Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe vandag in ooreenstemming met God se voorneme

Lewe vandag in ooreenstemming met God se voorneme

Lewe vandag in ooreenstemming met God se voorneme

“[Christus] het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie.”—2 KORINTIËRS 5:15.

1. Vertel die ondervinding wat een sendeling in sy toewysing gehad het.

 “ONS was die eerstes wat ná die burgeroorlog met ’n privaat voertuig by die afgeleë Afrika-dorpie ingery het”, het Aaron, ’n sendeling, gesê. a “Kommunikasie met die klein gemeentetjie daar was afgesny, en ons moes na die behoeftes van die broers gaan omsien. Benewens kos, klere en Bybellektuur het ons ’n eksemplaar van die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name saamgeneem. b Soveel belangstellendes het daarna kom kyk in die dorpie se ‘teater’—’n groot grashut met ’n videomasjien en ’n TV—dat ons dit twee keer moes vertoon. Ná elke vertoning was daar baie mense wat ’n Bybelstudie wou hê. Al ons pogings was beslis die moeite werd.”

2. (a) Waarom neem Christene hulle voor om hulle lewe in God se diens te gebruik? (b) Watter vrae sal ons nou bespreek?

2 Waarom het Aaron en sy vriende so ’n moeilike toewysing aangepak? Omdat hulle, uit dankbaarheid vir Jesus Christus se losprysoffer, hulle lewe aan God toegewy het en dit in ooreenstemming met God se voorneme wil gebruik. Soos hulle, het alle toegewyde Christene hulle voorgeneem om “nie langer vir hulleself [te] lewe nie”, maar om hulle in te span “ter wille van die goeie nuus” (2 Korintiërs 5:15; 1 Korintiërs 9:23). Hulle weet dat al die geld en aansien in die wêreld niks sal beteken wanneer hierdie stelsel van dinge se tyd verstreke is nie. Hulle wil dus hulle lewe en die mate van gesondheid wat hulle geniet, in ooreenstemming met God se voorneme gebruik (Prediker 12:1). Hoe kan ons dit doen? Waar kan ons die nodige moed en krag kry om dit te doen? En aan watter fasette van diens kan ons deelneem?

Progressiewe, praktiese stappe

3. Watter basiese stappe is daarby betrokke om God se wil te doen?

3 Om God se wil te doen, is vir ware Christene ’n lewenslange strewe. Dit begin gewoonlik met basiese stappe soos om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit, die Bybel elke dag te lees, aan die predikingswerk deel te neem en tot doop te vorder. Terwyl ons vordering maak, hou ons die apostel Paulus se woorde in gedagte: “Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15). Hierdie vooruitgang is nie met die oog op selfverheffing nie, maar is eerder ’n weerspieëling van ons vasbeslotenheid om God se wil op onselfsugtige wyse te doen. So ’n weg toon dat ons God toelaat om ons voetstappe in alle lewensaangeleenthede te rig, en hy doen dit oneindig beter as wat ons dit ooit sal kan doen.—Psalm 32:8.

4. Hoe kan ons onnodige vrese oorkom?

4 Maar as ons weifel of te besorg is oor onsself, kan dit ons verhinder om vordering te maak in ons diens aan God (Prediker 11:4). Voordat ons dus ware vreugde daaruit kan put om God en ander te dien, moet ons dalk eers ons eie vrese te bowe kom. Erik het dit byvoorbeeld oorweeg om in ’n anderstalige gemeente te gaan dien. Maar hy was bekommerd: ‘Sal ek inpas? Sal ek van die broers hou? Sal hulle van my hou?’ Hy vertel: “Ek het uiteindelik besef dat ek meer besorg moet wees oor die broers as oor myself. Ek het besluit om my nie meer daaroor te bekommer nie en net onselfsugtig te gee waar ek kan. Ek het vir hulp gebid en my besluit deurgevoer. Nou geniet ek my diens daar geweldig baie” (Romeine 4:20). Ja, die mate waarin ons God en ander onselfsugtig dien, bepaal hoeveel vreugde en voldoening ons sal ervaar.

