: ‘Dis iets wat ek wil doen!’ Ek het my dit ten doel gestel om Gilead by te woon. Wat ’n voorreg sou dit tog wees om in ander lande te soek na “skatte”—oftewel mense wat graag dissipels van Christus Jesus wil word!—Haggai 2:6, 7.

Ek bereik mettertyd my doel

In April 1942 het ek uit my werk bedank en as ’n pionier, of voltydse evangeliedienaar, in Findlay, Ohio, begin dien, saam met ’n groep van vyf geestelike susters. Daar was nie ’n gemeente met ’n program vir gereelde vergaderinge nie, maar ons het mekaar aangemoedig deur saam artikels uit ons Christelike publikasies te lees. Gedurende my eerste maand van pionierdiens het ek 95 boeke by belangstellendes gelaat! Ongeveer ’n jaar en ’n half later het ek ’n toewysing ontvang om as ’n spesiale pionier in Chambersburg, Pennsilvanië, te gaan dien. Daar het ek by vyf ander pioniers aangesluit, onder andere Dora Ward, ’n Christensuster van Iowa. Ek en Dora het pioniermaats geword. Ons is in dieselfde jaar gedoop, en ons het albei die begeerte gehad om die Gileadskool by te woon en as sendelinge in die buiteland te dien.

Vroeg in 1944 het die groot dag aangebreek! Ons het albei ’n uitnodiging ontvang om die vierde klas van Gilead by te woon. Ons het in Augustus daardie jaar ingeskryf. Maar voordat ek verder gaan, laat Dora eers vertel hoe dit gekom het dat sy soveel jare saam met my na skatte gesoek het.

Gretig om voltyds te begin getuig

DORA: My ma het gebid vir hulp om God se Woord te verstaan. Een Sondag het ek en sy ’n lesing deur J. F. Rutherford oor die radio gehoor. Aan die einde van die toespraak het my ma uitgeroep: “Dít is die waarheid!” Kort daarna het ons die publikasies van Jehovah se Getuies bestudeer. In 1935, toe ek 12 jaar oud was, het ek ’n dooptoespraak bygewoon wat deur een van Jehovah se Getuies gehou is, en ek het ’n hartgrondige begeerte gehad om ook my lewe aan Jehovah toe te wy. Drie jaar later is ek gedoop. My toewyding en doop het my gehelp om gedurende die oorblywende jare wat ek op skool was, my doelwitte voor oë te hou. Ek was gretig om klaar te maak met skool sodat ek as ’n pionier kon begin dien.

Die groep Getuies met wie ons op daardie stadium omgegaan het, het as ’n gemeente in Fort Dodge, Iowa, vergader. Dit het groot inspanning geverg om Christelike vergaderinge by te woon. Destyds het die Wagtoring-studieartikels nie vrae vir die gemeentelike bespreking ingesluit nie. Ons is gevra om voorbereide vrae vir die broer te gee wat die Wagtoring-studie gehou het. Maandagaande het ek en my ma ’n vraag vir elke paragraaf voorberei, en ons het dit vir die studiehouer gegee sodat hy dié kon kies wat hy wou gebruik.

Van tyd tot tyd is ons gemeente deur ’n reisende opsiener besoek. Een van hierdie broers, John Booth, het my die eerste keer in die deur-tot-deur-bediening uitgeneem toe ek 12 was. Op 17 het ek hom gevra hoe om ’n aansoekvorm vir pionierdiens in te vul, en hy het my gehelp. Min het ek geweet dat ons paaie later weer sou kruis en dat hy ’n lewenslange vriend sou word!

As ’n pionier het ek dikwels saam met suster Dorothy Aronson gewerk, ’n voltydse evangeliedienaar wat 15 jaar ouer as ek was. Ons was pioniermaats totdat sy genooi is om die eerste klas van Gilead in 1943 by te woon. Daarna het ek voortgegaan om op my eie te pionier.

