Die skryfkuns—die belangrikheid daarvan in eertydse Israel
Die skryfkuns—die belangrikheid daarvan in eertydse Israel
HET jy al ooit dele gelees van die Ilias of die Odussee, twee uitmuntende epiese gedigte van eertydse Griekeland? Dit is vermoedelik gedurende die negende of die agtste eeu v.G.J. geskryf. Hoe vergelyk hierdie werke met die Bybel, waarvan die opskrifstelling eeue vroeër begin het? Die bundel The Jewish Bible and the Christian Bible sê: “Die Bybel het nie minder nie as 429 verwysings na skryfwerk en na geskrewe dokumente. Dit is betekenisvol as daar in ag geneem word dat die Ilias net een verwysing na skryfwerk bevat en die Odussee nie een nie.”
The Oxford Encyclopedia of Archaeology in the Near East verduidelik dat “skryfwerk in eertydse Israel blykbaar ’n wesenlike deel van die godsdienstige ervaring uitgemaak het”. Die Wetsverbond is byvoorbeeld op skrif gestel en later gereeld in die openbaar vir al die mans, vroue en kinders voorgelees. Mense het dit ook privaat en in groepe gelees en bestudeer. Nadat Alan Millard, senior lektor aan die Universiteit van Liverpool, ’n paar kenmerke van die Wet bespreek het, maak hy dié gevolgtrekking: “Die beskouing was blykbaar dat lees en skryf die lewe op die meeste vlakke raak.”—Deuteronomium 31:9-13; Josua 1:8; Nehemia 8:13-15; Psalm 1:2.
Die apostel Paulus verduidelik hoe Christene die heilige geskrifte moet beskou: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.” Toon jy persoonlik waardering vir die Bybel deur dit gereeld te lees?—Romeine 15:4.