Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die groot geskenk” aan Pole

“Die groot geskenk” aan Pole

“Die groot geskenk” aan Pole

OP 6 Julie 1525 het hertog Albrecht van Hohenzollern Lutheranisme tot staatsgodsdiens verklaar. Die hertogdom van Pruise, wat destyds ’n feodale besitting van die koninkryk van Pole was, het dus die eerste staat in Europa geword wat die leringe van Martin Luther amptelik aangeneem het.

Albrecht wou Koningsbergen—die hoofstad van Oos-Pruise—’n Protestantse kulturele sentrum maak. Hy het ’n universiteit in die stad gestig en die publisering van Lutherse werke in verskeie tale bevorder. In 1544 het die hertog ook beveel dat die Poolse mense in sy gebiede dele van die Heilige Skrif in hulle eie taal moet hoor. Daar was egter nog geen Bybelvertaling in Pools beskikbaar nie.

’n Vertaling in “die omgangstaal”

Om die situasie reg te stel, het Albrecht na iemand begin soek wat die Christelike Griekse Geskrifte in Pools kon vertaal. Omstreeks 1550 het hy ’n skrywer, boekverkoper en drukker met die naam Jan Seklucjan in diens geneem. Seklucjan het aan die Universiteit van Leipzig gegradueer en was bekend daarvoor dat hy die Katolieke Kerk geïrriteer het deur Protestantse leringe te versprei. Trouens, hy is vroeër na Koningsbergen toe omdat hy nie wou teregstaan op die aanklag dat hy sy godsdiensoortuigings versprei het nie.

Jan Seklucjan was geesdriftig oor die idee van ’n Poolse vertaling van die Skrif. Net ’n jaar nadat Seklucjan die opdrag ontvang het, is die eerste eksemplare van die Evangelie van Matteus gedruk. Hierdie uitgawe het ’n breedvoerige kommentaar ingesluit, asook nuttige kanttekeninge met moontlike alternatiewe vertalings vir party gedeeltes. Kort daarna het Seklucjan toesig gehou oor die druk van ’n uitgawe wat al vier die Evangelies bevat het. Binne net drie jaar het hy die hele Christelike Griekse Geskrifte gedruk.

Om ’n juiste weergawe te lewer, het die vertaler Griekse tekste geraadpleeg. Daarbenewens het die voorwoord by die 1551-uitgawe gesê dat Latynse vertalings en “vertalings in ’n paar ander tale geraadpleeg is”. Stanisław Rospond, skrywer van Studies on the Polish Language of the 16th Century, beskryf hierdie vertaling as een wat in “pragtige en vloeiende prosa” weergegee is. Die vertaler is nie deur “geleerde taal” beperk nie, sê Rospond. Hy het eerder Poolse woorde probeer gebruik wat “baie na aan die omgangstaal was”.

Hoewel Seklucjan hierdie projek gekoördineer het, dui die getuienis daarop dat hy nie die vertaler was nie. Wie was dan die kundige vertaler? Stanisław Murzynowski, ’n man wat waarskynlik in sy vroeë twintigerjare was toe Seklucjan hom vir hierdie moeilike taak in diens geneem het.

Murzynowski is in ’n klein dorpie gebore, maar toe hy oud genoeg was, het sy pa hom na Koningsbergen gestuur om met sy studie van Grieks en Hebreeus te begin. Later het Murzynowski by die Universiteit van Wittenberg, Duitsland, ingeskryf waar hy waarskynlik vir Martin Luther ontmoet het. Die jong student het na lesings deur Philip Melanchton geluister, ’n man wat hom ongetwyfeld gehelp het om Grieks sowel as Hebreeus te bemeester. Nadat hy in Italië verder gaan studeer het, het Murzynowski na Koningsbergen teruggekeer en sy dienste vir hertog Albrecht aangebied.

“Murzynowski het ywerig en doelgerig gewerk”, skryf Maria Kossowska in haar boek The Bible in the Polish Language, “maar hy het nie die aandag op homself gevestig, ’n vername posisie probeer verkry of gevra dat sy naam op die titelblad van die vertaling moet verskyn nie.” Trouens, hierdie jong man skryf aangaande sy eie vermoëns: “Ek weet nie of ek slegter in Latyn of Pools skryf nie.” Al was hy onseker van sy vermoë, het Murzynowski gehelp om God se Woord aan die Poolse mense beskikbaar te stel. Sy medewerker, Seklucjan, het na die vertaling wat hulle gelewer het, verwys as “die groot geskenk” aan Pole.

Een van die grootste geskenke

Sedert daardie eerste Poolse vertaling van die Bybel het talle ander gevolg. In 1994 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte vrygestel, en in 1997 die volledige Poolse Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Die vertalers, wat nie die aandag op hulleself vestig nie, het nie net probeer om God se Woord noukeurig oor te dra nie, maar ook om na aan die omgangstaal van vandag te bly, nie dié van die 16de eeu nie.

Vandag is die Bybel in sy geheel of gedeeltelik in sowat 2 400 tale beskikbaar. As jy ’n juiste vertaling van God se Woord in jou moedertaal kan bekom, is dit een van die grootste geskenke wat jy kan ontvang, ’n geskenk van Jehovah God om jou te lei.—2 Timoteus 3:15-17.

[Prent op bladsy 20]

Gedenksteen vir Stanisław Murzynowski, ’n vertaler van die “Nuwe Testament” in Pools

[Prent op bladsy 21]

Hoofstuk 3 van die boek Matteus, soos vertaal deur Stanisław Murzynowski

[Erkenning]

Dzięki uprzejmości Towarzystwa Naukowego Płockiego