Teenstand kon ons nie keer nie

Die 1940’s was moeilike jare vir ons weens die nasionalistiese gees wat deur die Tweede Wêreldoorlog aangeblaas is. Wanneer ons van huis tot huis getuig het, is ons dikwels met vrot eiers, ryp tamaties en soms selfs met klippe bestook! Ons het voor ’n groter toets te staan gekom toe ons Die Wagtoring en Vertroosting (nou Ontwaak!) op die straathoeke aangebied het. Die polisie, wat deur godsdiensteenstanders opgesweep is, het na ons toe gekom en gedreig om ons in hegtenis te neem as hulle ons weer in die openbaar sien preek.

Ons het natuurlik geweier om op te hou preek, en ons is na die polisiestasie geneem vir ondervraging. Nadat ons vrygelaat is, het ons na dieselfde straathoek teruggekeer en dieselfde tydskrifte aangebied. Die verantwoordelike broers het ons aangeraai om Jesaja 61:1, 2 te gebruik om ons standpunt te verdedig. Toe ’n jong polisieman eenkeer na my toe gekom het, het ek die verse senuweeagtig vir hom aangehaal. Tot my verbasing het hy op die plek omgedraai en weggestap! Dit het vir my gelyk of die engele ons beskerm.

’n Onvergeetlike dag

In 1941 het ek die vreugdevolle geleentheid gehad om ’n vyfdaagse streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Louis, Missouri, by te woon. Gedurende daardie streekbyeenkoms het broer Rutherford al die kinders tussen 5 en 18 jaar gevra om na die hoofdeel van die stadion te gaan. Duisende kinders het daar bymekaargekom. Broer Rutherford het ons gegroet deur met sy sakdoek te waai. Ons almal het teruggewaai. Nadat hy ’n uur lange toespraak gehou het, het hy gesê: “Kinders wat ingestem het om God se wil te doen en wat standpunt aan die kant van sy teokratiese regering onder Christus Jesus ingeneem het en gevolglik ingestem het om God en sy Koning te gehoorsaam, staan asseblief op.” Die 15 000 kinders het tegelykertyd opgestaan—ek was een van hulle! Die spreker het bygevoeg: “Almal van julle wat sal doen wat julle kan om ander van God se Koninkryk en die gepaardgaande seëninge te vertel, sê asseblief Ja.” Ons het, en daar was dawerende applous.

Toe is die boek Kinders a vrygestel, en jongmense het in ’n lang ry by die verhoog verbygestap, waar broer Rutherford vir elkeen van ons ’n eksemplaar van die nuwe boek gegee het. Dit was opwindend! Baie van diegene wat by daardie geleentheid ’n boek ontvang het, dien Jehovah vandag nog ywerig regoor die wêreld waar hulle oor God se Koninkryk en sy regverdigheid praat.—Psalm 148:12, 13.

Hoe bly was ek tog om as ’n spesiale pionier na Chambersburg gestuur te word nadat ek drie jaar lank alleen gepionier het! Daar het ek Dorothea ontmoet, en ons het gou onafskeidbaar geword. Ons was vol jeugdige geesdrif en het baie energie gehad. Ons was gretig om meer in die predikingswerk te doen. Saam het ons soeke na skatte begin wat ’n leeftyd geduur het.—Psalm 110:3.

’n Paar maande nadat ons as spesiale pioniers begin dien het, het ons Albert Mann ontmoet, wat aan die eerste klas van Gilead gegradueer het. Hy was op die punt om na sy buitelandse toewysing te vertrek. Hy het ons aangemoedig om enige buitelandse toewysing te aanvaar wat ons dalk sal ontvang.

Saam by die skool

DORA EN DOROTHEA: Stel jou ons vreugde voor toe ons met ons sendingopleiding begin het! Albert Schroeder, die broer wat 12 jaar vroeër Studies in the Scriptures by Dorothea se ma gelaat het, het ons die eerste dag van die skool ingeskryf. John Booth was ook daar. Hy was toe die plaasopsiener by Kingdom Farm, waar die skool gehou is. Albei manne het later as lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.

