Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die eerste Bybel in Portugees—’n Verhaal van volharding

Die eerste Bybel in Portugees—’n Verhaal van volharding

Die eerste Bybel in Portugees—’n Verhaal van volharding

“HY WAT volhard, sal suksesvol wees.” Hierdie leuse verskyn op die titelblad van ’n 17de-eeuse godsdienspamflet wat deur João Ferreira de Almeida geskryf is. ’n Mens kan nouliks aan ’n gepaster beskrywing dink van ’n man wat sy lewe daaraan gewy het om die Bybel in Portugees te vertaal en te publiseer.

Almeida is in 1628 in Torre de Tavares, ’n dorpie in die noorde van Portugal, gebore. Hy het as kind albei sy ouers verloor en is in die Portugese hoofstad, Lissabon, deur ’n oom grootgemaak wat lid was van ’n godsdiensorde. Volgens oorlewering het Almeida ter voorbereiding vir die priesterskap ’n uitstekende opvoeding ontvang, wat hom op ’n vroeë ouderdom gehelp het om sy buitengewone aanleg vir tale te ontwikkel.

Dit is egter onwaarskynlik dat Almeida sy talente ter bevordering van Bybelvertaling sou gebruik het as hy in Portugal gebly het. Terwyl Noord- en Sentraal-Europa weens die Hervorming met Bybels in volkstale oorstroom is, het Portugal streng onder die invloed van die Katolieke Inkwisisie gebly. Die blote besit van ’n Bybel in die volkstaal kon daartoe lei dat ’n persoon voor ’n Inkwisisieregbank gebring word. a

Almeida het in sy vroeë tienerjare na Nederland verhuis, moontlik weens ’n begeerte om van hierdie onderdrukkende atmosfeer weg te kom. Kort daarna, toe hy net 14 jaar oud was, het hy ’n reis na Asië onderneem, via Batavia (nou Djakarta), Indonesië, wat destyds die administratiewe sentrum van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie in Suidoos-Asië was.

’n Tienderjarige vertaler

Op die laaste skof van sy reis na Asië het Almeida ’n keerpunt in sy lewe bereik. Gedurende die reis tussen Batavia en Malakka (nou Melaka), in Wes-Maleisië, het hy op ’n Protestantse pamflet in Spaans afgekom met die titel Diferencias de la Cristiandad (Die verskille in die Christendom). Die pamflet het nie net valse godsdiensleerstellings aangeval nie, maar het ook ’n stelling bevat wat ’n groot indruk op die jong Almeida gemaak het: “Die gebruik van ’n onbekende taal in die kerk, selfs tot die heerlikheid van God, is van geen nut vir die luisteraar wat dit nie verstaan nie.”—1 Korintiërs 14:9.

Die gevolgtrekking was vir Almeida voor die hand liggend: Godsdiensdwalinge kan slegs blootgelê word as die Bybel vir almal verstaanbaar gemaak word. Toe hy in Malakka aankom, het hy die Nederduitse Gereformeerde godsdiens aangeneem en onmiddellik dele van die Evangelies uit Spaans in Portugees begin vertaal, en hy het dit versprei onder “diegene wat ’n opregte begeerte getoon het om die waarheid te ken”. b

Twee jaar later was Almeida gereed vir ’n groter taak—die vertaling van die volledige Christelike Griekse Geskrifte uit die Latynse Vulgaat. Hy het dit in minder as ’n jaar voltooi, ’n merkwaardige prestasie vir ’n 16-jarige! Hy het moedig ’n eksemplaar van sy vertaling aan die Nederlandse goewerneur-generaal in Batavia gestuur om dit te laat druk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Batavia het blykbaar sy manuskrip na Amsterdam gestuur, maar die bejaarde predikant aan wie dit toevertrou is, het gesterf, en Almeida se werk het verdwyn.

Toe Almeida in 1651 gevra is om vir die Nederduitse Gereformeerde gemeente in Ceylon (nou Sri Lanka) ’n afskrif van sy vertaling te maak, het hy uitgevind dat die oorspronklike uit die kerk se argief verdwyn het. Hy is nie hierdeur ontmoedig nie en het op die een of ander manier ’n afskrif in die hande gekry—moontlik ’n vroeë proefeksemplaar—en die volgende jaar ’n hersiene uitgawe van die Evangelies en die boek Handelinge voltooi. Die konsistorie c in Batavia het hom met 30 gulde beloon. Dit was “’n karige bedrag vir die ontsaglike taak wat hy verrig het”, het een van Almeida se kollegas geskryf.

Ondanks hierdie gebrek aan erkenning het Almeida sy werk voortgesit en in 1654 ’n hersiening van sy volledige Nuwe Testament ingedien. Weer eens is die moontlikheid geopper om dit te publiseer, maar niks spesifieks is gedoen behalwe dat ’n paar handgeskrewe eksemplare vir gebruik in enkele kerke voorberei is nie.