5. Waarom is noukeurige beplanning nodig om in ooreenstemming met God se voorneme te lewe? Lig toe.

5 Om daarin te slaag om in ooreenstemming met God se voorneme te lewe, vereis ook noukeurige beplanning van ons kant. Ons vermy wyslik ’n groot skuldlas wat ons ’n slaaf van hierdie stelsel kan maak en ons vryheid om God se werk te doen, kan beperk. Die Bybel herinner ons: “Die lener is ’n kneg van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). Wanneer ons op Jehovah vertrou en geestelike dinge eerste stel, help dit ons om die regte perspektief op sake te behou. Byvoorbeeld, Guoming en sy twee susters woon saam met hulle moeder in ’n gebied waar huisvesting duur is en dit moeilik is om vaste werk te kry. Deur hulle geld verstandig te gebruik en al die uitgawes te deel, kom hulle die mas op, selfs wanneer hulle nie almal werk het nie. “Soms het nie almal van ons ’n inkomste nie”, sê Guoming. “Ons kan nietemin voortgaan in die pionierdiens en ook goed na ons ma omsien. Ons is dankbaar dat ons ma nie van ons verwag om geestelike strewes prys te gee om haar van weeldeartikels te voorsien nie.”—2 Korintiërs 12:14; Hebreërs 13:5.

6. Watter voorbeeld toon hoe ons ons lewe in ooreenstemming met God se voorneme kan bring?

6 As jy diep betrokke is by sekulêre strewes—op finansiële of ander gebiede—sal dit moontlik groot veranderinge vereis om God se voorneme eerste te stel. Hierdie veranderinge kan gewoonlik nie oornag aangebring word nie, en as jou eerste probeerslae nie heeltemal suksesvol is nie, moet jy dit nie as ’n mislukking beskou nie. Beskou die voorbeeld van Koitsji, wat te veel tyd aan ontspanning bestee het. Koitsji het as ’n tiener die Bybel bestudeer, maar videospeletjies het sy lewe jare lank oorheers. Eendag het Koitsji vir homself gesê: ‘Wat doen jy? Jy is oor die dertig, en jy doen niks sinvols met jou lewe nie!’ Koitsji het die Bybel weer begin studeer en hulp van die gemeente aanvaar. Hoewel dit tyd geneem het om te verander, het hy nie moed opgegee nie. Baie gebede en die liefdevolle ondersteuning van ander het hom gehelp om hierdie obsessie uiteindelik te oorkom (Lukas 11:9). Koitsji dien nou vreugdevol as ’n bedieningskneg.

Leer om gebalanseerd te wees

7. Waarom moet ons gebalanseerd wees wanneer ons God se werk doen?

7 As ons in ooreenstemming met God se voorneme wil lewe, moet ons ons heelhartig inspan. Ons moet nooit laks of lui wees in dié verband nie (Hebreërs 6:11, 12). Jehovah wil egter nie hê dat ons ons so moet ooreis dat ons—fisies, verstandelik of emosioneel—heeltemal uitgeput raak nie. As ons beskeie erken dat ons God se werk nie in ons eie krag kan doen nie, verheerlik dit hom en toon dit ook dat ons gebalanseerd is (1 Petrus 4:11). Jehovah belowe dat hy ons die nodige krag sal gee om sy wil te doen, maar ons moenie buitensporige eise aan onsself stel deur dinge te probeer doen wat hy nie van ons verwag nie (2 Korintiërs 4:7). As ons God wil bly dien sonder om uitgeput te raak, moet ons ons krag wyslik gebruik.

8. Wat het gebeur toe ’n jong Christen die wêreld sowel as Jehovah haar beste probeer gee het, en watter verandering het sy gemaak?

8 Dji Hje, wat in Oos-Asië woon, het byvoorbeeld twee jaar lank ’n veeleisende werk gehad terwyl sy pionierdiens gedoen het. “Ek het Jehovah sowel as die wêreld my beste probeer gee”, vertel sy, “maar ek het elke nag net vyf uur slaap gekry. Uiteindelik was ek verstandelik te moeg vir die waarheid, en ek het min vreugde uit geestelike dinge geput.” Dji Hje het ’n werk begin soek wat nie so veeleisend is nie sodat sy Jehovah met haar ‘hele hart, siel, verstand en al haar krag’ kan dien (Markus 12:30). “Ten spyte van die druk wat my familie op my geplaas het om finansiële sukses na te streef, het ek God se voorneme eerste probeer stel”, sê sy. “Ek verdien nog steeds genoeg geld vir basiese dinge, soos smaakvolle klere. En dis wonderlik om meer slaap te kry! Ek put vreugde uit my bediening, en ek is nou geestelik sterker. Die rede hiervoor is dat ek nie so blootgestel is aan die aanloklikhede en afleidings van die wêreld nie.”—Prediker 4:6; Matteus 6:24, 28-30.