By die Gileadskool het ons die dieper waarhede van die Bybel bestudeer. Dit was uitstekende opleiding. Daar was 104 studente in ons klas, onder andere die eerste buitelandse student van Mexiko. Hy het sy Engels probeer verbeter terwyl ons Spaans probeer leer het. Hoe opgewonde was ons tog die dag toe broer Nathan H. Knorr die buitelandse toewysings aan die studente uitgedeel het! Die meeste het toewysings in Sentraal- en Suid-Amerika ontvang; ons toewysing was Chili.

Die soeke na skatte in Chili

Om Chili te kon binnegaan, moes ons visums kry, wat ’n geruime tyd geneem het. Daarom het ons ná ons graduering in Januarie 1945 ’n jaar en ’n half lank as pioniers in Washington, DC, gedien. Toe ons ons visums gekry het, het ons deel geword van ’n groep van nege sendelinge wat na Chili gereis het. Sewe het aan vroeëre Gileadklasse gegradueer.

Etlike Christenbroers het ons met ons aankoms in Santiago, die hoofstad, verwelkom. Een van hulle was Albert Mann, die Gileadgegradueerde wat ons ’n paar jaar vroeër aangemoedig het. Hy het die vorige jaar na Chili gekom, saam met Joseph Ferrari van die tweede klas van Gilead. Toe ons in Chili aangekom het, was daar minder as 100 verkondigers in die hele land. Ons was gretig om nog skatte—opregtes van hart—in ons nuwe toewysing te soek en te vind.

Ons is na ’n sendinghuis in Santiago gestuur. Dit was ’n nuwe ervaring vir ons om saam met ’n groot sendelinggesin te woon. Behalwe die vasgestelde aantal ure wat ons in die predikingswerk moes deurbring, moes al die sendelinge een keer per week vir die gesin kook. Dit het ons soms lelik in die verleentheid gebring. Eenkeer het ons vir ons honger gesin warm botterbroodjies vir ontbyt gemaak, maar toe ons dit uit die oond haal, het dit baie vreemd geruik. Ons het koeksoda pleks van bakpoeier gebruik! Iemand het koeksoda in ’n leë bakpoeierblik gegooi.

Maar die foute wat ons gemaak het terwyl ons Spaans geleer het, was ’n groter verleentheid. ’n Groot gesin met wie ons die Bybel gestudeer het, het byna hulle studie gestop omdat hulle nie kon verstaan wat ons sê nie. Maar deur die tekste in hulle eie Bybel na te slaan, het hulle nietemin daarin geslaag om die waarheid te leer, en vyf van hulle het Getuies geword. Destyds was daar geen taalkursus vir nuwe sendelinge nie. Ons het dadelik met die predikingswerk begin en die taal probeer leer by die mense vir wie ons getuig het.

Ons het baie Bybelstudies gehou, en van ons studente het vinnig vordering gemaak. Ander het baie geduld geverg. ’n Jong vrou, Teresa Tello, het na die boodskap van die waarheid geluister en gesê: “Julle moet asseblief weer kom en my meer vertel.” Ons het 12 keer teruggegaan, maar haar nie tuis gevind nie. Drie jaar het verloop. Toe het ons ’n byeenkoms bygewoon wat in ’n teater in Santiago gehou is. Toe ons Sondag die byeenkoms verlaat, het iemand uitgeroep: “Señorita Dora, señorita Dora!” Ons het omgedraai, en daar was Teresa. Sy het oorkant die straat by haar suster gekuier en oorgekom om te sien wat by die teater aan die gang was. Wat ’n vreugde was dit tog om haar weer raak te loop! Ons het reëlings getref vir ’n Bybelstudie, en sy is kort daarna gedoop. Later het sy ’n spesiale pionier geword. Vandag, sowat 45 jaar later, is Teresa nog steeds in die spesiale voltydse diens.—Prediker 11:1.