Veroordeel deur die Inkwisisie

Almeida was gedurende die volgende dekade besig met herderlike en sendingwerk vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hy is in 1656 georden en het eers in Ceylon gedien, waar hy amper deur ’n olifant vertrap is, en later in Indië, as een van die eerste Protestantse sendelinge wat daardie land besoek het.

Almeida was ’n Protestantse bekeerling in die diens van ’n vreemde land. Baie mense in die Portugeessprekende gemeenskappe wat hy besoek het, het hom dus as ’n afvallige en ’n verraaier beskou. Sy openlike veroordeling van sedelike verdorwenheid onder die geestelikes en die feit dat hy valse kerkleerstellings blootgelê het, het ook dikwels tot botsings met Katolieke sendelinge gelei. Hierdie botsings het in 1661 ’n klimaks bereik toe ’n Inkwisisieregbank in Goa, Indië, Almeida ter dood veroordeel het vir kettery. In sy afwesigheid is ’n afbeelding van hom verbrand. Die Nederlandse goewerneur-generaal, wat moontlik verontrus was oor Almeida se strydlustigheid, het hom kort daarna teruggeroep na Batavia.

Almeida was ’n ywerige sendeling, maar hy het nooit die behoefte aan ’n Portugese Bybel uit die oog verloor nie. Die gevolge van ’n gebrek aan Bybelkennis—wat baie duidelik onder die geestelikes sowel as die lekedom was—het hom net meer vasbeslote gemaak. In die voorwoord van ’n godsdienstraktaat gedateer 1668 het Almeida sy lesers meegedeel: “Ek hoop . . . om julle binnekort te vereer met die volledige Bybel in julle eie taal, die grootste gawe en kosbaarste skat wat enigiemand julle kan gee.”

Almeida versus die hersieningskomitee

In 1676 het Almeida ’n finale proefeksemplaar van sy Nuwe Testament aan die kerkkonsistorie in Batavia voorgelê vir hersiening. Uit die staanspoor was verhoudinge tussen vertaler en hersieners gespanne. Die biograaf J. L. Swellengrebel verduidelik dat Almeida se Nederlandssprekende kollegas moontlik gesukkel het om sekere nuanses van betekenis en styl te verstaan. Daar was ook ’n geskil oor die keuse van taal. Moet die Bybel die Portugees gebruik wat plaaslik gepraat word of ’n suiwerder Portugees wat vir baie mense moeilik sou wees om te verstaan? Laastens was Almeida se brandende begeerte om die werk voltooid te sien, ’n voortdurende bron van wrywing.

Die werk het baie stadig gevorder, moontlik weens stryery of die hersieners se gebrek aan belangstelling. Vier jaar later het die hersieners nog met die eerste hoofstukke van Lukas geworstel. Gefrustreerd deur hierdie vertraging, het Almeida sonder die hersieners se medewete ’n afskrif van sy manuskrip na Nederland gestuur om gedruk te word.

Ondanks die konsistorie se pogings om te verhinder dat dit gedruk word, is sy Nuwe Testament in 1681 in Amsterdam gedruk, en die eerste eksemplare het Batavia die volgende jaar bereik. Stel jou Almeida se teleurstelling voor toe hy uitvind dat hersieners in Nederland wysigings in sy vertaling aangebring het! Almeida het opgemerk dat die hersieners weens ’n gebrek aan kennis van Portugees “lomp en teenstrydige vertalings ingebring het wat die bedoeling van die Heilige Gees vertroebel het”.

Die Nederlandse regering was ook ontevrede, en hulle het beveel dat al die eksemplare van die uitgawe vernietig word. Almeida het die regering nietemin oortuig om ’n paar te red op voorwaarde dat die ernstigste foute per hand verbeter word. Hierdie eksemplare sou gebruik word totdat ’n hersiening voorberei kon word.

Die hersieners in Batavia het weer bymekaargekom om hulle werk aan die Christelike Griekse Geskrifte voort te sit en het die boeke van die Hebreeuse Geskrifte begin voorberei sodra Almeida hulle voltooi het. Uit vrees dat die vertaler nie sy ongeduld sou kon beteuel nie, het die konsistorie besluit om die ondertekende bladsye van die finale kopie in die kerk se kluis te hou. Almeida het natuurlik hulle besluit betwis.

Teen hierdie tyd het dekades van harde werk en die ontberinge van die lewe in ’n tropiese klimaat hulle tol geëis. As gevolg van sy verswakkende gesondheid het Almeida hom in 1689 aan kerkbedrywighede onttrek sodat hy hom aan die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte kon wy. Ongelukkig het hy in 1691 gesterf terwyl hy aan die laaste hoofstuk van Esegiël gewerk het.