9. Watter uitwerking kan ons pogings op mense in die veld hê?

9 Nie almal kan God as ’n voltydse evangeliedienaar dien nie. As jy met bejaardheid, swak gesondheid of ander beperkings te kampe het, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah jou getrouheid en die heelhartige diens wat jy wel verrig, innig waardeer (Lukas 21:2, 3). Eintlik moet nie een van ons die uitwerking onderskat wat ons pogings, al is dit hoe gering, op ander kan hê nie. Gestel ons het byvoorbeeld ’n paar huise besoek en dit het gelyk of niemand in ons boodskap belangstel nie. Nadat ons daar weg is, praat die huisbewoners miskien ure of dae lank oor ons besoek, selfs waar niemand die deur vir ons oopgemaak het nie! Ons verwag nie dat almal wat die goeie nuus hoor, gunstig sal reageer nie, maar party sal wel (Matteus 13:19-23). Ander reageer dalk later gunstig wanneer dinge in die wêreld of in hulle lewe verander. Hoe dit ook al sy, as ons in die bediening doen wat ons kan, doen ons God se werk. Ons is “God se medewerkers”.—1 Korintiërs 3:9.

10. Watter geleenthede is daar vir almal in die gemeente?

10 Verder kan ons almal ons gesinslede en ons geestelike broers en susters help (Galasiërs 6:10). Ons goeie invloed op ander kan ’n diepgaande en blywende uitwerking hê (Prediker 11:1, 6). Wanneer ouer manne en bedieningsknegte hulle take pligsgetrou uitvoer, dra hulle by tot die geestelike gesondheid en stabiliteit van die gemeente, en Christelike bedrywighede neem toe. As ons “baie het om in die werk van die Here te doen”, het ons die versekering dat ons arbeid “nie tevergeefs is nie”.—1 Korintiërs 15:58.

’n Loopbaan in ooreenstemming met God se voorneme

11. Watter geleenthede, benewens om saam met die plaaslike gemeente te werk, kry ons moontlik?

11 As Christene geniet ons die lewe, en ons wil God graag verheerlik in alles wat ons doen (1 Korintiërs 10:31). Wanneer ons ons getrou daarop toelê om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en om ander te leer om al die dinge te onderhou wat Jesus beveel het, sal ons vind dat daar talle lonende fasette van diens is waaraan ons kan deelneem (Matteus 24:14; 28:19, 20). Benewens om saam met die plaaslike gemeente te werk, kry ons moontlik ook geleenthede om te gaan dien waar daar hulp nodig is, hetsy in ’n ander gebied, taal of land. Bekwame ouer manne en bedieningsknegte wat nog ongetroud is, kan na die Bedieningsopleidingskool genooi word, waarna hulle in gemeentes gaan dien waar die hulp van ryp Christene nodig is, in hulle vaderland of ’n ander land. Egpare wat in die voltydse bediening is, kan kwalifiseer om by Gilead as sendelinge opgelei te word en in ’n ander land te gaan dien. En daar is altyd ’n behoefte aan vrywilligers om ’n verskeidenheid take by Bethel te verrig en om vergaderplekke en takkantore te bou en in stand te hou.

12, 13. (a) Hoe kan jy besluit watter fasette van diens om na te streef? (b) Lig toe hoe die ondervinding wat in een toewysing opgedoen word, nuttig kan wees in ander toewysings.

12 Watter fasette van diens moet jy nastreef? As ’n toegewyde kneg van Jehovah moet jy jou altyd tot hom en sy organisasie wend vir leiding. Sy “goeie gees” sal jou help om die regte besluit te neem (Nehemia 9:20). Een toewysing lei dikwels tot ’n volgende, en die ondervinding en vaardighede wat in een vorm van diens verkry word, kan later in ’n ander toewysing nuttig wees.