Ons ontdek skatte in die ‘sand’

In 1959 is ons gestuur na Punta Arenas—wat “Sandbankpunt” beteken—aan die suidelikste punt van Chili se 4 300 kilometer lange kuslyn. Punta Arenas is ’n ongewone gebied. Gedurende die somermaande is die dae lank—die son sak eers om halftwaalf in die aand. Ons kon baie dae in die bediening deurbring, maar nie sonder struikelblokke nie, want in die somer waai daar hewige Antarktiese winde. Die wintermaande is koud, en die dae is kort.

Ondanks hierdie uitdagings het Punta Arenas ’n unieke bekoring. Gedurende die somer beweeg golwende reënwolke voortdurend in die weste verby. Nou en dan giet hulle ’n klomp water oor jou kop uit, maar dan steek die wind op en waai dit jou weer droog. Daarna verskyn ’n pragtige reënboog wanneer die son deur die wolke breek. Hierdie reënboë kan soms ure lank gesien word, terwyl dit verdwyn en dan weer verskyn wanneer die son deur die reënwolke skyn.—Job 37:14.

Destyds was daar maar min verkondigers in Punta Arenas. Ons susters moes die vergaderinge in die klein plaaslike gemeentetjie lei. Jehovah het ons pogings geseën. Sewe-en-dertig jaar later het ons weer die gebied besoek. Wat het ons gevind? Ses florerende gemeentes en drie pragtige Koninkryksale. Hoe wonderlik was dit tog dat Jehovah ons toegelaat het om geestelike skatte in die ‘sand’ daar in die suide te ontdek!—Sagaria 4:10.

Nog skatte op ’n “breë strand”

Nadat ons drie en ’n half jaar in Punta Arenas gedien het, is ons gestuur om in die hawestad Valparaíso te gaan dien. Die stad bestaan uit 41 heuwels om ’n baai, wat oor die Stille Oseaan uitkyk. Ons het ons predikingswerk hoofsaaklik op een van hierdie heuwels gedoen, Playa Ancha, wat “Breë strand” beteken. Gedurende die 16 jaar wat ons daar gedien het, het ons gesien hoe ’n groep jong Christenbroers geestelik groei tot die punt waar hulle nou as reisende opsieners en as Christen- ouer manne in gemeentes regoor Chili dien.

Ons volgende sendingtoewysing was Viña del Mar. Daar het ons drie en ’n half jaar gedien totdat ’n aardbewing die sendinghuis beskadig het. Ons het na Santiago teruggekeer, waar ons 40 jaar vroeër ons sendingdiens begin het. Dinge het verander. Nuwe takfasiliteite is gebou, en die vorige takkantoorgebou het ’n tuiste geword vir al die sendelinge wat in die land oor was. Daardie gebou is later vir die Bedieningsopleidingskool gebruik. Toe is Jehovah se liefderyke goedhartigheid weer aan ons geopenbaar. Vyf van ons sendelinge wat al gevorderd was in jare, is genooi om by Bethel te gaan bly. Gedurende die tyd dat ons in Chili gedien het, het ons 15 verskillende toewysings gehad. Ons het gesien hoe die werk gegroei het van minder as 100 verkondigers tot sowat 70 000! Hoeveel vreugde het dit ons tog verskaf om 57 jaar lank na skatte in Chili te soek!

Ons voel baie geseënd dat Jehovah ons toegelaat het om soveel mense—ja, skatte—te vind wat later deur Jehovah in sy organisasie gebruik is. As ons terugkyk op die meer as 60 jaar wat ons Jehovah saam gedien het, stem ons heelhartig saam met die gedagtes wat koning Dawid uitgespreek het toe hy geskryf het: “Hoe oorvloedig is u goedheid tog, wat u as ’n skat bewaar het vir dié wat u vrees!”—Psalm 31:19.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prente op bladsy 9]

Dorothea in 2002 en in die predikingswerk in 1943

[Prent op bladsy 10]

Besig met straatwerk in Fort Dodge, Iowa, in 1942

[Prent op bladsy 10]

Dora, 2002

[Prent op bladsy 12]

Dorothea en Dora buitekant hulle eerste sendinghuis in Chili, 1946