Die tweede uitgawe van die Nuwe Testament wat kort voor sy dood voltooi is, is in 1693 gedruk. Weer eens het sy werk blykbaar onder onbekwame hersieners deurgeloop. G. L. Santos Ferreira sê in sy boek A Biblia em Portugal (Die Bybel in Portugal): “Die hersieners . . . het groot veranderinge aan Almeida se uitstekende werk aangebring en sodoende die prag van die oorspronklike wat oor was nadat die hersieners van die eerste uitgawe daarmee klaar was, geskend en bederf.”

Die Portugese Bybel voltooi

Met Almeida se dood het die dryfkrag agter die hersiening en publisering van die Portugese Bybel in Batavia verdwyn. Dit was die Londense Genootskap vir die Bevordering van Christelike Kennis wat in 1711 ’n derde uitgawe van Almeida se Nuwe Testament gefinansier het op versoek van Deense sendelinge wat in Tranquebar, Suid-Indië, gewerk het.

Hierdie genootskap het besluit om ’n drukkery in Tranquebar te open. Maar op pad na Indië is die skip wat die benodigdhede vir die drukkery en ’n besending Portugese Bybels vervoer het, deur Franse seerowers gekaap en uiteindelik in die hawe van Rio de Janeiro, Brasilië, gelos. Santos Ferreira skryf: “Om die een of ander onverklaarbare rede en in omstandighede wat baie as wonderdadig beskou het, is die houers met die benodigdhede vir die drukkery onbeskadig onder in die skeepsruim gevind en het hulle hulle reis in dieselfde vaartuig na Tranquebar voortgesit.” Die Deense sendelinge het Almeida se vertaling van die res van die Bybelboeke noukeurig hersien en gepubliseer. Die laaste bundel van die Bybel in Portugees is in 1751 uitgegee, byna 110 jaar nadat Almeida met sy loopbaan as Bybelvertaler begin het.

’n Blywende erfenis

Almeida was van jongs af bewus van die behoefte aan ’n Bybel in Portugees sodat gewone mense die waarheid in hulle eie taal kon verstaan. Hy het hierdie doelwit dwarsdeur sy lewe vasbeslote nagestreef, ondanks teenstand van die Katolieke Kerk, die onverskilligheid van sy portuurs, skynbaar eindelose hersieningsprobleme en sy eie verslegtende gesondheid. Sy volharding is beloon.

Baie van die Portugeessprekende gemeenskappe waar Almeida gepreek het, het kleiner geword en verdwyn, maar sy Bybel bestaan nog steeds. Gedurende die 19de eeu het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en die Amerikaanse Bybelgenootskap duisende eksemplare van Almeida se vertaling in Portugal en in die kusstede van Brasilië versprei. Gevolglik is Bybels wat op sy oorspronklike teks gegrond is, vandag nog van die gewildste en wyds verspreide in die Portugeessprekende wêreld.

Baie mense is ongetwyfeld dank verskuldig aan vroeë Bybelvertalers soos Almeida. Maar ons moet selfs dankbaarder wees teenoor Jehovah, die God wat kommunikeer, wie se “wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Hy is eintlik die Een wat sy Woord bewaar het en dit tot ons voordeel beskikbaar gestel het. Mag ons altyd hierdie “kosbaarste skat” wat van ons hemelse Vader kom, waardeer en ywerig bestudeer.

[Voetnote]

a In die tweede helfte van die 16de eeu het die Katolieke Kerk, deur die uitreiking van die Indeks van Verbode Boeke, streng beperkings geplaas op die gebruik van Bybels in volkstale. Volgens The New Encyclopædia Britannica het hierdie Indeks “in werklikheid verdere Katolieke vertaalwerk vir die volgende 200 jaar stopgesit”.

b Ouer uitgawes van Almeida se Bybel verwys na hom as padre (vader) Almeida, wat party laat dink dat hy as ’n Katolieke priester gedien het. Maar die Nederlandse redigeerders van Almeida se Bybel het hierdie benaming verkeerdelik gebruik omdat hulle gedink het dat dit die titel is wat deur ’n pastor of predikant gebruik word.

c Die beherende liggaam van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

[Venster/Prent op bladsy 21]

DIE GODDELIKE NAAM

’n Noemenswaardige voorbeeld van Almeida se integriteit as ’n vertaler is sy gebruik van die goddelike naam om die Hebreeuse Tetragrammaton weer te gee.

[Erkenning]

Cortesia da Biblioteca da Igreja de Santa Catarina (Igreja dos Paulistas)

[Kaart op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ATLANTIESE OSEAAN

PORTUGAL

Lissabon

Torre de Tavares

[Prent op bladsy 18]

Batavia gedurende die 17de eeu

[Erkenning]

Uit Oud en Nieuw Oost-Indiën, Franciscus Valentijn, 1724

[Prent op bladsy 18, 19]

Titelblad van die eerste Portugese Nuwe Testament, uitgegee in 1681

[Erkenning]

Courtesy Biblioteca Nacional, Portugal