Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wanneer eindig die roeping van Christene tot ’n hemelse hoop?

Die Bybel gee nie ’n presiese antwoord op hierdie vraag nie. Ons weet wel dat die salwing van Jesus se dissipels met die oog op hulle hemelse erfenis in 33 G.J. begin het (Handelinge 2:1-4). Ons weet ook dat ware gesalfde Christene, die “koring”, ná die dood van die apostels ‘saam gegroei’ het met valse Christene, die “onkruid” (Matteus 13:24-30). Toe, vanaf die laat 1800’s, was dit duidelik dat gesalfde Christene weer bedrywig is. In 1919 het die insameling van “die oes van die aarde”, met inbegrip van die laastes van die gesalfdes, begin.—Openbaring 14:15, 16.

Van die laat 1800’s tot 1931 was die vernaamste oogmerk van die predikingswerk om die oorblywende lede van die liggaam van Christus in te samel. In 1931 het die Bybelstudente die Bybelse naam Jehovah se Getuies aangeneem, en in The Watchtower van 15 November 1933 is die gedagte uitgespreek dat hierdie unieke naam die “denarius” is waarna daar in Jesus se gelykenis in Matteus 20:1-16 verwys word. Daar is gemeen dat die 12 uur wat in die gelykenis gemeld word, ooreenstem met die 12 jaar van 1919 tot 1931. Hierna is daar baie jare lank geglo dat die roeping tot die hemelse Koninkryk in 1931 geëindig het en dat dié wat in 1930 en 1931 geroep is om mede-erfgename met Christus te wees, “die laastes” was wat geroep is (Matteus 20:6-8). Maar in 1966 is ons begrip van hierdie gelykenis gewysig, en dit het duidelik geword dat dit niks te doen het met die einde van die roeping van die gesalfdes nie.

In 1935 is daar verstaan dat die “groot menigte” van Openbaring 7:9-15 uit die “ander skape” bestaan, Christene met ’n aardse hoop, wat in “die laaste dae” op die wêreldtoneel sou verskyn en Armageddon as ’n groep sou oorleef (Johannes 10:16; 2 Timoteus 3:1; Openbaring 21:3, 4). Ná daardie jaar het die vernaamste oogmerk van die dissipelmaakwerk die insameling van die groot menigte geword. Gevolglik is daar veral ná 1966 geglo dat die hemelse roeping in 1935 geëindig het. Dit is blykbaar bevestig toe byna almal wat ná 1935 gedoop is, gevoel het dat hulle die aardse hoop het. Daar is geglo dat enigiemand wat daarna tot die hemelse hoop geroep word, plaasvervangers is vir gesalfde Christene wat ontrou geword het.

As een van die gesalfdes onberouvol wegval, roep Jehovah ongetwyfeld iemand anders om sy plek in te neem (Romeine 11:17-22). Maar die aantal ware gesalfdes wat ontrou geword het, is waarskynlik nie groot nie. Oor die jare heen het party Christene wat ná 1935 gedoop is, egter getuienis ontvang dat hulle die hemelse hoop het (Romeine 8:16, 17). Dit lyk dus of ons nie ’n spesifieke datum kan stel vir wanneer die roeping van Christene tot die hemelse hoop eindig nie.

Hoe moet iemand beskou word wat in sy hart besluit het dat hy nou gesalf is en wat van die embleme by die Gedenkmaal begin gebruik? Hy moenie geoordeel word nie. Dit is ’n saak tussen hom en Jehovah (Romeine 14:12). Maar ware gesalfde Christene dring nie daarop aan om spesiale aandag te ontvang nie. Hulle glo nie dat hulle as gesalfdes spesiale “insig” het, meer as wat selfs party ervare lede van die groot menigte dalk het nie. Hulle glo nie dat hulle noodwendig meer heilige gees as hulle metgeselle, die ander skape, het nie; en hulle verwag ook nie spesiale behandeling of beweer dat hulle gebruik van die embleme hulle bo die aangestelde ouer manne in die gemeente verhef nie. Hulle hou nederig in gedagte dat party gesalfde manne in die eerste eeu nie gekwalifiseer het om as ouer manne of bedieningsknegte te dien nie (1 Timoteus 3:1-10, 12, 13; Titus 1:5-9; Jakobus 3:1). Party gesalfde Christene was selfs geestelik swak (1 Tessalonisense 5:14). En susters het nie in die gemeente onderrig nie, al was hulle gesalf.—1 Timoteus 2:11, 12.

Gevolglik streef gesalfde Christene sowel as hulle metgeselle, die ander skape, daarna om geestelik sterk te bly, terwyl hulle die vrug van die gees aankweek en vrede in die gemeente bevorder. Alle Christene, hetsy van die gesalfdes of die ander skape, span hulle onder leiding van die Bestuursliggaam in om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Gesalfde Christene is tevrede om dit te doen so lank as wat dit God se wil is dat hulle as Jehovah se knegte op die aarde bly.