13 Dennis en sy vrou, Jenny, help byvoorbeeld gereeld met Koninkryksaalbouprojekte. Nadat die orkaan Katrina die suidelike deel van die Verenigde State getref het, het hulle aangebied om met die noodlenigingswerk te help. Dennis vertel: “Dit het ons groot vreugde verskaf om die vaardighede wat ons tydens Koninkryksaalbouwerk aangeleer het, te gebruik om ons broers te help. Die waardering van diegene aan wie ons hulp verleen het, is waarlik hartroerend. Die meeste ander noodlenigingsgroepe was nie so suksesvol met hulle herbouwerk nie. Jehovah se Getuies het reeds meer as 5 300 huise en talle Koninkryksale herstel of herbou. Mense sien dit en toon nou groter belangstelling in ons boodskap.”

14. Wat kan jy doen as jy graag die voltydse bediening wil betree?

14 Kan jy in ooreenstemming met God se voorneme lewe deur die voltydse bediening as loopbaan na te streef? Dit sal beslis baie seëninge vir jou meebring. As jou huidige omstandighede jou nie toelaat om dit te doen nie, kan jy dalk ’n verandering daarin probeer maak. Bid soos Nehemia toe hy graag ’n belangrike toewysing wou uitvoer: “Ag, Jehovah, . . . laat u kneg . . . asseblief tog sukses behaal” (Nehemia 1:11). Tree dan in ooreenstemming met jou versoek op terwyl jy op die “Hoorder van die gebed” vertrou (Psalm 65:2). Voordat Jehovah jou pogings kan seën om hom in groter mate te dien, moet jy eers daardie pogings aanwend. Wanneer jy besluit het dat jy die voltydse bediening wil betree, moet jy by jou besluit bly. Met verloop van tyd sal jy meer ervare word, en jou vreugde sal toeneem.

’n Waarlik lonende lewe

15. (a) Hoe vind ons daarby baat om met persone wat God al lank dien, te praat en van hulle te lees? (b) Meld ’n lewensverhaal wat jy besonder aanmoedigend gevind het.

15 Watter resultate kan jy verwag as jy in ooreenstemming met God se voorneme lewe? Praat met persone wat Jehovah al lank dien, veral dié wat baie jare in die voltydse bediening deurgebring het. Watter ryk, sinvolle lewens lei hulle tog! (Spreuke 10:22). Hulle sal vir jou sê dat Jehovah nog nooit nagelaat het om hulle te help om, selfs onder moeilike omstandighede, te kry wat hulle werklik nodig het en nog veel meer nie (Filippense 4:11-13). Van 1955 tot 1961 het The Watchtower ’n reeks lewensverhale van getroues gepubliseer onder die titel “Pursuing My Purpose in Life”. Sedertdien is honderde ander lewensverhale gepubliseer. In elke verhaal kom ’n gees van ywer en vreugde, soortgelyk aan wat ons in die Bybelboek Handelinge vind, duidelik na vore. As jy hierdie besielende verhale lees, sal dit jou beweeg om te sê: ‘Dit is die soort lewe wat ek wil lei!’

16. Wat maak ’n Christen se lewe sinvol en gelukkig?

16 Aaron, wat aan die begin genoem is, vertel: “In Afrika het ek dikwels jongmense teëgekom wat deur die land swerf op soek na ’n doel in die lewe. Die meeste het dit nooit gevind nie. Maar ons het in ooreenstemming met God se voorneme gelewe deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, en ons het ’n opwindende en sinvolle lewe geniet. Ons het persoonlik ondervind dat dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

17. Waarom moet ons nou in ooreenstemming met God se voorneme lewe?

17 Wat van jou? Watter doel streef jy na? As jy nie ’n duidelike geestelike doelwit het nie, sal ander strewes die leemte gou vul. Waarom sou jy jou kosbare lewe vermors op die fantasiewêreld van Satan se stelsel? Wanneer die “groot verdrukking” in die nabye toekoms uitbreek, sal materiële rykdom en wêreldse aansien nutteloos wees. Wat sal saak maak, is ons verhouding met Jehovah. Hoe dankbaar sal ons tog wees dat ons God en ander gedien het en ons bes gedoen het om in ooreenstemming met God se voorneme te lewe!—Matteus 24:21; Openbaring 7:14, 15.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Hoe voel Jehovah oor ons diens aan hom?

• Hoe kan ’n praktiese en gebalanseerde benadering ons help om God en ander te dien?

• Watter geleenthede is daar vir ons om te dien?

• Hoe kan ons nou ’n waarlik sinvolle lewe lei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Balans is nodig as ons Jehovah heelhartig wil bly dien

[Prente op bladsy 24]

Daar is baie vorme van heilige diens